Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 3/15 bl. 24-27
  • “Die water van die lewe” borrel uit in Kaap Verde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Die water van die lewe” borrel uit in Kaap Verde
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • São Vicente hoor die “suiwer taal”
  • ’n Gereinigde volk
  • Vurige ywer op Fogo-eiland
  • Vrugte in ’n Katolieke land
  • Die laaste stilhouplek—Sal-eiland
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 3/15 bl. 24-27

“Die water van die lewe” borrel uit in Kaap Verde

“DIE feit dat Jehovah se Getuies al sedert 1958 in Kaap Verde is en hulle aanbidding daar beoefen, is noemenswaardig”, het die Minister van Justisie van die Republiek van Kaap Verde verduidelik. Hy het met twee Getuies gepraat wat na sy kantoor ontbied is. “Ons is jammer dat dit so lank geneem het voordat Jehovah se Getuies wetlik erken is”, het hy bygevoeg.

Jehovah se Getuies in Kaap Verde sal daardie vergadering, wat op 30 November 1990 gehou is, lank onthou. Dit het getoon dat hulle amptelik as ’n wettige godsdiensvereniging in daardie land erken is. Maar vir die twee Getuies wat teenwoordig was, was dit ’n persoonlike emosionele ervaring, want dit was in 1958 dat een van hulle—Luis Andrade—op Bybellektuur afgekom het wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is. Nadat hy die publikasies deurgelees het, het hy geweet dat hy die waarheid gevind het. Hy het wat hy geleer het gretig vir Francisco Tavares, ’n ou vriend, vertel. Gedurende die daaropvolgende paar jaar het hulle albei aangehou om die waters van waarheid in te neem deur Die Wagtoring en die Ontwaak! te lees waarop hulle ingeteken het. Hulle is tien jaar later, in 1968, gedoop toe ’n reisende opsiener Kaap Verde die eerste keer besoek het.

Broers Andrade en Tavares het besef dat hulle ’n aandeel daaraan moet hê om die uitnodiging te rig: ‘Kom! . . . neem die water van die lewe verniet’ (Openbaring 22:17). Hulle was bereid om die uitdaging te aanvaar om in hulle uitgestrekte, moeilike gebied te preek. Kaap Verde bestaan uit tien hoofeilande, asook ’n paar eilandjies in die Atlantiese Oseaan, ongeveer 560 kilometer wes van Dakar, Senegal. Die skiereiland aan die kus van Afrika is oorspronklik Kaap Verde, wat “Groen Kaap” beteken, genoem. Maar aangesien die reënval laag is, is hierdie eilande glad nie groen nie en moet die 350000 inwoners op ’n manier ’n bestaan uit die dorre land maak.

Sendelinge en spesiale pioniers het gedurende die afgelope 30 jaar hard gewerk as voltydse bedienaars om die water van die lewe na die eilandbewoners te bring. Waartoe het hierdie werk gelei? ’n Reisende opsiener uit Portugal het die gemeentes in Kaap Verde onlangs besoek. Ons sal hom laat vertel wat hy gesien het.

São Vicente hoor die “suiwer taal”

Die stad Porto Grande op die eiland São Vicente was ons eerste stilhouplek in Kaap Verde. Op pad van die lughawe na die stad het ons die rotsagtige heuwels gesien wat met waaisand bedek is. Die woestyntoestande van Noord-Afrika het reeds die Kaap-Verdiese Eilande bereik! Die harmattan—die warm, droë wind wat van die Sahara af waai—waai van Desember tot Februarie oor die oseaan en bedek die eilande met lae sand en stof. Die stofwolke is soms so donker dat vliegtuie nie kan vlieg nie. Die bietjie plantegroei wat nog oor is, verdroog wanneer die harmattan begin waai.

Maar geestelike waterbronne is geredelik beskikbaar. Jehovah se Getuies het twee gemeentes in Porto Grande gestig, en 167 Koninkryksverkondigers neem die lewegewende waters van waarheid na die 47 000 inwoners van die eiland São Vicente. Gedurende naweke woon sowat 400 mense die Bybelse vergaderinge by die Koninkryksaal by.

Finale voorbereidsels is gedurende die weeklange besoek getref vir die “Suiwer Taal”-Streekbyeenkoms wat in die beste teater in die stad gehou sou word (Sefanja 3:9, NW). Die plaaslike mense, asook byeenkomsgangers van die eilande Santo Antão en São Nicolau het die bywoningsyfer op ’n hoogtepunt van 756 te staan gebring. Vier-en-twintig mense is gedoop. Die program het onder andere bestaan uit ’n Bybeldrama wat deur die Getuies opgevoer is. ’n Man, die regisseur van ’n rolprent, het die drama bygewoon en gesê: “Ons het ’n jaar lank geoefen en selfs toe het ons nog ’n klomp probleme gehad. Die mense wat aan julle drama deelgeneem het, het baie beter gedoen al het hulle net twee maande lank geoefen.” Na die suksesvolle afloop van die byeenkoms was dit vir ons tyd om na die stad Praia, die hoofstad van die Republiek van Kaap Verde op die eiland São Tiago, te gaan.

’n Gereinigde volk

Baie bewoners van ander eilande het in onlangse jare na die hoofstad gestroom om werk te soek. Duisende primitiewe hutte is gevolglik in die buitewyke van die stad gebou, wat groter druk plaas op die watervoorraad en die sanitêre geriewe. Baie gesinne hou bokke, varke en hoenders aan om hulle inkomste aan te vul. Dit is iets algemeens om hierdie diere in die strate te sien rondloop. Hierdie toedrag van sake bevorder die verspreiding van siektes.

Maar ten spyte van hierdie moeilike omstandighede is daar nou twee florerende gemeentes in Praia, wat altesaam ongeveer 130 Koninkryksverkondigers het. Hierdie blymoedige Getuies het ‘hulleself beslis bevoordeel’ deur toe te pas wat hulle in die Bybel geleer het. Omdat ons broers en hulle kinders daarna strewe om ’n rein en heilige volk te wees, is hulle geestelik sowel as liggaamlik gesonder. Hoewel hulle lewe moeilik is, is hulle geestelik ryk.—Jesaja 48:17, NW; 1 Petrus 1:15, 16.

Toe ons daar aankom, was die broers besig om voorbereidsels te tref vir hulle streekbyeenkoms. Getuies en belangstellendes uit alle dele van São Tiago sowel as die eilande Sal en Fogo was op pad na die byeenkoms, en Jehovah het hulle geseën met ’n hoogtepunt van 472 wat die byeenkoms bygewoon het. Almal was so gelukkig, die kleintjies met hulle blink gesiggies inkluis! Terwyl ons tussen daardie menigte mense gesit het wat so aandagtig luister, was dit vir ons duidelik dat ons nooit “die dag van klein dinge” moet verag nie (Sagaria 4:10). Alles wat ons hier gesien het, het voortgespruit uit twee persone wat die waarheid net ’n bietjie meer as 30 jaar gelede geleer het!

Voordat ons die eiland verlaat het, het ons besoek afgelê by die twee klein groepe, Vila Assomada en Tarrafal, buite die stad. Die eiland was heuwelagtig, dor en droog. Maar hier en daar het ons lappies florerende groen plantegroei en bome gesien—akkers klapperbome, piesangs, papajas, mango’s, ensovoorts. Dit het ons laat dink aan Jesaja se profesie wat sê dat selfs die woestyn eendag sal bloei (Jesaja 35:1). Die twee groepies Getuies bied nou al, soos ’n oase, oorvloedige geestelike voedsel en drank aan die duisende wat as ’t ware in ’n geestelik verdorde land woon.

Vurige ywer op Fogo-eiland

Die volgende eiland was Fogo, wat “vuur” beteken. Hy het sy naam aan sy vulkaniese oorsprong te danke. Die vulkaan Cano Peak is nog aktief. Dit is ’n byna volmaakte keël wat bo die seeoppervlak uitsteek en is 2 800 meter hoog. Die eiland het kort tevore volop reën gehad, en dit was die eerste keer in jare dat dit so hard gereën het. Daar het ’n opgewekte gees onder die mense geheers, en hulle was buitengewoon besig met hulle boontjies en maniok, wat van die vernaamste voedselsoorte van die Kaap-Verdiese dieet uitmaak.

Maar hierdie waarderende mense was nie te besig om op te hou werk en waters van waarheid uit die Bybel in te neem nie. Ons kon saam met drie verskillende groepe vergader ten spyte van die feit dat dit ’n stryd was om by hulle uit te kom omdat daar min motors is en hulle nie in ’n goeie toestand is nie. Ons was verheug toe altesaam 162 mense die vergaderinge bygewoon het, aangesien daar net 42 Koninkryksverkondigers op die eiland was. Dit was ’n teken van die ywer van hierdie klein groepie broers en susters wat gemiddeld 15 ure elke maand daaraan bestee om die waters van waarheid na die 32 000 bewoners van Fogo-eiland te bring.

Vrugte in ’n Katolieke land

Ons moes nog ons broers op die eilande Santo Antão en São Nicolau besoek. Soos ’n mens uit hierdie name kan aflei, het die Rooms-Katolieke Kerk etlike eeue lank sy invloed op die eilande uitgeoefen. Hoewel Katolisisme steeds die hoofgodsdiens in Kaap Verde is, wend baie opregte mense hulle tot die Bybel vir sy verfrissende waters van waarheid.

Die 49 Koninkryksverkondigers in die twee gemeentetjies aan weerskante van Santo Antão werk hard om in die geestelike behoeftes van sy 44 000 bewoners te voorsien. Toe 512 die openbare Bybeltoespraak by die Porto Novo-gemeente bygewoon het, was dit vir die 32 Koninkryksverkondigers daar duidelik dat baie skaapgeaarde mense in Santo Antão na die waters van waarheid dors.

Die werk het ’n paar jaar gelede op die eiland São Nicolau begin toe ’n pioniersuster in Portugal ’n Bybelstudie deur middel van briewe met ’n gesin op die eiland gehou het. Toe, in 1978, het ’n ander pionier in Portugal besluit om terug te gaan na São Nicolau, die eiland waar hy gebore is, om die Bybelwaarheid aan die 15 000 bewoners te verkondig. Toe hy die eerste Bybelvergadering op die eiland gehou het, was daar net een persoon teenwoordig—hy! Maar Jehovah God het sy vurige gebede by daardie vergadering beantwoord. Gedurende ons besoek was die 48 verkondigers in die drie gemeentes verheug om te sien dat altesaam 335 mense die vergaderinge bygewoon het.

Die eerste kringbyeenkoms op die eiland is tydens ons besoek gehou, en ons kon die plaaslike teater gratis gebruik. Stadsamptenare het klanktoerusting en gratis vervoer voorsien. Die 19 verkondigers van die gasgemeente het huisvesting vir 100 byeenkomsgangers gereël en kos voorberei vir die 208 wat die byeenkoms bygewoon het. Ten spyte van die ontberings wat die broers daagliks moet verduur, het hulle nietemin ’n bydrae gegee vir die Genootskap-Koninkryksaalfonds.

Die goeie gedrag van Jehovah se Getuies is hier goed bekend, en baie werkgewers neem hulle in diens wanneer hulle werkers nodig het. Die eienaar van die enigste vulstasie op die eiland het byvoorbeeld ’n Getuie gevra om by hom te kom werk aangesien hy ’n eerlike persoon nodig gehad het. Die broer het reeds werk gehad, maar het gesê dat hy sou kyk of hy nie iemand anders kon kry nie. “Net as hy ’n gedoopte Getuie is!” het die eienaar beslis gesê. Hy het twee maande later vir ons broer gesê: “Jehovah se Getuies is die enigste mense wat met geld moet werk!”

Die laaste stilhouplek—Sal-eiland

Ons laaste stilhouplek was die eiland Sal. Sy naam beteken “sout”, en dit toon duidelik wat die belangrikste bedryf op hierdie eiland is. Die gemeentetjie hier bestaan uit 22 verkondigers, wat hard werk om die Koninkryksboodskap na die 6 500 bewoners te bring. Dit was ’n ware vreugde om die goeie nuus aan hierdie eilandbewoners te verkondig, want ons is by feitlik elke huis ingenooi en kon met verskeie lede van die gesin gesels.

Die besoek aan die eiland Sal het ons reis afgesluit. Wat ’n seën was dit tog om saam met hierdie getroue knegte van Jehovah in Kaap Verde te werk! Daar is nou 531 Koninkryksverkondigers op hierdie eilande, en daardie getal sal beslis groei namate die 2 567 wat die Gedenkmaal in 1991 bygewoon het, aanhou om geestelike voedsel te ontvang. Hoewel die meeste van Jehovah se Getuies hier baie min materiële besittings het, is hulle geestelik ryk en weldeurvoed. En hoe dankbaar is hulle tog dat Jehovah die water van die lewe ryklik op hierdie eilande laat uitborrel tot sy heerlikheid en eer!

[Kaart op bladsy 24]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

KAAP VERDE

SANTO ANTÃO

SÃO VICENTE

SÃO NICOLAU

SANTA LUZIA

SAL

BOA VISTA

MAIO

SÃO TIAGO

FOGO

BRAVA

Praia

Atlantiese Oseaan

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel