Diocletianus val die Christelike godsdiens aan
OP 23 Februarie, 303 G.J., by die fees van die Romeinse god Terminus, wat in Nicomedia in Klein-Asië, die ryk se nuwe hoofstad, gehou is, het mense met mekaar meegeding om uiting aan hulle patriotisme te gee. Maar die groot Christengemeenskap was merkbaar afwesig.
Vanuit hulle uitkykpunt in die paleis het keiser Diocletianus en sy onderkeiser Galerius Caesar op die plaaslike Christene se vergaderplek neergekyk. Op ’n gegewe teken het soldate en regeringsamptenare die Christene se gebou binnegedring, dit geplunder en die Bybels wat hulle gevind het, verbrand. Ten laaste het hulle die gebou met die grond gelyk gemaak.
Hierdie gebeurtenis het ’n tydperk van vervolging ingelui wat Diocletianus se bewind oneer aangedoen het. Geskiedskrywers noem dit “die laaste groot vervolging”, “die gewelddadigste vervolging”, selfs “niks minder nie as die uitwissing van die Christelike naam”. ’n Kykie na die agtergrond van hierdie dramatiese gebeure is uiters insiggewend.
Die heidendom versus die Christelike godsdiens
Diocletianus, wat gebore is in Dalmasië, ’n streek in wat Joego-Slawië geword het, het in die Romeinse leër opgang gemaak. In 284 G.J. is hy tot keiser bekroon, en hy het bekend geword vir sy politieke hervorming toe hy ’n tetrargie, ’n gesamentlike leiersamp van vier, gestig het om die ryk te regeer. Diocletianus het Maximianus, ’n gewese medesoldaat, aangestel om saam met hom te heers as medekeiser, ’n tweede Augustus, met spesiale verantwoordelikheid in die westelike deel van die ryk. Diocletianus en Maximianus het albei ’n onderkeiser gehad wat erfreg verkry het. Constantius Chlorus was die onderkeiser van Maximianus, terwyl Galerius van Thrasië onder Diocletianus geregeer het.
Galerius Caesar was, net soos Diocletianus, ’n vurige aanbidder van die heidense gode. Aangevuur deur sy ambisie om die keiser op te volg, het Galerius voorgegee dat hy verraad in die leer vrees. Hy het nie gehou van die toenemende invloed van soldate wat beweer het dat hulle Christene is nie. Die keiser het hulle weiering om aan heidense aanbidding deel te neem as ’n uittarting van sy gesag beskou. Galerius het Diocletianus gevolglik aangespoor om stappe te doen om die Christelike godsdiens uit te wis. Diocletianus het uiteindelik, in die winter van 302/303 G.J., geswig voor Galerius se anti-Christengevoel en ingestem om hierdie individue uit die leër en die hof te verwyder. Maar Diocletianus was teen bloedvergieting gekant uit vrees dat martelare van die Christene se saak ander sou aanspoor om ook in opstand te kom.
Steeds nie tevrede met hierdie benadering tot die probleem nie het Diocletianus militêre bevelvoerders en amptenare, waaronder Hierocles, die goewerneur van Bithinië, geraadpleeg. Hierdie vurige Hellenis het gewelddadige optrede teen al die Christene voorgestaan. Diocletianus se ondersteuning van Rome se tradisionele gode het tot konfllik met die Christelike godsdiens gelei. Volgens Diocletian and the Roman Recovery, deur Stephen Williams, was die gevolg “onbeperkte oorlog tot die bitter einde tussen die gode van Rome en die god van die Christene”.
Die edikte
Diocletianus het vier opeenvolgende edikte uitgevaardig om sy vervolgingskampanje uit te voer. Die dag ná die aanval in Nicomedia het hy gelas dat alle vergaderplekke en eiendom van die Christene vernietig moes word en beveel dat gewyde boeke oorhandig en verbrand moes word. Christene wat staatsamptenare was, moes uit hulle ampte onthef word.
Toe twee brande binne-in die keiser se paleis uitgebreek het, het die Christene wat daar gewerk het die skuld daarvoor gekry. Dit het tot ’n tweede edik aanleiding gegee, wat gelas het dat alle biskoppe, presbiters en diakens gearresteer en opgesluit moes word. Die doel van die derde edik, wat marteling gemagtig het indien nodig, was om hierdie manne afvallig te laat word deurdat dit vereis het dat hulle aan die Romeinse gode offer. Die vierde dekreet het verder gegaan en het verklaar dat dit ’n halsmisdaad is indien enigiemand sou bely dat hy ’n Christen is.
Die vlaag van wreedheid wat daarop gevolg het, het ’n klas opgelewer wat gebrandmerk is as traditores (wat “die wat oorgegee het” beteken), verraaiers van God en Christus wat hulle lewe probeer red het deur hulle kopieë van die Skrif te oorhandig. Volgens geskiedskrywer Will Durant “het duisende Christene hulle geloof versaak . . . Maar die meeste van die vervolgdes het vasgestaan; en die aanskouing van of die verslag oor die dapper getrouheid onder marteling het die geloof van dié wat gewankel het, versterk en nuwe lede vir die vervolgde gemeentes gewerf”. Christene in Frigië, Kappadocië, Mesopotamië, Fenisië, Egipte en in die meeste ander dele van die Romeinse Ryk het ’n marteldood gesterf.
Kerkgeskiedskrywer Eusebius van Cesarea het gemeen dat duisende Christene gedurende die vervolging omgekom het. Daarenteen sê Edward Gibbon, die skrywer van The Decline and Fall of the Roman Empire, dat dit minder as tweeduisend was. “Gibbon bejeën baie van hierdie verhale met ’n mate van agterdog, omdat hulle uit Christelike bronne afkomstig is wat dit goed aangedik het om die martelare op te hemel en die getroues op te bou”, verduidelik een skrywer. “Daar bestaan geen twyfel nie”, sê hy verder, “dat daar skrywers is wat oordryf deur enkele sterfgevalle maklik in ‘menigtes’ te verander, wat geen onderskeid tref tussen gevalle van ’n ongevraagde marteldood en dié wat uit doelbewuste uittarting voortgevloei het nie; en wat vertel hoe wilde diere in die amfiteaters alle ander misdadigers verwoed verskeur het, maar deur ’n ‘bonatuurlike krag’ verhinder is om die Christene skade aan te doen. Maar al laat ’n mens ruimte vir verdigsel toe, is dít wat oorbly verskriklik genoeg.” Daar het ongetwyfeld die wreedste vervolging denkbaar plaasgevind waartydens mense op folterbanke, met verbranding, afslagting en knyptange gemartel is.
Sommige gesaghebbendes meen dat Galerius, en nie Diocletianus nie, die aanstigter van die vervolging was. “Dit is nie sonder ’n diep morele betekenis nie”, sê professor William Bright in The Age of the Fathers, “dat die grootste poging van die heidense wêreldmoondheid om die Koninkryk wat nie van hierdie wêreld is nie se lewensvuur te blus die naam van Diocletianus dra, en nie dié van die ware bewerker daarvan, Galerius, nie.” Maar selfs binne die tetrargie het Diocletianus die oppergesag behou, soos skrywer Stephen Williams sê: “Daar bestaan geen twyfel nie dat Diocletianus tot 304 beheer oor elke belangrike beleid in die Ryk gehad het en dat hy die grootste verantwoordelikheid vir die vervolging tot op daardie tydstip dra.” Diocletianus het siek geword en uiteindelik in 305 G.J. die tuig neergelê. Vir sowat ses jaar daarna het die volgehoue vervolging Galerius se bittere haat weerspieël teen enigiets wat met die Christelike godsdiens verband gehou het.
Die Christelike godsdiens in die vierde eeu
Hierdie afgryslike gebeure wat vroeg in die vierde eeu plaasgevind het, bevestig wat deur die apostels Paulus en Petrus, sowel as ander geïnspireerde skrywers, voorspel is. Die voorspelde “mens van wetteloosheid”, die heersende geestelikeklas van beweerde Christene, het reeds wortelgeskiet, soos Diocletianus se edikte, veral die tweede edik, duidelik toon (2 Thessalonicense 2:3, 4, NW; Handelinge 20:29, 30; 2 Petrus 2:12). Teen die vierde eeu was afvallige gebruike ’n algemene verskynsel. ’n Aansienlike aantal beweerde Christene was lede van die Romeinse leër. Was daar op daardie tydstip geen Christene wat getrou was aan “die patroon van gesonde woorde” wat hulle van die apostels ontvang het nie?—2 Timotheüs 1:13, NW.
Eusebius noem sommige van die slagoffers van die vervolging by name en beskryf op aanskoulike wyse selfs hulle marteling, lyding en uiteindelike marteldood. Ons weet nie op die oomblik of al hierdie martelare getrou gesterf het aan die geopenbaarde waarheid wat destyds beskikbaar was nie. Sommige het ongetwyfeld gehoor gegee aan Jesus se waarskuwings om sektes en onsedelikheid te vermy en om onder geen omstandighede hulle onkreukbaarheid prys te gee nie (Openbaring 2:15, 16, 20-23; vgl. NW; 3:1-3). Sommige getroues wat die vervolging oorleef het, het ongetwyfeld, sover dit die geskiedenis betref, onbekend gebly (Mattheüs 13:24-30). Die pogings om openbare Christelike aanbidding te smoor was inderdaad so geslaag dat ’n Spaanse monument van daardie tyd Diocletianus vereer as die een wat ‘die Christus-bygeloof vernietig het’. Pogings om kopieë van die Skrif te konfiskeer en te vernietig, wat ’n belangrike aspek van Diocletianus se aanval op die Christelike godsdiens was, het nietemin nie daarin geslaag om God se Woord heeltemal uit te roei nie.—1 Petrus 1:25.
Omdat Satan die Duiwel, die owerste van die wêreld, nie daarin kon slaag om die Christelike godsdiens heeltemal uit te wis nie, het hy sy slinkse dade deur middel van keiser Konstantyn, wat vanaf 306 tot 337 G.J. geregeer het, voortgesit (Johannes 12:31; 16:11; Efesiërs 6:11, voetnoot in NW). Heidense Konstantyn het nie die Christene beveg nie. Hy het dit eerder raadsaam geag om heidense en Christelike opvattings in ’n nuwe staatsgodsdiens saam te smelt.
Wat ’n waarskuwing bevat dit tog vir ons almal! Wanneer ons voor wrede vervolging te staan kom, sal ons liefde vir Jehovah ons help om nie ons onkreukbaarheid ter wille van enige tydelike fisiese verligting prys te gee nie (1 Petrus 5:9). Ons sal eweneens nie toelaat dat ’n tydperk van vrede ons Christelike lewenskrag verswak nie (Hebreërs 2:1; 3:12, 13). As ons streng by Bybelbeginsels hou, sal ons lojaal bly aan Jehovah, die God wat sy volk kan verlos.—Psalm 18:25, 48, NW.
[Foto-erkenning op bladsy 28]
Musei Capitolini, Roma