Is daar ’n uitweg uit die mens se sondige toestand?
TSJISAKO en haar vier tienderjarige kinders het die openbare toilette in ’n stad 600 kilometer van haar huis af skoongemaak. Terwyl sy daarmee besig was, het sy ’n soetra, wat sy nie verstaan het nie, gesing. Dit is een van die gebruike van ’n godsdiensgroep wat probeer uitvind wat die eintlike kern van alle godsdienste is.
“Hoewel ek by die streng gebruike gehou het”, sê Tsjisako, “kon ek nie my persoonlikheid verander nie. Diep in my hart kon ek ander mense nie vergewe nie, en ek kon nie opregte liefde betoon nie.”
Selfs in Oosterse lande, waar die meeste mense geen begrip van sonde het soos dit in die Bybel geleer word nie, ondervind baie, net soos Tsjisako, gewetenswroeging oor hulle sondige neigings (Romeine 2:14, 15). Het ons nie al almal sleg gevoel omdat ons nie goedhartigheid bewys het aan iemand wat swaar kry nie of bitter spyt gevoel oor iets wat ons nooit moes gesê het nie? (Jakobus 4:17). En skuil ’n nare monster van jaloesie nie in jonk sowel as oud nie?
Waarom het mense sulke kwellende gevoelens? Omdat hulle, of hulle dit besef of nie, ’n innerlike sin het van wat verkeerd is, van wat sonde is. Ons word almal deur sondige neigings geraak, of ons van die Bybel se leerstelling van sonde bewus is of nie. Iemand wat goed vertroud was met hierdie onderwerp het eenkeer tot die gevolgtrekking gekom: “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.”—Romeine 3:23.
Kan sonde tot niet gemaak word?
Baie mense, veral in die Christendom, probeer vandag om gevoelens van sonde en skuld uit hulle gewetens te wis. “Die woord ‘sonde’ . . . het al feitlik verdwyn”, het dr. Karl Menninger in sy boek Whatever Became of Sin? gesê. Maar om die woord “sonde” te vermy, help ewe min as wat ’n bejaarde man die woord “oud” probeer vermy. Ons moet die feit onder die oë sien dat ons sondige neigings het en dat ons uit daardie ellendige toestand verlos moet word. Maar deur wie?
Die Christenapostel Paulus het daardie vraag gevra nadat hy erken het dat hy die neiging het om te sondig ten spyte daarvan dat hy die goeie wil doen: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” Toe het Paulus geantwoord: “Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” Waarom? Omdat God voorsiening gemaak het dat ons deur middel van Jesus se losprysoffer vergifnis van sondes kan verkry.—Romeine 7:14-25.
Baie van die 3 500 000 000 nie-Christene van die wêreld (twee keer soveel as sogenaamde Christene) vind dit egter baie moeilik om die leerstelling van ’n losprys te verstaan. Die leerstelling van die losprys het byvoorbeeld die grootste struikelblok geword vir ’n Moslem wat in Japan woon en wat die Bybel ’n ruk lank bestudeer het. Vir baie Oosterlinge is die begrip dat een mens ten behoewe van almal kon sterf iets vreemds.
Dit is verstaanbaar, aangesien selfs sommige in die Christendom dit moeilik vind om hierdie basiese leerstelling te verstaan. “Die teologie van die Verlossing”, het die New Catholic Encyclopedia erken, “het in sekere mate nie sy doel bereik nie en is steeds ’n probleem in die teologie.”
Die mate waarin daar verwarring oor hierdie leerstelling bestaan, word goed toegelig deur die woorde van godsdiensskrywer N. H. Barbour: “Christus se dood is net so min ’n vergoeding vir die mens se sondes as wat ’n aardse ouer dit as ’n regverdige vergoeding vir sy kind se wangedrag sou beskou as ’n speld deur ’n vlieg gesteek word sodat dit ly en doodgaan.” Charles T. Russell was destyds met Barbour geaffilieer, en hy het besef dat dit uiters noodsaaklik was dat die leerstelling van die losprys verdedig moes word. Hy het hom van Barbour gedistansieer en in 1879 ’n nuwe tydskrif begin publiseer, wat later die tydskrif geword het wat jy nou lees. Die Wagtoring was van die staanspoor af ’n kampvegter vir Jesus Christus se losprysoffer.
Maar kan hierdie leerstelling ooit aanvaarbaar wees vir diegene wat nie ’n “Christelike” agtergrond het nie? Om uit te vind, kom ons ondersoek hierdie leerstelling van een mens wat vir almal gesterf het van naderby.