Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 6/1 bl. 10-15
  • ’n Vry volk maar met verantwoordelikheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Vry volk maar met verantwoordelikheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Godgegewe vryheid—met verantwoordelikheid
  • Die vryheid van God se uitverkore volk
  • Die wese van Christelike vryheid
  • Vry maar verantwoordelik
  • Dien Jehovah, die God van vryheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Moenie die doel van godgegewe vryheid mis nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Die pad na ware vryheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Welkom by die “Liefhebbers van Vryheid”-Streekbyeenkomste!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 6/1 bl. 10-15

’n Vry volk maar met verantwoordelikheid

“Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”—JOHANNES 8:32.

1, 2. (a) Watter rol het vryheid in die mensegeskiedenis gespeel? (b) Wie alleen is waarlik vry? Verduidelik.

VRYHEID. Wat ’n kragtige woord is dit tog nie! Die mens het ontelbare oorloë en revolusies sowel as onberekenbare maatskaplike woelinge verduur vanweë mense se begeerte om vry te wees. The Encyclopedia Americana sê met reg: ‘In die ontwikkeling van die beskawing het geen ander begrip ’n belangriker rol gespeel as vryheid nie.’

2 Maar hoeveel mense is werklik vry? Hoeveel weet selfs wat vryheid is? The World Book Encyclopedia sê: “Vir mense om volkome vry te wees, moet daar geen beperkings op hulle denke, spraak of optrede wees nie. Hulle moet weet watter keuses hulle het, en hulle moet die mag hê om oor daardie keuses te besluit.” Ken jy, met die oog hierop, enigiemand wat waarlik vry is? Wie kan sê dat hulle “geen beperkings op hulle denke, spraak of optrede” het nie? Daar is in der waarheid net een persoon in die ganse heelal wat aan daardie beskrywing voldoen—Jehovah God. Net hy geniet absolute vryheid. Net hy kan kies wat hy wil en dit dan ondanks enige teenstand uitvoer. Hy is “die Almagtige”.—Openbaring 1:8; Jesaja 55:11.

3. Op watter voorwaarde geniet mense gewoonlik vryheid?

3 Vir nietige mense kan vryheid net relatief wees. Dit word gewoonlik deur die een of ander gesag aan ons gegee of gewaarborg en hou verband met ons onderworpenheid aan daardie gesag. Trouens, ’n mens kan in byna alle gevalle net vry wees as jy die gesag erken wat jou vryheid waarborg. Mense wat in die “vrye wêreld” lewe, geniet byvoorbeeld baie voordele, soos bewegingsvryheid, vryheid van spraak en godsdiensvryheid. Wat waarborg hierdie vryhede? Die landswet. ’n Mens kan hierdie vryhede net geniet solank jy die wet gehoorsaam. As jy jou vryheid misbruik en die wet oortree, word jy deur die owerheid daarvoor verantwoordelik gehou, en jou vryheid kan drasties deur tronkstraf aan bande gelê word.—Romeine 13:1-4.

Godgegewe vryheid—met verantwoordelikheid

4, 5. Watter vryheid geniet aanbidders van Jehovah, en waarvoor sal hy hulle verantwoordelik hou?

4 Jesus het in die eerste eeu oor vryheid gepraat. Hy het vir die Jode gesê: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:31, 32). Hy het nie van vryheid van spraak of godsdiensvryheid gepraat nie. Hy het beslis nie van bevryding van die juk van Rome—iets waarna baie van die Jode uitgesien het—gepraat nie. Nee, dit was iets baie kosbaarders, ’n vryheid wat nie deur die wette van mense of die gier van die een of ander heerser verleen word nie, maar deur die Oppersoewerein van die heelal, Jehovah. Dit was vryheid van bygeloof, vryheid van godsdiensonkunde en baie, baie meer. Die vryheid wat van Jehovah verkry word, is ware vryheid, en dit sal tot in ewigheid bestaan.

5 Die apostel Paulus het gesê: “Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid” (2 Korinthiërs 3:17). Die wyse waarop Jehovah deur die eeue heen teenoor die mens opgetree het, het die versekering gegee dat getroues eindelik die beste en grootste menslike vryheid, “die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God”, sal geniet (Romeine 8:21). Jehovah verleen intussen aan ons ’n mate van vryheid deur middel van Bybelwaarheid, en hy hou ons daarvoor verantwoordelik as ons daardie vryheid misbruik. Die apostel Paulus het geskryf: “Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.”—Hebreërs 4:13, NAV.

6-8. (a) Watter vryhede het Adam en Eva geniet, en op watter voorwaarde kon hulle daardie vryhede behou? (b) Wat het Adam en Eva vir hulle en hulle nakomelinge verloor?

6 Verantwoordelikheid teenoor Jehovah het na vore gekom toe ons eerste mense-ouers, Adam en Eva, gelewe het. Jehovah het hulle met die kosbare gawe van wilsvryheid geskep. Solank hulle daardie wilsvryheid verantwoordelik gebruik het, het hulle ander seëninge geniet, soos vryheid van vrees, vryheid van siekte, vryheid van die dood en die vryheid om hulle hemelse Vader met ’n skoon gewete te nader. Maar toe hulle hulle wilsvryheid misbruik het, het dit alles verander.

7 Jehovah het Adam en Eva in die tuin van Eden geplaas en hulle die vrugte van al die bome van die tuin gegee om te geniet—behalwe een. Daardie een het hy vir homself gehou; dit was “die boom van die kennis van goed en kwaad” (Genesis 2:16, 17). Deur nie van die vrugte van daardie boom te eet nie, sou Adam en Eva erken dat net Jehovah vry is om die standaard te stel van wat goed en wat sleg is. As hulle verantwoordelik opgetree het en nie van die verbode vrug geëet het nie, sou Jehovah aangehou het om hulle ander vryhede te waarborg.

8 Eva het ongelukkig geluister na die Slang se subtiele voorstel dat sy self ‘goed en kwaad moet ken’ (Genesis 3:1-5). Eers het sy, en toe Adam, van die verbode vrug geëet. Die gevolg was dat hulle hulle geskaam en weggekruip het toe Jehovah God met hulle in die tuin van Eden kom praat het (Genesis 3:8, 9). Hulle was nou sondaars wat die vryheid om tot God te nader, iets wat uit ’n skoon gewete voortspruit, verloor het. As gevolg hiervan het hulle ook vryheid van siekte en die dood vir hulle sowel as hulle nakomelinge verloor. Paulus het gesê: “Deur een mens [Adam het] die sonde in die wêreld ingekom . . . en deur die sonde die dood, en so [het] die dood tot alle mense deurgedring . . . , omdat almal gesondig het.”—Romeine 5:12; Genesis 3:16, 19.

9. Wie is daarvoor bekend dat hulle goed gebruik gemaak het van die mate van vryheid wat hulle geniet het?

9 Die mens het nietemin steeds wilsvryheid gehad, en mettertyd het sommige onvolmaakte mense dit op ’n verantwoordelike wyse gebruik om Jehovah te dien. Party van hulle se name is vir ons van die ou tyd af bewaar. Manne soos Abel, Henog, Noag, Abraham, Isak en Jakob (wat ook Israel genoem is) is voorbeelde van mense wat gebruik gemaak het van die mate van vryheid wat hulle steeds geniet het om God se wil te doen. En dit het derhalwe met hulle goed gegaan.—Hebreërs 11:4-21.

Die vryheid van God se uitverkore volk

10. Wat was die voorwaardes van die verbond wat Jehovah met sy spesiale volk gesluit het?

10 In die dae van Moses het Jehovah die kinders van Israel—wat toe miljoene getel het—uit slawerny in Egipte bevry en ’n verbond met hulle gesluit waardeur hulle sy spesiale volk geword het. Die Israeliete het ’n priesterdom en ’n stelsel van diereoffers onder hierdie verbond gehad wat hulle sondes op sinnebeeldige wyse bedek het. Hulle het dus die vryheid gehad om God in aanbidding te nader. Hulle het ook ’n stel wette en regulasies gehad om te verseker dat hulle vry van bygelowige gebruike en valse aanbidding bly. Later sou hulle die Beloofde Land as erfenis ontvang, asook die versekering dat God hulle teen hulle vyande sou help. Die Israeliete se deel van die verbond het vereis dat hulle Jehovah se Wet nakom. Die Israeliete het hierdie voorwaarde gewillig aanvaar en gesê: “Alles wat die Here gespreek het, sal ons doen.”—Exodus 19:3-8; Deuteronomium 11:22-25.

