Die mensdom se soeke na God
WAAROM het ons as Jehovah se Getuies die “suiwer taal” ontvang? Beslis nie om dit vir onsself te hou nie. En dit is nie sodat ons ’n gemaklike, sagte lewenstyl soortgelyk aan dié van die Christendom kan geniet wat hulle beginsels so maklik prysgee nie. Dit is eerder sodat ‘almal die naam van Jehovah kan aanroep, ten einde hom skouer aan skouer te dien’ (Sefanja 3:9). Ja, die suiwer taal behels dat ons sy aan sy moet werk saam met ons miljoene Christenbroers en susters—van alle rasse, nasies en tale—wat getrou die goeie nuus verkondig voor die einde kom.—Markus 13:10; Romeine 13:11; Openbaring 14:6, 7.
Ons hedendaagse prediking bied soms ongewone uitdagings. Waarom? Gedurende hierdie 20ste eeu het mense op groot skaal verhuis weens oorloë, onderdrukking, ekonomiese druk en ander redes. Gevolglik het mense van baie tale en godsdienste onder kulture ingetrek wat van hulle s’n verskil. Groot gemeenskappe van Hindoes, Boeddhiste en Moslems het dus in die Westerse wêreld ingetrek. Wanneer ons die suiwer taal van huis tot huis verkondig, kom ons hierdie mense teë. Soms is ons dronkgeslaan omdat ons so min van hulle godsdiensagtergrond weet. Wat kan ons daaromtrent doen?—Vergelyk Handelinge 2:5-11.
Hoe verkondig ons die waarheid aan ’n Moslem of ’n Jood? Hoe verskil hulle van mekaar? Wat glo ’n Hindoe regtig? Waarom dra Sikhs tulbande? Wat is hulle heilige boek? Hoe verskil ’n Boeddhis van ’n Hindoe? Wat glo Japannese Sjintoïste? Glo Chinese Taoïste of Confucianiste in God?a Hoe verskil ’n Ortodokse Jood van ’n Hervormde Jood of ’n Konserwatiewe Jood? Om hierdie groot verskeidenheid mense te bereik, moet ons vereers hulle standpunt verstaan en dan weet hoe om hulle liefdevol en taktvol na die ware God, Jehovah, te rig.—Handelinge 17:22, 23; 1 Korinthiërs 9:19-23; Kolossense 4:6.
Om ons te help om ander godsdienste, hulle leerstellings en hulle geskiedkundige agtergrond beter te verstaan, het die Wagtoringgenootskap tydens die “Suiwer Taal”-Streekbyeenkomste van 1990 wêreldwyd ’n nuwe publikasie met die titel Die mensdom se soeke na God vrygestel. Toegerus met hierdie hulpmiddel sal ons beter vir mense van die nie-Christelike wêreld sowel as vir diegene van die Christendom kan preek.
’n Praktiese hulpmiddel
Hierdie boek met 384 bladsye het 16 hoofstukke wat die geskiedenis van die mensdom se soeke na God oor die afgelope sesduisend jaar skets. Dit beantwoord honderde vrae oor die wêreld se godsdienste. Hier is sommige daarvan: Watter faktore bepaal gewoonlik ’n mens se godsdiens? Waarom is dit nie verkeerd om ander gelowe te ondersoek nie? Watter ooreenkomste is daar tussen Rooms-Katolisisme en Boeddhisme? Watter rol speel mites in baie godsdienste? Waarom glo baie mense aan toorkuns, spiritisme en astrologie? Waarom het Hindoes so baie gode en godinne? Hoe verskil Sikhs van Hindoes? Wie was die Boeddha, en wat het hy verkondig? Waarom is die Sjinto hoofsaaklik ’n Japannese godsdiens? Waarom het Jode ’n mondelinge sowel as ’n geskrewe wet? Hoe weet ons dat Christus nie ’n mite is nie? Hoe verskil die Koran van die Bybel? Waarom sê Katolieke dat Petrus die eerste pous was? Waarom het Katolieke priester Luther weggebreek van die Rooms-Katolieke Kerk?
Die vrae is amper sonder einde, en hierdie publikasie verstrek die antwoorde bondig sodat ons met groter welslae vir mense met hierdie uiteenlopende godsdiensagtergronde kan preek. Die boek neem die feit in aanmerking dat baie mense hulle eie godsdiens het en dat godsdiens ’n baie persoonlike saak is. Dit sê nietemin op bladsy 8: “Ons ouers en familielede prent ons feitlik van geboorte af godsdiens- of sedebeskouings in. Gevolglik volg ons gewoonlik die godsdiensideale van ons ouers en grootouers.” Dit beteken “in baie gevalle dat ander ons godsdiens vir ons gekies het. Dit was bloot ’n kwessie van waar en wanneer ons gebore is.”—Vergelyk Filippense 3:4-6.
Die boek stel dan die logiese vraag: “Is dit redelik om aan te neem dat die godsdiens wat jy by geboorte ontvang het noodwendig die volle waarheid is?” Elkeen word derhalwe aangemoedig om ander godsdienste met ’n oop gemoed te ondersoek. Soos dit op bladsy 10 sê: “’n Begrip van die ander se sienswyse kan derhalwe lei tot sinvoller kommunikasie en gesprekke tussen mense van verskillende gelowe.” Dit sê voorts: “Mense sal dalk hewig verskil oor hulle godsdiensoortuigings, maar daar is geen grondslag om iemand te haat bloot omdat hy of sy ’n ander mening huldig nie.”—Mattheüs 5:43, 44.
Een fundamentele vraag wat dwarsdeur die boek opduik, is: Het die mens ’n onsterflike siel wat ná sy dood voortleef en na ’n hiernamaals gaan? Byna alle godsdienste verkondig daardie konsep in die een of ander vorm. Soos Die mensdom se soeke na God sê (bladsy 52): “In sy soeke na God het die mens na strooihalms gegryp, mislei deur die illusie van onsterflikheid. . . . Die geloof in ’n onsterflike siel of variasies daarvan [is] ’n erfenis wat deur die millenniums heen aan ons oorgedra is.” Ander vrae is: Is daar ’n plek soos die hel waar siele gepynig word? Wat is werklik die hoop vir die dode? Is daar een God of is daar baie gode?—Genesis 2:7; Esegiël 18:4.
Gebruik vir Bybelstudies
Die boek bespreek die ontwikkeling van die vernaamste godsdienste van die mensdom—Hindoeïsme, Boeddhisme, Taoïsme, Confucianisme, die Sjinto, Judaïsme, die Christelike godsdiens, die Christendom en die Islam—in min of meer chronologiese orde soos hulle op die wêreldtoneel verskyn het. Daar word in elke hoofstuk uit die heilige boeke van hierdie godsdienste aangehaal sodat enige opregte gelowige die aanhalings self kan nagaan. Drie verskillende Engelse vertalings van die Koran word in die hoofstuk oor die Islam gebruik. Die Jewish Publication Society se jongste vertaling van die Tanakh—A New Translation of the Holy Scriptures word in die hoofstuk oor Judaïsme aangehaal.—Vergelyk Handelinge 17:28; Titus 1:12.
Wat is daar vir die ateïs en die agnostikus? Hoofstuk 14 handel oor die hedendaagse ongeloof in God en waarom Jehovah se Getuies weet dat God bestaan. Die leser word in elke hoofstuk na die Bybel verwys. Deur hierdie publikasie, Die mensdom se soeke na God, te gebruik sal ons dus toegerus wees om Bybelstudies te begin met mense van alle gelowe of dié wat glad geen geloof bely nie. Dit behandel elke godsdiens met respek en takt, maar dit stel vrae wat ’n mens na Jehovah en die waarheid kan lei. Die boek sal waarlik ’n seën wees vir diegene wat God opreg soek.—Psalm 83:18, NW; Johannes 8:31, 32; 2 Timotheüs 3:16, 17.
Daar is leersame leervensters in elke hoofstuk. Op bladsye 226 en 227 is daar byvoorbeeld ’n venster oor “Judaïsme—’n godsdiens met baie stemme” wat die vernaamste vertakkings van die Joodse godsdiens verduidelik. Onder “Hindoeïsme—’n Soeke na bevryding” is daar op bladsye 116 en 117 ’n venster “Hindoeïsme—’n paar gode en godinne”. Dit noem net ’n paar van die meer as 330 miljoen gode wat deur Hindoes aanbid word. Glo Boeddhiste aan God soos die Westerse wêreld daardie term verstaan? Die venster “Boeddhisme en God” op bladsy 145 beantwoord daardie vraag. Die boek het ook ’n praktiese register sodat hooftemas vinnig nageslaan kan word. Die bibliografie van die vernaamste bronne wat vir navorsing gebruik is, kan ook dien as verwysingsbron vir verdere leesstof as ’n mens meer besonderhede wil hê.
Die boek bevat meer as 200 foto’s en tekeninge, maar hulle is nie net daar as versiering nie. Elke tekening bevat iets leersaams wat die godsdiens onder bespreking verder verduidelik. Op bladsy 238 is daar byvoorbeeld ’n reeks foto’s wat ’n paar van Jesus se gelykenisse illustreer. Elders is daar ’n reeks van vyf tekeninge wat ook verskillende aspekte van Christus se bediening illustreer—sy wonderwerke, sy gedaantewisseling, sy offerdood en sy bevel aan sy dissipels om oor die hele aarde te preek.
Moslems sal belangstel in die reeks foto’s op bladsy 289. Dit neem die kyker in Mekka in, in die groot moskee waar die Kaäba geleë is en dan na die swart klip wat deur Moslems vereer word. Boeddhisme se veelsoortige aanbidding word op bladsy 157 geïllustreer. Hindoes sal daarin belangstel om foto’s van hulle gewilde gode Ganesa en Krisjna op bladsye 96 en 117 te sien.
Bekwame Christenbedienaars oor die hele wêreld heen is geraadpleeg ten einde ’n gespesialiseerde benadering tot elke vername godsdiens te kry. Waardevolle materiaal is byvoorbeeld uit Israel ontvang vir die hoofstukke oor Judaïsme en die Baha’i-geloof. Getuies in Moslemlande het die inhoud van die hoofstuk oor die Islam sorgvuldig nagegaan. Ons het nuttige voorligting oor die Hindoes, Sikhs en Djainas uit Indië ontvang. Bedienaars in die Ooste het seker gemaak dat die hoofstuk oor die Sjinto akkuraat is en het ons ook van raad gedien oor Boeddhisme, Taoïsme en Confucianisme.
Danksy die boek se sorgvuldige dekking van elke godsdiens kan diegene wat die boek in hulle taal het Bybelstudies begin in die hoofstuk wat by elke persoon se godsdiensagtergrond pas. Daarná sal hulle moontlik wil oorgaan na die hoofstuk wat handel oor die opkoms van die vroeë Christelike godsdiens en die redes om te glo dat Christus werklik God se Verteenwoordiger is, die een wat gebruik word om die mens na God te trek. Daar is hoofstukke wat verduidelik hoe die afvalligheid ontstaan het, en hoe dit gelei het tot die talle vertakkings en sektes van die Christendom. Die laaste twee hoofstukke toon hoe ware aanbidding in hierdie laaste dae herstel is en wat die onmiddellike toekoms vir Babilon die Grote, Satan se wêreldryk van valse godsdiens, inhou. Daarná word die aandag gevestig op die nuwe wêreld en die Bybel se opstandingshoop.—Johannes 5:28, 29; 12:44-46; 14:6; Openbaring 21:1-4.
Dit is waarlik ’n publikasie wat baie mense oor die hele aarde behoort te help om tot God te nader, soos Jakobus in hoofstuk 4 van sy brief, vers 8, sê: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges [of, “besluiteloses”, NW]!” Ja, soos Jesaja sê: “Soek die HERE [of, “Soek Jehovah, o mense”, NW] terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.”—Jesaja 55:6; Johannes 6:44, 65.
Laat ons almal in die regte rigting voortgaan, gekeer na die Soewereine Heer van die heelal, Jehovah God. En laat ons met behulp van hierdie publikasie, Die mensdom se soeke na God, duisende ander help om Jehovah “in gees en waarheid” te aanbid (Johannes 4:23, 24). Mag ons volhard om die soekers na waarheid te vind en hulle van die God van waarheid te vertel, want hy kan inderdaad gevind word!
[Voetnoot]
a “Taoïste” word uitgespreek diaau-iste; rym met miaau.
[Prente op bladsy 17]
Die mens het op baie maniere na God gesoek
[Prent]
Opregte Katolieke wend hulle tot Maria
[Prent]
Hindoes vereer die Gangesrivier
[Erkenning]
Harry Burdich, Transglobe Agency, Hamburg
[Prent]
Sommige vroom Jode dra filakterieë
[Erkenning]
GPO, Jerusalem
[Prent]
Moslemmans onderneem ’n pelgrimstog na Mekka
[Erkenning]
Camerapix
[Prent]
Talle vereer Boeddha
[Prente op bladsy 18]
Jesus het gelykenisse gebruik om mense te help om die ware God te vind
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.