Die getuieniswerk in Frankryk—’n land van kontraste
FRANKRYK is ’n land van groot kontraste. Majestueuse berge, golwende heuwels, stormgeteisterde kranse, warm sandstrande, uitgestrekte graanlande, klein omheinde plasies, uitgebreide wingerde, weivelde, denne- en loofwoude, gehuggies, dorpies, groter dorpe en groot moderne stede—Frankryk is al hierdie dinge en nog baie meer.
Hoewel ’n groot deel van die platteland sy bekoring behou het, het die samelewing in Frankryk in onlangse jare vinnig verander. “Die Franse samelewing maak nie ’n krisis deur nie”, sê die 1989-uitgawe van Francoscopie, “maar is besig om ’n totale omwenteling te ondergaan. Sosiale strukture, waardes, kulturele standaarde en gesindhede is besig om diepliggende veranderinge teen ’n snelle pas te ondergaan.”
Hierdie drastiese veranderinge het ook die godsdienssfeer beïnvloed. Hoewel Katolisisme steeds die godsdiens van die oorgrote meerderheid is, is dit nou meer ’n tradisie as ’n godsdiens wat enige werklike invloed op die lewe van die meeste lidmate het. Die volk se toenemende onverskilligheid teenoor geestelike waardes het die groei van die kerke gestuit.
In skerp teenstelling hiermee het die bedrywighede van Jehovah se Getuies in Frankryk die afgelope paar jaar met rasse skrede vooruitgegaan. Van die Elsas in die noordooste tot Bretagne aan die Atlantiese Oseaan, van die hoë Alpe tot die laagliggende Loirevallei, en selfs op die Mediterreense eiland Korsika, het die Getuies met verskillende omstandighede te doen en ontmoet hulle mense met verskillende agtergronde. Kom ons gaan op ’n beskrywingsreis en kyk hoe die goeie nuus van die Koninkryk in Frankryk—die land van kontraste—verkondig word.—Mattheüs 24:14, NW.
DIE ELSAS
Die Elsas grens aan Duitsland en is ’n provinsie wat welbekend is vir sy wingerde en bekoorlike, blomgevulde dorpies. Straatsburg, sy hoofstad, is sedert die Hervorming ’n Protestantse vesting, en die Elsassers het oor die algemeen ’n gesonde respek vir die Bybel. Jehovah se Getuies verkondig sedert vroeg hierdie eeu die goeie nuus van die Koninkryk in hierdie gebied. Vandag is die werk goed gevestig, soos die ondervinding van ’n meisie genaamd Sylvie toelig, aangesien sy van die geleentheid gebruik gemaak het om by die skool te getuig.
Sylvie het tydens ’n bespreking met etlike klasmaats oor die doel van die lewe en die vooruitsig op die toekoms gepraat. Een seun se belangstelling is genoegsaam geprikkel om Sylvie en ’n ander Getuie toe te laat om hom tuis te besoek. “Hoewel hierdie Katolieke jeugdige ’n altaardienaar was, het hy baie vrae gehad wat nooit beantwoord is nie”, het Sylvie gesê. “Ons het die Bybel gebruik om party van hulle te beantwoord, en hy het ’n gereelde Bybelstudie aanvaar.” Hierdie jong man is ’n jaar later gedoop, en nadat hy aan die vereistes voldoen het, het hy die voltydse bediening as ’n gewone pionier betree. Sylvie het sedertdien ook daardie diensvoorreg aanvaar.
BRETAGNE
Bretagne steek met ’n punt in die Atlantiese Oseaan in en is ’n provinsie wat Katolieke tradisies streng navolg. Maar deur die Getuies se volgehoue pogings aanvaar al hoe meer mense in hierdie gebied die Koninkryksboodskap. Hier is ’n voorbeeld van wat in hierdie noordwestelike deel van Frankryk gebeur.
“’n Jong egpaar het in die woonstel bokant ons ingetrek”, vertel ’n plaaslike Getuie. “’n Rukkie later het ek die jong vrou met haar seuntjie in haar arms op die trap teëgekom. Toe ek hoor dat sy naam Jonathan is, het ek haar gevra of sy weet wat die oorsprong van daardie naam is. ‘Ek dink dit kom uit die Bybel, maar dit is al wat ek weet’, het sy geantwoord. Sy het na my verduideliking geluister en gesê dat sy en haar man albei in die Bybel belangstel. Hoewel ons verdere besprekings gehad het, het daar tóé niks definitiefs ontwikkel nie.
“’n Tydjie daarna het die egpaar my raad oor sekere probleme gevra. Ek het die Bybel gebruik, en hulle was beïndruk deur die informasie wat dit bevat. Ek het hulle weer eens gevra of hulle die Bybel wil studeer. Die volgende dag het die jong vrou ’n studie aanvaar. ’n Paar weke daarna het haar man ook saam begin studeer. Albei is nou gedoopte Getuies.”
DIE ALPE
Die Alpe is beroemd vir hulle skouspelagtige natuurskoon. Mense gaan daarheen om na die majestueuse pieke, veral Mont Blanc, die hoogste bergspits in Wes-Europa, te gaan kyk. In hierdie gebied neem die aantal Koninkryksverkondigers wat die Skepper verheerlik ook toe. Mense van alle ouderdomme en uit alle stande sluit by hulle aan, soos die volgende verslag toon.
Vier jeugdiges in daardie gebied het nogal ’n reputasie gehad. Hulle het motors en ander dinge gesteel, dikwels dronk geword, dwelms gebruik en daarmee gesmous en was by prostitusie en spiritisme betrokke. Hulle het nie gewerk nie en het dikwels met die polisie gebots, en hulle was al almal in die tronk. Al vier het egter in hulle kinderjare van die waarheid gehoor omdat hulle gesinne af en toe met Jehovah se Getuies gestudeer het.
Een van die jeugdiges het ná ’n paar jaar van wilde lewe tot inkeer gekom en besluit om Jehovah te dien. Dit het ’n kettingreaksie aan die gang gesit. Eendag het die polisie ’n roetine-ondersoek gedoen, en hulle het een van die jeugdiges gevra om sy sak oop te maak. Hulle het verwag om dwelms of gesteelde goedere te vind, maar was verbaas om net ’n Bybel en ’n paar boekies te kry. Die jong man het die Bybel gebruik om te verduidelik wat die veranderinge in sy lewe teweeggebring het. Een polisieman het dít moeilik gevind om te glo en gevra: “Bedoel jy dat jy nie meer rook, drink of dwelms gebruik nie?” Die polisieman het die verduideliking uiteindelik aanvaar en hom sonder meer laat gaan. Vandag is hierdie vier jong mans gedoop, dien hulle almal as bedieningsknegte in die gemeente, en drie van hulle dien as gewone pioniers.
DIE LOIREVALLEI
Die Loirevallei word die tuin van Frankryk genoem. Dit strek van Orléans, 110 kilometer suid van Parys, tot by die mond van die Loirerivier aan die Atlantiese Oseaan. Hierdie gebied is bekend vir sy baie kastele, die vroeëre wonings en jaghuise van koninklikes. Daar is gemeentes van Jehovah se Getuies in al die groot dorpe in hierdie gebied.
Eendag gedurende skoolpouse het klein Emma, ’n spontane en liefdevolle dogtertjie van ses, na haar klaskamer teruggegaan om haar onderwyseres te groet. Sy was geskok om haar onderwyseres te sien rook en het in trane uitgebars en weggehardloop. Die onderwyseres het agter haar aan gegaan en gevra waarom sy huil, maar Emma wou niks sê nie. Toe die onderwyseres volhou, het Emma gesnik en gesê: “Dit is omdat Juffrou rook. Juffrou gaan siek word en sal doodgaan!”
Die onderwyseres het Emma se moeder die volgende dag gebel om te sê hoe die dogtertjie se optrede haar ontroer het. Die moeder het gevolglik die Getuies se standpunt oor tabak verduidelik. Die onderwyseres het toe gesê dat haar gesin haar reeds gevra het om op te hou rook, maar dat sy dit nie kon regkry nie. Hierdie keer is sy egter só deur Emma se opregte optrede ontroer dat sy binne net twee dae opgehou rook het.
KORSIKA
Hoewel die eiland Korsika “die gegeurde eiland” genoem word, is die bewoners ook bekend vir hulle vurige geaardheid, wat dikwels bloedige vetes tot gevolg het. Die Getuies is jare lank as ’n godsdiens “van die vasteland” beskou. Maar die krag van Bybelwaarheid verander die gesindheid van baie mense wat daar woon.
Een pas gedoopte Getuie het vertel dat hy, toe hy eenkeer van vakansie af teruggekom het, ontdek het dat al die vervoerbare toerusting op sy plaas gesteel is. “Omdat ek op Jehovah vertrou het”, sê hy, “kon ek anders optree as die manier waarop ek in die verlede sou opgetree het.” Terwyl hy met sy bure gesels het, het hy hulle op ’n kalm manier van sy verlies vertel.
“Later het party van my bure probleme gehad. Ek het my werk gelos en hulle gaan help. ’n Paar dae later het een van hulle my gebel, en hy het gevra dat ek dadelik moes oorkom. Ek het gedink dat hy weer probleme gehad het en het dadelik gegaan. Hy het my gevra om te sit en het gevra: ‘Weet jy waarom ek jou gevra het om te kom? Dit is oor jou toerusting. Ek is die een wat dit gesteel het. Maar toe ek sien hoe goedhartig en vriendelik jy is, het ek vir myself gesê: “Ek kan dit nie aan hom doen nie!” En nadat jy ons gehelp het, kon ek nie meer in die nag slaap nie.’” Ware Christelike gedrag het goeie resultate opgelewer.
Toe die Koninkrykspredikingswerk aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog in Frankryk hervat is, was daar net 1 700 Getuies in die hele land. Die werk om die hele bevolking met die Koninkryksboodskap te bereik het onmoontlik gelyk. Jehovah het sy volk in Frankryk egter deur die jare heen met die nodige toerusting geseën—drukkerye, Koninkryksale, Byeenkomssale, ensovoorts—en die bereidwilligheid om die taak te volbring. Vandag, met meer as 117 000 bedrywige verkondigers, word die boodskap dat Jehovah se Koninkryk deur Christus die enigste hoop vir die mensdom is dwarsdeur hierdie land van kontraste verkondig.
[Kaart/Prente op bladsy 23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
FRANKRYK
BRETAGNE
LOIREVALLEI
DIE ALPE
ELSAS
ATLANTIESE OSEAAN
MIDDELLANDSE SEE
DIE ENGELSE KANAAL
KORSIKA