Insig in die nuus
Verbied om te trou
Seksuele wangedrag onder die geestelikes, wat deur een Lutherse biskop beskryf is as ’n “probleem wat geslagte lank versteek is”, het ‘uit die kas gekom’. Maar die Los Angeles Times berig dat dit vergesel is van “openbare onthullings wat verleentheid veroorsaak het en duur hofsake wat etlike kerke tot bankrotskap gedwing het”. Volgens die Times sê versekeringsagente dat meer as 2 000 sake van geslagswandade waarby geestelikes betrokke is verhoorafwagtend is.
Dit is ook noemenswaardig dat sommige van die berugste oortreders na bewering Rooms-Katolieke geestelikes is. A. W. Richard Sipe, ’n psigoterapeut en voormalige Benediktynemonnik, het onderhoude met 1 000 priesters en 500 ander mans en vroue gevoer. Baie van die mans en vroue beweer dat hulle geslagsverkeer met geestelikes gehad het. Die tydskrif Time berig dat ongeveer die helfte van die 53 000 Rooms-Katolieke priesters in die Verenigde State na sy mening hulle selibaatsgelofte verbreek het. Sipe sê dat ongeveer 28 persent van alle priesters voortgesette verhoudings met vroue het, terwyl 10 tot 13 persent seksuele verhoudings met volwasse mans het, en 6 persent geslagsgemeenskap met kinders, gewoonlik seuns, verkies. Meer as 100 skikkings vir wangedrag deur geestelikes in die afgelope ses jaar het Katolieke owerhede tussen 260 miljoen en 780 miljoen rand gekos.
Baie mense dink dat die meeste van hierdie probleme uitgeskakel sal word as priesters toegelaat word om te trou. Sommige sal dalk geskok wees om te verneem dat Christenbedienaars van God nêrens in die Bybel verbied word om te trou nie. Die Katolieke Kerk verbied priesters egter sedert die 12de eeu om te trou. Interessant genoeg, toe Paulus gepraat het van die groot afvalligheid van ware aanbidding wat na die dood van die apostels sou intree, het hy geskryf dat “sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars . . . wat verbied om te trou”.—1 Timotheüs 4:1-3.
Waarom soveel geweld?
Kanada was geskok en met afgryse vervul deur die nuus dat 25-jarige Marc Lepine massamoord op die kampus van die Universiteit van Montreal gepleeg het. Hy het 14 vroulike ingenieurstudente koelbloedig doodgemaak, en 13 ander studente, waaronder 4 mans, gewond voor hy homself geskiet het. Dit was een van die ergste slagtings in die nasie se geskiedenis. Die eerste minister het die sinnelose moorde beskryf as “’n menslike tragedie van enorme afmetings”.
Volgens The Toronto Star “was daar sedert die Tweede Wêreldoorlog meer as 100 massamoordenaars [in die Verenigde State] en die meeste van hulle het in die afgelope twee dekades op die toneel verskyn”. Maar soos die vader van een van Lepine se slagoffers bedroef gevra het: “Waarom is daar soveel geweld in die wêreld? Waarom doen mense sulke dinge aan mekaar?”
Die Bybel se verduideliking vir die toename in geweld in ons tyd is eenvoudig. Die apostel Johannes het geskryf: ‘Die hele wêreld lê in die mag van die Bose’ (1 Johannes 5:19). ’n Slegte gees wat by Satan, “die Bose”, ontstaan en wat vergelyk kan word met die lug wat ons inasem, beheers die denke, begeertes en selfs die dade van die meeste mense. Met sy gees van opstand, selfsug en trots ‘verlei hy die hele wêreld’ (Openbaring 12:9). Ware aanbidders van God word egter vertroos omdat hulle weet “die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig”.—1 Johannes 2:17.
Waar is “die stad van Dawid”?
As jy Jerusalem besoek en jy vra iemand om jou te beduie waar die berg Sion is, sal jy heel waarskynlik na ’n rant, of heuwel, aan die suidekant van die Ou Stad gestuur word. Die Kerk van die Ontslaping, met sy keëlvormige koepel, staan op hierdie heuwel, wat wes van die Tyropoeonvallei en oos van die Hinnomvallei geleë is.
Kaarte en prente wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee word, toon die berg Sion egter op ’n kleiner heuwel oos van wat vandag as die berg Sion bekend staan. Hierdie heuwel word aan die westekant deur die Tyropoeonvallei van die ander heuwel geskei, en die Kidronvallei lê aan die oostekant.
Watter van hierdie twee plekke is die terrein van die oorspronklike berg Sion? Die tydskrif Biblical Archaeology Review (Mei/Junie 1990) stem saam dat “die oostelike rant, of heuwel, die oorspronklike berg Sion was, . . . wat deur koning Dawid van die Jebusiete verower is”. Na sy val het hierdie Jebusitiese vesting begin bekend staan as “die stad van Dawid”, wat ook “Sion” genoem word (2 Samuel 5:7). Die Biblical Archaeology Review sê dat “argeoloë sonder twyfel vasgestel het dat hierdie smal uitloper”, wat dikwels die oostelike heuwel genoem word, die Bybelse berg Sion is waar Dawid die administratiewe en godsdienstige hoofkwartier vir die nasie Israel opgerig het.—2 Samuel 6:11, 12, 17.