11. Wat het gebeur toe Israel nie hulle deel van die verbond met Jehovah nagekom het nie?

11 Die Israeliete het meer as 1 500 jaar lank daardie spesiale verhouding met Jehovah geniet. Maar hulle het die verbond keer op keer verbreek. Hulle is herhaaldelik deur valse aanbidding verlok en het slawe geword van afgodediens en bygeloof, en God het dus toegelaat dat hulle vyande hulle fisies tot slawe maak (Rigters 2:11-19). In plaas van die bevrydende seëninge te geniet wat daaruit sou voortvloei as hulle die verbond nagekom het, is hulle gestraf omdat hulle die verbond oortree het (Deuteronomium 28:1, 2, 15). Jehovah het uiteindelik in 607 v.G.J. toegelaat dat die nasie as slawe na Babilon weggevoer word.—2 Kronieke 36:15-21.

12. Wat het eindelik met betrekking tot die Mosaïese Wetsverbond duidelik geword?

12 Dit was ’n swaar les. Hulle moes daaruit geleer het hoe belangrik dit is om die Wet na te kom. Nogtans het die Israeliete, nadat hulle ná 70 jaar na hulle eie land teruggekeer het, steeds nie die Wetsverbond behoorlik nagekom nie. Jehovah het byna honderd jaar ná hulle terugkeer aan die Israelitiese priesters gesê: “Julle het van die weg afgewyk, julle het baie deur jul onderrig laat struikel, julle het die verbond met Levi verbreek” (Maleagi 2:8). Selfs die opregstes onder die Israeliete kon nie aan die standaard van die volmaakte Wet voldoen nie. Pleks van ’n seën te wees, het dit volgens die apostel Paulus “’n vloek” geword (Galasiërs 3:13). Iets meer as die Mosaïese Wetsverbond was ongetwyfeld nodig om onvolmaakte, getroue mense tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God te bring.

Die wese van Christelike vryheid

13. Watter beter grondslag vir vryheid is eindelik voorsien?

13 Daardie iets meer was die losprysoffer van Jesus Christus. Omstreeks die jaar 50 G.J. het Paulus aan die gemeente gesalfde Christene in Galasië geskryf. Hy het beskryf hoe Jehovah hulle van slawerny aan die Wetsverbond bevry het en gesê: “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie” (Galasiërs 5:1). Hoe het Jesus mense vrygemaak?

14, 15. In watter wonderlike opsigte het Jesus gelowige Jode en nie-Jode bevry?

14 Ná Jesus se dood het die Jode wat hom as die Messias aangeneem en sy dissipels geword het onder ’n nuwe verbond gekom wat die ou Wetsverbond vervang het (Jeremia 31:31-34; Hebreërs 8:7-13). Onder hierdie nuwe verbond het hulle—en gelowige nie-Jode wat later by hulle aangesluit het—’n deel van ’n nuwe, geestelike nasie geword wat vleeslike Israel as God se spesiale volk vervang het (Romeine 9:25, 26; Galasiërs 6:16). As sodanig het hulle die vryheid geniet wat Jesus belowe het toe hy gesê het: “Die waarheid sal julle vrymaak.” Buiten dat dit hulle vrygemaak het van die vloek van die Wet van Moses het die waarheid Joodse Christene vrygemaak van al die swaar tradisies wat godsdiensleiers hulle opgelê het. En dit het nie-Joodse Christene verlos van die afgodediens en bygelowe van hulle vorige godsdiens (Mattheüs 15:3, 6; 23:4; Handelinge 14:11-13; 17:16). En dit was nie al nie.

