Jehovah se gawe van die heilige gees
“Hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?”—LUKAS 11:13.
1, 2. (a) Watter belofte het Jesus oor die heilige gees gemaak, en waarom is dit werklik bemoedigend? (b) Wat is die heilige gees?
TOE Jesus in die herfs van die jaar 32 G.J. besig was om die goeie nuus in Judea te verkondig, het hy met sy dissipels gepraat oor Jehovah se vrygewigheid. Hy het ’n paar treffende illustrasies gebruik en het daarna ’n wonderlike belofte gemaak en gesê: “As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?”—Lukas 11:13.
2 Hoe bemoedigend is daardie woorde tog! Terwyl ons die onrus van hierdie wêreld se laaste dae verduur, met die vyandskap van Satan en sy demone te kampe het en teen ons eie gevalle neigings moet stry, is dit werklik hartverblydend om te weet dat God ons met sy gees sal versterk. Dit is in der waarheid onmoontlik om sonder daardie ondersteuning te volhard. Het jy al die krag ervaar van hierdie gees, wat God se werkende krag is? Begryp jy hoeveel dit jou kan help? Maak jy ten volle daarvan gebruik?
Die krag van die heilige gees
3, 4. Lig die krag van die heilige gees toe.
3 Let eerstens op die krag van die heilige gees. Dink terug aan die jaar 1954. Dit was toe ’n waterstofbom op die Bikini-atol in die Stille Suidsee ontplof het. ’n Oomblik na die bom ontplof het, is daardie pragtige eiland in ’n ontsaglike vuurbal gehul en deur ’n ontploffing geruk wat gelyk was aan die krag van 15 miljoen ton TNT wat ontplof. Waarvandaan het al daardie vernietigende krag gekom? Dit het ontstaan toe ’n klein deeltjie van die uraan en waterstof waaruit die kern van die bom bestaan het in energie omgesit is. Maar sê nou wetenskaplikes kon die teenoorgestelde doen van wat hulle op Bikini bereik het? Sê nou hulle kon al daardie vurige energie neem en dit in ’n paar kilogram uraan en waterstof verander. Wat ’n prestasie sou dit tog nie wees nie! Maar toe Jehovah ‘in die begin die hemel en die aarde geskep het’, het hy iets soortgelyks gedoen, maar op veel groter skaal.—Genesis 1:1.
4 Jehovah het eindelose dinamiese energie tot sy beskikking (Jesaja 40:26). Gedurende die skepping moes hy van hierdie energie gebruik het toe hy al die materie waaruit die heelal bestaan, gemaak het. Wat het hy in hierdie skeppingswerk gebruik? Heilige gees. Ons lees: “Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër” (Psalm 33:6). En die skeppingverslag in Genesis sê: “Die Gees van God [heilige gees] het gesweef op die waters” (Genesis 1:2). Hoe kragtig is die heilige gees tog nie!
Wonderbaarlike werke
5. Op watter wonderlike maniere is die heilige gees werksaam?
5 Heilige gees is steeds op baie wonderlike maniere werksaam. Dit lei en rig Jehovah se hemelse organisasie (Esegiël 1:20, 21). Soos die energie wat deur die waterstofbom vrygestel is, kan dit gebruik word om Jehovah se vernietigende oordeel aan sy vyande te voltrek, maar dit het ook op ander maniere gewerk wat ons verwonderd laat.—Jesaja 11:15, NW; 30:27, 28, NW; 40:7, 8, NW; 2 Thessalonicense 2:8, NW.
6. Hoe het die heilige gees Moses en die kinders van Israel in hulle handelinge met Egipte ondersteun?
6 Jehovah het Moses byvoorbeeld ongeveer 1513 v.G.J. gestuur om voor Farao van Egipte te verskyn en te eis dat die nasie Israel vrygelaat word. Moses was die vorige 40 jaar ’n skaapwagter in Midian. Waarom moes Farao dus na ’n skaapwagter luister? Omdat Moses in die naam van die enigste ware God, Jehovah, gekom het. Om dit te bewys, het Jehovah hom die vermoë gegee om wonderwerke te doen. Hierdie wonderwerke was so indrukwekkend dat selfs die Egiptiese priesters moes erken: “Dit is die vinger van God!”a (Exodus 8:19). Jehovah het tien plae oor Egipte gebring, waarvan die laaste Farao gedwing het om God se volk toe te laat om Egipte te verlaat. Toe Farao hulle hardkoppig met sy leër agtervolg het, het die Israeliete ontsnap toe ’n pad op ’n wonderdadige manier deur die Rooi See geopen is. Die Egiptiese leër het hulle gevolg en in die see verdrink.—Jesaja 63:11-14; Haggai 2:4, 5.
7. (a) Wat is ’n paar redes waarom die heilige gees wonderwerke gedoen het? (b) Waarom is die verslag van wonderwerke in die Bybel bemoedigend, al word hulle nie meer vandag deur die heilige gees verrig nie?
7 Ja, Jehovah het in Moses se dag en op ander tye kragtige wonderwerke deur sy gees ten behoewe van die Israeliete gedoen. Wat was die doel van daardie wonderwerke? Hulle het Jehovah se voornemens bevorder, sy naam bekend gemaak en sy krag getoon. En soms, soos in die geval van Moses, het hulle oortuigende bewys gelewer dat iemand Jehovah se steun gehad het (Exodus 4:1-9; 9:14-16). Wonderwerke wat deur die heilige gees bewerkstellig is, was egter deur die eeue heen iets seldsaams.b Die meeste mense wat in Bybeltye geleef het, het waarskynlik nooit een gesien nie, en vandag vind hulle nie meer plaas nie. Maar is dit nie bemoedigend om te weet dat Jehovah ons vandag, terwyl ons probleme het wat dalk onoorkoomlik lyk, dieselfde gees sal gee wat Moses voor Farao versterk het en die Rooi See voor die Israeliete geopen het, as ons hom in geloof daarvoor vra nie?—Mattheüs 17:20.
Geïnspireerde geskrifte
8. Wat was die rol van die heilige gees toe die Tien Gebooie gegee is?
8 Nadat die Israeliete uit Egipte verlos is, het Moses hulle na die berg Sinai gelei, waar Jehovah ’n verbond met hulle gesluit en hulle sy Wet gegee het. ’n Sentrale deel van daardie Wet wat aan Moses gegee is, was die Tien Gebooie, en die oorspronklike kopieë hiervan was op kliptafels geskryf. Hoe? Deur middel van die heilige gees. Die Bybel sê: “En [Jehovah] het aan Moses, toe Hy geëindig het om met hom te spreek op die berg Sinai, die twee tafels van die Getuienis gegee, tafels van klip, beskrywe met die vinger van God.”—Exodus 31:18; 34:1.
9, 10. Hoe was die heilige gees betrokke by die skrywe van die Hebreeuse Geskrifte, en hoe blyk dit uit woorde wat Jesus se dissipels gebruik het?
9 Benewens die Tien Gebooie het Jehovah deur sy gees honderde wette en regulasies aan die Israeliete gegee om die lewe van getroue manne en vroue te rig. En nog geïnspireerde geskrifte sou volg. Eeue na Moses se dag het die Leviete in ’n openbare gebed tot Jehovah gesê: “U was baie jare lankmoedig oor hulle [die Israeliete], en U het hulle gewaarsku deur u Gees, deur middel van u profete” (Nehemia 9:5, 30). Talle geïnspireerde profesieë wat deur daardie profete uitgespreek is, is opgeteken. Daarbenewens het die heilige gees getroue manne beweeg om Bybelse geskiedenis en opregte lofliedere neer te skryf.
