Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 3/15 bl. 8-13
  • Jehovah se hemelse strydwa ruk op

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se hemelse strydwa ruk op
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vier lewende wesens
  • Wiele binne-in wiele
  • Die glorieryke Strydwaryer
  • Wat die strydwa afgebeeld het
  • As ’n wag aangestel
  • Beweeg saam met die hemelse strydwa
  • “Ek het visioene van God begin sien”
    Rein aanbidding van Jehovah – Uiteindelik herstel!
  • Hou tred met Jehovah se hemelse strydwa
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Luister—Jehovah se wag spreek!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Georganiseer om Jehovah se wil te doen
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 3/15 bl. 8-13

Jehovah se hemelse strydwa ruk op

“Aangaande die wiele, hulle is voor my ore die ratwerk genoem.”—ESEGIËL 10:13.

1. Watter vervoermiddel het Jehovah?

IN HIERDIE dae van vaartbelynde straalvliegtuie dink wêreldleiers dalk dat hulle die allerbeste reismiddele het. Maar 2 600 jaar gelede het Jehovah God getoon dat hy ’n voortreflike vervoermiddel het, iets wat geen ingenieur nog ooit gesien het nie. Dit is ’n enorme, ontsagwekkende strydwa! Klink dit vreemd dat die Skepper van die heelal in ’n voertuig ry wat soos ’n strydwa lyk? Nee, want Jehovah se hemelse voertuig is heeltemal anders as enigiets waaraan mense kon dink.

2. Hoe beeld Esegiël hoofstuk 1 Jehovah se hemelse strydwa uit, en op wie vestig die profeet eerstens ons aandag?

2 In hoofstuk 1 van Esegiël se profesie word Jehovah uitgebeeld waar hy in ’n kolossale hemelse strydwa ry. Hierdie ontsagwekkende strydwa met vier wiele is selfgedrewe en kan verbasende dinge doen. Esegiël het hierdie hemelse strydwa in 613 v.G.J. in ’n gesig gesien toe hy by een van die kanale van eertydse Babilon was. Die profeet vestig ons aandag eerstens op húlle wat Jehovah se hemelse strydwa vergesel. Terwyl ons lees, kom ons probeer ons voorstel wat Esegiël gesien het.

Vier lewende wesens

3. Wat word deur die vier gesigte van elk van die vier lewende wesens afgebeeld?

3 Esegiël sê: “Toe het ek gekyk—en daar het ’n stormwind uit die noorde gekom, ’n groot wolk met onophoudelike vuur; en ’n glans was rondom die wolk . . . En daaruit het die gestalte van vier wesens gekom” (Esegiël 1:4, 5). Elkeen van hierdie vier lewende wesens, of gerubs, het vier vlerke en vier gesigte gehad. Hulle het ’n leeu se gesig gehad, wat Jehovah se geregtigheid afbeeld; ’n bul se gesig, wat God se mag verteenwoordig en ’n arend se gesig, wat Sy wysheid voorstel. Hulle het ook ’n mens se gesig gehad, wat op Jehovah se liefde wys.—Deuteronomium 32:4, NW; Job 12:13; Jesaja 40:26; Esegiël 1:10; 1 Johannes 4:8.

4. Waarom het die gerubs vier gesigte gehad, en hoe vinnig kon die gerubs beweeg?

4 Elke gerub het ’n gesig gehad wat in een van vier rigtings gekyk het. Gevolglik kon die gerubs oombliklik van koers verander en die gesig volg wat in die verlangde rigting kyk. En hoe vinnig kon daardie gerubs beweeg? So vinnig soos ’n weerligstraal! (Esegiël 1:14). Geen mensgemaakte voertuig kon nog ooit so vinnig beweeg nie.

5. Hoe het Esegiël die strydwa se wiele en hulle vellings beskryf?

5 Skielik kan die strydwa se wiele gesien word. Hoe ongewoon lyk hulle tog! Verse 16 en 18 sê: “Hulle voorkoms en hulle maaksel [was] asof daar ’n wiel binne-in ’n wiel was. En hulle vellings—dié was hoog en dié was wonderbaar; en hulle vellings was by al vier rondom vol oë.” ’n Wiel langs elke gerub sou beteken dat daar vier wiele in vier verwante posisies was. Die wiele het gegloei soos chrisoliet, ’n deursigtige of deurskynende geel of groen steen. Dit voeg lig en skoonheid by hierdie glorieryke gesig. Aangesien die vellings van die wiele “rondom vol oë” was, het hulle nie sommer blindelings in enige rigting gegaan nie. En die wiele was geweldig hoog, en gevolglik kon hulle ’n groot afstand aflê met net een rotasie om hulle as. Hulle kon, soos die vier gerubs, blitsvinnig beweeg.

Wiele binne-in wiele

6. (a) Hoe was dit dat die strydwa wiele binne-in wiele gehad het? (b) Waarmee het die wiele die rigting van hulle beweging aangepas?

6 Nog iets was ongewoon. Elke wiel het ’n wiel binne-in homself gehad—een met dieselfde deursnee wat dwars in die ander wiel ingepas het. Slegs as gevolg hiervan kon daar van die wiele gesê word dat hulle “na al vier kante” gaan (Vers 17). Die wiele kon in ’n oogwink van rigting verander, want daar was ’n sy van die wiel wat na elke rigting gewys het. Die wiele het die rigting van hulle beweging aangepas by die rigting van die vier gerubs. Die bak van God se strydwa kon deur middel van onsigbare ondersteuning op die vier wiele ry, soortgelyk aan ’n kragtige skeertuig wat op ’n lugkussing rus wanneer dit oor die water beweeg.

7. Wat het die wiele aangedryf?

7 Waar het die wiele hierdie krag gekry om by al die bewegings van die vier gerubs aan te pas? Van die heilige gees van die almagtige God. Vers 20 sê: “Waar die gees ook heen wou gaan, het hulle gegaan . . . Die gees van die wese was in die wiele.” Dieselfde onsigbare werkende krag van God wat in die gerubs was, was in daardie wiele.

8. Watter naam is aan die wiele gegee, en waarom?

8 Die wiele word “ratwerk” genoem (Esegiël 10:13). Dit is blykbaar na aanleiding van die funksie van elke wiel. Dit rol voort of draai. Die feit dat hierdie deel van die hemelse strydwa so onderskei word, vestig die aandag op die snelheid waarmee die hemelse strydwa beweeg. Al het die wiele van die strydwa so vinnig gedraai, kon hulle altyd sien waarheen hulle gaan omdat hulle vol oë was.

9. Hoe het Esegiël beskryf wat bo-op die strydwa se vier voortsnellende wiele was?

9 Maar kom ons kyk nou na wat bo-op daardie verskriklik hoë wiele is wat so vinnig beweeg. Vers 22 van Esegiël hoofstuk 1 sê: “Oor die hoofde van die wesens was iets in die vorm van ’n uitspansel wat blink soos die wonderbare kristal, bo-oor hulle hoofde uitgesprei.” Al was die uitspansel solied, was dit deurskynend, “soos die wonderbare kristal”. Dit het geskitter soos duisende diamante as die son daarop val. Voorwaar ontsagwekkend!

Die glorieryke Strydwaryer

10. (a) Hoe is die troon en die Een op die troon beskryf? (b) Wat word voorgestel deur die feit dat die Een wat op die strydwa ry in heerlikheid gehul is?

10 Die strydwa hou blykbaar stil sodat die Een wat daarop ry met Esegiël kan praat. Bo-op die uitspansel is daar iets wat soos ’n saffierblou, of diepblou, troon lyk. Daar is Iemand op die troon wie se voorkoms soos dié van ’n aardse mens is. ’n Mensegestalte kon Esegiël die beste help om hierdie goddelike verskyning te verstaan. Maar daardie mensegestalte is in heerlikheid gehul, sodat dit soos elektrum, daardie glansende mengsel van silwer en goud, gloei. Watter glinsterende prag tog! Van die lendene van hierdie mensegestalte af strek hierdie luisterryke heerlikheid boontoe sowel as ondertoe. Die hele gestalte is dus in heerlikheid gehul. Dit toon dat Jehovah onbeskryflik glorieryk is. Daarbenewens omring ’n pragtige reënboog die Strydwaryer. Watter gevoel van kalmte en rustigheid dra ’n reënboog tog ná ’n storm oor! Omdat Jehovah daardie kalme gesindheid het, kan hy sy eienskappe wysheid, geregtigheid, mag en liefde in volmaakte ewewig hou.

11. Hoe is Esegiël deur die gesig van Jehovah se strydwa en troon geraak?

11 Jehovah se strydwa en troon word omring deur lig en pragtige kleure. Wat ’n kontras met Satan, die vors van die duisternis en die okkulte! En watter uitwerking het al hierdie dinge op Esegiël gehad? “Toe ek dit sien”, sê hy, “het ek op my aangesig geval en die stem gehoor van Een wat spreek.”—Esegiël 1:28.

Wat die strydwa afgebeeld het

12. Wat word deur Jehovah se hemelse strydwa afgebeeld?

12 Wat word deur hierdie wonderlike strydwa afgebeeld? Die hemelse organisasie van Jehovah God. Dit bestaan uit al sy heilige geesskepsele in die onsigbare ryk—serafs, gerubs en engele. Aangesien Jehovah die allerhoogste God is, is al sy geesskepsele aan hom onderdanig, en hy ry op hulle in die sin dat hy welwillend oor hulle heers en hulle volgens sy voorneme gebruik.—Psalm 103:20.

13. (a) Waarom kan daar gesê word dat Jehovah op sy organisasie ry? (b) Hoe word jy geraak deur die gesig van Jehovah se voortsnellende strydwa met vier wiele?

13 Ja, Jehovah ry op hierdie organisasie asof dit ’n strydwa is en stuur dit in die rigting waarheen sy gees dit aandryf. Dit ry nie blindelings, onbeheers of sonder intelligente toesig nie. God laat hierdie organisasie nie toe om sommer na willekeur enige koers in te slaan nie. Dit volg eerder sy instruksies. Almal beweeg gesamentlik en in eenheid vorentoe om God se voornemens ten volle uit te voer. Wat ’n wonderlike hemelse organisasie word tog deur hierdie gesig van Jehovah se voortsnellende hemelse strydwa met vier wiele openbaar! In ooreenstemming hiermee word Jehovah se organisasie as vierkantig, in volmaakte balans, uitgebeeld.

As ’n wag aangestel

14. Wie word deur die profeet Esegiël afgebeeld?

14 Maar wie word deur die profeet Esegiël afgebeeld? Uit die feite van die geskiedenis is dit duidelik dat die liggaam van geesgesalfde Getuies van Jehovah aan die hemelse strydwa verbonde is. Dit is dus gepas dat Esegiël die gesalfde oorblyfsel van Jehovah se Getuies sedert 1919 afbeeld. God se hemelse organisasie het in daardie jaar geestelik met die gesalfde oorblyfsel in aanraking gekom sodat dit hulle as Getuies van Jehovah vir die hele wêreld kon laat herlewe. (Vergelyk Openbaring 11:1-12.) Daardie strydwa-agtige organisasie was destyds aan die beweeg net soos dit vandag ook beweeg. Trouens, sy wiele van vooruitgang draai vinniger as ooit. Jehovah ry vinnig voort!

15. Wat sê die stem van die Een wat op die hemelse strydwa ry, en watter opdrag kry Esegiël?

15 Esegiël wou graag weet waarom die hemelse strydwa voor hom ingetrek en stilgehou het. Hy het uitgevind toe hy die stem hoor van die Een wat op die strydwa sit. Esegiël was oorweldig deur hierdie ontsagwekkende skouspel en het op sy aangesig neergeval. Luister wat sê die stem van die Een wat op die hemelse strydwa ry: “Mensekind, staan op jou voete, dat Ek met jou kan spreek” (Esegiël 2:1). Daarna gee Jehovah Esegiël die opdrag om as ’n wag op te tree en die opstandige huis van Israel te waarsku. Hy word selfs opgedra om in God se naam te spreek. Esegiël se naam beteken “God maak sterk”. God het die Esegiël-klas eweneens versterk, uitgestuur en as ’n wag vir die Christendom aangestel.

16, 17. (a) Hoe het die gesig van die hemelse strydwa Esegiël tot voordeel gestrek? (b) Hoe het die begrip van die gesig van die hemelse strydwa die Esegiël-klas en die ander skape in ons dag geraak?

16 Die gesig van die hemelse strydwa het Esegiël nie net tot nadenke gestem en hom verstom nie, maar dit het hom ook voorberei vir sy taak om as ’n wag die waarskuwing van Jerusalem se komende vernietiging bekend te maak. Dit geld ook vandag vir die wagklas. Hulle begrip van die gesig van Jehovah se hemelse strydwa wat opruk, het ’n groot indruk op die gesalfde oorblyfsel gemaak. In 1931 het hulle meer oor Esegiël se gesig geleer, soos dit in die boek Regverdiging, Deel Een, geopenbaar is. Hulle is toe met sulke groot waardering vervul dat ’n kunstenaarsvoorstelling van Esegiël se gesig van die hemelse strydwa vanaf die nommer van 15 Oktober 1931 tot met die nommer van 1 Augustus 1950 in die boonste regterhoek van die voorblad van Die Wagtoring verskyn het. Die Esegiël-klas het dus ooreenkomstig hulle opdrag opgetree, en hulle het die rol van ’n wag vervul en die goddelike waarskuwing bekend gemaak. Die tyd vir die Christendom se vurige vernietiging deur Jehovah wat op sy troon op sy hemelse strydwa sit, was nog nooit so naby nie!

17 Vandag word “’n groot menigte” skaapgeaarde mense met die gesalfde oorblyfsel geassosieer (Openbaring 7:9). Hulle maak saam die waarskuwing van die komende vernietiging van die Christendom en hierdie hele duiwelse stelsel van dinge bekend. Daardie waarskuwingswerk gaan snel vooruit, en soos Openbaring 14:6, 7 toon, steun die engele dit.

Beweeg saam met die hemelse strydwa

18. Wat moet ons doen om die volgehoue ondersteuning van die engele te kry, en waarvoor moet ons vatbaar wees?

18 Die onderdanige engele beweeg gesamentlik as deel van God se hemelse organisasie terwyl hulle Jehovah se aardse knegte help om hulle opdrag uit te voer om goddelike oordeelsboodskappe te verkondig. As ons die volgehoue beskerming en leiding van hierdie magtige engeleknegte van God wil hê, moet ons ook almal saam beweeg en met die simboliese ratwerk tred hou. Daarbenewens moet ons, as deel van Jehovah se sigbare organisasie wat saam met sy hemelse strydwa beweeg, vatbaar wees vir die leiding van God se gees. (Vergelyk Filippense 2:13.) As ons Getuies van Jehovah is, moet ons in dieselfde rigting as die hemelse strydwa beweeg. Ons moet beslis nie daarteen werk nie. Wanneer ons leiding gegee word oor die weg wat ons moet bewandel, moet ons dit volg. Die gemeente sal gevolglik nie verdeeld wees nie.—1 Korinthiërs 1:10.

19. (a) Waarvoor moet Jehovah se volk wakker wees, soos die hemelse strydwa se wiele wat reg rondom oë het? (b) Hoe moet ons in hierdie tye van beroering optree?

19 Die oë reg rondom die wiele van God se strydwa dui wakkerheid aan. Net soos die hemelse organisasie wakker is, moet ons ook wakker wees om Jehovah se aardse organisasie te ondersteun. In ons gemeentes kan ons blyk lewer van daardie ondersteuning deur met die plaaslike ouere manne saam te werk (Hebreërs 13:17). En in hierdie tye van beroering moet Christene baie na aan Jehovah se organisasie bly. Ons wil nie ons eie uitlegging van gebeure gee nie, want dan sal ons nie saam met Jehovah se hemelse strydwa beweeg nie. Laat ons ons altyd afvra: ‘In watter rigting beweeg die hemelse strydwa?’ As ons saam met God se sigbare organisasie vooruitgaan, sal ons ook saam met die onsigbare organisasie beweeg.

20. Watter goeie raad gee die apostel Paulus in Filippense 3:13-16?

20 Paulus skryf in hierdie verband: “Broeders, ek dink nie dat ek dit reeds gegryp het nie, maar een ding staan wel vas: Ek vergeet die dinge wat agter my lê en strek my uit na die dinge wat voor my lê, terwyl ek streef na die doel om die prys te verkry van die roeping na bo wat God deur middel van Christus Jesus gee. Laat ons dan, soveel van ons as wat ryp is, van hierdie geestesgesteldheid wees; en as julle in enige opsig geestelik anders geneig is, sal God die bogenoemde geestesgesteldheid aan julle openbaar. Laat ons in ieder geval, in die mate waarin ons vordering gemaak het, voortgaan om ordelik te wandel in dieselfde roetine.”—Filippense 3:13-16, NW.

21. Deur watter roetine te volg is dit moontlik om geestelike vordering met God se organisasie te maak?

21 Hier beteken die woord “roetine” nie ’n slegte groef waaruit ons ons nie kan losskeur nie. Jehovah se knegte het ’n goeie roetine waardeur hulle geestelike vordering kan maak. Dit is ’n roetine van persoonlike Bybelstudie, bywoning van gemeentelike vergaderinge, gereelde verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk en die weerspieëling van die eienskappe van God se hemelse organisasie. So ’n roetine stel hulle in staat om die leiding van Jehovah se hemelse strydwa-agtige organisasie te volg. As ons op hierdie manier volhard, sal ons ons doel bereik, hetsy dit die prys van onsterflike lewe in die hemel of die ewige lewe op ’n paradysaarde is.

22. (a) Wat moet gedoen word sodat die gesalfde oorblyfsel en die groot menigte ander skape verenig georganiseer kan wees? (b) Wat ontgaan Jehovah se aandag nie?

22 Soos Johannes 10:16 toon, sal die “ander skape” en die Esegiël-klas saam georganiseer wees. Dit is dus noodsaaklik dat almal in Jehovah se organisasie die volle betekenis en belangrikheid van die gesig wat in Esegiël hoofstuk 1 opgeteken is, begryp as hulle saam met God se hemelse strydwa wil beweeg. Die gesig daarvan help ons om te besef dat ons in harmonie met God se organisasie, sigbaar en onsigbaar, moet beweeg. Hou ook in gedagte dat Jehovah se oë “die aarde [deurloop] om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is” (2 Kronieke 16:9). Glad niks ontgaan Jehovah se aandag nie, veral nie iets in verband met sy voorneme om hom as Universele Soewerein te verheerlik nie.

23. Wat moet ons doen terwyl Jehovah se hemelse strydwa voortbeweeg?

23 Jehovah se hemelse strydwa is vandag beslis besig om voort te beweeg. Binnekort sal alles tot heerlikheid gebring word in harmonie met die glorieryke Persoon wat op daardie strydwa ry—en dit alles tot verheerliking van hom as die Soewereine Heer van die heelal. Sy serafs, gerubs en engele steun ons vandag in ons groot, wêreldwye predikingswerk. Laat ons dan saam met Jehovah se hemelse organisasie vooruit gaan. Maar hoe kan ons met daardie voortsnellende, hemelse strydwa tred hou?

Hoe sal jy antwoord?

◻ Watter eienskappe word afgebeeld deur die vier lewende wesens wat Esegiël gesien het?

◻ Wat word deur Jehovah se hemelse strydwa afgebeeld?

◻ Wie word deur God se profeet Esegiël afgebeeld?

◻ Hoe het die begrip van Jehovah se hemelse strydwa die Esegiël-klas en die groot menigte geraak?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel