Burger of uitlander, God verwelkom jou!
“Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon.”—HANDELINGE 17:26.
1. Watter penarie bestaan vandag op baie plekke met betrekking tot die aanvaarding van mense met vreemde kulture?
PERSBERIGTE dui daarop dat daar in baie lande al hoe meer kommer heers oor uitlanders, immigrante en vlugtelinge. Miljoene mense wil ten alle koste wegkom uit dele van Asië, Afrika, Europa en die Amerikas. Hulle wil miskien aan verdrukkende armoede, burgeroorlog of vervolging ontsnap. Maar is hulle elders welkom? Die tydskrif Time het gesê: “Namate Europa se etniese samestelling begin verander, ontdek sommige lande dat hulle nie so verdraagsaam teenoor vreemde kulture is as wat hulle eens gemeen het hulle is nie.” Met betrekking tot die 18-000 000 “ongewenste” vlugtelinge het Time gesê: “Die uitdaging wat hulle vir bestendige nasies is, sal nie verdwyn nie.”
2, 3. (a) Watter verkwikkende versekering gee die Bybel ons met betrekking tot aanvaarding? (b) Waarom kan dit vir ons nuttig wees om ondersoek in te stel na wat die Skrif omtrent God se handeling met volke sê?
2 Wat ook al in die verband gebeur, die Bybel toon dat God mense uit elke nasie verwelkom—ongeag of so iemand van geboorte ’n landsburger, ’n immigrant of ’n vlugteling is (Handelinge 10:34, 35). ‘Maar’, vra party dalk, ‘hoe kan jy so sê? Het God dan nie net vir eertydse Israel as sy volk gekies, met die uitsluiting van ander nie?’
3 Wel, kom ons kyk hoe God met die volke van die ou tyd gehandel het. Ons kan ook sekere profesieë ondersoek wat verband hou met die voorregte wat ware aanbidders vandag kan geniet. As ’n mens hierdie profetiese inligting nagaan, kan dit jou help om dit beter te verstaan, en dit kan baie bemoedigend wees. Dit gee ons ook ’n aanduiding van hoe God moontlik ná die groot verdrukking met mense “uit alle nasies en stamme en volke en tale” sal handel.—Openbaring 7:9, 14-17.
‘Al die nasies sal geseën word’
4. Hoe het die probleem van nasionaliteit ontwikkel, maar watter stappe het God gedoen?
4 Ná die vloed het Noag se onmiddellike gesin die hele mensdom uitgemaak, en hulle was almal ware aanbidders. Maar daardie eenheid het spoedig verander. Kort voor lank het party mense, wat God se wil geïgnoreer het, ’n toring begin bou. Dit het daartoe gelei dat die mensdom in taalgroepe verdeel is wat na verloop van tyd verstrooide volke en nasies geword het (Genesis 11:1-9). Ware aanbidding het nietemin voortgeduur in die geslagslyn wat na Abraham gelei het. God het die getroue Abraham geseën en beloof dat sy nageslag ’n groot nasie sou word (Genesis 12:1-3). Daardie nasie was eertydse Israel.
5. Waarom kan ons almal moed skep uit God se handelinge met Abraham?
5 Jehovah het egter nie volke uitgesluit wat nie deel van Israel was nie, aangesien sy voorneme by uitbreiding die hele mensdom ingesluit het. Dit blyk duidelik uit God se belofte aan Abraham: “In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het” (Genesis 22:18). God het egter eeue lank op ’n spesiale manier met Israel gehandel deur vir hulle ’n nasionale Wetskode te gee, deur reëlings te maak vir priesters om offerandes by sy tempel te bring en deur die Beloofde Land te voorsien waar hulle kon woon.
6. Hoe sal God se reëlings met Israel alle mense tot nut strek?
6 God se Wet aan Israel was goed vir mense van alle nasies aangesien dit die sondige aard van die mens duidelik gemaak het en die nodigheid getoon het van ’n volmaakte offerande om die sonde van die mens eens en vir altyd te dek (Galasiërs 3:19; Hebreërs 7:26-28; 9:9; 10:1-12). Maar watter versekering was daar dat Abraham se Saad—deur wie al die nasies geseën sou word—sou verskyn en aan die vereistes sou voldoen? Ook in dié verband het Israel se Wet gehelp. Dit het ondertrouery met die Kanaäniete verbied, ’n volk wat berug was vir hulle onsedelike gebruike en rites, soos die gebruik om kinders lewendig te verbrand (Levitikus 18:6-24; 20:2, 3; Deuteronomium 12:29-31; 18:9-12). God het besluit dat hulle en hulle gebruike uitgewis moes word. Op die duur sou dit tot almal se voordeel strek, met inbegrip van die inwonende vreemdeling, aangesien dit sou dien om die geslagslyn van die Saad onbesmet te hou.—Levitikus 18:24-28; Deuteronomium 7:1-5; 9:5; 20:15-18.
7. Watter vroeë aanduiding was daar dat God vreemdelinge verwelkom het?
7 Selfs terwyl die Wet nog van krag was en God Israel as spesiaal beskou het, het hy barmhartigheid aan nie-Israeliete betoon. Sy bereidwilligheid om dit te doen is getoon toe Israel uit Egiptiese slawerny na hulle eie land uitgetrek het. “’n Menigte mense van gemengde bloed het ook saam met hulle opgetrek” (Exodus 12:38). Professor C. F. Keil toon aan dat hulle “’n menigte uitlanders . . . ’n mengelmoes, of skare mense uit verskillende nasies” was (Levitikus 24:10; Numeri 11:4). Baie was ongetwyfeld Egiptenare wat die ware God aangeneem het.
Uitlanders verwelkom
8. Hoe het die Gibeoniete ’n plek onder God se volk gevind?
8 Terwyl Israel God se opdrag uitgevoer het om die Beloofde Land van verdorwe nasies te bevry, het hy een groep uitlanders beskerm, die Gibeoniete, wat ten noorde van Jerusalem gewoon het. Hulle het gesante wat hulle vermom het na Josua toe gestuur om vrede te vra, wat hulle toe ook verkry het. Toe hulle lis ontdek is, het Josua bepaal dat die Gibeoniete as “houtkappers sowel as waterputters, vir die huis van . . . God” sou dien (Josua 9:3-27). Baie immigrante aanvaar vandag ook nederige diensposisies sodat hulle deel van ’n nuwe volk kan word.
9. Hoe is die voorbeeld van Ragab en haar gesin bemoedigend met betrekking tot uitlanders in Israel?
9 Dit sal jou dalk bemoedig om te weet dat God se verwelkoming destyds nie net groepe uitlanders ingesluit het nie; enkelinge was ook welkom. Party nasies verwelkom vandag net immigrante wat ’n hoë stand in die samelewing, rykdom wat hulle kan belê of geleerdheid het. Dat dit nie die geval met Jehovah is nie, blyk duidelik uit ’n gebeurtenis net voor die insident met die Gibeoniete. Dit het te doen gehad met ’n Kanaäniet wat beswaarlik ’n hoë stand in die samelewing geniet het. Die Bybel noem haar “Ragab die hoer”. Vanweë haar geloof in die ware God is sy en haar gesin bewaar toe Jerigo tot ’n val gekom het. Hoewel Ragab ’n uitlander was, het die Israeliete haar aanvaar. Sy was ’n toonbeeld van geloof wat ons gerus kan navolg (Hebreërs 11:30, 31, 39, 40; Josua 2:1-21; 6:1-25). Sy het selfs ’n stammoeder van die Messias geword.—Mattheüs 1:5, 16.
10. Waarvan het die ontvangs van uitlanders in Israel afgehang?
10 Nie-Israeliete is in die Beloofde Land aanvaar ooreenkomstig hulle pogings om die ware God te behaag. Die Israeliete is beveel om nie met diegene om te gaan wat Jehovah nie gedien het nie, veral nie op godsdienstige gebied nie (Josua 23:6, 7, 12, 13; 1 Konings 11:1-8; Spreuke 6:23-28). Nogtans het baie nie-Israelitiese bywoners die basiese wette gehoorsaam. Ander het selfs besnede proseliete geword, en Jehovah het hulle sonder voorbehoud as lede van sy gemeente verwelkom.—Levitikus 20:2; 24:22; Numeri 15:14-16; Handelinge 8:27.a
11, 12. (a) Hoe moes die Israeliete uitlandse aanbidders behandel? (b) Waarom moet ons moontlik verbeter in ons navolging van Jehovah se voorbeeld?
11 God het die Israeliete beveel om sy gesindheid ten opsigte van uitlandse aanbidders na te volg: “Die vreemdeling [“inwonende vreemdeling”, NW] wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos ’n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself, want julle was vreemdelinge in Egipteland” (Levitikus 19:33, 34; Deuteronomium 1:16; 10:12-19). Dit dien as ’n les vir ons al is ons nie onder die Wet nie. Dit is maklik om die slagoffer te word van vooroordele en vyandigheid teenoor mense van ’n ander ras, nasie of kultuur. Ons kan ons dus gerus afvra: ‘Probeer ek ontslae raak van sulke vooroordele deur Jehovah se voorbeeld na te volg?’
12 Die Israeliete het sigbare bewys gehad van God se verwelkoming. Koning Salomo het gebid: “Die uitlander wat nie van u volk Israel is nie, en uit ’n ver land ter wille van u Naam kom . . . as hy kom en bid na hierdie huis toe, wil U dan hoor uit die hemel . . . sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken, om U te vrees.”—1 Konings 8:41-43; 2 Kronieke 6:32, 33.
13. Waarom het God voorsiening daarvoor gemaak om sy handelinge met Israel te wysig?
13 Terwyl Jehovah steeds die nasie Israel as sy volk gebruik het en sodoende die Messias se geslagslyn beskerm het, het God noemenswaardige veranderinge voorspel. Vroeër, toe Israel ingestem het om onder die Wetsverbond te staan, het God hulle vergun om die bron te wees van “’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie” (Exodus 19:5, 6). Maar Israel was eeue lank ontrou. Jehovah het derhalwe voorspel dat hy ’n nuwe verbond sou sluit waaronder die ongeregtighede en sonde van diegene wat “die huis van Israel” uitmaak, vergewe sou word (Jeremia 31:33, 34). Daardie nuwe verbond sou eers gesluit word met die koms van die Messias wie se offerande baie mense waarlik van sonde sou reinig.—Jesaja 53:5-7, 10-12.
Israeliete in die hemel
14. Watter nuwe “Israel” het Jehovah aanvaar, en hoe?
14 Die Christelike Griekse Geskrifte help ons om te verstaan hoe dit alles vervul is. Jesus was die Messias, wie se dood die Wet volbring het en die grondslag gelê het vir algehele kwytskelding van sonde. Dit was nie nodig om ’n Jood, besnede in die vlees, te wees om daardie voordeel te verkry nie. Nee. Die apostel Paulus het geskryf dat, onder die nuwe verbond, “hy . . . ’n Jood [is] wat dit in die verborgene is, en [sy] besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie” (Romeine 2:28, 29; 7:6). Diegene wat geloof in Jesus se offerande gestel het, het vergifnis ontvang, en God het hulle goedgekeur as ‘Jode na die gees’ wat ’n geestelike nasie uitmaak en “die Israel van God” genoem word.—Galasiërs 6:16.
15. Waarom is vleeslike burgerskap nie ’n bepalende faktor wanneer dit kom by deelgenootskap aan geestelike Israel nie?
15 Ja, om aangeneem te word as ’n deel van geestelike Israel het nie van ’n sekere nasionale of etniese agtergrond afgehang nie. Sommige, soos Jesus se apostels, was natuurlike Jode. Ander, soos die Romeinse leëroffisier Cornelius, was onbesnedenes, mense van die nasies (Handelinge 10:34, 35, 44-48). Paulus het tereg van geestelike Israel gesê: “[Daar is] nóg Griek, nóg Jood, nóg besnydenis of onbesnedenheid, uitlander, Skit, slaaf, vryman” (Kolossense 3:11, NW). Diegene wat deur God se gees gesalf is, het “’n uitverkore geslag [geword], ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry”.—1 Petrus 2:9; vergelyk Exodus 19:5, 6.
16, 17. (a) Watter rol speel geestelike Israeliete in God se voorneme? (b) Waarom is dit gepas om ook ag te gee op diegene wat nie ’n deel is van die Israel van God nie?
16 Watter toekoms het geestelike Israeliete in God se voorneme? Jesus het geantwoord: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee” (Lukas 12:32). Gesalfdes, wie se “burgerskap . . . in die hemele” is, sal medeheersers wees van die Lam in sy Koninkryksheerskappy (Filippense 3:20; Johannes 14:2, 3; Openbaring 5:9, 10). Die Bybel toon dat hulle ‘verseël word uit die kinders van Israel’ en “gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam”. Daar is 144 000 van hulle. Maar nadat Johannes die getal beskryf het wat verseël word, stel hy ’n ander groep bekend—“’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale”.—Openbaring 7:4, 9; 14:1-4.
17 Party wonder moontlik: ‘Wat van die miljoene wat nie ’n deel van geestelike Israel is nie, soos diegene wat miskien as ’n deel van daardie groot menigte deur die groot verdrukking kom? Watter rol speel hulle vandag met betrekking tot die betreklik min oorblywendes van geestelike Israel?’b
Uitlanders in die profesieë
18. Wat het gelei tot Israel se terugkeer uit Babiloniese ballingskap?
18 As ons terugdink aan die tyd toe Israel onder die Wetsverbond gestaan het maar ontrou daaraan was, sien ons dat God besluit het om Israel deur die Babiloniërs te laat verwoes. In 607 v.G.J. is Israel vir 70 jaar in ballingskap geneem. Toe het God die nasie vrygekoop. ’n Oorblyfsel van natuurlike Israel het onder die leierskap van goewerneur Serubbabel na hulle land teruggekeer. Die heersers van die Meders en die Perse wat Babilon verslaan het, het die terugkerende bannelinge selfs met voorrade gehelp. Die boek Jesaja het hierdie gebeure voorspel (Jesaja 1:1-9; 3:1-26; 14:1-5; 44:21-28; 47:1-4). En Esra verskaf die geskiedkundige besonderhede van hulle terugkeer.—Esra 1:1-11; 2:1, 2.
19. Watter profetiese aanduiding was daar dat uitlanders betrokke sou wees by Israel se terugkeer?
19 Tog het Jesaja, toe hy die terugkoping en terugkeer van God se volk voorspel het, hierdie verbasende profesie geuiter: “Nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang” (Jesaja 59:20; 60:3). Dit beteken dat, ooreenkomstig Salomo se gebed, meer as net individuele uitlanders welkom was. Jesaja het op ’n ongewone verandering van hulle stand gewys. “Nasies” sou saam met die kinders van Israel dien: “Uitlanders sal jou mure bou, en hulle konings sal jou dien, want in my toorn het Ek jou geslaan, maar in my welbehae het Ek My oor jou ontferm.”—Jesaja 60:10.
20, 21. (a) Watter parallel vind ons vandag ten opsigte van Israel se terugkeer uit ballingskap? (b) Hoe is ‘seuns en dogters’ daarna by geestelike Israel gevoeg?
20 Daar is in baie opsigte ’n parallel tussen Israel se ballingskap en hulle terugkeer daaruit en dit wat in ons tyd met geestelike Israel gebeur het. Voor die Eerste Wêreldoorlog het die oorblyfsel gesalfde Christene nie heeltemal aan God se wil voldoen nie; hulle het nog sekere opvattings en gebruike gehad wat uit die kerke van die Christendom gekom het. Toe, gedurende die oorlogtydse histerie en deels onder aanstigting van die geestelikes, is dié wat die leiding onder geestelike Israel geneem het ten onregte in die gevangenis opgesluit. Ná die oorlog, in 1919 G.J., is daardie gesalfdes wat in letterlike gevangenskap verkeer het, vrygelaat en vrygespreek. Dit het daarop gedui dat God se volk vrygelaat is uit gevangenskap aan Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens. Sy volk het uitgetrek om ’n geestelike paradys te bou en te bewoon.—Jesaja 35:1-7; 65:13, 14.
21 Jesaja se beskrywing het daarop heengewys: “Hulle kom almal bymekaar, hulle kom na jou toe; jou seuns kom van ver, en jou dogters word op die heup gedra. Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim word; want die rykdom van die see gaan na jou toe oor, die skatte van die nasies kom na jou toe aan” (Jesaja 60:4, 5). In die daaropvolgende dekades het ‘seuns en dogters’ aangehou om in te kom, en hulle is met gees gesalf om die laaste plekke in geestelike Israel te beklee.
22. Hoe het “uitlanders” saam met geestelike Israeliete begin werk?
22 Wat van die ‘uitlanders wat jou mure sal bou’? Ook dit het in ons tyd plaasgevind. Namate die uitnodiging aan die 144 000 voltooiing genader het, het ’n groot menigte uit al die nasies begin saamstroom om saam met geestelike Israel te aanbid. Hierdie nuwelinge het die Bybelse verwagting om die ewige lewe op ’n paradysaarde te geniet. Hoewel die uiteindelike bestemmings waar hulle in getrouheid sal dien van mekaar sal verskil, was hulle verheug om die gesalfde oorblyfsel by te staan om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig.—Mattheüs 24:14.
23. In watter mate het “uitlanders” die gesalfdes bygestaan?
23 Vandag toon meer as 4 000 000 “uitlanders” hulle toegewydheid aan Jehovah, tesame met die oorblyfsel van diegene wie se ‘burgerskap in die hemele’ is. Baie van hulle, mans en vroue, jonk en oud, dien voltyds as pioniers. In die meeste van die meer as 66 000 gemeentes het sulke uitlanders verantwoordelikhede as ouere manne en bedieningsknegte. Die oorblyfsel verheug hulle daaroor, omdat hulle ’n vervulling van Jesaja se woorde daarin sien: “Vreemdelinge sal staan en julle kleinvee oppas, en uitlanders sal julle landbouers en wynboere wees.”—Jesaja 61:5.
24. Waarom kan ons bemoedig word deur God se handelinge met Israel en ander in die verlede?
24 In watter nasie van die aarde jy ook al ’n burger, ’n immigrant of ’n vlugteling is, jy het dus die uitmuntende geleentheid om ’n geestelike uitlander te word wat hartlik deur die Almagtige verwelkom word. Sy verwelkoming sluit die moontlikheid in om voorregte in sy diens te geniet, nou en tot in die ewige toekoms.
[Voetnote]
a Sien Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsye 72-5, 849-51, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee word, vir die verskil in betekenis tussen “alien resident” (inwonende vreemdeling), “settler” (bywoner), “stranger” (vreemdeling) en “foreigner” (uitlander).
b Meer as 10 600 000 het die jaarlikse herdenking van die Here se Aandmaal bygewoon wat in 1991 deur Jehovah se Getuies gehou is, maar slegs 8 850 het aangedui dat hulle van die oorblyfsel van geestelike Israel is.
Het jy opgemerk?
◻ Hoe het God hoop gebied dat mense uit alle nasies deur Hom aanvaar sou word?
◻ Wat toon dat ander volke wat nie deel van God se spesiale volk, Israel, uitgemaak het nie, tot Hom kon nader?
◻ Hoe het God deur profesieë aangetoon dat uitlanders hulle by Israel sou aansluit?
◻ Watter parallel was daar ten opsigte van Israel se terugkeer uit Babilon, en hoe het “uitlanders” daarby betrokke geraak?
[Prent op bladsy 9]
Koning Salomo het gebid in verband met uitlanders wat sou kom om Jehovah te aanbid