10 Paulus het van al hierdie geskrifte gepraat toe hy gesê het: “Die hele Skrif is deur God ingegee” (2 Timotheüs 3:16; 2 Samuel 23:2; 2 Petrus 1:20, 21). Wanneer Jesus se eerste-eeuse dissipels uit hierdie geskrifte aangehaal het, het hulle dikwels uitdrukkings gebruik soos ‘die Heilige Gees het deur die mond van Dawid voorspel’, “tereg het die Heilige Gees deur Jesaja . . . gespreek” of net “die Heilige Gees spreek” (Handelinge 1:16; 4:25, NW; 28:25, 26; Hebreërs 3:7). Wat ’n seëning is dit tog dat dieselfde heilige gees wat die skrywe van die Heilige Skrif gerig het dit ook bewaar het sodat ons vandag daardeur gelei en vertroos kan word!—1 Petrus 1:25.
Vertroue op die heilige gees
11. Watter werk van die gees is gesien toe die tabernakel gebou is?
11 Terwyl die Israeliete aan die voet van die berg Sinai was, het Jehovah hulle opdrag gegee om ’n tabernakel as ’n sentrum vir ware aanbidding te bou. Hoe sou hulle dit doen? “Daarop het Moses aan die kinders van Israel gesê: Kyk, die HERE het Besaleël, die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Juda, by sy naam geroep; en Hy het hom met die Gees van God vervul, met wysheid, met verstand en met kennis en bekwaamheid vir allerhande werk” (Exodus 35:30, 31). Die heilige gees het Besaleël se natuurlike vaardigheid vergroot, en hy kon met welslae toesig hou oor die oprigting van daardie merkwaardige struktuur.
12. Hoe het die gees mense ná Moses se tyd op buitengewone maniere versterk?
12 Jehovah se gees het by ’n latere geleentheid oor Simson werksaam geword, waardeur hy bomenslike krag gegee is wat hom in staat gestel het om Israel van die Filistyne te red (Rigters 14:5-7, 9; 15:14-16; 16:28-30). Nog later is Salomo spesiale wysheid gegee toe hy koning was oor God se uitverkore volk (2 Kronieke 1:12, 13). Onder hom was Israel voorspoediger as ooit, en daardie vreugdevolle toestand het ’n patroon geword vir die seëninge wat God se volk sal geniet onder die Duisendjarige Heerskappy van Christus Jesus, die Grotere Salomo.—1 Konings 4:20, 25, 29-34; Jesaja 2:3, 4; 11:1, 2; Mattheüs 12:42.
13. Hoe moedig die verslag van hoe die gees Besaleël, Simson en Salomo versterk het ons vandag aan?
13 Wat ’n seëning is dit tog dat Jehovah daardie selfde gees vir ons beskikbaar stel! Wanneer ons dink dat ons nie bevoeg is om ’n toewysing te vervul of aan die predikingswerk deel te neem nie, kan ons Jehovah vra om ons dieselfde gees te gee wat hy vir Besaleël gegee het. Wanneer ons siek is of vervolging moet verduur, sal dieselfde gees wat Simson buitengewone krag gegee het ons versterk—al sal dit natuurlik nie wonderbaarlik plaasvind nie. En wanneer ons voor moeilike probleme te staan kom of belangrike besluite moet neem, kan ons vra dat Jehovah, wat Salomo buitengewone wysheid gegee het, ons help om verstandig op te tree. Dan sal ons soos Paulus sê: “Vir alle dinge het ek die krag deur hom wat my krag gee” (Filippense 4:13, NW). En Jakobus se belofte sal op ons van toepassing wees: “As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.”—Jakobus 1:5.
14. Wie is in die hede en in die verlede deur die heilige gees ondersteun?
14 Jehovah se gees was ook op Moses in sy werk om oor die nasie reg te spreek. Toe ander aangestel is om Moses te help, het Jehovah gesê: “Van die Gees wat op jou is, sal Ek afsonder en op hulle lê; en hulle sal jou help om die las van die volk te dra, sodat jy dit nie alleen hoef te dra nie” (Numeri 11:17). Derhalwe was dit nie vir daardie manne nodig om uit hulle eie krag op te tree nie. Die heilige gees het hulle ondersteun. Ons lees dat Jehovah se gees by latere geleenthede op ander persone was (Rigters 3:10, 11; 11:29). Van die geleentheid toe Samuel Dawid as die toekomstige koning van Israel gesalf het, sê die verslag: “Samuel neem toe die horing met olie en salf hom te midde van sy broers, en die Gees van die HERE het van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword” (1 Samuel 16:13). Diegene wat vandag groot verantwoordelikhede het—hetsy in die gesin, die gemeente of die organisasie—kan vertroosting put uit die wete dat God se gees sy knegte nog altyd ondersteun terwyl hulle na hul verantwoordelikhede omsien.
15. Hoe het die heilige gees Jehovah se organisasie versterk (a) in die dae van Haggai en Sagaria? en (b) vandag?
15 Sowat duisend jaar na Moses se dag het getroues onder die kinders van Israel uit Babilon na Jerusalem teruggekeer met die opdrag om die tempel te herbou (Esra 1:1-4; Jeremia 25:12; 29:14). Groot struikelblokke het egter ontstaan, en hulle was baie jare lank ontmoedig. Eindelik het Jehovah die profete Haggai en Sagaria verwek om die Jode aan te moedig om nie op hulle eie krag te steun nie. Maar hoe sou die taak verrig word? “‘Nie deur ’n krygsmag of deur krag nie, maar deur my gees’, sê Jehovah van die leërskare” (Sagaria 4:6, NW). En met die steun van God se gees is die tempel gebou. God se volk het vandag ook baie uitgerig. Die verkondiging van die goeie nuus het tot in alle wêrelddele uitgebrei. Miljoene mense word in waarheid en geregtigheid onderrig. Byeenkomste word georganiseer. Koninkryksale en takkantore word gebou. Baie van hierdie dinge word ondanks bittere teenstand gedoen. Maar Jehovah se Getuies het nie ontmoedig geword nie, want hulle weet dat absoluut alles wat hulle bereik het nie deur ’n krygsmag, of deur menslike krag, bereik is nie, maar deur God se gees.
God se gees in die eerste eeu
16. Hoe het Jehovah se voor-Christelike knegte die werking van God se gees ervaar?
16 Soos ons gesien het, was voor-Christelike knegte van God terdeë bewus van die krag van God se gees. Hulle het daarop vertrou om hulle te help om belangrike pligte uit te voer en om God se wil te doen. Hulle het ook geweet dat die Wet en die ander heilige geskrifte geïnspireer was, onder die invloed van die gees van Jehovah geskryf is en gevolglik ‘God se Woord’ is (Psalm 119:105). Maar wat van die Christelike era?
17, 18. Wat was party van die wonderdadige manifestasies van die gees in die Christelike era, en wat was die doel daarvan?
17 Gedurende die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling was God se gees ook op wonderlike maniere werksaam. Daar was geesgeïnspireerde profesieë (1 Korinthiërs 14:1, 3). Ter vervulling van Jesus se belofte dat heilige gees sy dissipels sou herinner aan al die dinge wat hy gesê het en hulle verdere aspekte van die waarheid sou leer, is ’n aantal boeke onder die invloed van die heilige gees geskryf (Johannes 14:26; 15:26, 27; 16:12, 13). En daar was wonderwerke, soos ons meer in besonderhede in ons volgende artikel sal bespreek. Die eerste eeu is inderdaad deur ’n besondere wonderwerk ingelui. Ongeveer die jaar 2 v.G.J. sou ’n spesiale baba gebore word, en as ’n teken sou sy jong moeder ’n maagd wees. Hoe kon dit gebeur? Deur die heilige gees. Die verslag sê: “Die geboorte van Jesus Christus was dan só: Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, voordat hulle saamgekom het, is sy swanger bevind uit die Heilige Gees.”—Mattheüs 1:18; Lukas 1:35, 36.
18 Toe Jesus ’n volwassene was, het hy demone uitgedryf, die siekes genees, selfs die dooies met die krag van die heilige gees opgewek. Party van sy volgelinge het ook wonderwerke en kragtige dade gedoen. Hierdie spesiale vermoëns was gawes van die gees. Wat was hulle doel? Net soos die vroeëre wonderwerke het hulle God se voornemens bevorder en blyk gelewer van sy krag. Daarbenewens het hulle bewys dat Jesus se bewering dat hy deur God gestuur is waar was; en later het hulle bewys dat die eerste-eeuse Christengemeente God se uitverkore nasie was.—Mattheüs 11:2-6; Johannes 16:8; Handelinge 2:22; 1 Korinthiërs 12:4-11; Hebreërs 2:4; 1 Petrus 2:9.
19. Hoe word ons geloof versterk deur die Bybel se verslag van die wonderwerke van Jesus en sy apostels?
19 Die apostel Paulus het egter gesê dat sulke wonderdadige manifestasies van die gees tot die vroeë dae van die gemeente behoort het en dat hulle sou verbygaan, en daarom sien ons nie vandag sulke wonderwerke wat deur die heilige gees verrig word nie (1 Korinthiërs 13:8-11). Die wonderwerke wat Jesus en sy apostels verrig het, het nogtans meer as historiese betekenis. Hulle versterk ons geloof in God se belofte dat siekte en die dood geen plek onder Jesus se heerskappy in die nuwe wêreld sal hê nie.—Jesaja 25:6-8; 33:24; 65:20-24.
Word bevoordeel deur God se heilige gees
20, 21. Hoe kan ons gebruik maak van die voorsiening van heilige gees?
20 Hoe kragtig is hierdie gees tog! Maar hoe kan Christene vandag daarvan gebruik maak? Eerstens het Jesus gesê ons moet daarvoor vra; daarom kan ons dit gerus doen. Bid tot Jehovah dat hy jou hierdie wonderlike gawe nie net in tye van nood nie, maar te alle tye sal gee. Lees daarbenewens die Bybel sodat heilige gees tot jou kan spreek. (Vergelyk Hebreërs 3:7.) Peins oor wat jy lees en pas dit toe sodat die heilige gees ’n invloed in jou lewe kan wees (Psalm 1:1-3). Verder moet jy—op persoonlike vlak of in die gemeentes en by byeenkomste—met ander omgaan wat op God se gees vertrou. Hoe oorvloedig versterk die heilige gees tog diegene wat hulle God “in die vergaderinge” loof!—Psalm 68:27.
21 Is Jehovah nie ’n vrygewige God nie? Hy sê dat ons net om heilige gees moet vra en hy sal dit vir ons gee. Hoe dwaas is dit tog om op ons eie wysheid en krag te vertrou wanneer so ’n kragtige hulp tot ons beskikking is! Daar is egter ander sake wat met God se gees verband hou wat ons as Christene raak, en dit sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnote]
a Die uitdrukking “vinger van God” verwys gewoonlik na die heilige gees.—Vergelyk Lukas 11:20 en Mattheüs 12:28.
b Die meeste van die wonderwerke in die Bybel het plaasgevind gedurende die tyd van Moses en Josua, Elia en Elisa en Jesus en sy apostels.
Kan jy die volgende vrae beantwoord?
◻ Hoe het Jehovah al die materie in die heelal geskep?
◻ Wat is party maniere waarop die heilige gees in voor-Christelike tye gewerk het?
◻ Hoe bemoedig dit ons vandag as ons weet wat die heilige gees in die ou tyd bewerkstellig het?
◻ Hoe kan ons gebruik maak van die voorsiening van heilige gees?
[Prent op bladsy 10]
Die gees wat Simson bomenslike krag gegee het, kan ons vir alle dinge krag gee