‘Keer terug na My, en Ek sal na julle terugkeer’
DIE gesin het ’n genotvolle uitstappie in die woud geniet. Toe het Peter, die jongste kind, afgedwaal terwyl hy agter ’n eekhorinkie aan teen ’n heuwel afgehardloop het. Skielik het wolke saamgepak, en dit het begin reën. Eers het dit net saggies gereën, maar uiteindelik het die reën neergegiet. Die gesin het inderhaas hulle goed bymekaargeskraap en na hulle voertuig toe gehardloop. En almal het gewonder waar Peter was.
Intussen het Peter probeer om weer by sy mense uit te kom. Hy kon nie mooi voor hom sien nie, en die paadjie teen die heuwel op was glad in die reën. Skielik het dit gelyk asof die grond onder sy voete uit verdwyn toe hy in ’n diep, versteekte gat val. Hy het probeer uitklim, maar die wande was te glad.
Reënwater het teen die heuwel afgestroom en die gat het vol modder geword. Peter het in groot gevaar verkeer om te verdrink. Maar toe het sy pa hom opgespoor en hom met ’n tou uit die gat opgetrek. Later het Peter ’n skrobbering gekry omdat hy afgedwaal het. Maar dit was baie maklik om die skrobbering te aanvaar, want hy was snoesig toegedraai in komberse in sy ma se arms.
Hierdie ondervinding lig goed toe wat met sommige gebeur wat vroeër deel van God se volk was. Hulle het in die diep gat van hierdie stelsel van dinge geval en probeer desperaat om uit te kruip en na die veiligheid van Jehovah se organisasie terug te keer. Hoe goed is dit tog om te weet dat Jehovah barmhartig is en bereid is om ‘’n tou te laat sak’ en hulle na veiligheid terug te help!
Jehovah se barmhartige handelinge
In die dae van Israel, nadat die tempel voltooi is, het Salomo ’n toewydingsgebed tot Jehovah gerig waarin hy hom gesmeek het om die gebede te verhoor wat na die tempel gerig sou word. Toe het hy gesê: “As hulle [die Israeliete] teen U sondig—want daar is geen mens wat nie sondig nie—en U op hulle toornig is en hulle aan ’n vyand oorgee . . . en hulle dit ter harte neem [“tot besinning kom”, NW] in die land waarheen hulle as gevangenes weggevoer is, en hulle hul bekeer [“werklik (na u) terugkeer”, NW] en U smeek in die land van die wat hulle weggevoer het, . . . wil dan in die hemel, u vaste woonplek, hulle gebed en hulle smeking hoor en aan hulle hul reg verskaf.”—1 Konings 8:46-49.
Jehovah het Salomo se versoek baie keer deur Israel se geskiedenis heen toegestaan. God se volk het keer op keer afgedwaal en hom die rug toegekeer. Dan het hulle hulle fout erken en na hom teruggekeer en hom gesoek. En Jehovah het hulle vergewe (Deuteronomium 4:31; Jesaja 44:21, 22; 2 Korinthiërs 1:3; Jakobus 5:11). Deur Maleagi het Jehovah sy handelinge met Sy volk oor ’n tydperk van duisend jaar opgesom toe Hy gesê het: “Sedert die dae van julle vaders het julle van my insettinge afgewyk en dit nie onderhou nie. Keer terug na My, en Ek [sal] na julle terugkeer.”—Maleagi 3:7, vgl. NW.
Oorsake van struikeling
Net soos in die geval van die Israeliete dwaal ’n aantal van God se volk vandag af en skei hulle van Jehovah se organisasie af. Waarom? Sommige jaag iets na wat aanvanklik onskuldig lyk, soos Peter wat agter die eekhorinkie aangehardloop het. Dit is wat met Ada gebeur het. Sy vertel: “Al ons werkmaats het gewoonlik vir middagete saam na ’n nabygeleë restaurant gegaan. Toe hulle my dus nooi om aan die einde van die dag ’n koppie koffie saam met hulle te gaan drink, was dit maklik om die uitnodiging aan te neem. Ek het gereken dat ek nie tyd gebruik wat vir vergaderinge of velddiens gebruik moes word nie. Ek het nie besef dat dit daarop kon neerkom dat ek nie die beginsel in 1 Korinthiërs 15:33 gehoorsaam nie.
“Kort voor lank het ek Saterdae saam met hulle gaan perdry. Toe het ek saam met hulle bioskoop en teater toe gegaan. Dit het veroorsaak dat ek van sommige van die vergaderinge af weggebly het. Uiteindelik het ek geen vergaderinge bygewoon nie en ook nie predikingswerk gedoen nie. Toe ek uiteindelik besef wat aan die gebeur is, was ek nie meer deel van die organisasie nie.”
In ander gevalle is die rede dalk ’n ernstige, bedekte sonde wat daartoe lei dat ’n persoon onwaardig voel om God te dien (Psalm 32:3-5). Of iemand kan struikel oor iets wat ’n mede-Christen gesê of gedoen het omdat hy nie besef dat, soos Salomo gesê het, ‘daar geen mens is wat nie sondig nie’.—1 Konings 8:46; Jakobus 3:2.
Ander word weer mismoedig wanneer hulle gedissiplineer word (Hebreërs 12:7, 11). Die aantrekkingskrag van materialistiese lewenswyses het daartoe gelei dat baie opgehou het om God te dien. Hulle het dikwels, in hulle najaging van wêreldse sukses, só betrokke geraak by hulle sekulêre werk dat daar nie meer plek in hulle lewe vir God se diens was nie (Mattheüs 13:4-9; 1 Timotheüs 6:9, 10). Is die situasie van sulke persone hopeloos?
Sal jy Jehovah se uitnodiging aanvaar?
Jesus het eenkeer iets gesê wat moeilik was om te verstaan, en dit het sommige laat struikel. Die verslag lui: “Baie van sy dissipels [het] teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie.” Maar nie almal het gestruikel nie. Die Bybelverslag sê verder: “Jesus [sê] vir die twaalf: Wil julle nie ook weggaan nie? En Simon Petrus antwoord Hom: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe” (Johannes 6:66-68). Jesus se apostels was verstandig omdat hulle besef het dat dit rampspoedig sou wees om Jesus te verlaat.
Sommige wat die waarheid die rug toegekeer het, kom uiteindelik tot ’n soortgelyke gevolgtrekking. Hulle besef dat dit ’n rampspoedige stap was om God se organisasie te verlaat en dat hulle slegs by Jehovah en Christus die woorde sal vind wat tot die lewe lei. Wanneer hulle tot so ’n besef gekom het, moet hulle ook besef dat dit nooit te laat is om weer oor die saak na te dink, Jehovah om vergifnis te vra en na hom terug te keer nie. Jehovah het self die uitnodiging gerig: ‘Keer terug na My, en Ek sal na julle terugkeer.’—Maleagi 3:7.
Ja, waar kan ’n opregte Christen anders geluk vind as dit nie in Jehovah se diens is nie? Wat wag buite in die wêreld op ’n persoon as hy wegdrywe nadat hy ’n tyd lank deel van God se organisasie was? Hy sal spoedig besef dat hy nou deel is van ’n wêreld wat al hoe gewelddadiger word. Hy sal hom bevind in ’n stelsel van dinge vol geveinsdheid, leuens, bedrog en onsedelikheid, ’n wêreld wat net so gevaarlik en onaangenaam is as die moddergat wat jong Peter se lewe bedreig het. Wanneer hy tot besinning kom en besef dat sy ewige lewe op die spel staan, moet hy sonder versuim hulp gaan soek om uit die situasie uit te kom. Maar dit is dalk nie maklik om terug te keer nie.
Is jy iemand wat na Jehovah probeer terugkeer het, maar dit moeilik gevind het? Besef dan dat jy hulp nodig het. En glo dat jou broers en susters in God se organisasie gewillig is om jou te help. Maar jy moet ’n poging aanwend om vir Jehovah te toon dat jy gehelp wil word. Dit is tyd om ‘tot besinning te kom’ en ‘werklik na Jehovah terug te keer’.—1 Konings 8:47, NW.
Gehelp om terug te keer
Ada verduidelik wat haar gehelp het om na Jehovah terug te keer: “Die suster wat voorheen met my gestudeer het, het my net op die regte oomblik uitgenooi om ’n kringbyeenkoms saam met haar by te woon. Sy was so dierbaar! En sy het my glad nie verwyt nie! Sy het soveel liefde betoon. ’n Jaar het verbygegaan sedert ek my laaste vergadering bygewoon het, maar ek het nagedink oor hoe leeg die wêreld is en oor die feit dat daar, agter die glans, net hartseer, frustrasie en onsedelikheid is. Ek het dus besluit om die byeenkoms by te woon. Toe ek by die teater aankom waar dit gehou is, het ek in die agterste ry sitplekke in ’n donker hoekie gaan wegkruip. Ek wou nie hê dat die broers my moes sien en vrae vra nie.
“Maar die program het raad bevat wat ek uiters nodig gehad het. Na die byeenkoms was ek vasbeslote om nie net na Jehovah se volk terug te keer nie, maar ook om hom heelhartig te dien. Die broers het my met oop arms ontvang en die ‘verlore een’ het teruggekeer” (Lukas 15:11-24). Dit het alles ’n geruime tyd gelede gebeur, en Ada is al meer as 25 jaar in die voltydse diens.
Die geval van iemand anders wat afgedwaal het, het net so ’n gelukkige verloop gehad. Van die ouere manne het José raad gegee wat eerder hulle eie menings as Bybelbeginsels weerspieël het. José, wat ontmoedig en gegrief gevoel het, het uiteindelik onbedrywig geraak. Hy het agt jaar lank nie met God se volk omgegaan nie. Gedurende daardie tyd het hy met ’n ongelowige getrou en kinders gehad, en hy het toegelaat dat een van hulle in die Katolieke Kerk gedoop word.
Uiteindelik is hy gehelp toe die kringopsiener herdersbesoeke by hom gedoen het en die ouere manne aangemoedig het om dit ook te doen. Hy is gehelp om terug te keer en het die vreugde ondervind om te sien hoe sy vrou in die waarheid begin belangstel. José dien tans as ’n ouere man in die gemeente. Soos hierdie twee ondervindinge toon, seën Jehovah diegene wat sy liefdevolle uitnodiging aanvaar om na hom terug te keer.
Maar om sulke seëninge te geniet, moet ’n mens die hulp waardeer wat aangebied word en dit aanvaar. In die meeste gemeentes hou die broers diegene wat onbedrywig geword het in gedagte en besoek hulle van tyd tot tyd om hulle te probeer help. Wanneer iemand sulke hulp aanvaar, toon dit waardering vir Jehovah se barmhartigheid.—Jakobus 5:19, 20.
Dit is waarlik nou die tyd om Jehovah se uitnodiging te aanvaar, naamlik: “Keer terug na My” (Maleagi 3:7; Jesaja 1:18). Moenie langer wag nie. Wêreldgebeure speel hulle teen ’n geweldige tempo af. Die beste plek om gedurende hierdie stormagtige tye wat voorlê te wees, is Jehovah se organisasie, waar ons veilig onder sy beskerming is. Slegs diegene wat by Jehovah skuil, het ’n vaste hoop om gedurende die groot dag van sy toorn verborge te bly.—Sefanja 2:2, 3.
[Prent op bladsy 30]
Sal jy Jehovah se uitnodiging aanvaar, naamlik: “Keer terug na My”?