’n Tree op die pad terug
‘HY HET aan hulle gelykenisse vertel.’ Dit is hoe die Bybel Jesus se drie onvergeetlike gelykenisse oor barmhartigheid inlei—die afgedwaalde skaap, die verlore penning en die verlore seun.—Lukas 15:3-32.
Twee artikels in Die Wagtoring van 15 April 1991 het hierdie gelykenisse ontleed en talle lesers gehelp om te sien hoe barmhartigheid vandag betoon kan word. Daar is veral beklemtoon dat geestelike herders die inisiatief moet neem om kontak te maak met uitgesitte individue wat vriendelike besoeke sal verwelkom. Watter vrug het hierdie artikels en die nuwe prosedure afgewerp?
Pas nadat die tydskrif verskyn het, het ’n man van die staat Washington, VSA, geskryf: “Bewys van Jehovah se oorvloedige liefdevolle goedhartigheid het vandag in my pos gekom. Ek sit hier met trane in my oë en vreugde in my hart oor die voorsieninge en heraanpassing wat die Almagtige gemaak het. Net ’n waarlik regverdige God kan hulp voorsien aan die skape wat afgedwaal het. . . . Ja, ek is in ’n uitgesitte toestand, maar ek is op die pad na herstelling.” In Oktober is hy in die gemeente herstel.
Maar wat van die besoeke deur twee gemeentelike ouere manne? ’n Christeneggenote skryf: “Woorde kan nie my gevoel beskryf nie. My man was ongeveer 13 jaar lank in ’n uitgesitte toestand. Die ouere manne het hom besoek, soos in die artikel aanbeveel is. Gisteraand het hy vir die eerste keer in baie jare weer na een van die vergaderinge toe gegaan. Hy probeer nou om sy lewe te verander en om terug te kom.”
Reisende opsieners sien in gemeente na gemeente wat hulle besoek hoe hierdie reëling vrugte afwerp. Een kringopsiener het onlangs geskryf:
“Toe Die Wagtoring van 15 April 1991 verskyn het, het baie gewonder watter vrugte die besoeke van ouere manne op uitgesitte individue sou afwerp. Die antwoord was gou duidelik.
“In die laaste vier gemeentes wat ek in ons kring besoek het, het ons gesien hoe nege individue weer na die Koninkryksaal begin terugkom. Hoewel net een so ver herstel is, maak die ander agt mooi vordering. Die ouere manne en die gemeentes is opgewonde om die vrug op hulle arbeid te sien asook die wysheid daarvan om teokratiese riglyne te volg.
“Ons verheug ons oor hierdie wonderlike, barmhartige reëling. Soos die een suster wat herstel is, gesê het: ‘Ek het nie die moed gehad om op my eie terug te kom nie, want ek het veroordeeld voor Jehovah gevoel. Maar toe die ouere manne my besoek, was dit net die aanmoediging wat ek nodig gehad het om terug te kom.’ Haar geesdrif was ’n groot aanmoediging vir die hele gemeente.”
Hierdie barmhartige inisiatief werp beslis goeie vrugte af, al kom baie van diegene wat besoek word nie terug nie. Met ingang September sal die ouere manne in elke gemeente dus die name hersien van diegene in hulle gebied wat uitgesit is en reëlings tref om almal te besoek wat hulle meen moontlik gunstig sal reageer op die barmhartigheid wat aan hulle bewys word.