Wat sal met die Christendom se heilige plekke gebeur?
UITGEWERS van die boek Holy Places of Christendom, deur argeoloog Stewart Perowne, vra: “Wie kan, wat sy Christelike agtergrond ook al is, op Kalvarieberg in die Kerk van die Herrysenis [of, die Heilige Grafkerk] in Jerusalem staan sonder om met ontsag vervul te word: want hier, in ’n plek wat vereer word en waaroor daar eeue lank geveg is, is die middelpunt van die Christendom.”
Niemand kon nog bewys dat hierdie kerk op Kalvarieberg, waar Jesus Christus gesterf het, gebou is nie. Trouens, voordat Romeinse keiser Konstantyn besluit het om ’n kerk daar te bou, was daar ’n heidense tempel op die plek. Daarbenewens het Jesus gesê: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:24). Sulke aanbidders vereer nie stoflike “heilige” plekke nie.
God se tempel was vroeër in Jerusalem geleë en dit was dus die sentrum van ware aanbidding. As gevolg van die ontrouheid van die stad se inwoners het Jehovah God dit egter verwerp, soos Jesus voorspel het (Mattheüs 23:37, 38). Jesus het ook die verwoesting van daardie godsdienssentrum voorspel, wat deur baie steeds as ’n heilige plek beskou is. Sy woorde is vervul toe die Romeine Jerusalem en sy tempel in 70 G.J. vernietig het.—Mattheüs 24:15, 21.
Jesus se profesie sal binnekort ’n groter vervulling hê op die hele godsdiensryk van die Christendom, wat beweer dat hy ’n heilige plek is. Die Christendom en sy heilige plekke staar tans vernietiging in die gesig deur ’n antigodsdienstige mag wat “die walglike ding wat verwoesting veroorsaak”, genoem word (Daniël 11:31, NW). Jehovah se Getuies sal met graagte inligting verskaf oor hoe hierdie skokkende gebeurtenis gaan plaasvind.
[Prent op bladsy 32]
’n Kapel binne die Heilige Grafkerk
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.