Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 1/1 bl. 25-29
  • Vreugdevolle volharding in die Midde-Ooste

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vreugdevolle volharding in die Midde-Ooste
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • “Die positiewe sy”
  • “Jehovah se naam het my lewe gered”
  • “Jehovah se sorg het ons omring”
  • Noodleniging in aksie!
  • “Watter soort mense is julle?”
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 1/1 bl. 25-29

Vreugdevolle volharding in die Midde-Ooste

Hierdie aangrypende verslag kom van Jehovah se Getuies in Libanon

ONS 1990-diensjaar in Beiroet het met hewige bomaanvalle begin. Toe was daar ’n gevegstilte wat van die einde van September 1989 tot Januarie 1990 geduur het.

Gedurende daardie maande is ’n hoogtepunt van 2 659 verkondigers (in November) gerapporteer, vergeleke met 2 467 in die 1989-diensjaar. Vier-en-veertig mense is gedoop, en gemiddeld 65 het elke maand aan die hulppionierdiens deelgeneem. Vir die eerste keer is meer as 2 000 Bybelstudies gerapporteer, en ons het begin sien wat in die toekoms gedoen kan word.

Maar die oorlog in Oos-Beiroet, waar die meeste gemeentes geleë is, het weer uitgebreek en tientalle van ons broers moes na ander dele van die land vlug. Ons het dae lank niks gehoor van die gemeentes in die gebiede waar gevegte gewoed het nie, en velddiensrapporte was onvolledig. Die broers wat verstrooi is, het nietemin by die gemeentes aangesluit in die gebiede waarheen hulle gevlug het, en die huis-tot-huiswerk is landwyd met goeie resultate voortgesit. Intussen het baie van ons broers se huise afgebrand of is dit deur bomme beskadig. Een suster het haar lewe verloor.

Ons het ons vertroue in Jehovah gestel vir hulp en leiding. Moedige pioniers het aangebied om geestelike voorsieninge, sowel as kos en water, na ons broers in die beleërde gebiede te neem. Hulle liefde vir Jehovah en hulle broers het hulle selfs beweeg om dit oor paaie te waag wat vol landmyne was. ’n Goeie getuienis is gelewer toe mense sien hoe ons broers se gesinne gehelp word. Hulle het gesien wat ware liefde kan doen wanneer almal in die aanbidding van die een ware God, Jehovah, verenig is.—Johannes 13:34, 35; 15:13.

Die broers het elke nommer van ons tydskrifte gedurende die diensjaar ontvang. Soos dit reeds met Die Wagtoring die geval is, is daar met die nommer van 8 Januarie 1990 begin om die Ontwaak! in Arabies gelyktydig met die Engels uit te gee. Getuies en belangstellendes was verheug daaroor. Dit was ook opwindend om nuwe vrystellings in Arabies te sien, soos die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo? en die boeke Die Bybel—God se woord of die mens s’n? en My boek met Bybelverhale.

Hierdie geestelike gawes is beskikbaar gestel ten spyte van die feit dat talle fabrieke en ander bedrywe in Beiroet moes sluit. Die hele land se ekonomie is swak. Baie plekke het nie elektrisiteit, water of telefoondienste nie. Laat ’n paar van ons broers nou vertel hoe hulle vreugde gevind het te midde van die verwoesting wat gesaai word deur ’n oorlog wat nou al 15 jaar duur.

“Die positiewe sy”

’n Broer in Beiroet skryf: “In die eerste plek dank ek Jehovah opreg omdat hy ons ondanks al die moeilike toestande waarmee ons te kampe het in sy organisasie van ware aanbidding bewaar het. Gedurende die onlangse gebeure het ek ’n paar ondervindinge gehad wat my vreugde verskaf het, en ek beskou dit as die positiewe sy van die oorlog.

“Ons het tydens die hewige bombardement saam met van ons bure op die trap gesit, aangesien dit die veiligste plek tydens hierdie aanvalle is. Ons het heeltyd met hulle oor God se Koninkryk as die enigste oplossing vir die mens se probleme gepraat, en ons het herhaaldelik tot ons God, Jehovah, gebid. Almal het daarvan te hore gekom.

“Soms het die bomaanvalle dae lank geduur, en kon ons nie vergaderinge bywoon nie. Ek het dus Die Wagtoring saam met my gebring en dit bestudeer terwyl ek op die trap gesit het. Dit het ons bure se belangstelling gewek. Party van hulle het voorheen nie met ons gepraat nie omdat ons Getuies van Jehovah is. Maar hulle was verbaas oor die liefde wat ons broers getoon het toe ons huis deur ’n bom getref is. Nou wou hulle met ons praat. Dit het ons in staat gestel om intekeninge op die Ontwaak! by hulle te kry.

“Hierdie ondervindinge het my vasbeslote gemaak om altyd oor die waarheid te praat. Jehovah verdien ons uitsluitlike aanbidding en al ons waardering en alle eer.”

“Jehovah se naam het my lewe gered”

’n Broer van die Ras Beiroet-gemeente sê: “Ek, my vrou en ons twee seuntjies het ons dag in die huis-tot-huisbediening in die westelike deel van Beiroet begin. Die middag het ons ’n vergadering in Engels by ons huis gehad. Teen 6:30 nm. was dit donker. Daar was net gewapende mans op straat. Dit het bomme gereën. Die meeste inwoners van ons gebou het gevlug. Daar was nie water of elektrisiteit nie. Toe hoor ons ’n klop aan die deur.

“My vrou het gedink dat dit een van ons bure is wat water of brood wou hê en het die deur oopgemaak. Daar het vier gewapende mans gestaan. Hulle het hulle gewere op my vrou gerig en gevra waar ek is. Daardie week is nege mans so uit hulle huis geneem en onmiddellik doodgemaak. Toe die gewapende mans my sien, het hulle hulle outomatiese wapens na my kop gemik en my beveel om saam met hulle te gaan. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek sal saam met julle gaan. Maar laat ek my net eers aantrek.’ Ek het met my hele hart tot Jehovah gebid en sy hulp gevra. Na ek klaar gebid het, het ek baie kalm gevoel en was hierdie gewapende en vreeswekkende mans vir my soos gewone mense. Ek kon vreesloos met hulle praat.

“Ek het hulle gevra: ‘Wat wil julle van my hê? Kom ons gesels ’n bietjie in die huis voordat ons gaan.’ In die sitkamer het die leier my gevra: ‘Watter reg het jy om in huise in te gaan en vir mense te preek?’ Ek het geantwoord: ‘Jy dra ’n geweer om jou wil op ander af te dwing, en niemand staan in jou pad nie. Ek dra die goeie nuus van vrede wat Jesus ons beveel het om te preek.’ Daarna het ek aan hulle verduidelik wat Jehovah se Getuies glo en doen. Toe ek die naam Jehovah noem, het hulle gesê: ‘Ons sal jou maar hier ondervra. Dit is nie nodig om jou saam met ons te neem nie.’ Een van hulle het blykbaar ’n broer geken. Hy het gesê: ‘Hy is soos Jarjoura.’

“Ons het anderhalf uur vir daardie gewapende mans gepreek en hulle vrae beantwoord. Toe, pleks van my in die bagasiebak van hulle motor weg te neem soos hulle met die ander gedoen het, het hulle my om verskoning gevra, gesoen en hulle hulp aangebied wanneer ek dit ook al sou nodig hê, en toe gegaan. Ek het die hele tyd gevoel hoe Jehovah my beskerm. Die feit dat ek daardie oggend aan die huis-tot-huiswerk deelgeneem het en die middag ’n vergadering bygewoon het, het my die krag gegee om standvastig te bly. Jehovah se naam het waarlik my lewe gered.”—Spreuke 18:10.

“Jehovah se sorg het ons omring”

Nog ’n broer uit Beiroet skryf: “Dit was Woensdag, die 31ste Januarie 1990. Terwyl ek saam met my broer by ’n suster se huis gewerk het, het die gevegte weer begin. Oral het bomme ontplof. Ons kon vanweë die hewige gevegte nie huis toe gaan nie. Die suster was baie gasvry hoewel sy net ’n paar stukkies brood gehad het.

“Ek was baie bekommerd oor my vrou omdat sy Filippyns is en nie aan die geweld van oorlog gewoond is nie. Maar die tweede dag kon ek huis toe gaan. Hope meubels het die strate versper, maar danksy Jehovah was my gesin veilig. Na ’n kort gevegstilte het die hewige bomaanvalle weer begin. Ons het in ’n broer se huis naby ons s’n geskuil. Daar was vyf van ons—ek, my vrou, my tweejarige seuntjie, my broer en sy vrou. Oral om ons het bomme, granate en vuurpyle ontplof, maar Jehovah se sorg het ons omring. Twee dae van hewige bomaanvalle het verbygegaan terwyl ons op die grond gelê het met die rook van die bomme in ons neusgate.

“Terwyl ons na die ontploffings geluister het, het ons aan Dawid se woorde in Psalm 18:2-10, 17-23, 30, 31 gedink. Gedurende daardie benoude oomblikke, en ten spyte van alles wat gebeur het, was ons gelukkig en kon ons steeds glimlag. Ons het Jehovah in gebed gevra om ons maklik, sonder lyding, te laat sterf indien ons sou sterf. Ons hoop op die opstanding was sterk.

“Die volgende dag was ongelooflik. Ongeveer 25 bomme het naby die huis geval waar ons weggekruip het, maar nie een van ons is beseer nie. Kan jy jou voorstel hoe ons gevoel het toe ons besef het dat Jehovah ons beskerm? Ons het die volgende oggend daar en dan besluit om te vlug. My motor was die enigste op straat wat nie uitgebrand het nie. Ek het tussen die landmyne en bomme deur gery, en danksy Jehovah kon ons vlug na ’n gebied wat ’n bietjie kalmer as ons s’n was. Daar het ons broers ons liefderyk van klere, kos en geld voorsien.

“Ons was ondanks al die ontberinge gelukkig omdat Jehovah met ons was. Dit was byna asof hy sy engele gestuur het om die bomme van ons af weg te hou (Psalm 34:8). Ja, ons vreugde was groot. Maar ons vreugde sal groter wees nadat ons Armageddon oorleef het.”

Noodleniging in aksie!

Party gebiede in Beiroet het gelyk asof ’n aardbewing hulle getref het. Baie van ons broers se huise is beskadig of vernietig. Toe die onlangse krisis ontstaan het, het die Takkomitee ’n noodlenigingskomitee gestig om in die broers se behoeftes te voorsien. Dit het op 16 Februarie 1990 in werking getree, ongeveer die tyd toe ons eindelik in die geteisterde gebiede kon ingaan. Hierdie komitee het ’n drievoudige doel gehad: om die broers geestelik aan te moedig; om hulle van geld, kos en water te voorsien en om hulle te help om hulle huise te herstel of te herbou.

Dit was nie nodig om vir vrywilligerwerkers te vra nie. Talle het daagliks vroegoggend opgedaag om te help. Hier is ’n paar kommentare van diegene wat hulp ontvang het:

Toe een suster se huis skoongemaak en herstel is, het sy gesê: “Ek het al gehoor hoe die broers help wanneer daar ’n ramp is. Nou sien en ondervind ek dit.” Selfs hierdie suster se buurvrou, ’n Moslem, het vir haar gesê: “Julle het mekaar waarlik lief. Julle het die regte geloof. Ek gaan nou na my dorpie vlug en almal vertel wat julle hier doen.” Hierdie buurvrou het vir die vrywilligerwerkers kos gebring.

’n Bejaarde suster het gesê: “Ek het verwag dat julle my sal kom besoek, maar ek het nie verwag dat die Genootskap iemand sou stuur om vir my water te bring nie.” Sy het gehuil toe sy die broer gesoen het wat haar kom help het.

’n Gesin van drie—’n man en vrou wat ongedoopte verkondigers was en hulle seuntjie—is besoek en ’n groot karton melk, brood, drinkwater en geld gegee. Toe hulle meegedeel is dat Jehovah se Getuies die reëlings hiervoor getref het, het die man gesê: “Ek was 11 jaar lank in die Evangeliese Kerk en ek was baie bedrywig. Maar hulle het in hierdie 15 jaar van oorlog in Libanon nie een keer daaraan gedink om so iets vir hulle lede te doen nie.” Hy het voorts gesê: “Dit is waarlik God se enigste organisasie.” Die man en vrou is in Mei 1990 by ’n byeenkoms gedoop.

Een ouere man het gesê: “Ons kan ons dank vir die liefdewerk wat julle vir die geteisterde broers gedoen het nie in woorde uitdruk nie. Dit het my so getref toe ek gesien het hoe ’n groep jong broers, vrywilligers, my ouers se huis herbou dat ek gehuil het. Selfs ons bure wat nie Getuies is nie, het hulle waardering uitgespreek. Ons is werklik dankbaar teenoor Jehovah en sy organisasie vir die praktiese hulp wat verleen is. Hoe waar is die psalmis se woorde in Psalm 144:15: ‘Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is (NW).’”

“Watter soort mense is julle?”

’n Suster met ’n gesin het geskryf: “Ek wil graag my innige waardering vir die liefde van Jehovah en sy organisasie uitspreek. My huis is deur baie granate getref en het gebrand. Baie het vir ons gesê dat dit nie herstel sou kon word nie. Maar hier staan dit ten volle herstel, tussen die honderde huise in ons straat wat afgebrand of vernietig is, asof dit niks oorgekom het nie.

“Selfs ons bure, wat nie Getuies van Jehovah is nie, vra: ‘Waar kom hierdie liefde vandaan? Watter soort mense is julle? Wie is hierdie mense wat so ywerig werk en wat so stil en goedgemanierd is? Geseënd is die God wat julle hierdie liefde en selfopofferende gees gegee het.’ Hoe gepas is die woorde van Psalm 84:11, 12: ‘Want Jehovah God is ’n son en ’n skild; guns en heerlikheid gee hy. Jehovah sal niks goeds onthou aan die wat onberispelik wandel nie. O Jehovah van die leërskare, gelukkig is die mens wat op u vertrou!’” (NW).

’n Man wie se vrou en kinders Getuies van Jehovah is, het geskryf: “Ek wil julle graag bedank dat julle ons huis herstel het. Julle werk het ’n opregte Christelike liefde getoon wat deesdae baie skaars is. Mag God julle pogings seën.”

Na een ouere man se huis herstel is, het hy gesê: “Woorde kan nie beskryf hoe ons in ons hart voel nie. Ons het nie woorde om ons waardering vir Jehovah en sy organisasie uit te druk nie. Ons het Jehovah se nabyheid in ons ellende gevoel. Julle liefde het my hele gesin aangespoor om ander wat hulp nodig het, by te staan.”

Gedurende April het 194 mense in Libanon aan die hulppionierdiens deelgeneem. Die aand van die Gedenkmaal was kalmer as ander aande, en 5 034 het die Gedenkmaal bygewoon. Al die beplande byeenkomste is gehou, en daar is ten spyte van die chaos in die land altesaam 121 mense gedoop. Talle gesinne in die gemeentes het die land vir goed verlaat. Maar nuwe belangstellendes bekwaam hulle vir doop, en die 2 726 Koninkryksverkondigers neem steeds toe. Jehovah se volk in Libanon het almal gedurende die 1990-diensjaar Jehovah se getrouheid ondervind terwyl hy goed vir ons gesorg en ons deur ontstuimige tye gelei het.—Psalm 33:4, 5; 34:2-6.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel