“Die krag wat die normale te bowe gaan”
HOEVEEL lyding kan ’n Christen verduur? Vandag het Christene oor die hele wêreld te kampe met armoede, gesinsontwrigting, emosionele trauma, siekte, oorloë en vervolging. Is dit redelik om van hulle te verwag om hulle onkreukbaarheid ondanks al hierdie dinge te handhaaf? Die apostel Paulus het gesê dit is redelik. Hy het geskryf: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”—Filippense 4:13.
Die geskiedenis het getoon dat krag van Jehovah werklik vir alles voldoende is. Jehovah se Getuies is byvoorbeeld gedurende die Nazi-regime in Duitsland gewelddadig vervolg. Het hulle volhard? Die boek Les Bibelforscher et le nazisme (Die Bybelstudente en Nazisme) sê: “Ondanks al die slae, dreigemente en beperkings, ondanks die openbare vernederings, die gevangenskap en aanhouding in konsentrasiekampe het Bybelstudente [Jehovah se Getuies] nooit toegelaat dat hulle ‘heropgevoed’ word nie.”
Die Getuies is in konsentrasiekampe deur klein pers driehoeke op hulle moue geïdentifiseer en hulle is uiters wreed mishandel. Het dit hulle laat knak? Sielkundige Bruno Bettelheim het gesê dat hulle “nie alleen buitengewone menslike waardigheid en morele gedrag geopenbaar het nie, maar oënskynlik beskerm is teen dieselfde kampervaring waardeur persone wat deur my en my psigoanalitiese vriende as baie goed geïntegreer beskou is, gou vernietig is”.
Ja, hulle was ‘tot alles in staat’. Waarom? Omdat hulle op Jehovah vertrou het. Paulus het gesê: “Ons het hierdie skat in erdehouers, dat die krag wat die normale te bowe gaan van God sou wees en nie uit onsself nie” (2 Korinthiërs 4:7, NW). As jy voor ’n beproewende situasie te staan kom, moet jy jou vol vertroue tot Jehovah wend om hulp. Jy sal versterk word deur die krag wat die normale te bowe gaan wat hy gee en jy sal dit kan verduur.—Lukas 11:13.