Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 11/15 bl. 28-31
  • Hoe was Jesus Christus ’n profeet soos Moses?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe was Jesus Christus ’n profeet soos Moses?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ooreenkomste vroeg in hulle loopbane
  • Albei mans het Jehovah verheerlik
  • Ander belangrike ooreenkomste
  • Slaan ag op profesieë
  • Moses—Hoe sy lewe jou raak
    Ontwaak!—2004
  • Waardeer die Grotere Moses
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Leer ken Jehovah se weë
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Volg Moses se geloof na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 11/15 bl. 28-31

Hoe was Jesus Christus ’n profeet soos Moses?

JEHOVAH GOD vertel nie leuens nie (Titus 1:2; Hebreërs 6:18). Die profesieë van sy Woord, die Bybel, is derhalwe betroubaar en waar. Hulle word altyd vervul.

Onder hierdie goddelik geïnspireerde profesieë is een wat die Hebreeuse profeet Moses aangaande die Messias opgeteken het. Moses het Jehovah aangehaal waar hy gesê het: “’n Profeet sal Ek vir hulle [die Israeliete] verwek uit die midde van hulle broers, soos jy [Moses] is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel.”—Deuteronomium 18:17, 18.

Die apostel Petrus het hierdie profesie op Jesus Christus toegepas toe hy gesê het: “Moses het . . . gespreek: Die Here julle God sal vir julle ’n Profeet verwek uit julle broeders net soos ek is; na Hom moet julle luister volgens alles wat Hy met julle sal spreek” (Handelinge 3:22). Trouens, Jesus het self gesê: “As julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskrywe” (Johannes 5:46). In watter opsigte het Jesus en Moses ooreengestem?

Ooreenkomste vroeg in hulle loopbane

Moses sowel as Jesus het die moord op jong seuntjies vrygespring. Die kindjie Moses is tussen die riete langs die oewer van die Nylrivier weggesteek en het só die moord op Israelitiese babaseuntjies in opdrag van Farao van Egipte vrygespring. As ’n jong kind het Jesus ook die moord op seuntjies onder twee jaar in Bethlehem en sy omstreke vrygespring. Hierdie slagting het op bevel van koning Herodes plaasgevind wat, net soos Farao, ’n vyand van God en sy volk was.—Exodus 1:22–2:10; Mattheüs 2:13-18.

Moses sowel as Jesus het ’n saggeaarde, of sagmoedige, gees geopenbaar. Al is Moses as ’n seun in die huishouding van ’n magtige koning van Egipte grootgemaak, het hy “baie sagmoedig [geword], meer as al die mense op die aardbodem” (Numeri 12:3). Jesus was insgelyks die magtige vors Migael in die hemel, maar het nederig aarde toe gekom (Daniël 10:13; Filippense 2:5-8). Daarbenewens het Jesus medelye met mense gehad en kon hy sê: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele.”—Mattheüs 11:29; 14:14.

Moses sowel as Jesus het vername posisies en groot rykdom ter wille van Jehovah se diens prysgegee. Moses het rykdom en ’n vooraanstaande plek in Egipte opgegee om Jehovah en Sy volk te dien (Hebreërs 11:24-26). Jesus het eweneens ’n hoogs begunstigde posisie en rykdom in die hemel agtergelaat sodat hy God en sy volk op die aarde kon dien.—2 Korinthiërs 8:9.

Moses sowel as Jesus het God se gesalfde geword. Die profeet Moses het as Jehovah se gesalfde vir die nasie Israel gedien. Soos die apostel Paulus gesê het, het Moses “die smaad van Christus [dit wil sê, om die gesalfde te wees] groter rykdom geag . . . as die skatte van Egipte” (Hebreërs 11:26; Exodus 3:1–4:17). Wanneer het Jesus die Christus, of Gesalfde, geword? Dit het gebeur toe hy met sy doop met God se heilige gees, of werkende krag, gesalf is. Jesus het aan die Samaritaanse vrou by die fontein van Jakob by Sigar en tydens sy verhoor voor Israel se hoëpriester getuienis gelewer dat hy die Messias, of Christus, is.—Markus 14:61, 62; Johannes 4:25, 26.

Moses en Jesus het albei 40 dae lank gevas. Vroeg in sy loopbaan as God se woordvoerder het Moses 40 dae lank gevas terwyl hy op die berg Sinai was (Exodus 34:28). Jesus het 40 dae lank in die woestyn gevas en toe vroeg in sy loopbaan as die beloofde Messias Satan se versoekings weerstaan.—Mattheüs 4:1-11.

Albei mans het Jehovah verheerlik

Jehovah het Moses sowel as Jesus gebruik om sy heilige naam te verheerlik. God het Moses beveel om na die Israeliete te gaan in die naam van ‘Jehovah die God van hulle voorvaders’ (Exodus 3:13-16, NW). Moses het God voor Farao verteenwoordig, wat toegelaat is om voort te bestaan sodat Jehovah se mag getoon kon word en sy naam oor die hele aarde bekend gemaak kon word (Exodus 9:16). Jesus het ook in Jehovah se naam gekom. Christus het byvoorbeeld gesê: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie” (Johannes 5:43). Jesus het sy Vader verheerlik, Jehovah se naam aan die mense wat God hom gegee het openbaar gemaak en het dit op die aarde bekend gemaak.—Johannes 17:4, 6, 26.

Deur middel van goddelike krag het Moses sowel as Jesus wonderwerke verrig wat God verheerlik het. Moses het wonderwerke verrig as bewys dat hy deur Jehovah God gestuur is (Exodus 4:1-31). Moses, wat deur God gebruik is om die Rooi See te skei, het deur sy hele loopbaan aangehou om wonderwerke te verrig wat Jehovah verheerlik het (Exodus 5:1–12:36; 14:21-31; 16:11-18; 17:5-7; Psalm 78:12-54). Jesus het God op soortgelyke wyse verheerlik deur baie wonderwerke te verrig. Dit was in so ’n mate waar dat Jesus kon sê: “Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self” (Johannes 14:11). Een van sy wonderwerke was toe hy ’n hewige storm stilgemaak het, sodat die See van Galilea kalm geword het.—Markus 4:35-41; Lukas 7:18-23.

Ander belangrike ooreenkomste

Moses en Jesus was albei betrokke by ’n wonderdadige voorsiening van voedsel. Moses was Jehovah se profeet toe voedsel op wonderdadige wyse vir die Israeliete voorsien is (Exodus 16:11-36). Jesus het eweneens, op twee geleenthede wat in die Bybel opgeteken is, menigtes op wonderdadige wyse met materiële voedsel gevoed.—Mattheüs 14:14-21; 15:32-38.

Manna uit die hemel is gekoppel met die diens van Moses sowel as met dié van Jesus. Moses het die Israeliete gelei toe hulle as ’t ware van manna uit die hemel voorsien is (Exodus 16:11-27; Numeri 11:4-9; Psalm 78:25). Op ’n soortgelyke maar uiters belangrike manier het Jesus sy eie vlees as manna uit die hemel vir die lewe van die gehoorsame mensdom voorsien.—Johannes 6:48-51.

Moses sowel as Jesus het mense uit slawerny tot vryheid gelei. Moses is deur God gebruik om die Israeliete uit slawerny aan die Egiptenare na vryheid as sy volk te lei (Exodus 12:37-42). Jesus Christus lei sy volgelinge insgelyks tot vryheid. Christus sal die gehoorsame mensdom nog tot vryheid lei van slawerny aan die organisasie van Satan die Duiwel, sowel as aan sonde en die dood.—1 Korinthiërs 15:24-26; Kolossense 1:13; 1 Johannes 5:19.

Moses en Jesus was albei die middelaar van ’n verbond. Moses was die middelaar van die Wetsverbond tussen Jehovah God en die Israeliete (Exodus 19:3-9). Jesus is die Middelaar van die nuwe verbond tussen God en geestelike Israel.—Jeremia 31:31-34; Lukas 22:20; Hebreërs 8:6-13.

Moses sowel as Jesus Christus is as regters aangestel. Moses het as regter en wetgewer vir vleeslike Israel gedien (Exodus 18:13; Maleagi 4:4). Jesus dien as Regter en het aan die geestelike “Israel van God” hulle wette en gebooie gegee (Galasiërs 6:16; Johannes 15:10). Christus het self gesê: “Die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee, sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie.”—Johannes 5:22, 23.

Hoofskap oor God se huis is aan Moses sowel as aan Jesus toevertrou. Moses was getrou as die hoof oor die huis van God in eertydse Israel (Numeri 12:7). Jesus is eweneens as die Hoof van Jehovah se geestelike huis van seuns aangestel en het sy hoofskap getrou daaroor uitgeoefen. Jesus was waarlik “getrou aan die Een wat hom daartoe aangestel het, net soos Moses ook was in die hele huis van daardie Een. Want hy is meer heerlikheid waardig geag as Moses, aangesien hy wat die huis bou, meer eer het as die huis. . . . Moses was as dienaar getrou in die hele huis van daardie Een, tot ’n getuienis van die dinge wat later gespreek sou word maar Christus was getrou as Seun oor die huis van daardie Een. Ons is die huis van daardie Een as ons ons vrymoedigheid van spraak en ons roem oor die hoop tot die einde toe stewig vashou.”—Hebreërs 3:2-6, NW.

Selfs tot in die dood was daar ooreenkomste tussen Moses en Jesus. Hoe so? Wel, Jehovah het Moses se liggaam verwyder, en sodoende verhoed dat mense dit kon skend of dit kon verafgod (Deuteronomium 34:5, 6; Judas 9). God het ook van Jesus se liggaam ontslae geraak, en nie toegelaat dat dit verderwing sien nie en sodoende verhoed dat dit ’n struikelblok vir die geloof word.—Psalm 16:10; Handelinge 2:29-31; 1 Korinthiërs 15:50.

Slaan ag op profesieë

Dit is sommige van die opsigte waarin Jesus Christus ’n profeet soos Moses was. Hoe wonderlik is God se woorde aan Moses oor die koms van daardie profeet tog vervul!

Dit ly geen twyfel dat Jehovah sy profetiese belofte om ’n profeet soos Moses te verwek, nagekom het nie. Die woorde van Deuteronomium 18:18 is vervul deur die lewe en ondervindinge van Jesus Christus. En die feit dat dit vervul is, gee ons rede om vertroue in ander profesieë in God se Woord te hê. Laat ons gevolglik altyd op Bybelprofesieë ag slaan.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel