Die aartsbiskop kan dit nie stuit nie!
VERLEDE jaar is daar ’n konsistorie (kerkraad bestaande uit kardinale) in die lewe geroep om sekere aangeleenthede te bespreek wat groot kommer in die Katolieke Kerk wek. Een hiervan is, volgens die koerant Il Sabato, “die aggressiwiteit van die sektes”. Maar die koerant het gesê: “Die kardinale behoort geen probleem te hê om eenstemmigheid oor hierdie punt te bereik nie. Almal is dit eens dat daar ’n indringender studie gemaak moet word van die verskynsel van nuwe godsdiensbewegings en ook dat hulle uitbreiding sover moontlik gekeer moet word.”
Maar “die aggressiwiteit van die sektes” is klaarblyklik nie net in Italië ’n probleem nie. Il Sabato berig: “Toe aartsbiskop Kirill van Smolensk [een van die oudste stede in Rusland] die Vatikaan onlangs besoek het . . . het hy die pous om ekumeniese hulp gevra om die geweldige toename onder Jehovah se Getuies en soortgelyke groepe in die Sowjetunie te stuit.”
In die eerste eeu het leiers van die gevestigde godsdiens soortgelyke klagtes gehad toe die Christelike geloof op aggressiewe wyse deur sy navolgers versprei is. By een geleentheid het die verontwaardigde Jode by die stadsowerhede gekla: “Die mense wat die wêreld in opstand bring, hulle het hier ook gekom”! (Handelinge 17:6). Destyds het die godsdiensleiers hard probeer om die verspreiding van die Christelike geloof stop te sit, maar hulle het nie daarin geslaag nie. Enige poging wat vandag aangewend word om die verspreiding van die ware Christelike leer stop te sit, is insgelyks tot mislukking gedoem. God self belowe: “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte van die HERE en hulle geregtigheid wat uit My is.”—Jesaja 54:17.