Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 5/1 bl. 14-19
  • Wie sal aan die “tyd van benoudheid” ontkom?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie sal aan die “tyd van benoudheid” ontkom?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe “die begeerlike dinge” inkom
  • ‘Soek, soek, soek’
  • Migael tree op!
  • Versteek op die dag van Jehovah se toorn
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Soek Jehovah voor die dag van sy toorn
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Doen openbare bekendmaking tot redding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Jehovah se oordeelsdag is naby!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 5/1 bl. 14-19

Wie sal aan die “tyd van benoudheid” ontkom?

“Elkeen wat die naam van die HERE [Jehovah] aanroep, sal gered word.”—JOËL 2:32, vgl. NW.

1. Wat is volgens Daniël en Maleagi ’n kenmerk van diegene wat gedurende die komende “tyd van benoudheid” gered sal word?

DIE profeet Daniël het ’n gesig gehad oor ons dag en geskryf: “Dit sal ’n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan” (Daniël 12:1). Inderdaad vertroostende woorde! Jehovah sal sy goedgekeurde volk onthou, net soos Maleagi 3:16 ook sê: “Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ’n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer [“aan sy naam dink”, NW].”

2. Waartoe lei dit as ons aan Jehovah se naam dink?

2 As ons aan Jehovah se naam dink, lei dit tot juiste kennis oor hom, sy Christus en al sy wonderlike Koninkryksvoornemens. So leer sy volk om hom te vereer, om ’n intieme, toegewyde verhouding met hom aan te knoop en om hom ‘uit hulle hele hart en uit hulle hele verstand en uit hulle hele krag’ lief te hê (Markus 12:33; Openbaring 4:11). Jehovah het deur die offerande van Jesus Christus genadig voorsiening gemaak vir die sagmoediges van die aarde om die ewige lewe te verkry. Gevolglik kan hulle met vertroue, soos die hemelse leërskare wat God tydens Jesus se geboorte geloof het, sê: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ’n welbehae [“onder mense van welwillendheid”, NW].”—Lukas 2:14.

3. Wat moet Jehovah eers doen voordat vrede oor die aarde sal kom?

3 Daardie vrede is nader as wat die meeste mense dink. Maar die voltrekking van Jehovah se oordeel aan ’n verdorwe wêreld moet eers kom. Sy profeet Sefanja sê: “Naby is die groot dag van die HERE, naby en baie haastig.” Watter soort dag is dit? Die profesie sê verder: “Hoor! die dag van die HERE! Bitterlik skreeu die held daar. Dié dag is ’n dag van grimmigheid, ’n dag van benoudheid en angs, ’n dag van woestheid en verwoesting, ’n dag van duisternis en donkerheid, ’n dag van wolke en wolkenag, ’n dag van basuingeklank en krygsgeskreeu teen die versterkte stede en teen die hoë hoekvestings. En Ek sal die mense in benoudheid bring, en hulle sal rondloop soos blindes, omdat hulle teen die HERE gesondig het.”—Sefanja 1:14-17; sien ook Habakkuk 2:3; 3:1-6, 16-19.

4. Wie gee vandag gehoor aan die uitnodiging om God te leer ken en Hom te dien?

4 Gelukkig gee miljoene vandag gehoor aan die uitnodiging om God te leer ken en Hom te dien. Van gesalfde Christene met wie die nuwe verbond gesluit is, is daar geprofeteer: “Hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE” (Jeremia 31:34). Hulle het die hedendaagse getuieniswerk aangevoor. En nou, namate al hoe meer lede van die gesalfde oorblyfsel hulle aardse loopbaan voltooi, stroom die “groot menigte” “ander skape” in om ‘God dag en nag te dien’ in sy tempelagtige reëling (Openbaring 7:9, 15; Johannes 10:16). Is jy een van dié wat hierdie onskatbare voorreg geniet?

Hoe “die begeerlike dinge” inkom

5, 6. Watter reddingswerk vind plaas voordat al die nasies uitmekaargeskud word?

5 Kom ons blaai nou na Haggai 2:7, waar Jehovah aangaande sy geestelike huis van aanbidding profeteer. Hy sê: “Ek sal al die nasies skud, en die begeerlike dinge van al die nasies moet inkom; en ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul” (NW). Volgens Bybelprofesieë dui die ‘geskud van die nasies’ op Jehovah se voltrekking van oordeel aan die nasies (Nahum 1:5, 6; Openbaring 6:12-17). Daarom sal die optrede van Jehovah wat in Haggai 2:7 voorspel word ’n hoogtepunt bereik wanneer die nasies uitmekaargeskud—vernietig—word. Maar wat van “die begeerlike dinge van al die nasies”? Moet hulle op daardie laaste vernietigende geskud wag voordat hulle ingesamel word? Nouliks.

6 Joël 2:32 sê: “Elkeen wat die Naam van die HERE [Jehovah] aanroep, sal gered word; want op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die HERE gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat die HERE [Jehovah] sal roep.” Jehovah trek hulle, en hulle roep sy naam aan met geloof in Jesus se offerande voor die kritieke geskud van die groot verdrukking. (Vergelyk Johannes 6:44; Handelinge 2:38, 39.) Gelukkig ‘kom’ die kosbare groot menigte, wat nou meer as viermiljoen tel, in Jehovah se huis van aanbidding in voordat hy die nasies by Armageddon sal “skud”.—Openbaring 7:9, 10, 14.

7. Wat behels dit om ‘die naam van Jehovah aan te roep’?

7 Hoe roep hierdie oorlewendes die naam van Jehovah aan? Jakobus 4:8 gee ons ’n aanduiding en sê: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!” Soos in die geval van die gesalfde oorblyfsel wat die leiding geneem het, moet diegene wat hoop om onder die groot menigte Armageddonoorlewendes te wees beslissend optree. As jy hoop om dit te oorleef, moet jy Jehovah se reinigende Woord indrink en sy regverdige standaarde in jou lewe toepas. Jy moet beslissend optree deur jou lewe aan Jehovah toe te wy en dit deur waterdoop te simboliseer. Die feit dat jy Jehovah in geloof aanroep, sluit ook in dat jy van hom getuig. Gevolglik skryf Paulus in Romeine hoofstuk 10, verse 9 en 10: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” Dan, in vers 13, haal die apostel Joël se profesie aan en beklemtoon hy dat ‘elkeen wat die Naam van Jehovah aanroep, gered sal word’.

‘Soek, soek, soek’

8. (a) Wat vereis Jehovah, volgens die profeet Sefanja, vir redding? (b) Watter waarskuwing word deur die woord “miskien” in Sefanja 2:3 aan ons oorgedra?

8 As ons na die Bybelboek Sefanja, hoofstuk 2, verse 2 en 3, blaai, lees ons wat Jehovah vir redding vereis: “Voordat daar oor julle kom die toorngloed van die HERE, voordat oor julle kom die dag van die toorn van die HERE. Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.” Let op die woord “miskien”. Dit is nie ’n geval van eenmaal gered, altyd gered nie. Of ons op daardie dag verborge sal bly of nie, hang daarvan af of ons daardie drie dinge aanhou doen. Ons moet Jehovah soek, ons moet geregtigheid soek en ons moet ootmoedigheid soek.

9. Hoe word diegene wat ootmoedigheid soek, beloon?

9 Die beloning as ons ootmoedigheid soek, is voorwaar groot! In Psalm 37, verse 9 tot 11, lees ons: “Die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit. . . . Nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie . . . Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.” En wat daarvan as ons geregtigheid, oftewel regverdigheid, soek? Vers 29 sê: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.” Verse 39 en 40 sê vir ons wat sal gebeur as ons Jehovah soek: “Die hulp van die regverdiges is van die HERE, hulle toevlug in tyd van benoudheid. En die HERE help hulle en red hulle; Hy red hulle van die goddelose mense en verlos hulle, want hulle skuil by Hom.”

10. Wie het dit duidelik gemaak dat hulle weier om Jehovah en ootmoedigheid te soek?

10 Die sektes van die Christendom het Jehovah nie gesoek nie. Hulle geestelikes verwerp selfs sy kosbare naam en is vermetel genoeg om dit uit hulle Bybelvertalings te verwyder. Hulle verkies om ’n naamlose Here of God te aanbid en ’n heidense Drie-eenheid te vereer. Daarbenewens soek die Christendom nie geregtigheid nie. Baie van sy lidmate se lewenswyse is permissief of hulle keur so ’n lewenswyse goed. Pleks van ootmoedigheid te soek, soos Jesus gedoen het, maak hulle, byvoorbeeld op televisie, ’n opsigtige vertoon van ’n weelderige en dikwels onsedelike lewenswyse. Geestelikes verryk hulleself ten koste van hulle kudde. In die woorde van Jakobus 5:5 het hulle “op die aarde ’n weelderige en losbandige lewe gelei”. Namate Jehovah se dag nader kom, sal hulle beslis vind dat die geïnspireerde woord op hulle van toepassing is: “Goed bring geen voordeel op die dag van die grimmigheid nie.”—Spreuke 11:4.

11. Wie is die wettelose mens, en hoe het hy hom geweldige bloedskuld op die hals gehaal?

11 In die eerste eeu G.J. het sommige Christene, soos die apostel Paulus in sy tweede brief aan die Thessalonicense sê, opgewonde geraak en gedink dat die dag van Jehovah destyds al voor die deur was. Maar Paulus het gewaarsku dat die groot afvalligheid eers moes kom en “die wettelose mens” geopenbaar moes word (2 Thessalonicense 2:1-3, vgl. NAV). Nou, in hierdie 20ste eeu, kan ons sien hoe omvattend daardie afvalligheid is en hoe wetteloos die geestelikes van die Christendom in God se oë is. Gedurende hierdie laaste dae sedert 1914 het die geestelikes hulle geweldige bloedskuld op die hals gehaal deur dié wat ‘swaarde van hulle pikke smee’ te ondersteun (Joël 3:10). Hulle het ook aangehou om valse leerstellings te leer, soos die inherente onsterflikheid van die mensesiel, die vaevuur, foltering in die helse vuur, kinderdoop, die Drie-eenheid en ander soortgelyke dinge. Wat sal met hulle gebeur wanneer Jehovah sy regterlike beslissing voltrek? Spreuke 19:5 sê: “Hy wat leuens uitstrooi, sal nie vrykom nie.”

12. (a) Wat is die menslike “hemele” en “aarde” wat binnekort vernietig sal word? (b) Wat leer ons uit die feit dat hierdie goddelose wêreld binnekort vernietig gaan word?

12 In 2 Petrus 3:10 lees ons: “Die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.” Korrupte regeringsvorme wat soos die hemele oor die mensdom getroon het, sowel as alle elemente waaruit die hedendaagse dekadente mensegemeenskap bestaan, sal van God se aarde verwyder word. Mense wat dodelike wapens vervaardig en verkoop, swendelaars, huigelagtige kerklidmate en hulle geestelikes, voorstanders van verdorwenheid, geweld en misdaad—al hierdie mense gaan verdwyn. Hulle sal deur Jehovah se toorn verteer word. Maar Petrus voeg in verse 11 en 12 dié waarskuwing by vir Christene: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?—julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas.”

Migael tree op!

13, 14. Wie is die groot Verdediger van Jehovah se heerskappy, en hoe is hy al sedert 1914 bedrywig?

13 Hoe sal enigiemand gedurende Jehovah se “tyd van benoudheid” ontkom? God se Werktuig om ontkoming te bewerkstellig, is die aartsengel Migael, wie se naam beteken “Wie is soos God?” Dit is dus gepas dat hy die Een is wat Jehovah se heerskappy verdedig en Jehovah as die enigste ware God en regmatige Soewereine Heer van die ganse heelal eer.

14 Watter merkwaardige gebeure beskryf Openbaring hoofstuk 12, verse 7 tot 17, tog nie aangaande “die dag van die Here” sedert 1914 nie! (Openbaring 1:10). Die aartsengel Migael werp die afvallige Satan uit die hemel na die aarde neer. Later, soos Openbaring hoofstuk 19, verse 11 tot 16 dit beskryf, trap hy wat “Getrou en Waaragtig” genoem word “die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige”. Hierdie magtige hemelse krygsman word “die Koning van die konings en die Here van die here” genoem. Laastens praat Openbaring hoofstuk 20, verse 1 en 2, van ’n groot engel wat Satan in die afgrond werp en hom duisend jaar lank daar gebind hou. Dit is duidelik dat al hierdie tekste van die Verdediger van Jehovah se soewereiniteit praat, die Here Jesus Christus, wat in 1914 deur Jehovah op sy glorieryke hemelse troon geplaas is.

15. In watter spesiale sin sal Migael binnekort “opstaan”?

15 Migael “staan” al, soos Daniël 12:1 dit stel, sedert hy in 1914 as Koning aangestel is ten behoewe van Jehovah se volk (NW). Maar binnekort gaan Migael in ’n baie spesifieke sin “opstaan”—as Jehovah se Werktuig wat alle goddeloosheid van die aarde verwyder en as die Verlosser van God se volk wêreldwyd. Hoe erg daardie “tyd van benoudheid” gaan wees, word getoon deur Jesus se woorde in Mattheüs 24:21, 22: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.”

16. Watter vlees sal gedurende die groot verdrukking gered word?

16 Hoe bly kan ons tog nie wees dat daar wel vlees is wat in daardie tyd gered sal word nie! Nee, nie vlees soos dié van die opstandige Jode wat in 70 G.J. in Jerusalem vasgekeer was en waarvan sommige as slawe na Rome weggevoer is nie. Inteendeel, diegene wat gedurende “die tyd van die einde” ontkom, sal soos die Christengemeente wees wat reeds uit Jerusalem gevlug het toe die laaste beleëring begin het. Hulle sal God se eie volk wees, die miljoene lede van die groot menigte saam met enige gesalfdes wat dalk nog op die aarde sal wees (Daniël 12:4). Die groot menigte ‘kom uit die groot verdrukking’. Waarom? Omdat hulle ‘hul klere gewas en hul klere wit gemaak het in die bloed van die Lam’. Hulle beoefen geloof in die loskoopkrag van Jesus se gegote bloed en toon daardie geloof deur God lojaal te dien. Jehovah, “Hy wat op die troon sit”, sprei selfs nou al sy beskermende tent oor hulle uit, terwyl die Lam, Christus Jesus, hulle as herder na fonteine van water van die lewe lei.—Openbaring 7:14, 15.

17. Hoe word die groot menigte in die besonder aangemoedig om op te tree sodat hulle gedurende die komende dag van benoudheid verborge kan bly?

17 Die miljoene lede van die groot menigte moet nooit toelaat dat hulle eerste liefde vir die waarheid afkoel terwyl hulle Jehovah, geregtigheid en ootmoedigheid soek nie! Wat moet jy doen as jy een van hierdie skaapgeaarde persone is? Soos Kolossense hoofstuk 3 verse 5 tot 14 sê, moet jy ‘die ou persoonlikheid met sy gebruike heeltemal aflê’ (NW). Streef met God se hulp daarna om ‘jou met die nuwe persoonlikheid te beklee wat op juiste kennis gegrond is’. Wees ootmoedig en laat jou ywer toeneem om Jehovah te loof en sy wonderlike voornemens aan ander bekend te maak en behou daardie ywer. Sodoende kan jy dalk verborge bly in die “tyd van benoudheid”, die dag van “die toorngloed van die HERE”.

18, 19. In watter opsig het volharding noodsaaklik geword vir redding?

18 Daardie dag is naby! Dit kom vinnig nader. Die insameling van diegene wat die groot menigte uitmaak, is nou al sowat 57 jaar aan die gang. ’n Aantal van hulle het al gesterf en hulle wag nou op hulle opstanding. Maar die profesie in Openbaring verseker ons dat die groot menigte as ’n groep uit die groot verdrukking sal kom as die kern van “’n nuwe aarde”-gemeenskap (Openbaring 21:1). Sal jy daar wees? Dit is moontlik, want Jesus het in Mattheüs 24:13 gesê: “Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.”

19 Die druk wat Jehovah se volk in hierdie ou stelsel ondervind, sal al hoe groter word. En wanneer die rampspoedige groot verdrukking toeslaan, sal jy moontlik ontberinge moet verduur. Maar bly na aan Jehovah en sy organisasie. Bly wakker! “Verwag My, spreek die HERE, op die dag wat Ek My gereed maak vir die buit; want dit is my strafoordeel om nasies te versamel, koninkryke te vergader om my grimmigheid oor hulle uit te stort, al die gloed van my toorn. Want die ganse aarde sal deur die vuur van my ywer verteer word!”—Sefanja 3:8.

20. Wat moet ons doen terwyl die kritieke “tyd van benoudheid” al hoe nader kom?

20 Vir ons beskerming en aanmoediging het Jehovah sy volk genadig “’n suiwer taal” gegee, wat die wonderlike boodskap van sy inkomende Koninkryk insluit, “sodat hulle almal die naam van Jehovah aanroep ten einde hom skouer aan skouer te dien” (Sefanja 3:9, NW). Mag ons, terwyl die kritieke “tyd van benoudheid” vinnig al hoe nader kom, ywerig in ons diens wees en ander ootmoediges help om ‘die naam van Jehovah aan te roep’ sodat hulle gered kan word.

Onthou jy?

◻ Watter daad van Jehovah sal plaasvind voordat daar vrede op die aarde kom?

◻ Wat moet ’n mens volgens Joël doen om gered te word?

◻ Hoe kan ootmoediges volgens Sefanja beskerming teen Jehovah se toorngloed soek?

◻ Wie is “die wettelose mens”, en hoe het hy hom bloedskuld op die hals gehaal?

◻ Hoe belangrik is volharding vir redding?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel