Die goeie nuus bereik die plattelandse gebiede van Suid-Afrika
OPSTANDIGE skares, oproerpolisie, traangas. In onlangse jare is dorpe en stede in Suid-Afrika deur sulke oproer geteister. Selfs die pragtige plattelandse gebiede—waar meer as 40 persent van die bevolking woon—het nie die verwoestende gevolge van politieke geweld vrygespring nie. Maar te midde van al hierdie dinge gaan Jehovah se Getuies egter voort om “die goeie nuus van vrede” te verkondig.—Efesiërs 6:15, NW.
Jare lank al het die Getuies jaarliks ’n drie maande lange predikingskampanje wat spesifiek daarop gemik is om die bevolking van die platteland te bereik. In 1990 het meer as 12 000 Koninkryksverkondigers uit 334 gemeentes byvoorbeeld aan die kampanje deelgeneem. Daar is natuurlik baie struikelblokke wat oorkom moet word om hierdie verspreide inwoners van die platteland van Suid-Afrika te bereik.
Die Getuies kry onder andere te doen met ’n groot verskeidenheid kulture en tale. En wat ’n groot verskeidenheid is daar tog nie! Daar is byvoorbeeld Engels- en Afrikaanssprekende boere, sowel as Pedi’s, Sotho’s, Tsongas, Tswanas, Vendas, Xhosas en Zoeloes. Elke groep het sy eie kenmerkende kultuur en taal. Daar is ook groot afstande om af te lê en hobbelrige paaie. Al hierdie dinge vereis ’n selfopofferende gees en ’n aansienlike hoeveelheid tyd en geld. Maar Jehovah het die pogings ryklik geseën. Kom ons vertel jou ’n bietjie van die ongerief en welslae van hierdie unieke aspek van die predikingswerk.—Vergelyk Maleagi 3:10.
’n “Sondagskool” in Zoeloeland
In die hartjie van subtropiese Zoeloeland lê die diep vallei van die Umvoti-rivier. Van die kranse af kan ’n mens verspreide groepies grashutte in die verte sien. Een Sondag in 1984 het twee Koninkryksverkondigers op die kronkelende, stowwerige pad in die vallei gekom. Dit is so warm en vogtig daar dat die gebied die bynaam Kwa-Sathane (Plek van Satan) het—’n duidelike sinspeling op die valse leerstelling van ’n helse vuur wat deur die Duiwel gestook word!
Papnat van die sweet het die broers ’n vrou met die naam Doris, wat besig was met ’n Sondagskoolklas, genader. Nadat sy na die Koninkryksboodskap geluister het, het Doris die Getuies dadelik uitgenooi om haar groep van ongeveer 40 jongmense toe te spreek. Die resultaat? Die broers het die volgende week teruggekeer met 70 eksemplare van die publikasie My boek met Bybelverhale om by die plaaslike skool te gebruik. Binne ’n paar weke het die Sondagskool-atmosfeer verander in dié van ’n Bybelstudiegroep. Pleks van gesange is Koninkryksliedere in die styl van die swart mense gesing, in pragtige, natuurlike harmonie. Die groepie het kort voor lank tot meer as 60 gegroei. Een broer het gesê: “Wat ’n hartverblydende ondervinding was dit tog om ’n aandeel daarin te hê om hierdie Sondagskool in ’n plek van ware aanbidding te omskep!”
In die stowwerige Bosveld
As gevolg van die kerke se betrokkenheid by die politieke onrus is baie wit boere lugtig vir of selfs agterdogtig teenoor enigiemand wat hulle met ’n Bybelse boodskap nader. Let op hierdie verslag van ’n groep uit Johannesburg wat ongeveer 640 kilometer afgelê het om die goeie nuus in ’n deel van die Transvaal te verkondig.
“Ons reis nou al ongeveer vier uur lank noordwaarts deur die uitgestrekte Bosveld. ’n Lugspieëling dans op die reguit pad wat in die Afrika-son glinster. Skielik hou die teerpad op en die grondpad, uitgery en vol slaggate, begin. Eindelik lei ’n sanderige paadjie ons tot by ’n plaas.
“‘Goeiemôre, Meneer’, groet ons ’n fris boer.
“‘Môre’, sê hy kortaf. ‘Kan ek julle help?’
“Nadat ons ons voorgestel het, verduidelik ons die rede vir ons besoek. Ons het skaars klaar gepraat toe hy skree: ‘My dominee het my oor julle mense gewaarsku! Julle is almal Kommuniste en Antichriste. Gee dadelik pad van my eiendom af voordat ek . . . !’
“Die boer se houding dui aan dat hy enige oomblik gewelddadig kan raak. Omdat ons nie veel van ’n keuse het nie, besluit ons om te gaan en ‘die stof van ons voete af te skud’ (Mattheüs 10:14). Daar is genoeg stof om dit heel letterlik te doen.
“By die volgende plaas is die reaksie dieselfde. Toe besef ons dat die plaaslike telefoonlyn warm gebel is deur die predikant van die Nederduits Gereformeerde Kerk, wat ‘sy kudde’ gewaarsku het oor die dreigende ‘gevaar’ in die omgewing. Eindelik ontmoet ons ’n boer wat, hoewel hy nie self belangstel nie, sê: ‘Ja, julle kan met my werkers praat.’
“Dit is net waarvoor ons gewag het. Langs ’n paar wattelbome is daar ’n stuk of tien nederige kleihutjies bymekaar. Ons kan aanvoel hoe nuuskierige oë uit die hutte loer terwyl ons netjiese hopies lektuur op die masjienkap van ons motor pak. Een hopie Bybels, nog ’n hopie van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, ’n stapel van My boek met Bybelverhale en ’n verskeidenheid brosjures voltooi die uitstalling. Een van die plaaslike seuns hardloop om vir die inwoners te sê dat ons daar is. Kort voor lank is ’n groep van ongeveer 30 om die motor byeen om na die boodskap te luister.
“’n Opname van ’n Bybelse boodskap in Tswana word vir hulle gespeel. Hoe bly is hierdie mense tog om die goeie nuus van God se Koninkryk en van die Paradyshoop in hulle eie taal te hoor! Hulle gesels opgewonde onder mekaar toe ons die publikasies aanbied. Kort voor lank kan ons skaars daarmee byhou om die lektuur aan te gee. Een bejaarde man wil selfs die bandopnemer koop. Ons voel diep geraak wanneer waardering vir die goeie nuus op talle klein maniere getoon word—’n skaam glimlag, ’n aanraking, ’n sagte ‘dankie’.
“Die kinders vorm spontaan ’n skewe ry en sing ’n tradisionele afskeidslied. Skielik vervaag die stowwerige, uitgeryde paaie en die soms negatiewe reaksies. Dit was beslis die moeite werd!”
’n Hoof reik ’n bevel uit!
Een gemeente uit Soweto het ’n toewysing gehad om die goeie nuus in statte naby die dorp Piet Retief in die Oos-Transvaal te verkondig. Die gebruik daar is dat ’n besoeker eers die rede vir sy besoek aan die induna (hoof) van die gebied bekend maak. Die broers het daardie reëling eerbiedig. Wat ’n verrassing was dit tog toe die hoof hulle hartlik verwelkom en hulle selfs akkommodasie in sy eie huis aangebied het! Verder het hy ’n nota van bekendstelling met sy amptelike seël daarop vir die verkondigers geskryf om saam met hulle van huis tot huis te neem. Dit het gelui: “Hierdie mense is die verkondigers van God se Koninkryk. Nooi hulle in jou huis in, en luister na hulle.”
Die reaksie was so oorweldigend dat die Getuies gereël het dat ’n openbare toespraak daardie Sondagmiddag in die werf van die hoof se huis gehou word. Die opelug-“saal” was stampvol, en die vergadering is met ’n lied en gebed geopen en afgesluit. Soortgelyke ondervindinge met mense wat goedgesind was, is in ander plattelandse gebiede geniet.
Een van hierdie mense was Nathaniel in die klein dorpie Pitsedisulejang in ’n droogtegeteisterde deel van Bophuthatswana. Hy is ’n gemeenskapsontwikkelaar wat by ’n program betrokke is om die plaaslike mense te leer om landbouprodukte doeltreffend te verbou. Sy droom was om hierdie dor plek in ’n paradys te omskep. Maar toe hy hoor dat die hele aarde weldra ’n paradys gaan wees, het sy oë geblink. Hy het gretig elke teks neergeskryf wat die verkondigers vir hom gewys het. Nathaniel is sonder versuim met die naaste gemeente, sowat 30 kilometer daarvandaan, in aanraking gebring.
Vreugdevol terwyl hulle talle waarheidsoekers help
“Jehovah het vir ons gewys dat armoede nie iemand wat geestelik honger is daarvan weerhou om die waarheid te leer nie”, sê Monika, ’n pionier, of voltydse Koninkryksverkondiger. Sy was deel van ’n groep pioniers wat predikingswerk van plaas tot plaas oor die oop vlaktes van die Oranje-Vrystaat in die sentrale deel van die land gedoen het. Hoe het die pioniers gevoel oor hulle inspanning om die goeie nuus na hierdie mense te neem? Hulle reaksie was: “Wie kan ’n prys heg aan die dinge wat ons ondervind het?” Die pioniers is inderdaad geestelik ryklik vir hulle pogings beloon.
Selfs ongeletterdheid weerhou nie iemand wat geestelik honger is daarvan om Bybelwaarheid te leer nie. Die goed geïllustreerde brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! is veral goed ontvang deur diegene wat ongeletterd is of wat baie min kan lees. Jonk en oud word ewe veel gefassineer deur die kleurvolle illustrasies van die Paradys. Een voltydse werker wat betrokke is by die druk van sulke leesstof het opgemerk: “Hierdie brosjure help mense om die Paradys as ’n werklikheid te sien, en dit versterk hulle natuurlike eerbied en ontsag vir die Bybel.”
Om hierdie selfde rede is die publikasie My boek met Bybelverhale baie gewild. In ’n afgeleë gebied in Lebowa was twee van ons geestelike susters verras om te vind dat ’n bejaarde, gedeeltelik blinde man en sy vrou ’n eksemplaar van hierdie boek in Sepedi gehad het. Die egpaar het dit as hulle studieboek gebruik om die plaaslike kinders te onderrig. Trouens, die boek was so deeglik gestudeer en gemerk dat dit al uitmekaar geval het. Hoe bly was hulle tog om ’n nuwe eksemplaar in die hande te kry!
Op hierdie manier voorsien ware Christelike publikasies in ’n groot behoefte om diegene wat na die waarheid honger te help. Dit is interessant dat ’n groot gedeelte van alle gedrukte materiaal in baie van die tale van Suider-Afrika deur die Wagtoringgenootskap gedruk word. In 1990 alleen is 113 529 boeke, brosjures en tydskrifte wat deur die Genootskap gedruk is in die platteland van Suid-Afrika versprei.
Vrugte van die werk
Het hierdie uitstekende ondervindinge en die lektuur wat versprei is blywende vrugte in die plattelandse gebiede van Suid-Afrika afgewerp? Hulle het beslis. Sedert 1989 is vier gemeentes en nege afgesonderde groepe gevorm as ’n direkte resultaat van die verkondiging van die goeie nuus in die plattelandse gebiede van Suid-Afrika. Tydelike spesiale pioniers en gewone pioniers het aan die spits van hierdie werk gestaan.
Onthou jy Doris en haar Sondagskool in daardie afgeleë vallei in Zoeloeland? Sy is vandag ’n toegewyde, gedoopte Getuie van Jehovah. Bowendien is daar ’n florerende groep van nege Koninkryksverkondigers wat steeds geestelike vooruitgang maak. Baie nuwelinge woon die vergaderinge by wat in Doris se huis gehou word, en sewe mense met wie sy Bybelstudies gehou het, is gedoop by die streekbyeenkoms wat in Desember 1990 in Durban gehou is.
Sulke vrugte is ’n hartverblydende aansporing vir die Koninkryksverkondigers in Suid-Afrika. Hulle neem die apostel Paulus se woorde ter harte: “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen” (Galasiërs 6:10). Ja, Jehovah se knegte is vasbeslote om alle opregte mense te bereik, diegene wat in die plattelandse gebiede van hierdie ‘uithoek van die wêreld’ woon inkluis.—Handelinge 1:8, NAV.
[Kaarte/Prente op bladsy 24]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Lebowa
TRANSVAAL
Soweto
Piet Retief
Bophuthatswana
ORANJE-VRYSTAAT