15 Toe Jesus gepraat het oor die waarheid wat vrymaak, het hy gesê: “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ’n [slaaf] van die sonde is” (Johannes 8:34, vgl. NW). Aangesien Adam en Eva gesondig het, was alle mense wat ooit geleef het sondaars en dus slawe van die sonde. Jesus was die enigste uitsondering en Jesus se losprys het gelowiges van daardie slawerny bevry. Hulle was weliswaar nog onvolmaak en van nature sondaars. Maar hulle kon nou berou hê oor hulle sondes en op grond van Jesus se offer om vergifnis smeek in die vertroue dat hulle smekinge verhoor sou word (1 Johannes 2:1, 2). God het hulle op grond van Jesus se losprysoffer regverdig verklaar, en hulle kon hom met ’n gereinigde gewete nader (Romeine 8:33). Aangesien die losprys die geleentheid op ’n opstanding tot eindelose lewe geopen het, het die waarheid hulle boonop selfs van hulle vrees vir die dood bevry.—Mattheüs 10:28; Hebreërs 2:15.

16. Hoe is Christelike vryheid meer omvattend as enige vryheid wat deur die wêreld gebied word?

16 Maar manne en vroue is op ’n wonderlike wyse die geleentheid op Christelike vryheid gebied, ongeag in watter situasie hulle hulle menslikerwyse bevind het. Armes, gevangenes, selfs slawe kon vry wees. Daarenteen was die hooggeplaastes van die nasies wat die boodskap oor die Christus verwerp het steeds slawe van bygeloof, die sonde en die vrees vir die dood. Ons moet nooit ophou om Jehovah te dank vir hierdie vryheid wat ons geniet nie. Niks wat die wêreld bied, kan hoegenaamd daarmee vergelyk word nie.

Vry maar verantwoordelik

17. (a) Hoe het sommige in die eerste eeu hulle Christelike vryheid verloor? (b) Waarom moet ons ons nie laat bedrieg deur die oënskynlike vryheid in Satan se wêreld nie?

17 In die eerste eeu het die meeste gesalfde Christene hulle waarskynlik in hulle vryheid verheug en hulle onkreukbaarheid tot elke prys behou. Maar ongelukkig het sommige Christelike vryheid met al sy seëninge gesmaak en dit toe versmaai deur na slawerny in die wêreld terug te keer. Waarom was dit die geval? Baie se geloof het ongetwyfeld verswak, en hulle het eenvoudig ‘weggedrywe’ (Hebreërs 2:1). Ander ‘het die geloof en ’n goeie gewete van hulle weggestoot en aan hulle geloof skipbreuk gely’ (1 Timotheüs 1:19). Hulle het moontlik voor materialisme of ’n onsedelike leefwyse geswig. Hoe belangrik is dit tog dat ons ons geloof bewaar en daarop voortbou deur besig te bly met persoonlike studie, assosiasie, gebed en Christelike bedrywighede! (2 Petrus 1:5-8). Laat ons nooit ophou om Christelike vryheid te waardeer nie! Sommige word weliswaar in die versoeking gebring deur die laksheid wat hulle buite die gemeente sien en omdat hulle dink dat diegene in die wêreld vryer is as ons. Maar wat in die wêreld soos vryheid lyk, is in werklikheid gewoonlik net onverantwoordelikheid. As ons nie slawe van God is nie, is ons slawe van die sonde, en die loon van daardie slawerny is bitter.—Romeine 6:23; Galasiërs 6:7, 8.

18-20. (a) Hoe het sommige “vyande van die [folterpaal]” geword? (b) Hoe het sommige ‘hulle vryheid as ’n dekmantel vir die boosheid gebruik’?

