Wandel in die lig en in liefde
Glanspunte uit Eerste Johannes
JEHOVAH is die Bron van lig en van liefde. Ons moet ons na God wend vir geestelike lig (Psalm 43:3). En liefde is een van die vrugte van sy heilige gees.—Galasiërs 5:22.
Die apostel Johannes bespreek die lig, liefde en ander aangeleenthede in sy eerste geïnspireerde brief, wat hy waarskynlik ongeveer 98 G.J. in of naby Efese geskryf het. Een van die hoofredes waarom hy hierdie brief geskryf het, was om Christene teen afvalligheid te beveilig en hulle te help om in die lig te bly wandel. Aangesien ons liefde, geloof en getrouheid aan die waarheid ook beproef word, sal dit beslis vir ons nuttig wees om hierdie brief te ondersoek.
‘Wandel in die lig’
Johannes het dit duidelik gestel dat getroue Christene in geestelike lig moet wandel (1:1–2:29). Hy het gesê: “God is lig, en geen duisternis [niks wat goddeloos, onsedelik, onwaar of onheilig is] is in Hom nie.” Omdat geesgesalfde Christene ‘in die lig wandel’, het hulle “gemeenskap” met God, met Christus en met mekaar. Hulle is ook deur die bloed van Jesus van sonde gereinig.
Ons sal—of ons nou gesalfde Christene met ’n hemelse hoop is en of ons na die ewige lewe op die aarde uitsien—slegs die voordeel van Jesus se offerande bly ontvang as ons ons broers liefhet en nie die wêreld nie. Ons moet ook sorg dat ons nie deur afvalliges, soos die “antichris”, wat die Vader en die Seun loën, beïnvloed word nie. En ons moet nooit vergeet nie dat slegs diegene wat aan die waarheid vaskleef en die geregtigheid doen die ewige lewe sal ontvang.
Die kinders van God lê liefde aan die dag
Vervolgens het Johannes die kinders van God geïdentifiseer (3:1–4:21). Ten eerste doen hulle die geregtigheid. Hulle gehoorsaam ook Jehovah God se gebod ‘dat hulle in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar moet liefhê’.
Iemand wat “God ken”, weet wat Jehovah se voornemens is en hoe hy Sy liefde openbaar. Dit behoort die persoon aan te spoor om self liefde aan die dag te lê. Trouens, “hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde”. God het sy liefde bewys toe hy “sy Seun gestuur het as ’n versoening vir ons sondes”. As Jehovah ons só liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê. Ja, enigiemand wat sê dat hy God liefhet, behoort ook sy geestelike broers lief te hê.
Geloof “oorwin die wêreld”
Liefde beweeg die kinders van God om sy gebooie te bewaar, maar dit is deur geloof wat hulle “die wêreld oorwin” (5:1-21). Ons geloof in God, sy Woord en sy Seun stel ons in staat om ‘die wêreld te oorwin’ deurdat ons die verkeerde denke en weë van die wêreld verwerp en Jehovah se gebooie bewaar. Aan diegene wat “die wêreld oorwin”, hou God die hoop op die ewige lewe uit en hy verhoor hulle gebede wat in ooreenstemming met sy wil is. Elkeen wat “uit God gebore is”, beoefen nie sonde nie, daarom het Satan geen vat op hom nie. Maar die gesalfdes sowel as Jehovah se knegte met ’n aardse hoop moet onthou dat “die hele wêreld in die mag van die Bose lê”.
[Venster/Prent op bladsy 29]
’n Soenoffer: Jesus “is ’n versoening [“soenoffer”, NW] vir ons sondes [dié van sy gesalfde volgelinge], en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld”, die res van die mensdom (1 Johannes 2:2). Sy dood was ’n “versoening” (Grieks, hi·la·smosʹ, wat ’n “middel om te vergoed”, ’n “soenoffer”, beteken), maar nie in die sin dat God gepaai moes word omdat hy gekrenkte gevoelens gehad het nie. Die offerande van Jesus het eerder die eise van volmaakte goddelike geregtigheid bevredig. Hoe so? Deur die regverdige en regte grondslag vir die vergifnis van sonde te voorsien, sodat God “regverdig sou wees, ook wanneer hy die mens [wat in sonde gebore is] wat geloof in Jesus het, regverdig verklaar” (Romeine 3:23-26, NW; 5:12). Jesus se offerande het ten volle vir die mens se sondes betaal, en só die weg tot versoening, of tot guns, vir die mens geopen sodat hy weer ’n goeie verhouding met Jehovah kan soek en vind (Efesiërs 1:7; Hebreërs 2:17). Hoe dankbaar behoort ons almal tog nie hiervoor te wees nie!