Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 4/15 bl. 18-22
  • Die uitdaging om in een van die wêreld se grootste hawens te preek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die uitdaging om in een van die wêreld se grootste hawens te preek
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • “’n Sendingtoewysing wat andersom werk”
  • “Die fietskerk”
  • Besoeke op geleë tye met ’n tydige boodskap
  • Bemoedigende verhale van seemanne
  • “Werp jou brood uit op die water”
  • Kan jy ’n aandeel daaraan hê?
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 4/15 bl. 18-22

Die uitdaging om in een van die wêreld se grootste hawens te preek

ROTTERDAM, geleë waar die Ryn, Europa se bedrywigste rivier, in die Noordsee uitmond, geniet die onderskeiding dat hy een van die wêreld se grootste seehawens is. Rotterdam het regstreekse verbindings met meer as 800 plekke van bestemming wêreldwyd aangesien sowat 500 rederye se skepe hier aandoen. Dit is beslis ’n internasionale hawe.

Maar hierdie Nederlandse hawe wat al 650 jaar oud is, is nie net ’n kruispunt van rederye se skeepsroetes nie. Dit is ook ’n plek waar mense mekaar ontmoet. ’n Stroom seemanne kom dag en nag uit alle dele van die wêreld hier aan. Hierdie seemanne is nie deur Jehovah se Getuies in Nederland oor die hoof gesien nie. Hulle soek, soos Getuies elders, geleenthede om die wêreld se beste nuus—dat God se Koninkryk binnekort die aarde in ’n Paradys gaan omskep—aan allerlei mense, seemanne inkluis, te verkondig.—Daniël 2:44; Lukas 23:43, NW; 1 Timotheüs 4:10.

“’n Sendingtoewysing wat andersom werk”

Etlike jare gelede het die Wagtoringgenootskap in Nederland ses voltydse predikers, of pioniers, gevra om deur die hele hawe van Rotterdam van skip tot skip te werk. Die pioniers het die geleentheid gretig aangegryp. Hulle het inligting by die haweowerheid ingewin, die skeepsdokke gaan deurkyk, en gou besef dat hulle ’n toewysing ontvang het wat vir hulle ’n uitdaging bied.

“Dit is soos ’n sendingtoewysing wat andersom werk”, sê Meinard, wat die hawepredikingswerk koördineer. Wat bedoel hy? “Gewoonlik onderneem ’n sendeling ’n lang reis om na die mense toe te gaan, maar in ons geval onderneem die mense die lang reis om na ons toe te kom.” Hy voeg by: “Die gebied waarin ons preek, is seker so internasionaal as wat ’n mens kan kry.” Die Rotterdam Europoort se jaarboek vir 1985 het gesê dat daar in Rotterdam se hawe in 1983, die jaar toe die pioniers met hierdie spesiale werk begin het, 30 820 seeskepe uit 71 lande gehanteer is. Dit is internasionaal!

Heel gepas weerspieël die “hawesendelinge”—soos die seemanne hulle kort voor lank begin noem het—ook ’n internasionale herkoms. Geert, Peter en sy vrou, Karin, is Hollanders; Daniël en Meinard kom van Indonesië; en Solomon is ’n Ethiopiër. Vanweë hulle Europese, Asiatiese en Afrika-afkoms kon hulle altesame agt taalhindernisse oorkom, maar hulle moes ander hindernisse te bowe kom om in hierdie werk suksesvol te wees.

“Die fietskerk”

“’n Mens kan nie sommer langs ’n kaai oploop, op ’n landingsbrug klim en aan boord van ’n skip gaan nie”, sê die 32-jarige Peter, ’n gewese seeman. “Jy het terreinpermitte nodig.” Dit wil sê, permitte om die kaaie binne te gaan en permitte om aan boord van skepe te gaan. “Daar was ’n klomp formaliteite”, vertel Peter, “maar nadat ons agt permitte bekom het, kompleet met ons foto’s en amptelike stempels daarop, kon ons met mening aan die werk spring.” Hulle het die 37 kilometer van die hawekaaie in drie gebiede verdeel, wat elk deur twee pioniers behartig sou word.

Maar wat doen ’n mens as jy met die mag der menigte tale te doen kry wat die seemanne uit soveel lande praat? Al het die pioniers Bybellektuur in 30 tale in voorraad gehou en soveel moontlik op hulle fietse saamgeneem, was daar feitlik altyd iets wat hulle nie by hulle gehad het nie. “Jy weet nooit met sekerheid watter tale jy gaan nodig hê nie”, vertel die 30-jarige Solomon glimlaggend. “Dit gebeur dikwels dat seemanne boeke wil hê juis in die taal wat jy nie saamgebring het nie, en dan sê hulle vir jou dat hulle skip binne drie uur of wat gaan vertrek.” Omdat hulle die seemanne nie wil teleurstel nie, spring een van die pioniers dan op sy fiets om die regte boeke te gaan haal, jaag terug en gee hulle aan die gretige seemanne. “Toe dieselfde probleem opgeduik het terwyl ons in dele van die hawe gepreek het wat drie uur ver per fiets is”, sê Peter, “moes ons vanselfsprekend ’n ander oplossing vir die probleem vind.”

Eendag het Getuies wat in die haweomgewing woon die pioniers verras met twee fietssleepkarretjies, elk so groot soos ’n wasbalie. Die pioniers het die karretjies volgelaai met lektuur in al die beskikbare tale, die karretjies aan hulle fietse gehaak en koers gekry hawe toe. Die sleepkarretjies was spoedig ’n bekende gesig. “Hulle het ons visitekaartjies geword”, sê een van die pioniers. “Wanneer ’n hekwag ons sien aankom, maak hy die hek oop, wink vir ons om deur te gaan en roep uit: ‘Daar gaan die fietskerk!’” Soms wanneer ’n wag “die fietskerk” sien aankom, maak hy die hek oop en roep uit: “Twee Poolse skepe en een Chinese!” Sulke nuttige wenke help die pioniers sodat hulle met lektuur in die regte tale aan boord gaan. Maar hulle moet ook op die regte tyd gaan. Waarom?

Besoeke op geleë tye met ’n tydige boodskap

Die pioniers kan net gedurende die bemanning se oggend- en middagkoffiepouse of gedurende hulle etensuur met hulle praat. Die kok het egter ander werksure, en die kaptein en ander offisiere kan dwarsdeur die dag gevind word. Die pioniers het ook uitgevind dat Britse skepe wat in Rotterdam vasmeer hulle by Britse tyd hou (wat met een uur van Hollandse tyd verskil), sodat hulle bemanning op pad is na die eetsaal wanneer die bemanning van nie-Britse skepe na hulle werk toe terugkeer. ’n Hawepionier moet vanselfsprekend ’n betroubare horlosie hê.

Maar is seemanne bereid om hulle rustydjies vir Bybelbesprekings te gebruik? “Ek vind hulle is oor die algemeen ontvanklik vir die Koninkryksboodskap”, sê die 31-jarige Geert. “Moontlik is dit omdat hulle uit persoonlike ondervinding sien hoe menseregerings misluk.” Van die seemanne het byvoorbeeld vir Geert vertel dat die hope graan wat hulle afgelaai het vir die Ethiopiërs wat van honger omkom, maande later toe hulle weer daar kom nog langs die dokke gelê het; maar teen dié tyd was die graan al verrot en vol rotte. “Dit is geen wonder dat talle seemanne nie meer hulle hoop op die politiek stel nie”, merk Geert op. “Gevolglik vind die Bybel se boodskap van een regering vir die hele mensdom by hulle byval.”

Peter stem saam: “Een Duitse kaptein het gesê dat sy bemanning my tien jaar tevore sou aangesê het om die skip te verlaat, maar vandag se veranderende wêreldtoestande het hulle belangstelling in die Bybel se tydige boodskap gewek.” Een kok op ’n Koreaanse skip het vertel hoe die reusetenkskip waarop hy gewerk het gedurende die oorlog tussen Iran en Irak in die Persiese Golf deur ’n vuurpyl getref is en aan die brand geslaan het. Hy het ’n eed geneem dat hy na God sou soek as hy dit oorleef. Hy het dit oorleef. Toe die pioniers hom later in Rotterdam ontmoet, wou hy al die lektuur in Koreaans hê wat hulle vir hom kon bring.

Die meeste skepe bly etlike dae lank in die hawe. Dit gee die pioniers die geleentheid om twee, drie, of meer kere terug te gaan om hulle Bybelbesprekings ná werksure voort te sit. Maar as ’n skip masjienmoeilikheid het, kan hy tot drie weke lank vasgemeer lê. “Dis sleg vir die maatskappy”, skerts ’n glimlaggende pionier, “maar dis goed vir ons werk.” Wanneer dit gebeur, sit die pioniers nie net die Bybelbesprekings voort nie, maar reël ook om een van die Genootskap se skyfieprogramme, “Die Bybel—’n Boek vir hierdie geslag”, in die eetsaal te vertoon. Van die seemanne kom ook na die vergaderinge van die talle anderstalige groepe van Jehovah se Getuies in Rotterdam. En so gaan dit voort totdat die masjien weer loop. Dan moet die Bybels toegemaak word. Die meertoue word losgemaak en die skip verdwyn uit die hawe—maar nie uit die pioniers se gedagtes nie.

Bemoedigende verhale van seemanne

Deur koerantlyste of deur die haweowerheid se openbare rekenaarstelsel te raadpleeg, bly die pioniers op die hoogte met die aankoms en vertrek van skepe wat hulle besoek het. Sodra een van die skepe weer inkom, is die pioniers gretig om die seemanne weer te besoek om uit te vind wat sedert die laaste besoek gebeur het. Watter bemoedigende verhale vertel die seemanne tog nie!

Een seeman het nadat sy skip op die oop see gekom het eksemplare van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe aan vyf van sy skeepsmaats uitgedeel, en hulle ses het saam die Bybel bestudeer. Hy het ook ’n bandopname van die hoofstuk oor die gesinslewe gemaak en dit in die eetsaal gespeel sodat die hele bemanning dit kon hoor. Op ’n ander skip het ’n seeman wat ’n Koninkryksaal in die nabygeleë hawestad Antwerpe besoek het ’n banier met die woorde “Koninkryksaal van Jehovah se Getuies” in groot letters teen die muur van die eetsaal gehang. Toe het hy die bemanningslede genooi om daarheen te kom wanneer hy ’n Bybelvergadering hou. Voordat hy die banier afgehaal het, het hy die bemanning na die volgende vergadering genooi. Die volgende week was die banier en die bemanning weer eens daar.

Die pioniers het ook gevind dat van die seemanne nooit hulle boeke wegsit nie. “Toe ons in die kajuut van Isaac, ’n radio-operateur van Wes-Afrika, instap, was dit moeilik om ’n sitplek te vind”, vertel Meinard. “Die Genootskap se tydskrifte, boeke en konkordansies het oral rondgelê—en hulle was oop.” Isaac het ook ’n lys Bybelvrae gereed gehad, want hy het op die pioniers gewag om hom weer te besoek.

Maar party seemanne wag nie dat die pioniers hulle moet besoek nie. Een nag het Geert se telefoon gelui toe hy al geslaap het.

“Wie op aarde kan dit wees?” het Geert gemompel terwyl hy in die donker rondtas na die gehoorstuk.

“Hallo, dis jou vriend!” het ’n opgewekte stem gesê.

Geert het probeer dink.

“Jou vriend van die skip”, het die stem weer gepraat.

“Maar dis drieuur in die oggend!” het Geert gesê.

“Ja, maar jy het gesê ek moet jou bel sodra my skip weer in Rotterdam aankom. Wel, ek’s hier!” Kort daarna was Geert op pad om hierdie vriend te gaan ontmoet wat in God se Woord belanggestel het.

“Werp jou brood uit op die water”

Seemanne spreek ook hulle waardering uit vir die Bybellektuur in briewe aan die pioniers. Hier is enkele uittreksels:

‘Ek het die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe begin lees . . . Nou verstaan ek baie dinge wat ek vantevore nie verstaan het nie. Ek hoop ons skip gaan weer by Rotterdam aan.’—Angelo.

‘Ek het die boek gelees, en ek stuur vrae aan jou sodat jy hulle in jou briewe kan beantwoord.’—Alberta.

‘Ek lees nou die Bybel elke dag. Ek is bly om jou vriend te wees. Die beste ding wat in my lewe gebeur het, is die feit dat ek vriende ontmoet het wat my na God toe kan lei.’—Nickey.

Sulke aandoenlike briewe laat die pioniers dink aan wat die Bybel in Prediker 11:1 sê: “Werp jou brood uit op die water, want ná verloop van baie dae sal jy dit vind.” Hulle is veral verheug wanneer hulle verneem dat van die seemanne hulle standpunt vir Jehovah ingeneem het.

Poolse seeman Stanislav was byvoorbeeld in die wolke oor wat hy uit die Genootskap se boeke geleer het. Hy het spoedig ’n klein biblioteek van Bybellektuur aangeskaf en het elke stuk bestudeer terwyl hy op see was. “Toe ons weer van hom hoor”, sê Meinard, “het hy geskryf dat hy gedoop is.”

Folkert, ’n rivierbootskipper, het in Rotterdam die eerste keer die Koninkryksboodskap gehoor. Elke twee maande was hy ’n week lank terug in die hawe en het hy die Bybel sewe dae na mekaar bestudeer. Dan, voor hy op nog ’n reis van twee maande vertrek het, het die pioniers aan hom ’n lys adresse van Koninkryksale langs sy skeepsroete gegee. Folkert het die Koninkryksale besoek en was diep beïndruk deur die hartlikheid waarmee hy verwelkom is. Hierdie skipper is kort voor lank gedoop en is nou ’n ywerige dienaar van Jehovah.

Mike, ’n Britse Vloot-offisier, het vantevore kontak met die Getuies gehad en het die Bybel bestudeer terwyl hy op see was. Toe die fregat waarop hy gewerk het eenkeer in Rotterdam vasgemeer het, het hy sy opvoufiets gebruik om by ’n Koninkryksaal te kom. Hy was beïndruk deur die liefde en eenheid wat hy gesien het en het vir die vriende gesê dat hy besluit het om uit sy pos te bedank. Hoewel dit nog net vier jaar was voordat hy met ’n aansienlike pensioen kon aftree, het hy by sy besluit gebly en is later gedoop.

Meinard sê: “Die gretigheid van Mike, Stanislav, Folkert en andere om Jehovah te dien, is ’n aansporing vir ons om ons soektog na seemanne soos hulle in die hawe voort te sit.”

Kan jy ’n aandeel daaraan hê?

Wanneer hulle terugkyk op bykans ’n dekade se predikingswerk in een van die wêreld se grootste hawens, is die ses “hawesendelinge” dit volmondig eens—die toewysing was ’n uitdaging maar beslis lonend. “Na elke dag van predikingswerk”, som Meinard dit op, “ry ons huis toe met die gevoel dat sommige van daardie seemanne op ons besoek gewag het.”

Wag daar miskien seemanne in ’n hawe in jou omgewing op ’n besoek? Die ouere manne in jou gemeente kan moontlik reëlings tref sodat jy ’n aandeel aan hierdie uitdagende en lonende werk kan hê.

[Venster op bladsy 20]

GEBIEDE WAAR DIE WERK VERBIED IS, WORD BINNEGEDRING

In een onlangse jaar het 2 500 skepe uit lande waar die bedrywighede van Jehovah se Getuies verbied is in Rotterdam vasgemeer. En die hawepioniers het dit as ’n geleentheid gesien om daardie gebiede met die Bybelboodskap te bereik.

Die pioniers het op een van die eerste Asiatiese skepe wat hulle besoek het al 23 boeke wat hulle by hulle gehad het, versprei; tot groot teleurstelling van sommige van die bemanningslede omdat hulle nie ’n eksemplaar kon kry nie. ’n Koksjonge op ’n ander Asiatiese skip was versigtiger. Nadat hy ’n boek by ’n pionier geneem het, het hy dit in papier toegedraai en geadresseerd aan die pionier teruggegee. Die pionier het dadelik gesnap wat hy wou hê. Dit was té gevaarlik vir die jongman om die boek saam met hom te neem. Daardie selfde dag nog was die boek in die pos op pad na die Verre-Ooste.

Op ’n skip van Afrika af het ’n seeman gekom met ’n lys boeke wat die Getuies in sy tuisland wou hê. Sedertdien is die seeman se tas altyd propvol lektuur gelaai wanneer hy teruggaan huis toe. ’n Seeman uit ’n ander Afrika-land was baie teleurgestel toe die pionier wat saam met hom studeer hom net drie eksemplare van die boek Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou kon laat kry. “Dit help niks!” het die seeman moedeloos uitgeroep en sy arms in die lug gegooi. “Die broers daar anderkant het 1 000 nodig!” Die pionier het hom oorreed om ter wille van sy eie veiligheid net 20 eksemplare op ’n keer saam te neem.

Miskien was die aandoenlikste ondervinding die keer toe die pioniers verneem het dat ’n skip aangekom het van ’n land waar die Getuies vanweë hulle geloof vervolg is en waar baie hulle werk en besittings verloor het. Toe hulle uitvind dat die hofmeester aan boord ’n Getuie is, het hulle die kaptein besoek en toestemming gevra om hulpvoorrade met sy skip saam te stuur. Die kaptein het toestemming verleen, en enkele dae later was honderd groot sakke klere, skoene en ander goedere op pad na die Getuies in daardie land.

[Venster op bladsy 21]

PREDIKING VAN SKIP TOT SKIP—UIT ’N VROU SE GESIGSPUNT

“Aanvanklik was ek huiwerig om Peter te vergesel”, vertel Karin, die enigste vrou onder die pioniers, “want ek het stories gehoor dat seemanne dikwels ongemanierd en dronk is. Maar ek het gevind dat die meeste beleefd is. ’n Seeman sal dikwels, as hy hoor dat ons ’n getroude paartjie is, ’n foto van sy vrou en kinders te voorskyn haal en oor sy gesin begin gesels. Op daardie manier het ons baie eksemplare van die boek Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou versprei.”

Die feit dat ons as ’n getroude paartjie skepe besoek, maak dit ook makliker om in aanraking te kom met die vrouens van bemanningslede en ander vroue wat somtyds as verpleegsters werk. “Hulle is gewoonlik terughoudend teenoor vreemdelinge”, sê Karin, “maar wanneer hulle my sien, begin hulle meer geredelik aan die gesprek deelneem.”

Wat was die grootste uitdaging in haar toewysing? “Toulere”, antwoord Karin. “Ek het niks van daardie slap affêres gehou nie.” Het sy haar vrees te bowe gekom? “Ja. Eenkeer toe ek geaarsel het om teen een op te klim, het ’n groep seemanne van Paraguay wat gestaan en toekyk het, uitgeroep: ‘Jy kán dit doen. Vertrou net op God.’ Natuurlik”, sê Karin met ’n laggie, “het ek ná daardie opmerking geen ander keuse gehad as om maar op te klim nie.” Haar man sê trots: “Ná vier jaar van toulere klim, klouter sy nou soos ’n matroos teen hulle op.”

Karin en haar man, Peter, het die 89ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead in die Verenigde State bygewoon. Hulle het op 28 September 1990 vertrek na hulle nuwe toewysing, Ecuador, ’n land met ’n hawestad. Hulle behoort daar heeltemal tuis te voel.

[Venster op bladsy 22]

IS JY ’N SEEMAN?

Wil jy, terwyl jou skip in een van die wêreld se groot hawens voor anker lê, ’n Engelstalige vergadering van Jehovah se Getuies bywoon? Hou dan hierdie jongste lys van Koninkryksaaladresse byderhand:

Hamburg, Schellingstr. 7-9; Saterdag, 4:00 nm.; telefoon: 040-4 208 413

Hong Kong, 26 Leighton Road; Sondag, 9:00 vm.; telefoon: 5 774 159

Marseilles, 5 Bis, rue Antoine Maille; Sondag, 10:00 vm.; telefoon: 91 79 27 89

Naples, Castel Volturno (40 km north of Naples), Via Napoli, corner of Via Salerno, Parco Campania; Sondag, 2:45 nm.; telefoon: 081/5 097 292

New York, 512 W. 20 Street; Sondag, 10:00 vm.; telefoon: 212-627-2873

Rotterdam, Putsestraat 20; Sondag, 10:00 vm.; telefoon: 010-41 65 653

Tokyo, 5-5-8 Mita, Minato-ku; Sondag, 4:00 nm.; telefoon: 03-3453-0404

Vancouver, 1526 Robson Street; Sondag, 10:00 vm.; telefoon: 604-689-9796

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel