Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 2/15 bl. 21-25
  • Eilande van die Indiese Oseaan hoor die goeie nuus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Eilande van die Indiese Oseaan hoor die goeie nuus
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Eerste stilhouplek—Rodrigues
  • Die vergeleë Seychelle
  • Terug na Réunion
  • Mayotte—die Parfuum-eiland
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 2/15 bl. 21-25

Eilande van die Indiese Oseaan hoor die goeie nuus

DIE eilande Rodrigues, Mauritius, Réunion, die Seychelle, Mayotte en die Comore lê in ’n boog om Madagaskar en is versprei oor 3,9 miljoen vierkante kilometer van die westelike deel van die Indiese Oseaan. Hoewel dit oor so ’n groot gebied strek, beslaan hierdie eilande saam slegs ’n landoppervlakte van ongeveer 7 300 vierkante kilometer. Met ’n bevolking van 2,3 miljoen is hulle van die digsbevolkte eilande in die wêreld.

Hierdie bevolking sluit ongeveer 2 900 Getuies van Jehovah in, wat ywerig werk om die goeie nuus van God se Koninkryk aan die eilandbewoners te verkondig. Omdat hulle afgesonderd is, waardeer hierdie Getuies veral die besoeke van reisende opsieners en die jaarlikse byeenkomste wat deur die takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Vacoas, Mauritius, gereël word. Dit is geleenthede waartydens hulle hulle waarlik kan verlustig in die betekenis van die woorde van Jesaja 42:10: “Sing tot eer van die HERE ’n nuwe lied, sy lof van die einde van die aarde af—julle wat op die see vaar, en alles wat daarin is, eilande en bewoners daarvan.”

Verteenwoordigers van die takkantoor het onlangs na die eilande gereis om die gemeentes te besoek en om die jaarlikse reeks spesiale eendagbyeenkomste te hou, met die tema “Word heilig in jul hele lewenswandel”, wat op 1 Petrus 1:15 gebaseer was. Om die uitgestrekte oseaangebiede te kon besoek, moes hulle hoofsaaklik per vliegtuig reis—soms in moderne makrostralers, maar dikwels in baie kleiner skroefaangedrewe vliegtuie. Skoeners en klein seilbrikke is ook gebruik. Kom saam met ons, en kyk hoe die eilande in die vergeleë Indiese Oseaan die goeie nuus hoor!

Eerste stilhouplek—Rodrigues

Na ’n vlug van anderhalf uur vanaf Mauritius sien ons ’n koraalrif. Dit vorm die rand van ’n groot lagune waardeur ’n klein stippeltjie land in die Indiese Oseaan omring word. Dit is ons eerste stilhouplek, die eiland Rodrigues.

Die lughawe is op ’n koraallandpunt, Point Coraille, gebou. In hierdie gebied is die koraal so dik dat dit in blokke gesaag kan word en in die konstruksie van geboue gebruik kan word. ’n Klein bus neem ons oor ’n smal, kronkelende pad van die lughawe af na die hoofstad Port Mathurin. By een punt kan ons reg oor die eiland na die koraalriwwe, die blou lagune en die rotsagtige kuslyn in die verte kyk. Aangesien die reënseisoen pas geëindig het, is die heuwelhange bedek met growwe, sponserige gras, en plek-plek kan ’n mens beeste, skape en bokke sien wat daar wei.

’n Klein, netjiese Koninkryksaal in die middel van Port Mathurin is die plek waar ons ons spesiale byeenkomsdag gaan hou. Die werk in Rodrigues het in 1964 begin. Nou, onder ’n bevolking van 37 000, is daar 36 verkondigers van die goeie nuus. Wat ’n vreugde is dit tog om te sien dat 53 persone teenwoordig is en dat ’n 18-jarige jong man gedoop word. Sy ma, hoewel sy nie kan lees of skryf nie, het die waarheid in 1969 aangeneem, en sy het Jehovah aangehou dien ten spyte van familieteenstand. Nou het twee van haar kinders hulle aan Jehovah toegewy.

Na die byeenkoms bestee ons ’n week aan die predikingswerk op die eiland. Ons praat ons Mauritiaanse Kreools, aangesien dit die taal is wat ook hier in Rodrigues gepraat word. ’n Busrit en ’n entjie se stap neem ons na ons gebied toe—’n groen vallei wat van die hooglandpad ondertoe na die see strek. Wat ’n skouspelagtige gesig—die turkoois lagune, die wit koraalrif en die diepblou oseaan in die agtergrond! Verfris deur die ryk, onbesoedelde lug is ons gereed om verder te gaan.

Ons volg die smal paadjies deur die lande en steek telkens ’n moerasagtige stroom oor om die baie huise in die vallei te bereik. Ons word hartlik verwelkom by elke huis en kan met die huisbewoners praat oor die Koninkrykseëninge wat binnekort gaan kom. Kort voor lank het ons ver in die vallei af gevorder, en dit is tyd om huis toe te gaan. Dit beteken dat ons weer moet klim en ure lank moet stap, maar die plaaslike gasvryheid kom tot ons redding—ons word genooi om agter in ’n jeep saam te ry.

Na daardie vermoeiende uitstappie is ons bly om na die pragtige Bethelhuis in Vacoas terug te keer. Daar is gereël om twee spesiale byeenkomsdae in die stadsaal te hou. Die eerste dag woon 760 mense dit by. Hulle kom uit die helfte van die 12 gemeentes op die eiland. Die volgende dag bied ons dieselfde program aan vir 786 mense uit die ander ses gemeentes. Gedurende die naweek word vier nuwelinge gedoop. Daar is 30 spesiale pioniers en 50 gewone pioniers wat die goeie nuus aan die eilandbewoners verkondig.

Die vergeleë Seychelle

Dit is kort voor lank weer tyd vir ons volgende vlug, direk noord oor 1 600 kilometer van oseaan na die eiland Mahé in die Seychelle, wat in Kreools Zil Elwannyen Sesel genoem word, en “die vergeleë Seychelle-eilande” beteken. Omdat dit so ver is, kan die takkantoor slegs twee besoeke per jaar reël. Die spesiale byeenkomsdag en die kringbyeenkoms word op drie opeenvolgende dae in die lente gehou. Die streekbyeenkoms word later in die jaar gehou. Nou is ons hier in die middel van Oktober vir die streekbyeenkoms, wat gevolg sal word deur ’n week lange besoek aan die gemeente. Hier kan ons weer ons Mauritiaanse Kreools gebruik.

Die broers van die nabygeleë eilande Praslin en La Digue was reeds daar. Hoe opwindend is dit tog om 12 nasionaliteite verteenwoordig te sien! Die byeenkoms word gehou in die plaaslike Koninkryksaal, ’n groot motorhuis aan die agterkant van die huis van een van die Getuies wat in ’n Koninkryksaal omskep is. Aangesien slegs ses broers, waaronder die besoekers, bekwaam genoeg is om aan die program deel te neem, het sommige die voorreg om verskeie toesprake gedurende die vier dae te hou. Die 81 verkondigers is verheug om 216 op die laaste dag van die byeenkoms teenwoordig te sien.

Na die byeenkoms neem ons ’n skoener na Praslin, 40 kilometer noordoos van Mahé. Die 18 meter lange vaartuig is gemaak van die hout van die takamahakboom. Die sierlike vaartuig kan 50 passasiers en ’n vrag van ongeveer 40 ton dra. Wanneer ons die hawe in Mahé verlaat en ons boeg rig in die rigting van Praslin se buitelyne op die verre horison kan ons die krag van die dieselenjin voel wat aangehelp word deur die wit seile wat van die twee maste af uitbol.

Twee en ’n half uur later vaar ons om die rotsagtige landpunt en vaar ons die rustiger waters van die pragtige Bay St. Anne binne. Toe ons op die hawehoof afklim, sien ons broers wat op ons wag. Daar is 13 verkondigers op hierdie eilandjie, en 8 besoekers het van ander dele af gekom. Dit is dus met groot opgewondenheid dat ons sien hoe die saaltjie volgepak is met 39 mense vir die spesiale toespraak. Wat ’n goeie potensiaal vir groei is daar tog!

Terwyl ons hier in Praslin is, moet ons die pragtige Vallée de Mai besoek. Dit is die tuiste van die seeklapper, wat die grootste saad in die wêreld dra, wat elk tot 20 kilogram weeg. In die koel groen skaduwee van die woud sien ons hierdie palms in alle groeistadiums. Die amptelike roete- inligtingsbrosjure verduidelik dat die langste boom 31 meter hoog was toe dit laas in 1968 gemeet is. Party van hierdie lang bome is volgens skatting 800 jaar oud. Dit duur 25 jaar voordat ’n boom vrugte begin dra en 7 jaar vir die neut om ryp te word. Geen wonder nie dat die brosjure waarsku: “Neem net foto’s, laat net voetspore agter”!

Om sewe-uur die volgende oggend neem ons ’n boot na die eilandjie La Digue. Talle bootjies is om die hawehoof vasgemeer. Hulle is die lewensaar tussen die 2 000 inwoners en die buitewêreld. Ons word verwelkom deur ’n bejaarde egpaar van Switserland wat al sedert 1975 op hierdie eilande woon. Pleks van die oskar-“taxi” te neem, loop ons met die strand langs met sy indrukwekkende pienk granietrotse wat deur die see en reën glad geslyt is. Ná ’n piekniekontbyt gaan ons deur die klein reservaat, waar die seldsame swart vlieëvanger broei, na die huise van sommige belangstellendes. Dertien mense is byeen om die toespraak te hoor wat in Kreools gehou word. Ons ontmoet hier ’n egpaar wat al die reëlings getref het om hulle huwelik te wettig sodat hulle geestelik vooruitgang kan maak. Jehovah bring waarlik die begeerlike dinge van die nasies in, selfs op hierdie baie afgeleë eilande.

Terug na Réunion

Réunion is die hoogs ontwikkelde eiland wat ons op hierdie reis besoek. Terwyl ons die land nader, sien ons die hoofweg met sy vier bane, wat wemel van verkeer wat van die hoofstad, Saint-Denis, af kom. Daar is hoë geboue tussen die see en die berg. Hierdie eiland is die tuiste van sowat 580 000 mense en is ’n produktiewe veld vir Koninkryksgetuienis (Mattheüs 9:37, 38). Daar is nou ongeveer 2 000 ywerige verkondigers van die goeie nuus in 21 gemeentes.

Die spesiale byeenkomsdag word in ’n groot oordekte stadion gehou. Ons is verheug om 3 332 teenwoordig te sien, en hoe verblydend is dit tog om te sien dat 67 nuwelinge hulle vir doop aanbied! Nadat ons met die sendelinge op die eiland omgang geniet het, vertrek ons na ons volgende bestemming.

Mayotte—die Parfuum-eiland

Na ’n twee uur lange vlug begin ons straler met 40 sitplekke afdaal na die Pamanzi-lughawe op ’n eilandjie wat deur ’n 1,9 kilometer lange verhoogde pad met Dzaoudzi, die hoofstad van Mayotte, verbind is. Die blou lug, die wit wolke, geil berghange en diepblou oseaan skep saam die beeld van ’n vreedsame tropiese paradys. Mayotte se bynaam is gepas die Parfuum-eiland as gevolg van die heerlike geur van die ilang-ilangboom. Ekstrak van sy blomme word na Frankryk gestuur as ’n basis vir wêreldbekende parfuums.

Die rit op ’n vragskuit na die hoofeiland duur slegs 15 minute. Na ’n paar verversings by die sendinghuis word ons uitgenooi na ’n boekstudie 19 kilometer daarvandaan aan die anderkant van die eiland. Daar gaan ons hoop op ’n rustige besoek! Ons klim in die oop jeep vir ’n angswekkende rit op smal paadjies. Dit lyk of ons mense, koeie en ander voertuie naelskraap mis. Maar ons Franse bestuurder ken die pad. Ons kom spoedig in Chiconi aan, waar ons die gesin ontmoet in wie se huis die studie gehou word.

Die pa, ’n gewese Moslem, stel sy agt kinders aan ons voor. Sy jongste seun, ’n vierjarige, gee ons ’n groet, wat ons later verneem die tradisionele groet is. Hy plaas die agterkant van een hand in die palm van die ander en staan met gebakte hande voor ons. Eers probeer ons om hom met die hand te groet, toe probeer my vrou om sy hande op haar kop te plaas. Die seuntjie met groot ronde oë wag geduldig en wonder ongetwyfeld wat ons nou doen. Uiteindelik kry ons dit reg—ons plaas sy hande op sy kop. Die studie begin met 14 teenwoordig. Halfpad deur die studie kom ’n belangstellende in en groet almal met die hand. Dit is ook blykbaar een van hulle gebruike.

Op ons terugreis deur die platteland wat nou donker word, sien ons groot vrugtevlêrmuise wat na die bome vlieg vir hulle nagtelike voeding. Ons ruik ook die aroma van die pikante nangka wat op die kronkelende pad geval het en die soet geur van mango’s, papajas en koejawels. Dit is ’n habitat van die lemurs, die aapagtige diertjies met jakkalsgesiggies en lang grypsterte met ringe. Toe ons om die top van ’n heuwel kom, word ons deur ’n asemrowende gesig begroet. Die oranje-rooi volmaan het so pas oor die baai opgekom en weerkaats glinsterend op die rustige waters. Selfs ons bestuurder ry stadiger om dit te bewonder. Vir die res van die reis kyk ons by elke draai in die pad daarna.

Die volgende oggend gaan ons saam met die sendelinge predikingswerk doen. Ons besoek eers ’n jong man wat ’n onderwyser is en Frans goed praat. Hy sit op die vloer en ons sit op sy bed. Die volgende studie is ook met ’n jong man, en hy nooi ons om op sy matras op die vloer van sy klein kamertjie te sit. Na ’n rukkie begin ons rondskuif, ondanks die feit dat ons probeer om die krampe in ons bene en die sweet wat langs ons rûe afloop te ignoreer. Met die radio wat langsaan die nuutste popliedjies uitblêr, is dit nie maklik om op die studie te konsentreer nie, wat gedeeltelik in Frans en gedeeltelik in Mahories gehou word.

Ons laaste besoek is aan ’n jong man van die aangrensende Comore. Hy maak verskoning omdat hy Frans nie so goed praat nie, haal sy brosjure uit en is gereed om te begin. Wanneer die sendeling iets aan my verduidelik, val hy ons in die rede en sê hy dat hy nou die paragraaf gaan lees. Hy sê in werklikheid beleefd dat ons moet stilbly. Al hierdie mense is Moslems, maar hulle waardeer opreg wat hulle uit die Bybel leer.

Ons wonder waarom so baie jong mans, maar so min vroue of meisies, studeer. Dit is, word daar vir ons gesê, as gevolg van sosiale en familietradisies. Aangesien poligamie godsdienstig en sosiaal aanvaarbaar is en elke vrou in haar eie huis woon, is die vader se invloed baie klein; die ma is in beheer. Ons hoor ook dat dogters tradisioneel in hulle ma se huis bly totdat hulle trou. Daarenteen verlaat seuns die huis gedurende puberteit en bou hulle hulle eie banga, of hut, of hulle woon saam met ander seuns in ’n banga. Onder hierdie omstandighede is jong mans vry om te studeer indien hulle wil, maar min meisies het sulke vryheid.

Sondag is die dag waarop die spesiale byeenkomsdag gehou word. Eers is die weer aangenaam, maar teen die middag begin wolke saampak, en kort voor lank giet die reën neer. Dit lyk nie of iemand juis omgee nie, omdat dit alles ’n bietjie afkoel. Hier vind ons weer oorvloedige geestelike rykdom, en die 36 verkondigers en pioniers is verheug om te sien dat 83 teenwoordig is en 3 nuwelinge gedoop word.

Die uitreiking van die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! in hulle taal is ’n hoogtepunt. Dit is nie net die enigste Wagtoringpublikasie in Mahories nie, maar is tot dusver ook die enigste publikasie hoegenaamd in daardie taal. Die Arabiese skrif is onder die Romeinse teks geskryf. Mense leer die Arabiese skrif op skool maar nie die Arabiese taal nie. Hulle kan gebede in Arabies opsê en die Koran in Arabies lees; maar hulle verstaan nie wat hulle lees nie. Wanneer hulle die Arabiese skrif in die brosjure lees, is hulle verstom dat hulle dit kan verstaan. Wat hulle lees, is in werklikheid hulle eie Mahoriese taal wat foneties in Arabiese skrif geskryf is. Dit is ’n vreugde om te sien hoe hulle gesigte ophelder wanneer hulle verstaan wat hulle lees.

Brosjures word maklik by die mense gelaat. In een van die afgeleë dorpe nader ’n man ons terwyl ons vir ’n vrou getuig. Hy begin baie hard in Mahories met ons broer praat. Dit lyk vir ons of hy baie teen ons gekant is. Die man hou ’n ruk lank aan en maak wilde gebare. Die broer verduidelik later dat die man gekla het: “Hoe kan julle verwag dat ons die dinge moet onthou wat julle ons vertel as julle ons net een keer per jaar besoek? Hoe kan julle? Julle moet meer dikwels kom om met ons oor hierdie dinge te praat.”

Hierdie laaste woorde gee ook uitdrukking aan ons gevoelens. Jehovah versamel inderdaad die begeerlike dinge uit al die nasies deur middel van die goeie nuus van die Koninkryk. Hoewel hulle deur die uitgestrekte oseaan van mekaar geskei word, voeg die eilandbewoners hulle stemme by die kragtige lofuiting aan hulle Skepper en hemelse Vader, Jehovah God.—Haggai 2:7, NW.

[Kaarte op bladsy 21]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

DIE SEYCHELLE

INDIESE OSEAAN

DIE COMORE

MAYOTTE

MADAGASKAR

MAURITIUS

RÉUNION

RODRIGUES

[Prent op bladsy 23]

Die rotsagtige landpunt by Praslin, Bay St. Anne

[Prent op bladsy 24]

’n Oskar-“taxi” by La Digue, die Seychelle

[Prent op bladsy 25]

Predikingswerk met die nuwe brosjure in Mayotte

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel