Verkondiging van die goeie nuus in Nieu-Seeland se “Polinesiese stad”
“DIE wêreld se grootste Polinesiese stad.” Dit is wat sommige Nieu-Seeland se groot stad Auckland al genoem het. Waarom? Nie net omdat dit die tuiste van Nieu-Seeland se eie Polinesiërs, die Maori’s, is nie, maar ook omdat tienduisende ander Polinesiërs daar woon. Hulle het in onlangse jare van Wes-Samoa, die Cook-eilande, Tonga, Niue en ander eilande van die Stille Oseaan geëmigreer. In Nieu-Seeland is daar nou meer Maori’s wat van die Cook-eilande af kom as wat op die Cook-eilandgroep self is! Net so is daar heelwat meer Niueane in Auckland as in Niue.
Hoewel hierdie eilandbewoners van die Stille Oseaan hoofsaaklik om ekonomiese redes na Auckland verhuis het, het hulle ook ander behoeftes waarin daar voorsien moet word. ’n Belangrike behoefte vir hierdie mense, wat oor die algemeen lief is vir die Bybel, is hulle geestelike behoefte (Mattheüs 5:3, NW). Omdat Jehovah se Getuies in Nieu-Seeland dit besef, doen hulle baie moeite om die “goeie nuus van die koninkryk” onder hierdie eilandbewoners te verkondig (Mattheüs 24:14, NW). Wat is in hierdie verband gedoen, en wat was die eilandbewoners se reaksie?
Die Samoane maak vordering
’n Sendeling in Samoa se kommentaar vertel ons iets omtrent die eilandbewoners se beskouing van geestelike dinge. “Wanneer jy met iemand in Nieu-Seeland kennis maak, vra jy hom gewoonlik oor sy sekulêre werk uit”, verduidelik hy. “Die eerste vraag wat ’n mens in Samoa gevra word, is gewoonlik oor jou godsdiensverband.” Dit is dus nie verbasend dat die twee Samoaanse gemeentes van Jehovah se Getuies in Auckland baie vinniger as die gemiddelde gemeente in Nieu-Seeland groei nie.
Die eerste Samoaanse gemeente in Auckland is in 1977 gestig. Omdat God dit laat groei het, is ’n tweede sewe jaar later gestig. (Vergelyk 1 Korinthiërs 3:6.) Daar is altesaam 154 Koninkryksverkondigers in hierdie twee gemeentes, en 12 van hulle is in die voltydse diens. Op Sondae woon meer as 275 mense gewoonlik die Bybelvergaderinge by wat in die Koninkryksaal gehou word.
Die Samoaanse broers en susters neem hulle godsdiens ernstig op, soos hulle ywer en vasbeslotenheid in hulle Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk toon (Mattheüs 28:19). Dit kan uit die volgende ondervinding van ’n Samoaanse suster gesien word:
Die suster het tydens die huis-tot-huisbediening ’n vrou ontmoet wat alle godsdienste as skynheilig veroordeel het en die deur toegemaak het. Die suster was uit die veld geslaan en gefrustreerd en het gewonder wat om te doen. ‘Ek kan nie net weggaan en haar laat dink dat Jehovah se Getuies skynheilig is nie’, het sy gedink. Sy het dus besluit om ’n briefie daar te laat. “Ek het die skriftuurlike grondslag van my werk kortliks verduidelik en gevra of sy my die tyd sou gee om aan haar te verduidelik watter hoop die Bybel bied. Ek het ook my telefoonnommer gegee.”
Die suster het toe haar bediening voortgesit en ander huise besoek. Toe sy by die vierde huis kom, het sy ’n telefoonboodskap ontvang dat sy weer die vrou moet gaan sien wat vroeër die deur toegeslaan het. “Die vrou het om verskoning gevra oor haar aanvanklike reaksie”, sê die suster, “en haar waardering uitgespreek vir die briefie wat ek daar gelaat het. ’n Vrugbare gesprek het gevolg, en ’n tuisbybelstudie is begin.”
Dit is ook hartverblydend om die selfopofferende sendinggees te sien wat ván die Samoaanse Getuies aan die dag lê. Een broer en sy gesin het in 1981 van Auckland na Wellington verhuis om die groepie te help wat daar onder die Samoaanse bevolking gewerk het. ’n Destydse kern van 11 verkondigers het tot ’n gemeente van 47 gegroei. “Die seëninge het die opofferinge ver oortref”, het die broer gesê. Hy en sy gesin het onlangs in antwoord op die ‘Macedoniese oproep’ weer in Wes-Samoa gaan woon (Handelinge 16:9, 10). Ander het ook na hulle vorige woonplekke teruggekeer en die spesiale pionierdiens, sendingdiens of Betheldiens betree.
Die Niueaanse belangstelling
Die predikingswerk maak ook vooruitgang onder die Niueane in Auckland. Die reisende opsiener sê: “’n Mens word gewoonlik tydens die huis-tot-huisbediening ingenooi. Die huisbybel is meestal byderhand, en dit is niks ongewoons om dit te bespreek nie.”
Daar is nou ’n baie bedrywige Niueaanse gemeente in Auckland. Die 76 Koninkryksverkondigers wat met hierdie gemeente omgaan, kon die vorige jaar tydens die reisende opsiener se besoek die Sondag 127 mense by die openbare Bybeltoespraak verwelkom. En daar heers ’n mooi gees onder die broers en susters.
“Almal beskou die besoek as ’n spesiale week van aanmoediging”, merk die reisende opsiener op. “Elke maaltyd is ’n gemeente-aangeleentheid. En dan word daar Niueaanse gunstelinggeregte voorgesit soos takihi (’n dis van papajas, taros [’n tropiese wortelgroente] en piesangskille), pitako (brood wat van taros, piesangs en tapioka gemaak word) en punu povi (blikkiesvleis), waarna daar soms skertsend as die eilandbewoners se biefstuk verwys word.”
Publikasies in Polinesiese tale
Die Wagtoringgenootskap het gereël dat etlike Bybelpublikasies in die Polinesiese tale uitgegee word om in die geestelike behoeftes van die Polinesiese bevolking in Auckland en elders te voorsien. Die Wagtoring in Rarotonga, of Cook-eiland-Maori, word byvoorbeeld halfmaandeliks uitgegee. Die maandelikse Wagtoring in Niueaans word ook goed ontvang. Die Wagtoring in Rarotonga en Niueaans het op die oomblik ’n oplaag van ongeveer 1 000 eksemplare elk, en daar word nou ongeveer 900 eksemplare van die Samoaanse uitgawe in Nieu-Seeland versprei.
Buiten Die Wagtoring is daar ’n aantal boeke en brosjures in verskeie Polinesiese tale beskikbaar. Die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe wat in 1989 in Niueaans uitgegee is, is die eerste publikasie in daardie taal wat mense help om die grondleerstellings van die Bybel te verstaan. Die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, in Rarotonga, is veral doeltreffend in die Cook-eilandse Maoriveld. So te sê al die tuisbybelstudies word met behulp van daardie boek gehou. “Die bereidwilligheid waarmee die studente gemeentelike vergaderinge begin bywoon”, sê een ouere man, “bewys wat ’n doeltreffende onderrigmiddel dit is.”
Benewens hierdie publikasies wat Jehovah se volk gewoonlik van huis tot huis versprei, versprei hulle ook baie lektuur tydens tydskrifwerk by die sogenoemde vlooimark. Groot markte met tydelike stalletjies wat in kossoorte en handwerk van die Stille Oseaangebied spesialiseer, het in onlangse jare vanweë die Polinesiese bevolkingsontploffing in Auckland verrys. Tot 25 000 mense kan so ’n mark op ’n Saterdagoggend besoek. Die Getuies maak goed gebruik van hierdie geleentheid deur na hierdie markte te gaan en met die eienaars van die stalletjies en die klante oor God se Koninkryk te praat.
Jehovah se Getuies kon vanweë hulle bediening oorvloedig Koninkryksaad saai en baie Bybellektuur by die Polinesiërs laat. Die Wagtoringgenootskap se takkantoor sê dat die fabriek gedurende die 1990-diensjaar 23 928 stukke lektuur in die Polinesiese tale versend het.
Hulle verheug hulle aan een geestelike tafel
Omdat die Polinesiese Getuies bewus is van hulle geestelike behoefte is dit vir hulle baie belangrik om die weeklikse Christenvergaderinge by die Koninkryksale sowel as hulle byeenkomste by te woon (Hebreërs 10:23-25). By die “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkomste wat in Desember 1988 in Auckland gehou is, is daar afsonderlike sessies in Samoaans, Niueaans en Cook-eiland-Maori gehou. ’n Hoogtepunt van die Samoaanse program was ’n goed geoefende en entoesiastiese Bybeldrama. Auckland se Niueaanse en Cook-eilandse Getuies het hulle Christelike gasvryheid getoon deur vriendelik as gashere vir besoekers van hulle geboorte-eilande af op te tree. Die byeenkoms was ’n feestelike en heuglike geleentheid aan Jehovah se geestelike tafel. By die “Suiwer Taal”-Streekbyeenkoms wat in 1990 in Auckland gehou is, was daar ’n opkomshoogtepunt van 503 by die Samoaanse sessies.
Positiewe reaksie op die Koninkryksboodskap is ’n duidelike bewys dat mense van die Polinesiese eilande in die Suidelike Stille Oseaangebied op ‘Jehovah se wet gewag het’. (Vergelyk Jesaja 42:4, 12, NW.) Hulle het op hulle beurt ’n vreugdevolle aandeel in die verkondiging van die goeie nuus in Nieu-Seeland se “Polinesiese stad”.