18 Daarbenewens het Paulus verder in sy brief aan die Filippense geskryf: “Want baie—van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê—wandel as vyande van die [folterpaal] van Christus” (Filippense 3:18, vgl. NW). Ja, daar was voormalige Christene wat vyande van die geloof geword het deurdat hulle afvalliges geword het. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons nie hulle handelswyse navolg nie! Daarbenewens het Petrus geskryf: “[Wees soos] vrymense en nie asof julle die vryheid het as ’n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God” (1 Petrus 2:16). Hoe kan iemand sy vryheid as ’n dekmantel vir die boosheid gebruik? Deur ernstige sondes te pleeg—miskien in die geheim—terwyl hy nog met die gemeente assosieer.

19 Dink aan Diotrefes. Johannes het van hom gesê: “Diotrefes, wat graag eerste wil wees [in die gemeente], ontvang niks van ons met respek nie. . . . En [hy] . . . ontvang ook die broeders nie met respek nie, en diegene wat hulle wil ontvang, probeer hy ook hiervan weerhou deur hulle uit die gemeente te werp” (3 Johannes 9, 10, NW). Diotrefes het sy vryheid as ’n dekmantel vir sy eie selfsugtige ambisie gebruik.

20 Die dissipel Judas het geskryf: “Sekere mense het ingesluip, wat reeds lank gelede deur die Skrif vir die oordeel bestem is, goddelose mense wat die onverdiende goedheid van ons God verander in ’n verontskuldiging vir losbandige gedrag en ontrou is aan ons enigste Eienaar en Heer, Jesus Christus” (Judas 4, NW). Hierdie mense het ’n verderflike invloed uitgeoefen terwyl hulle met die gemeente geassosieer het (Judas 8-10, 16). In Openbaring lees ons dat daar sektevorming, afgodediens en onsedelikheid in die gemeentes van Pergamus en Thiatire was (Openbaring 2:14, 15, 20-23). Hoe het hulle tog nie hulle Christelike vryheid misbruik nie!

21. Wat wag op diegene wat hulle Christelike vryheid misbruik?

21 Wat wag op diegene wat hulle Christelike vryheid so misbruik? Onthou wat met Israel gebeur het. Israel was God se uitverkore volk, maar Jehovah het hulle eindelik verwerp. Waarom? Omdat die Israeliete hulle verhouding met God as ’n dekmantel vir die boosheid gebruik het. Hulle het daarop geroem dat hulle seuns van Abraham is, maar hulle het Jesus, die Saad van Abraham en Jehovah se uitverkore Messias, verwerp (Mattheüs 23:37-39; Johannes 8:39-47; Handelinge 2:36; Galasiërs 3:16). “Die Israel van God” sal nie op soortgelyke wyse as ’n groep ontrou raak nie (Galasiërs 6:16). Maar enige Christen wat geestelike of sedelike besoedeling veroorsaak, sal eindelik gedissiplineer word of selfs ’n ongunstige oordeel ontvang. Ons moet almal verantwoording doen van die manier waarop ons ons Christelike vryheid gebruik.

22. Watter vreugde sal dit vir diegene bring wat hulle Christelike vryheid gebruik om slawe van God te wees?

22 Hoeveel beter is dit tog om slawe van God te wees en sodoende waarlik vry te wees. Net Jehovah verleen die vryheid wat werklik tel. Die spreuk sê: “Wees wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee” (Spreuke 27:11). Laat ons ons Christelike vryheid tot verheerliking van Jehovah gebruik. As ons dit doen, sal dit ons lewe sinvol maak, ons hemelse Vader verbly en sal ons eindelik onder diegene wees wat die vryheid van die heerlikheid van die seuns van God geniet.

Kan jy verduidelik?

◻ Wie alleen is waarlik vry?

◻ Watter vryhede het Adam en Eva geniet, en waarom het hulle dit verloor?

◻ Watter vryhede het die Israeliete geniet wanneer hulle hulle verbond met Jehovah nagekom het?

◻ Watter vryhede het diegene gehad wat Jesus aangeneem het?

◻ Hoe het sommige in die eerste eeu hulle Christelike vryheid verloor of misbruik?

[Prent op bladsy 13]

Die vryheid wat Jesus gegee het, was baie beter as enige vryheid wat die mens kan verleen

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel