Verbly julle in die Koninkrykshoop!
“Verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking.”—ROMEINE 12:12.
1. Waarom kan ons vreugde put uit ons verhouding met Jehovah, en wat het die apostel Paulus Christene aangespoor om te doen?
“DIE gelukkige God” (1 Timotheüs 1:11, NW). Hoe goed beskryf dit Jehovah tog nie! Waarom? Omdat al sy werke hom baie gelukkig maak. Aangesien Jehovah die Bron van alle goeie en verblydende dinge is, kan al sy intelligente skepsele geluk vind in hulle verhouding met hom. Die apostel Paulus spoor Christene gepas aan om waardering te hê vir hulle verblydende voorreg om Jehovah God te ken, om dankbaar te wees vir sy wonderlike gawes van die skepping en om hulle te verbly in die liefderyke goedhartigheid wat Hy aan hulle betoon. Paulus het geskryf: “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!”—Filippense 4:4; Psalm 104:31.
2. Watter hoop hou groot vreugde in, en wat word Christene aangespoor om in verband met hierdie hoop te doen?
2 Slaan Christene ag op hierdie vermaning van Paulus? Beslis! Die geestelike broers van Jesus Christus verbly hulle in die glorieryke hoop wat God vir hulle daargestel het (Romeine 8:19-21; Filippense 3:20, 21). Ja, hulle weet dat hulle ’n aandeel sal hê in die vervulling van die wonderlike hoop vir die toekoms van die mensdom, die lewendes sowel as die dooies, deur saam met Christus in sy hemelse Koninkryksregering te dien. Stel jou voor hoe hulle hul sal verbly in hulle voorregte as mede-erfgename terwyl hulle as konings en priesters dien! (Openbaring 20:6). Hoe gelukkig sal hulle tog wees wanneer hulle die getroue mensdom help om volmaaktheid te bereik en om die herstelling van die Paradys op ons aarde te help rig! Al God se knegte het voorwaar “die grondslag van ’n hoop op die ewige lewe, wat God, wat nie kan lieg nie, voor langdurige tye beloof het” (Titus 1:2, NW). Met die oog op hierdie wonderlike vooruitsig spoor die apostel Paulus alle Christene aan: “Verbly julle in die hoop.”—Romeine 12:12.a
Ware vreugde—’n eienskap van die hart
3, 4. (a) Wat beteken die term “om jou te verbly”, en hoe dikwels moet Christene hulle verheug? (b) Wat is ware vreugde, en waarvan hang dit af?
3 “Om jou te verbly”, beteken om vreugde te voel en daaraan uiting te gee; dit beteken nie om voortdurend ’n gevoel van behaaglikheid te hê of uitbundig te wees nie. Die werkwoorde wat ooreenstem met die Hebreeuse en Griekse woorde wat in die Bybel vir “vreugde”, “gejubel” en “blydskap” gebruik word, sluit die innerlike gevoel sowel as die uiterlike betoning van vreugde in. Christene word aangespoor: “Wees bly”, “Wees altyddeur bly.”—2 Korinthiërs 13:11; 1 Thessalonicense 5:16.
4 Maar hoe kan ’n mens altyddeur bly wees? Dit is moontlik omdat ware vreugde ’n eienskap van die hart is, ’n diep, innerlike, geestelike eienskap (Deuteronomium 28:47; Spreuke 15:13; 17:22). Dit is ’n vrug van God se gees, een wat Paulus net na liefde noem (Galasiërs 5:22, NW). Omdat dit ’n innerlike eienskap is, is dit nie van eksterne dinge afhanklik nie, nie eers van ons broers nie. Maar dit is wel van God se heilige gees afhanklik. En dit spruit voort uit daardie diep, innerlike tevredenheid omdat jy weet dat jy die waarheid en die Koninkrykshoop het en omdat jy weet dat jy doen wat Jehovah behaag. Daarom is vreugde nie net ’n persoonlikheidseienskap waarmee jy gebore word nie; dit is ’n deel van “die nuwe persoonlikheid”, die samestel van eienskappe wat Jesus Christus onderskei het.—Efesiërs 4:24, NW; Kolossense 3:10, NW.
5. Wanneer en hoe kan daar uiterlike tekens van vreugde wees?
5 Al is vreugde ’n eienskap van die hart kan dit nogtans soms uiterlik vertoon word. Wat is hierdie tekens van vreugde wat soms van buite gesien kan word? Dit kan enigiets van ’n kalm gesigsuitdrukking tot letterlike spronge van vreugde insluit (1 Konings 1:40; Lukas 1:44; Handelinge 3:8; 6:15). Beteken dit dan dat mense wat nie baie praat of nie altyd glimlag nie geen vreugde het nie? Nee! Ware vreugde word nie deur ’n voortdurende gebabbel, gelag of geglimlag betoon nie. Omstandighede veroorsaak dat vreugde op verskillende maniere betoon word. Dit is nie net vreugde wat ons vriendelik maak by die Koninkryksaal nie, maar eerder ons broederlike geneentheid en liefde.
6. Waarom kan Christene hulle altyd verbly al kom hulle voor onaangename omstandighede te staan?
6 Die konstante faktor by vreugde is die innerlike permanensie daarvan omdat dit ’n kenmerk van die Christen se nuwe persoonlikheid is. Dít is wat dit vir ons moontlik maak om ons altyd te verbly. Ons sal natuurlik soms oor iets ontsteld wees, of ons kan voor onaangename omstandighede te staan kom. Maar ons kan nog altyd vreugde in ons hart hê. Party vroeë Christene was slawe met eienaars wat moeilik was om te behaag. Kon sulke Christene altyd vreugdevol wees? Ja, as gevolg van hulle Koninkrykshoop en die vreugde in hulle hart.—Johannes 15:11; 16:24; 17:13.
7. (a) Wat het Jesus gesê omtrent vreugde in die verdrukking? (b) Wat help ons om geduldig te bly in die verdrukking, en wie het die beste voorbeeld hierin gestel?
7 Direk na die apostel Paulus gesê het: “Verbly julle in die hoop”, het hy bygevoeg: “Wees geduldig in die verdrukking” (Romeine 12:12). Jesus het ook van vreugde in die verdrukking gepraat toe hy in Mattheüs 5:11, 12 gesê het: “Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg . . . Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele.” Die blydskap en verheuging is hier nie noodwendig ’n letterlike, uiterlike betoning nie; dit is hoofsaaklik daardie diepe, innerlike tevredenheid wat ’n mens het wanneer jy Jehovah en Jesus Christus behaag deur standvastig te bly wanneer jy getoets word (Handelinge 5:41). Dit is in werklikheid vreugde wat ons help om geduldig te bly in die verdrukking (1 Thessalonicense 1:6). Hierin stel Jesus die beste voorbeeld. Die Skrif sê: “Weens die vreugde wat hom voorgehou is, het hy ’n folterpaal verduur.”—Hebreërs 12:2, NW.
Verbly julle in die hoop ondanks probleme
8. Voor watter probleme kan Christene te staan kom, maar waarom ontneem probleme nie ’n Christen sy vreugde nie?
8 Om ’n kneg van Jehovah te wees, vrywaar ’n mens nie van probleme nie. Daar kan gesinsprobleme, ekonomiese probleme of gesondheidsprobleme wees of ’n dierbare kan sterf. Hoewel sulke dinge verdriet kan veroorsaak, ontneem hulle ons nie die grondslag vir ons vreugde in die Koninkrykshoop, naamlik die innerlike vreugde in ons hart, nie.—1 Thessalonicense 4:13.
9. Watter probleme het Abraham gehad, en hoe weet ons dat hy vreugde in sy hart gehad het?
9 Dink byvoorbeeld aan Abraham. Sy lewe was nie altyd aangenaam nie. Hy het gesinsprobleme gehad. Sy byvrou, Hagar, en sy vrou, Sara, kon nie met mekaar oor die weg kom nie. Daar was onenigheid (Genesis 16:4, 5). Ismael het Isak gespot en vervolg (Genesis 21:8, 9; Galasiërs 4:29). Laastelik het Abraham se geliefde vrou Sara gesterf (Genesis 23:2). Ondanks hierdie probleme het hy hom verheug oor die hoop van die Koninkryksaad, die Saad van Abraham, deur wie al die geslagte van die aarde hulleself sou seën (Genesis 22:15-18). Met vreugde in sy hart het hy honderd jaar lank in Jehovah se diens volhard nadat hy sy tuisstad Ur verlaat het. Daarom is daar van hom geskryf: “Hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.” Weens Abraham se geloof in die komende Messiaanse Koninkryk kon die Here Jesus, nadat hy reeds deur God aangestel is om Koning te wees, van hom sê: “Abraham . . . het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly.”—Hebreërs 11:10; Johannes 8:56.
10, 11. (a) Watter stryd het ons as Christene, en hoe word ons verlos? (b) Wat vergoed vir ons onvermoë om die stryd teen ons onvolmaakte vlees volmaak te voer?
10 As onvolmaakte mense het ons ook met ons sondige vlees te kampe, en hierdie stryd om te doen wat reg is, kan baie pynlik wees. Ons stryd teen ons swakhede beteken egter nie dat ons geen hoop het nie. Hierdie konflik het Paulus ontstel, en hy het gesê: “Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” (Romeine 7:24, 25). Ons word verlos deur middel van Jesus Christus en die losprys wat hy voorsien het.—Romeine 5:19-21.
11 Christus se losprysoffer vergoed vir ons onvermoë om die stryd volmaak te voer. Ons kan ons verbly in hierdie losprys omdat dit ’n gereinigde gewete en vergifnis van ons sondes moontlik maak. Paulus praat in Hebreërs 9:14 van “die bloed van Christus” wat die krag het om ‘ons gewete te reinig van dooie werke’. Christene se gewete hoef dus nie belas te wees deur veroordeling en skuldgevoelens nie. Hierdie feit, tesame met ons hoop, is ’n sterk krag wat vreugdevolle geluk in die hand werk (Psalm 103:8-14; Romeine 8:1, 2, 32). Ons sal almal aangespoor word om die stryd met welslae te voer as ons oor ons hoop nadink.
Hou ons hoop goed in gedagte
12. Oor watter hoop kan gesalfde Christene nadink?
12 Dit is belangrik dat die geesgesalfde oorblyfsel en die ander skape hulle “hoop op die saligheid” in gedagte hou en dit as ’n beskermende helm dra (1 Thessalonicense 5:8). Gesalfde Christene kan aan die wonderlike voorreg dink om onsterflikheid in die hemel te verkry, toegang tot Jehovah God te hê en om persoonlike omgang met die verheerlikte Jesus Christus en die apostels te geniet sowel as met al die ander van die 144 000, wat deur die eeue heen hulle onkreukbaarheid gehandhaaf het. Wat ’n onbeskryflike rykdom van omgang!
13. Hoe voel die gesalfdes wat nog op aarde is oor hulle hoop?
13 Hoe voel die paar gesalfdes wat nog op aarde is oor hulle Koninkrykshoop? Dit kan opgesom word in die woorde van F. W. Franz, die president van die Wagtoringgenootskap, wat in 1913 gedoop is: “Ons hoop is seker, en dit sal vir elkeen van die 144 000 ten volle vervul word in ’n mate wat ons verstand te bowe gaan. Ons van die oorblyfsel wat 1914 gesien het, toe ons verwag het om almal hemel toe te gaan, het nie ons waardering vir daardie hoop verloor nie. Maar ons glo nog net so vas daaraan as ooit, en ons waardeer dit des te meer hoe langer ons daarvoor moet wag. Dit is die moeite werd om daarvoor te wag, al moet ons ’n miljoen jaar wag. Ek stel ons hoop nou meer as ooit tevore op prys, en ek wil nooit my waardering daarvoor verloor nie. Die hoop van die klein kuddetjie gee ook die versekering dat die verwagting van die groot menigte ander skape, sonder enige moontlikheid van teleurstelling, bo ons hoogste verwagtings vervul sal word. Dit is waarom ons tot nou toe steeds volhard, en ons gaan volhard tot God inderdaad sy ‘grootse en kosbare beloftes’ nakom.”—2 Petrus 1:4; Numeri 23:19; Romeine 5:5.
Verbly julle nou in die hoop op die Paradys
14. Watter hoop hou die groot menigte in gedagte?
14 So ’n betuiging van vreugdevolle geloof gee die groot menigte ander skape groot rede tot vreugde (Openbaring 7:15, 16). Sulke mense moet die hoop om Armageddon te oorleef in gedagte hou. Ja, sien uit daarna om te sien hoe God se Koninkryk Jehovah God se universele soewereiniteit verheerlik en sy glorieryke naam heilig deur die groot verdrukking te bring wat die aarde sal reinig van die goddelose mense wat die Duiwel as hulle god het. Wat ’n vreugde sal dit tog wees om deur daardie groot verdrukking heen behoue te bly!—Daniël 2:44; Openbaring 7:14.
15. (a) Watter genesingswerk het Jesus gedoen toe hy op aarde was, en waarom? (b) Watter behoeftes ten opsigte van gesondheid sal Armageddonoorlewendes hê, en waarom is dit anders as dié van diegene wat opgewek word?
15 Openbaring 7:17 sê van die groot menigte: “Die Lam . . . sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee.” Al het hierdie profesie nou ’n geestelike vervulling sal die Armageddonoorlewendes sien hoe dit letterlik vervul word. Hoe so? Wel, wat het Jesus gedoen toe hy op aarde was? Hy het die verminktes genees, die kreupeles laat loop, die ore van die dowes en die oë van die blindes geopen, en hy het melaatsheid, verlamming en “elke siekte en elke kwaal onder die volk genees” (Mattheüs 9:35; 15:30, 31). Is dit nie wat Christene vandag nodig het nie? Die groot menigte sal gebreke en kwale eie aan die ou wêreld tot in die nuwe wêreld oordra. Wat verwag ons dat die Lam daaromtrent sal doen? Die behoeftes van die Armageddonoorlewendes sal baie anders wees as die behoeftes van dié wat opgewek gaan word. Die verresenes sal waarskynlik herskep word met sterk, gesonde liggame sonder enige gebrek al sal hulle as mense nog nie volmaak wees nie. Weens die wonderwerk van die opstanding sal hulle klaarblyklik nie nodig hê dat enige vorige gebrek deur die wonderwerk van genesing herstel hoef te word nie. Aan die ander kant sal diegene wat die unieke ondervinding gehad het om deur Armageddon behoue te bly wonderdadige herstel nodig hê, en hulle sal dit ontvang. ’n Vername doel van Jesus se genesings was blykbaar om tot aanmoediging van die groot menigte die vreugdevolle vooruitsig uit te beeld dat hulle nie net behoue sal bly nie, maar dat hulle daarna genees sal word.
16. (a) Wanneer sal die wonderdadige genesing van die Armageddonoorlewendes moontlik plaasvind, en met watter gevolg? (b) In watter hoop sal ons ons steeds gedurende die Millennium kan verbly?
16 Dit is logies dat hierdie wonderdadige genesing onder die Armageddonoorlewendes betreklik kort na Armageddon en lank voor die opstanding begin, sal plaasvind. (Jesaja 33:24; 35:5, 6; Openbaring 21:4; vergelyk Markus 5:25-29.) Dan sal mense hulle brille, kieries, krukke, rolstoele, kunstande, gehoortoestelle, ensovoorts weggooi. Wat ’n rede tot vreugde! Hoe goed pas hierdie vroeë herstelling deur Jesus tog nie by die rol van die Armageddonoorlewendes as die fondament van die nuwe aarde nie! Kwale wat hulle vermoëns beperk, sal uit die weg geruim word sodat hierdie oorlewendes met ywer kan vooruitgaan en gretig kan uitsien na die wonderlike bedrywighede gedurende die Millennium wat voor hulle uitstrek, en sodat hulle nie gekortwiek word deur die kwale wat die ou wêreld oor hulle gebring het nie. En deur die hele Millennium heen sal hulle hul verbly in die hoop om aan die einde van daardie duisend jaar die volheid van volmaakte menselewe te bereik.
17. Watter vreugdes sal daar wees terwyl die werk om die Paradys te herstel voortgaan?
17 As dit jou hoop is, dink ook aan die vreugde om ’n deel daaraan te hê om die Paradys op die aarde te herstel (Lukas 23:42, 43, NW). Die Armageddonoorlewendes sal ongetwyfeld help om die aarde skoon te maak en sal sodoende aangename plekke voorsien waar die dooies opgewek kan word. Begrafnisse sal dalk vervang word deur verwelkomings vir diegene wat in die opstanding terugkeer, ook vir ons eie dierbares wat gesterf het. En dink aan al die verrykende omgang met getroue manne en vroue uit vervloë eeue. Met wie wil jy besonder graag praat? Is dit Abel, Henog, Noag, Job, Abraham, Sara, Isak, Jakob, Josef, Moses, Josua, Ragab, Debora, Simson, Dawid, Elia, Elisa, Jeremia, Esegiël, Daniël of Johannes die Doper? Wel, hierdie verblydende vooruitsig is ook ’n deel van jou hoop. Jy sal met hulle kan praat, by hulle kan leer en saam met hulle kan werk om die hele aarde ’n paradys te maak.
18. Aan watter verdere vreugdes kan ons dink?
18 Stel jou ook die gesonde kos, suiwer water en skoon lug voor wanneer ons aarde tot sy volmaakte ekologiese balans herstel is, soos Jehovah dit geskep het. Die lewe sal dan nie bloot uit ’n onaktiewe genieting van volmaaktheid bestaan nie, maar uit ’n aktiewe en betekenisvolle deelname aan vreugdevolle bedrywighede. Dink aan ’n wêreldwye gemeenskap van mense wat vry is van misdaad, egotisme, jaloesie, bakleiery—’n broederskap waarin die vrug van die gees deur almal aangekweek en aan die dag gelê word. Hoe opwindend!—Galasiërs 5:22.
Hoop wat die lewe die moeite werd maak
19. (a) Wanneer sal ons die vreugde ondervind wat in Romeine 12:12 genoem word? (b) Waarom moet ons vasbeslote wees dat die sorge van die lewe nie ons hoop sal verdring nie?
19 Aangesien hoop nie meer bestaan wanneer ’n verwagting verwesenlik is nie, moet die vreugde waarvan Paulus in Romeine 12:12 praat nou ervaar word (Romeine 8:24). Die blote gedagte aan die toekomstige seëninge wat God se Koninkryk sal bring, is ’n rede om ons nou in daardie hoop te verbly. Ons moet dus vasbeslote wees om nie toe te laat dat die sorge van die lewe in ’n verdorwe wêreld ons wonderlike hoop verdring nie. Moenie afgemat raak en verslap en gevolglik die hoop uit die oog verloor nie (Hebreërs 12:3). Jou probleme sal nie opgelos word as jy die Christelike lewenswandel laat vaar nie. Onthou, as iemand nou weens al die sorge van die lewe ophou om God te dien, het hy nog steeds al die sorge, maar hy verloor die hoop en verloor sodoende die moontlikheid om hom te verbly in die wonderlike vooruitsigte vir die toekoms.
20. Watter uitwerking het die Koninkrykshoop op diegene wat dit aanneem, en waarom?
20 Jehovah se volk het alle rede om ’n gelukkige lewe te hê. Hulle skitterende, besielende hoop maak die lewe die moeite werd. En hulle hou hierdie vreugdevolle hoop nie vir hulleself nie. Nee, hulle is gretig om ander daarvan te vertel (2 Korinthiërs 3:12). Dit is waarom diegene wat die Koninkrykshoop aanneem ’n volk vol vertroue is, en hulle wil ander aanmoedig deur hulle van die goeie nuus van God te vertel. Dit vul die lewe van diegene wat die boodskap aanvaar met die wonderlikste hoop wat nog ooit aan die mensdom in die algemeen gegee is—die hoop dat die Koninkryk die Paradys op aarde gaan herstel. Al aanvaar mense dit nie, behou ons steeds ons vreugde omdat ons die hoop het. Diegene wat nie daaraan gehoor gee nie, is aan die verloorkant; ons is nie.—2 Korinthiërs 4:3, 4.
21. Wat is ophande, en hoe moet ons ons hoop beskou?
21 God se belofte is: “Kyk, Ek maak alles nuut” (Openbaring 21:5). Die nuwe wêreld met al sy fassinerende en eindelose seëninge is ophande. Ons hoop—op die lewe in die hemel of op ’n paradysaarde—is kosbaar; koester dit. In hierdie kritieke laaste dae moet ons dit meer as ooit tevore beskou “as ’n anker van die siel wat veilig en vas is”. Met ons hoop gevestig op Jehovah, “’n ewige rots”, het ons beslis kragtige en goeie rede om ons nou ‘in die hoop te verbly’ wat vir ons in die vooruitsig gestel is.—Hebreërs 6:19; Jesaja 26:4.
[Voetnoot]
a Jehovah se Getuies in alle wêrelddele sal gedurende 1992 die volgende jaarteks gebruik: “Verbly julle in die hoop . . . volhard in die gebed.”—Romeine 12:12.
Hersieningsvrae
◻ Wat is die mensdom se wonderlike hoop?
◻ Wat is ware vreugde?
◻ Wanneer sal die wonderdadige genesing van Armageddonoorlewendes waarskynlik plaasvind?
◻ Waarom moet ons nie toelaat dat die sorge van die lewe ons hoop verdring nie?
◻ Na watter vreugdes in die nuwe wêreld sien jy uit?
[Prent op bladsy 9]
Sou dit nie jou hart met vreugde vervul het as jy die genesings gesien het wat Jesus gedoen het nie?
[Prent op bladsy 10]
Diegene wat hulle in die Koninkrykshoop verbly, spoor ander aan deur hulle van hulle hoop te vertel