Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 2/15 bl. 29-30
  • Die ontstaan en vernietiging van Satan

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die ontstaan en vernietiging van Satan
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Hy word in die afgrond gewerp en finaal vernietig
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 2/15 bl. 29-30

Die ontstaan en vernietiging van Satan

SATAN, ’n naam wat in Hebreeus versetpleger beteken, het ’n slang gebruik om Eva in die Tuin van Eden te bedrieg. Die Skrif toon egter dat hy nie altyd daardie naam gehad het nie. Hy is eerder hierdie beskrywende naam gegee omdat hy ’n weg van teenstand teen God ingeslaan het. Die naam wat hy voor dit gehad het, word nie gegee nie. God is die enigste Skepper, en ‘sy werk is volkome’, met geen ongeregtigheid of onregverdigheid nie (Deuteronomium 32:4). Gevolglik was die een wat Satan geword het, toe hy geskep is, ’n volmaakte, regverdige skepsel van God. Hy is ’n geespersoon, want hy het in die hemel in die teenwoordigheid van God verskyn (Job hoofstukke 1, 2; Openbaring 12:9). Jesus Christus het van hom gesê: “Hy was ’n doodslaner toe hy begin het, en hy het nie vasgestaan in die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie” (Johannes 8:44, NW; 1 Johannes 3:8). Jesus toon hier dat Satan eens in die waarheid was, maar dat hy dit verlaat het. Sedert sy eerste openlike daad om Adam en Eva van God weg te lei, was hy ’n doodslaner, want hy het daardeur die dood van Adam en Eva teweeggebring, wat weer sonde en die dood vir hulle nageslag meegebring het (Romeine 5:12). Dwarsdeur die Skrif kan die eienskappe en dade wat aan hom toegeskryf word net aan ’n persoon toegeskryf word, nie aan ’n abstrakte beginsel van boosheid nie. Dit is duidelik dat die Jode, sowel as Jesus en sy dissipels, geweet het dat Satan as ’n persoon bestaan.

Hierdie geespersoon het dus van ’n regverdige, volmaakte begin na sonde en ontaarding afgewyk. Jakobus het die proses wat dit veroorsaak, beskryf toe hy geskryf het: “Elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort” (Jakobus 1:14, 15). Dit lyk asof daar in sekere opsigte ’n parallel getrek kan word tussen die weg wat Satan ingeslaan het, en dié van die koning van Tirus soos in Esegiël 28:11-19 beskryf word. Die hoogmoed van “die koning van Tirus”, dat hy homself “’n god” gemaak het, dat hy ’n “gerub” genoem is en die verwysing na “Eden, die tuin van God”, kom gewis ooreen met die Bybelse inligting oor Satan die Duiwel, wat hoogmoedig geword het, verbind word met die slang in Eden en “die god van hierdie wêreld” genoem word.—1 Timotheüs 3:6; Genesis 3:1-5, 14, 15; Openbaring 12:9; 2 Korinthiërs 4:4.

Hy word in die afgrond gewerp en finaal vernietig

Toe Satan veroorsaak het dat Eva en later Adam teen God in opstand kom, het God vir die slang gesê (God het in werklikheid met Satan gepraat, aangesien ’n blote dier nie die betrokke geskille kon verstaan nie): “Stof moet jy eet al die dae van jou lewe. En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt” (Genesis 3:14, 15). Hier het God dit bekend gemaak dat Satan, wat uit God se heilige organisasie gewerp is, geen lewensonderhoudende hoop sou hê nie, maar dat hy as ’t ware ‘stof sou eet’ totdat hy sterf. Die “saad” sou hom uiteindelik in die kop vermorsel, wat ’n noodlottige wond sou beteken. Toe Christus op aarde was, het die demone hom geïdentifiseer as die Een wat hulle in die “afgrond” sou werp, ongetwyfeld ’n toestand van beperking wat in die parallelle verslag ‘pyniging’ genoem word.—Mattheüs 8:29; Lukas 8:30, 31, NW.

Openbaring se 20ste hoofstuk beskryf hoe Satan deur ’n groot engel—ongetwyfeld Jesus Christus, wat die sleutel van die afgrond het en wat die “saad” is om Satan se kop te vermorsel—gebind en vir duisend jaar in die afgrond gewerp word.—Vergelyk Openbaring 1:18.

Satan se laaste poging loop uit op permanente vernietiging. Die profesie sê dat sodra Christus se Duisendjarige Heerskappy geëindig het, hy vir “’n kort tydjie” losgelaat gaan word en dat hy opstandige persone in nog ’n aanval op God se soewereiniteit sal lei; maar hy word (saam met sy demone) in die poel van vuur en swawel, ewige vernietiging, gewerp.—Openbaring 20:1-3, 7-10; vergelyk Mattheüs 25:41.

[Prent op bladsy 29]

Satan het ’n slang gebruik om Eva te mislei

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel