Watter God moet ons aanbid?
IN TEENSTELLING met die diere het ons as mense die vermoë om te aanbid. Dit is van geboorte af ’n deel van ons samestelling. Ons het ook ’n sedelikheidsgevoel, ’n gewete om ons te lei in wat reg en wat verkeerd is. Ons volg almal daardie gewete op verskillende maniere, en gevolglik wend baie mense hulle tot ’n god of gode om leiding.
Gedurende die afgelope eeu of wat het sommige wêreldse intellektuele die bestaan van ’n almagtige God en Skepper betwis. In 1844 het Karl Marx verklaar dat godsdiens “die opium van die volk” is. Later het Charles Darwin die evolusieteorie geskep. Toe kom die Bolsjewistiese revolusie. In Oos-Europa het ateïsme die amptelike staatsbeleid geword, en daar is beweer dat godsdiens saam met die geslag van 1917 sou uitsterf. Maar daardie ateïste kon nie die manier verander waarop mense gemaak is nie. Die huidige oplewing van godsdiens in Oos-Europa is bewys hiervan.
Maar soos die Bybel sê, is daar baie “sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is—soos daar baie gode en baie here is” (1 Korinthiërs 8:5). Deur die eeue heen het die mensdom ’n menigte gode aanbid. Daar was al gode van vrugbaarheid, van liefde, van oorlog en van wyn en feestelikheid. In die Hindoegodsdiens alleen is daar miljoene gode.
Drie-eenhede van gode het in Babilon, Assirië en Egipte, sowel as in Boeddhistiese lande, gedy. Die Christendom het ook sy “heilige” Drie-eenheid. Die Islam, wat die Drie-eenheid verwerp, het “geen god behalwe Allah nie”. Daarbenewens het selfs diegene wat met die idee van ’n onsigbare, almagtige God spot hulle eie gode. In Filippense 3:19 sê die Bybel byvoorbeeld van mense wat in die najaging van materiële dinge vasgevang is: “Hulle god is die buik.”
Die meeste mense aanbid die god of gode van die land of gemeenskap waarin hulle gebore is. Dit laat vrae ontstaan. Lei alle vorme van aanbidding na dieselfde plek—soos paaie na ’n bergpiek? Of lei baie van godsdiens se mistieke paaie na onheil—soos paadjies na ’n afgrond? Is daar baie korrekte maniere waarop ’n mens kan aanbid of is daar net een? Is daar baie lofwaardige gode of is daar net een almagtige God wat ons uitsluitlike toewyding en aanbidding verdien?
Die ontstaan van valse gode
Die bogenoemde vrae verdien dat ons hulle noukeurig ondersoek. Waarom? Omdat die oudste geskrewe gesag op die gebied van godsdiens, die Bybel, beskryf hoe ’n valse god ’n slang gebruik het om ons eerste voorouers te verlei sodat hulle ’n rampspoedige weg ingeslaan het. Ons ondervind tot vandag toe die pynlike gevolge van sy optrede (Genesis 3:1-13, 16-19; Psalm 51:7). Jesus, “die Seun van God”, het van daardie opstandelinggod gepraat as “die owerste van hierdie wêreld”. Een van Jesus se apostels het hom “die god van hierdie wêreld” genoem (Johannes 1:34; 12:31; 16:11; 2 Korinthiërs 4:4). In Openbaring hoofstuk 12, vers 9, word hy beskryf as “die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei”. ’n Wêreldryk van valse godsdiens is onder Satan se beheer.
Satan is die aartsbedrieër (1 Timotheüs 2:14, NW). Hy buit die mensdom se ingebore begeerte om te aanbid uit deur baie soorte godhede te bevorder—geeste van voorouers, afgode, ikone, Madonnas. Hy bevorder selfs die aanbidding van menslike gode, soos magtige heersers, seëvierende generaals en rolprent- en sportsterre (Handelinge 12:21-23). Ons is verstandig as ons op ons hoede bly, vasbeslote om slegs die ware God, wat waarlik “nie ver van elkeen van ons [is] nie”, te soek en te aanbid.—Handelinge 17:27.
Wie is dan hierdie unieke God wat ons moet aanbid? Sowat 3 000 jaar gelede het die Bybelpsalmis hom beskryf as “die Allerhoogste . . . , die Almagtige . . . , my God, op wie ek sal vertrou”, en hom op sy glorieryke naam—“Jehovah”—aangespreek (Psalm 91:1, 2, NW). Vroeër het Moses van hom gesê: “Jehovah ons God is een Jehovah” (Deuteronomium 6:4, NW). En die profeet Jesaja het God self aangehaal wat sê: “Ek is Jehovah. Dit is my naam; en aan niemand anders sal ek my eie heerlikheid gee nie, nog my lof aan gesnede beelde.”—Jesaja 42:8, NW.
Jehovah God is van voorneme om sy naam te suiwer van al die smaad wat die valse god Satan daarop gebring het. Hy het in die jaar 1513 v.G.J. toegelig hoe hy dit gaan doen toe hy sy profeet Moses gebruik het om die nasie van Israel uit Egiptiese onderdrukking te verlos. By daardie geleentheid het God sy naam Jehovah gekoppel met die woorde: “Ek sal blyk te wees wat Ek sal blyk te wees” (Exodus 3:14, 15, NW). Hy sou homself regverdig teen Farao van Egipte, maar eers het hy vir daardie bose heerser gesê: “Hierom het Ek jou nog laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig.”—Exodus 9:16.
’n Soortgelyke situasie bestaan vandag. Soos Farao van die ou tyd tart die god van hierdie wêreld, Satan, Jehovah God en voer hy op geslepe wyse ’n geestelike oorlog teen mense wat geregtigheid en waarheid liefhet (Efesiërs 6:11, 12, 18). God is weer eens van voorneme om sy naam ondanks Satan se teenstand te verheerlik. Maar voordat hy sy krag toon deur Satan en al sy werke te vernietig, stuur Jehovah sy aanbidders uit om Sy naam oor die hele aarde te verkondig. Hierdie verkondiging van sy naam is ’n uiters belangrike deel van ware aanbidding.
Dit is gepas dat God self gesê het dat hierdie aanbidders sy getuies sou wees, Jehovah se Getuies, “die volk wat ek vir my geformeer het, dat hulle my lof moet verkondig” (Jesaja 43:10-12, 21, NW). Hoe verkondig hulle Jehovah se lof? Hulle preek en onderrig in die openbaar en van huis tot huis, en verkondig die goeie nuus dat Jehovah se Koninkryk, met sy Seun, Jesus Christus, as koning, ewige seëninge vir die gehoorsame mensdom op hierdie aarde gaan meebring. Hulle aanbid God dus “sonder ophou”, net soos ware Christene in die eerste eeu gedoen het (Handelinge 5:42, NW; 20:20, 21). Het hulle goddelike seën hierin geniet? Die volgende bladsye sal dit beantwoord.