Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 9/15 bl. 24-27
  • Hulle vind ware geluk in ’n “paradys”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hulle vind ware geluk in ’n “paradys”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Vrees vir die dood oorwin
  • Getrek deur die ware Christelike godsdiens
  • Hulle het vrede en geluk gevind
  • Opofferings en belonings
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 9/15 bl. 24-27

Hulle vind ware geluk in ’n “paradys”

PARADYS! Daardie woord kom dikwels by mense op wanneer hulle aan Hawaii dink—en om goeie redes. Die klimaat hier is altyd gematig, die lug pragtig blou, en daar is ’n oorvloed van wuiwende palmbome, verfrissende briesies en sandstrande—dinge wat baie as paradysagtig beskou.

Hierdie dinge het al mense van heinde en ver gelok. Hulle het gekom van Asië, eilande van die Stille Oseaan, die Amerikas en selfs plekke soos die Karibiese eilande en Europa. Baie het hierheen verhuis ter wille van die sagte klimaat die hele jaar deur. Ander het gekom op soek na ekonomiese sekuriteit—en natuurlik geluk. Die resultaat is ’n mengelmoes van nasionaliteite en etniese groepe, met ’n kleurryke verskeidenheid kulture en godsdiensidees.

Daar is nietemin ’n ander sy van die saak. Soos talle pragtige plekke op die aarde word ook Hawaii geteister deur misdaad, dwelms, pligsversuim, besoedeling en die baie ander probleme waarmee die mens te kampe het ongeag waar hy woon. Weens die mens se nalatigheid en selfsug word die eilande van Hawaii geleidelik van hulle natuurlike prag gestroop. Mense wil ’n paradys hê, maar nie almal wat hier woon gee genoeg om om hierdie eilande ’n paradys te maak of ten minste te hou nie. Dit verg meer as pragtige natuurskoon en ’n aangename klimaat om ’n paradys te maak.

Maar daar is ’n groeiende groep mense wat hier woon wat ware geluk in hierdie paradysagtige omgewing geniet. Hulle is mense wat Bybelwaarheid aanneem en God se wonderlike belofte ter harte neem, naamlik: “Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie.” Hierdie mense sien vreugdevol uit na die toekoms terwyl hulle hierdie woorde van die apostel Petrus in gedagte hou: “Ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (Jesaja 65:17; 2 Petrus 3:13). Wie is hierdie mense? Hoe het hulle geleer van die wonderlike hoop wat die Bybel voorhou? En watter veranderinge het in hulle lewe plaasgevind?

Vrees vir die dood oorwin

Isabel en haar man, George, is van Filippynse afkoms. Haar ouers het haar as ’n Rooms-Katoliek grootgemaak, hoewel sy nooit die Bybel ondersoek het nie. Isabel is geleer dat die mens se siel onsterflik is. Hoe het sy op hierdie valse leerstelling gereageer? Wel, net die blote gedagte aan die dood het haar vreesbevange gemaak omdat sy die idee gehad het dat sy vir ewig lewend in ’n kis begrawe sou wees terwyl haar siel nie kan ontsnap nie. Maar in 1973 het Isabel die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Toe sy leer dat die mens se siel nie onsterflik is nie en dat God die dood deur middel van die opstanding ongedaan gaan maak, was sy baie verheug en baie verlig (Esegiël 18:4, 20; Johannes 5:28, 29). Die Bybelwaarhede het so ’n groot indruk op haar gemaak dat sy vinnig vooruitgang gemaak het.

Wat van George? Hy het ook die Bybelbesprekings bygewoon, maar net met die doel om die Getuies verkeerd te bewys. Hy kon egter niks verkeerd vind met die dinge wat hy en sy vrou geleer het nie. Trouens, kort nadat hulle begin studeer het, het die onderwerp van bloed opgekom. George was tot op daardie tydstip lief vir kos wat met bloed voorberei is. Maar toe hy sien dat die Bybel die eet van bloed onomwonde veroordeel, het hy daarmee opgehou (Genesis 9:3, 4; Levitikus 17:10-12; Handelinge 15:28, 29). Hy het aan die Bybelstudie bly deelneem en was verheug dat hy eindelik die waarheid gevind het. Vandag geniet George, Isabel en hulle vier kinders ware geluk deur volgens God se standaarde te lewe.

Getrek deur die ware Christelike godsdiens

’n Japannese man, George, en sy Portugese vrou, Lillian, is so in die sestig. Hulle is albei in Hawaii gebore en het daar grootgeword. Aangesien George se ouers hom nie godsdienstig opgevoed het nie, het hy godsdiens nooit ernstig opgeneem nie. Maar hy het altyd in God geglo. Daarenteen het Lillian se ouers haar in hulle godsdiens, as ’n Rooms-Katoliek, grootgemaak.

Hoewel George nie ’n ywerige leser van die Bybel was nie, het hy Die Wagtoring en die Ontwaak! al sowat 30 jaar gelees. Hy het sodoende baie omtrent die Bybel geleer. Maar hy was ’n strawwe roker en drinker, en hy was traag om veranderinge in sy lewe aan te bring. Met die verloop van jare het George die tydskrifte aanhou lees en af en toe Christelike vergaderinge by die Koninkryksaal bygewoon. Waarom? Want, soos hy dit gestel het, “die ander godsdienste is so skynheilig” deurdat hulle talle slegte dinge goedkeur wat in die Bybel veroordeel word. Hy kon sien dat Jehovah se Getuies anders is.

Wat het George se getroue vrou, Lillian, na die waarheid van God se Woord getrek al was sy grootliks deur haar ouers se godsdiens beïnvloed? Wel, haar suster het haar na die vergaderinge by die Koninkryksaal genooi. “Ek het die gelukkige gesinsatmosfeer en die vriendelike glimlagte geniet”, het Lillian gesê. Die opregte liefde wat sy onder Jehovah se volk gesien het, het haar daarvan oortuig dat dit die waarheid is (Johannes 13:34, 35). Sy het ’n Bybelstudie aanvaar, eindelik haar lewe aan Jehovah God toegewy en is ’n paar maande ná haar man gedoop.

George rook nie meer nie en word nie meer dronk nie, en Lillian het al haar godsdiensbeelde weggegooi. Met ’n hart vol liefde vertel hulle ander, waaronder hulle 25 kleinkinders en 4 agterkleinkinders, van die dinge wat hulle geleer het. Kyk net na hulle gesigte, en sien hoe gelukkig George en Lillian is!

Hulle het vrede en geluk gevind

Patrick, ’n middeljarige Ier, en sy Joodse vrou, Nina, het van die suidweste van die Verenigde State na Hawaii verhuis. Vroeër het hulle die sogenoemde vry lewe van dwelms, eksperimentering met godsdiens en losse sedes gelei. Hulle was ook baie jare lank lede van ’n kultus wat daarna strewe om deur middel van dwelms, meditasie en hulle persoonlike ghoeroe hoër bewustheid te bereik. Mettertyd het Patrick keelvol geraak vir die jaloesie, wedywering en voortdurende getwis tussen lede van die kultus wat beweer het dat hulle ’n ‘hoër vlak van bewustheid’ bereik het. Hy het die groep verlaat en teruggekeer na Hawaii, waar hy vroeër gewoon het, in die hoop dat hy daar gemoedsrus sou vind. Daarna het Patrick Nina, wat destyds sy meisie was, oorreed om vir hom te kom kuier. Hulle is eindelik getroud en het hulle in Hawaii gevestig.

Patrick en Nina het geen idee gehad dat hulle soeke na vrede en geluk eindelik tot ’n studie van die Bybel saam met Jehovah se Getuies sou lei nie. Nina, wat haar hele lewe ’n streng ateïs was, het bevredigende Bybelse antwoorde begin vind op kwellende vrae soos waarom daar goddeloosheid is en waarom slegte dinge met goeie mense gebeur. Patrick se tien jaar lange soeke na die waarheid het eweneens ’n gelukkige einde gehad. Die dinge wat hy en Nina uit die Bybel geleer het, het kort voor lank hulle beskouing van sedes verander. Na ’n lang en harde stryd kon Patrick sy diepgewortelde tabakverslawing te bowe kom. Hy en sy vrou lei nou al byna tien jaar lank ’n skoon, sedelike lewe volgens God se standaarde. Met ’n rein hart en ’n skoon gewete geniet hulle die vrede waarna hulle gesoek het.

Opofferings en belonings

“Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie” (Lukas 13:24). Daardie woorde van Jesus Christus toon duidelik dat dit nie maklik is om God te dien en volgens Bybelse standaarde te lewe nie. Elkeen wat dit graag wil doen, moet hulle nie net inspan nie, maar moet ook die nodige opofferings doen. Dit was ongetwyfeld die geval met diegene wat in hierdie artikel vermeld is. Maar hoe ryklik is hulle beloon!

Neem byvoorbeeld Patrick en Nina, van wie ons so pas gepraat het. Hulle het ’n drastiese verandering gemaak van ’n lewenswyse waarin hulle baie geld gemaak het tot ’n lewenswyse van voltydse Christelike bediening waarin hulle hulle met deeltydse werk onderhou. Maar hulle is oortuig dat die geestelike voordele enige materiële opofferings wat hulle gedoen het ver oortref. En hulle is waarlik gelukkig.

As gevolg van hulle ouderdom was dit nie vir George en Lillian maklik om veranderinge aan te bring nie. Dit verg tyd, aandag en fisiese inspanning om aan Christelike vergaderinge en die bediening deel te neem. Maar tot hulle groot vreugde het hulle gesondheid verbeter, en die lewe wat hulle nou lei, kan net as bedrywig, vol en gelukkig beskryf word.

Wat George en Isabel betref, hulle grootste uitdaging is om hulle kinders op te voed en hulle op die pad na die lewe te help. Dit verg baie tyd en inspanning om vier kinders vir Christelike vergaderinge gereed te kry of om hulle saam in die Christelike bediening te neem. In ’n stadium het die aanhoudende druk veroorsaak dat George en Isabel hulle verantwoordelikhede as ouers begin verwaarloos. Maar ’n Bybeltoespraak “Hernu die gees van selfopoffering” het hulle beweeg om hulle kragtiger in te span om hulle vier kinders al die nodige aandag en opvoeding te gee om ‘hulle in die tug en vermaning van Jehovah op te voed’. Natuurlik is sulke pogings ryklik geseën.—Efesiërs 6:4.

Dit is nie die pragtige natuurskoon, die aangename klimaat of die gemaklike lewenstempo wat vir hierdie mense en baie ander ware geluk bring nie. Dit is eerder die wete dat hulle hul lewe volgens God se wil gebruik en volgens die standaarde van sy Woord, die Bybel, lewe (Prediker 12:13). Daarbenewens vul ware geluk hulle hart as hulle aan die vreugdevolle tyd dink wanneer ’n aardse paradys wêreldwyd herstel sal wees.—Lukas 23:43, NW.

[Prent op bladsy 25]

George, Isabel en hulle kinders put vreugde daaruit om die Bybel te lees

[Prent op bladsy 26]

George en Lillian vind geluk in die Christelike bediening

[Prent op bladsy 27]

Patrick en Nina geniet ware vrede in Jehovah se diens

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel