Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 5/1 bl. 31-32
  • “Die koninkryk van God het naby gekom”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Die koninkryk van God het naby gekom”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • “Die koninkryk van God is in julle midde”
  • “Die koninkryk van ons Heer en van sy Christus”
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 5/1 bl. 31-32

“Die koninkryk van God het naby gekom”

AANGESIEN die Messias ’n afstammeling van Abraham, Isak en Jakob, ’n lid van die stam van Juda en ’n “seun van Dawid” sou wees, moes hy ’n menslike geboorte hê; hy moes, soos Daniël se profesie gesê het, ’n “Seun van ’n mens” wees. Toe die “volheid van die tyd gekom het”, het Jehovah God sy Seun gestuur wat uit ’n vrou gebore is en wat aan al die wetlike vereistes voldoen het om “die troon van sy vader Dawid” as erfenis te ontvang (Galasiërs 4:4; Lukas 1:26-33). Die Bybelverslag sowel as sekulêre bewyse toon dat daar ’n algemene gevoel van verwagting onder die Jode geheers het dat die koms van die Messias naby was (Lukas 2:36-38). Maar baie het hoofsaaklik daarin belanggestel om bevry te word van die swaar juk van Romeinse oorheersing.

Johannes die Doper het onomwonde vir die mense gesê dat ’n goddelike oordeelstyd hulle in die gesig staar, dat ‘die koninkryk van die hemele naby gekom het’, wat dit noodsaaklik gemaak het dat hulle berouvol hulle ongehoorsame handelswyse ten opsigte van God se wet moes laat vaar. Dit het weer eens Jehovah se standaard beklemtoon dat hy net gewillige onderdane aanvaar, mense wat die regverdigheid van sy weë en wette erken en waardeer.—Mattheüs 3:1, 2, 7-12.

Die Messias het gekom toe Jesus hom by Johannes aangebied het om gedoop te word en toe met God se heilige gees gesalf is (Mattheüs 3:13-17). Sodoende het hy die aangewese Koning geword, die Een wat deur Jehovah se Hof erken word as die persoon wat die wetlike reg op die Dawidiese troon het, ’n reg wat nie gedurende die voorafgaande ses eeue uitgeoefen is nie. Maar Jehovah het ook hierdie Seun in wie hy ’n welbehae het in ’n verbond vir ’n hemelse Koninkryk gebring, waarin Jesus Koning sowel as Priester sou wees, soos in die geval van Melgisedek van eertydse Salem (Psalm 110:1-4; Lukas 22:29; Hebreërs 5:4-6; 7:1-3; 8:1). As die beloofde ‘saad van Abraham’ sal hierdie hemelse Koning-Priester God se Hoofbewerker wees om mense van alle nasies te seën.—Genesis 22:15-18; Galasiërs 3:14; Handelinge 3:15.

“Die koninkryk van God is in julle midde”

Jesus het sy openbare bediening betree met die wete dat hy op Jehovah se krag kon vertrou om hom te beskerm en hom welslae te gee terwyl hy die volgende aan Jehovah se verbondsvolk bekend gemaak het: “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom” (Markus 1:14, 15). Om vas te stel in watter sin die Koninkryk “naby” was, kan ’n mens na sy woorde aan sekere Fariseërs kyk, naamlik: “Die koninkryk van God is in julle midde” (Lukas 17:21, NW). The Interpreter’s Dictionary of the Bible lewer kommentaar oor hierdie teks en sê: “Die teorie dat die koninkryk van God ’n innerlike geestestoestand, of persoonlike redding, is, druis in teen die konteks van hierdie vers en ook teen die hele N[uwe]-T[estamentiese] uiteensetting van die begrip” (Onder redaksie van G. A. Buttrick, 1962, Deel 2, bladsy 883). Aangesien “koninkryk [ba·si·leiʹa]” “koninklike waardigheid” kan beteken, is dit duidelik dat Jesus bedoel het dat hy as God se koninklike verteenwoordiger, as die een wat deur God vir die koningskap gesalf is, in hulle midde was. Hy was nie net in hierdie hoedanigheid teenwoordig nie, maar hy het ook die gesag gehad om werk te verrig wat getuig het van God se koninklike mag, asook om kandidate voor te berei vir posisies in sy toekomstige Koninkryksheerskappy. Vandaar die ‘nabyheid’ van die Koninkryk; dit was ’n tyd wat met ontsaglike geleenthede gepaardgegaan het.

“Die koninkryk van ons Heer en van sy Christus”

Die apostel Johannes het teen die einde van die eerste eeu G.J. geskryf dat hy deur ’n goddelike openbaring die toekomstige tyd gesien het wanneer Jehovah God deur sy Seun sy goddelike heerskappy op ’n nuwe wyse sou uitoefen. Dan sal daar gesê word dat Jehovah ‘sy groot mag aangeneem en as koning begin heers het’. Dit sal die tyd wees wanneer luide stemme in die hemel sal sê: “Die koninkryk van die wêreld het die koninkryk van ons Heer en van sy Christus geword, en Hy sal as Koning regeer tot in alle ewigheid” (NW).—Openbaring 11:15, 17.

Dit is “ons Heer”, die Soewereine Heer Jehovah, wat sy gesag oor “die koninkryk van die wêreld” laat geld deur sy soewereiniteit ten opsigte van die aarde op ’n nuwe wyse uit te oefen. Hy gee sy Seun, Jesus Christus, ’n ondergeskikte aandeel in daardie Koninkryk, en daarom word dit “die koninkryk van ons Heer en van sy Christus” genoem. Dit het in 1914 gebeur toe “die tye van die nasies” ten einde geloop het.—Lukas 21:24.

Toe Jesus Christus ’n aandeel in “die koninkryk van die wêreld” gekry het, het hy die nodige stappe gedoen om teenstand teen God se soewereiniteit uit die weg te ruim. Hy het in die hemelse ryk daarmee begin; Satan en sy demone is oorwin en na die omgewing van die aarde neergewerp. Dit het tot die aankondiging gelei: “Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus” (Openbaring 12:1-10). Gedurende die kort tydperk wat vir Satan oor is, vervul hy steeds die profesie in Genesis 3:15 deur teen die “nakomelinge” van die “saad” van die vrou oorlog te voer (Openbaring 12:13-17). Jehovah se “regverdige dade” word terselfdertyd geopenbaar en die oordele wat hy uitspreek teister sy teenstanders. Dit sal lei tot die vernietiging van godsdienstige Babilon die Grote (Openbaring 18:1-8). Daarna sal “die koninkryk van ons Heer en van sy Christus” sy hemelse leërmagte teen die heersers van alle aardse koninkryke en hulle leërmagte na ’n oorlog by Armageddon stuur en hulle gevolglik vernietig (Openbaring 16:14-16; 19:11-21). Dit is die antwoord op die smeekbede aan God: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 6:10). Satan word dan in die afgrond gewerp en ’n tydperk van duisend jaar begin waartydens Christus Jesus en sy deelgenote as konings en priesters oor die aarde se inwoners sal heers.—Openbaring 20:1, 6.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel