’n Noodlenigingsending na die Oekraïne
DIE media is weer vol somber berigte. Ekonomiese chaos, voedselskaarste en hongersnood teister die aarde—hierdie keer in dele van die gewese Sowjetunie. Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies het onlangs die takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Denemarke gevra om noodleniging vir behoeftige Getuies in die Oekraïne te reël. Wat het die Deense broers daaromtrent gedoen?
Hulle het dadelik aan die werk gespring! Die takkantoor het onmiddellik broers uitgestuur om in die winkels na kosvoorrade teen die beste pryse te gaan soek. Die nuus is aan al die gemeentes van Jehovah se volk in Denemarke oorgedra, en hulle is van die behoefte in kennis gestel. Die takkantoor berig: “Al die gemeentes was baie gewillig om by te dra. Uiteindelik kon ons tasbare bewys lewer van ons meegevoel met daardie broers wat so swaar kry.” Vyf vragmotors, asook twee bakkies en 14 vrywillige bestuurders het op Saterdag, 7 Desember 1991, by die takkantoor in Denemarke aangekom. Werkers by die takkantoor het die kosvoorrade wat hulle gekoop het op die vragmotors gelaai.
Maandagmiddag, 9 Desember, het die konvooi op die lang reis deur Europa na die Oekraïne vertrek. “Dit was ’n roerende toneel toe die hele Bethelgesin bymekaargekom het om hulle weg te sien”, skryf die takkantoor. “Omdat ons geweet het dat baie noodlenigingsendings al die slagoffers van aanvalle was, het ons elke dag vir ons broers gebid.”
Op 18 Desember het die spanning ten einde geloop. Die takkantoor in Denemarke is laat weet dat die konvooi veilig in Lviv, in die Oekraïne, aangekom het. Die broers in die Oekraïne het die noodvoorraad ontvang. Hoe verlig was hulle tog toe hulle 1 100 gesinsgrootte pakke van 20 kilogram elk—elkeen met vleis, meel, rys, suiker en ander stapelprodukte—ontvang het! Die konvooi het altesaam sowat 22 ton voorrade afgelewer. Die takkantoor in Denemarke skryf: “Ons vreugde is groot, terwyl ons Jehovah dank vir sy beskerming en vir hierdie geleentheid om hulp te verleen.”
Daar word ook beplan om ’n besending klere te stuur. Die takkantoor berig dat “die reaksie van die gemeentes [ook in hierdie opsig] oorweldigend” was. Jehovah maak inderdaad ‘sy volk in alles ryk tot alle milddadigheid’ (2 Korinthiërs 9:11). Hulle ondervind op hulle beurt die diep vreugde wat daaruit voortvloei wanneer hulle vrylik aan hulle broers en susters gee. Die liefde wat hulle op dié manier toon, is ’n kenmerk van Jesus se volgelinge (Johannes 13:35). Sulke liefde is baie seldsaam in hierdie behoeftige wêreld.