Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 12/15 bl. 10-15
  • “Laat elkeen wat dit hoor, sê: ‘Kom!’”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Laat elkeen wat dit hoor, sê: ‘Kom!’”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die water van die lewe word nodig
  • Bruidsklas rig die uitnodiging om te “kom!”
  • Die gees en die bruid sê: “Kom!”
  • Ander skape sê ook: “Kom!”
  • Voeg nou jou stem by die uitnodiging
  • “Die gees en die bruid hou aan om te sê: ‘Kom!’”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Wees bly oor die huwelik van die Lam!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Water wat opborrel om die ewige lewe te gee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • “Laat hom wat hoor, sê: Kom!”
    Ons Koninkryksbediening—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 12/15 bl. 10-15

“Laat elkeen wat dit hoor, sê: ‘Kom!’”

Dwarsdeur aanstaande jaar sal Jehovah se Getuies in meer as 200 lande wêreldwyd hulle inspan in ooreenstemming met hulle jaarteks vir 1991: “LAAT ELKEEN WAT DIT HOOR, SÊ: ‘KOM!’”

“Die gees en die bruid bly sê: ‘Kom!’ En laat elkeen wat dit hoor, sê: ‘Kom!’ En laat elkeen wat dors het, kom; laat elkeen wat wil die water van die lewe neem, verniet.”—OPENBARING 22:17, NW.

1. Na watter “water” word ons genooi om te “kom!”?

JY WORD uitgenooi om te “kom!” Waarheen? Kom om jou dors met water te les. Dit is nie gewone water nie maar is dieselfde water waarvan Jesus Christus gepraat het toe hy vir die Samaritaanse vrou by die put gesê het: “Elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ’n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe” (Johannes 4:14). Waarvandaan het Jesus hierdie “water” gekry?

2. Wat is die bron van die “water”, en eers na watter gebeurtenis kon dit vloei?

2 Die apostel Johannes het die voorreg gehad om die bron waaruit hierdie “water” kom in ’n gesig te sien, soos hy in Openbaring 22:1 beskryf het: “Hy het my getoon ’n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam.” Ja, die bron van hierdie kristalhelder water met lewegewende elemente is niemand anders nie as die Lewegewer, Jehovah self, en hy maak dit beskikbaar deur die Lam, Jesus Christus. (Vergelyk Openbaring 21:6.) Aangesien “die troon van God en van die Lam” genoem word, moes die water van die lewe begin vloei het nà die Messiaanse Koninkryk in 1914 opgerig is, dit wil sê, nadat die dag van die Heer begin het.—Openbaring 1:10.

3, 4. Wat word deur die “water” voorgestel, en vir wie is dit beskikbaar?

3 Wat word deur hierdie water van die lewe voorgestel? Dit beeld God se voorsiening af om volmaakte menselewe, ewige lewe in volmaaktheid op ’n aarde wat in ’n paradys omgeskep is, te herstel. Die water van die lewe verteenwoordig al die voorsienings vir lewe deur Jesus Christus. Is al hierdie dinge nou beskikbaar? Nee, nie alles nie, want God moet eers die teenswoordige goddelose stelsel van dinge met sy onsigbare heerser, Satan die Duiwel, verwyder. Maar ons kan dit wat nou van hierdie “water” beskikbaar is, neem deur die goeie nuus van die Koninkryk te hoor en dit te gehoorsaam en ons lewe daarna te skik.—Johannes 3:16; Romeine 12:2.

4 Nadat Jesus die ‘rivier van die lewe’ vir Johannes gewys het, het hy gevolglik met Johannes gepraat oor die rede waarom Hy Sy engel met die visioen gestuur het. Toe hoor Johannes die verklaring: “Die gees en die bruid bly sê: ‘Kom!’ En laat elkeen wat dit hoor, sê: ‘Kom!’ En laat elkeen wat dors het, kom; laat elkeen wat wil die water van die lewe neem, verniet” (Openbaring 22:17, NW). Daarom rig knegte van God die uitnodiging aan mense wat dors het om te begin drink van God se voorsienings om die ewige lewe te kry deur die Lam van God.—Johannes 1:29.

Die water van die lewe word nodig

5. Hoe het dit gebeur dat die mens hierdie goddelike voorsiening nodig gehad het?

5 Die eerste ouers van die mensegesin het nie vasgehou aan die lewenswyse wat hulle nageslag die geleentheid sou gee om volmaakte menselewe vir ewig in ’n paradystuiste te geniet nie. Die ewige lewe vir die mensdom het vereis dat Adam die intelligente keuse doen om sy Skepper gehoorsaam te dien. Onder die invloed van ’n opstandige geesskepsel het Eva die reeks gebeurtenisse aan die gang gesit wat vir die mensdom op die dood uitgeloop het, en Adam, haar volmaakte man, het gekies om haar in daardie dodelike weg te volg. As die een wat natuurlike lewe aan toekomstige geslagte van die mensdom gegee het, was Adam dus die een wat die dood in die hele mensdom ingevoer het. Daarom sê die Bybel: “Soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het” (Romeine 5:12). Dit was na Adam en Eva in sonde verval het dat hulle begin het om nuwe lede by die mensegesin te voeg.—Psalm 51:7.

6. Waarom het Jehovah gereël dat die “water” beskikbaar sou wees?

6 Sou God vir ewig daarvan verhinder word om sy voorneme te bewerkstellig om ’n paradysaarde te hê wat met volmaakte mense gevul is? Die Bybel antwoord natuurlik: nee! Sodat Jehovah sy voorneme kon bewerkstellig, het hy nietemin ’n liefdevolle voorsiening gemaak wat Adam se rampspoedige mislukking sou teenwerk en nogtans in volle ooreenstemming sou wees met geregtigheid en regverdigheid, waarvan Hy die volmaakte en grootste toonbeeld is. Hy doen dit deur die “rivier van die water van die lewe”. Deur middel daarvan sal hy volmaakte lewe teruggee aan gehoorsame mense wie se toegang tot die Bron van die lewe verbeurd was. Hierdie rivier vloei in die volste sin gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Jesus Christus. Mense, met inbegrip van diegene wat uit die dood opgewek word, moet dus gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy van die “rivier van die water van die lewe” drink.—Vergelyk Esegiël 47:1-10; Handelinge 24:15.

7. Op grond waarvan is die voorsiening vir “water” gemaak?

7 Jehovah geniet sy eie lewe, en hy geniet dit ook om die voorreg van intelligente lewe aan sekere van sy skepsele te gee. Die grondslag vir Jehovah se lewegewende voorsienings is Jesus se soenoffer (Markus 10:45; 1 Johannes 4:9, 10). God se Woord, wat soms in die Bybel ‘water’ genoem word, is ook daarby betrokke (Efesiërs 5:26). Jehovah God het die reg om “Kom!” te sê vir menseskepsele wat die oorspronklike voorsienings verloor het wat God vir die volmaakte mensepaar, Adam en Eva, gemaak het.

Bruidsklas rig die uitnodiging om te “kom!”

8. Vir wie en wanneer is hierdie “water” vir die eerste keer voorsien?

8 Die eerste persone wat die uitnodiging rig om te “kom!” is diegene wat die figuurlike bruid van die Lam, die eersgebore geestelike Seun van Jehovah, uitmaak (Openbaring 14:1, 3, 4; 21:9). Die geestelike bruid van Christus sê nie vir haarself “Kom!” nie, dit wil sê, nie vir diegene wat Jehovah God nog as deel van die bruidsklas sou insamel om die 144 000 vol te maak nie. Daardie uitnodiging word aan mense gerig wat hoop om ná Armageddon volmaakte menselewe op aarde te verkry (Openbaring 16:14, 16). Gedurende hierdie voleinding van die stelsel van dinge sedert 1914 het ons die uitnodiging gehoor wat “die bruid” in samewerking met die heilige gees van God rig.

9. Hoe weet ons dat dit nie net vir ’n klein groepie is nie?

9 Die laaste boek van die Bybel toon op aangrypende wyse dat “’n groot menigte wat niemand kon tel nie” op die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk sou reageer en hulle ten volle aan die kant van daardie koninklike regering sou skaar (Openbaring 7:9, 10, 16, 17). Is jy onder daardie groot menigte? Indien wel, “laat almal wat dit hoor, sê: ‘Kom!’”

Die gees en die bruid sê: “Kom!”

10. Waarvandaan moet die simboliese water kom, en waarom?

10 Maar waarom word God en die figuurlike Bruidegom nie in Openbaring 22:17 genoem nie? Let eerstens daarop dat die vers nie sê onder wie se leiding die gees optree nie. Maar die feit dat daar na die gees verwys word, vestig ons aandag op Jehovah God self. Die Vader word nie uit die prentjie verwyder nie, aangesien hy die Bron van heilige gees is. Tweedens, die Seun werk heelhartig met sy Vader saam, en hy sê self: “Die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie” (Johannes 5:19). Al is hierdie uitnodiging ’n geïnspireerde uiting wat eintlik by Jehovah God ontstaan, kan mense daarbenewens goddelike leiding, of “geïnspireerde uitinge”, deur middel van Jesus Christus, “die Woord”, ontvang (Openbaring 22:6, NW; ook 22:17, voetnoot in NW-naslaanuitgawe; Johannes 1:1). Dit is dus gepas dat ons Christus, die Bruidegom, met hierdie uitnodiging assosieer. Ja, ons kan seker wees dat Jehovah God, die Vader van die Bruidegom, sowel as Jesus Christus, die Bruidegom, hulle by “die bruid” voeg en deur middel van die heilige gees sê: “Kom!”

11, 12. (a) Watter vroeë aanduiding was daar dat die uitnodiging om te drink uitgebrei sou word? (b) Hoe het die saak met die verloop van jare duideliker geword?

11 Hierdie uitnodiging om te “kom!” gaan al dekades lank uit na mense wat dors na “die water van die lewe”. In 1918 al het die bruidsklas ’n boodskap begin verkondig wat juis betrekking gehad het op diegene wat moontlik op die aarde sou lewe. Dit was die openbare toespraak met die titel “Miljoene wat nou leef, sal nooit sterf nie”. Dit het die hoop gebied dat baie mense Armageddon sal kan oorleef en daarna die ewige lewe op die Paradysaarde onder God se Messiaanse Koninkryk sal beërwe. Maar daardie boodskap het nie gewys wat die weg tot hierdie oorlewingsvoorreg is nie, buiten deur regverdigheid in die algemeen.

12 Sodat meer mense met die uitnodiging “Kom!”, bereik kon word, is die volgende boodskap in 1922 oorgedra aan almal wat daarin belanggestel het om God te dien: “Adverteer die Koning en sy Koninkryk.” In 1923 het die bruidsklas verstaan dat “die skape” en “die bokke” van Jesus se gelykenis in Mattheüs 25:31-46 voor Armageddon sal verskyn. Toe, in 1929, het The Watch Tower van 15 Maart die artikel “Genadige uitnodiging” bevat. Die temateks was Openbaring 22:17, en dit het die verantwoordelikheid van die bruidsklas beklemtoon om die uitnodiging “Kom!” bekend te maak.—Bladsye 87-9.a

Ander skape sê ook: “Kom!”

13, 14. Hoe het dit in die dertigerjare nog duideliker geword dat andere ook van die simboliese water sou drink?

13 The Watchtower het daarbenewens in 1932 al gewys op die “ander skape” se verantwoordelikheid om ook die uitnodiging “Kom!” te rig (Johannes 10:16). Die nommer van 1 Augustus, bladsy 232, paragraaf 29, het gesê: “Jehovah se getuies toon nou ywer soos dié van Jehu, en hulle moet die Jonadab-klas [ander skape] aanspoor om saam met hulle te kom en deel te neem daaraan om aan ander te verkondig dat die koninkryk van God ophande is.” Die paragraaf het Openbaring 22:17 aangehaal en voorts gesê: “Laat die gesalfdes almal wat wil, aanspoor om die goeie nuus van die koninkryk te verkondig. Hulle hoef nie van die gesalfdes van die Heer te wees om die Heer se boodskap te verkondig nie. Dit is baie gerusstellend vir Jehovah se getuies om nou te weet dat hulle toegelaat word om die water van die lewe te gee aan ’n klas wat deur Armageddon bewaar kan word en die ewige lewe op aarde gegee kan word weens die oorvloedige goedheid van Jehovah.”b

14 Sedert 1934 het die gesalfde oorblyfsel getoon dat hierdie ander skape hulle nou aan God moet toewy en hierdie toewyding deur waterdoop moet simboliseer en dan saam met die bruidsklas vir ander wat dors het, moet sê: “Kom!” Die bruidsklas het dus nou ’n definitiewe uitnodiging gerig om daardie dorstige ander skape ook in die “een kudde” onder die “een herder”, Jesus Christus, te versamel (Johannes 10:16). In 1935 was die gesalfde oorblyfsel bly om by hulle algemene byeenkoms te hoor dat die skaapgeaarde klas mense vir wie hulle “Kom!” gesê het in werklikheid die “groot menigte” van Openbaring 7:9-17 is. Dit het die uitnodigingswerk groot momentum gegee.

15. Hoe was “die gees” by die uitnodiging “Kom!” betrokke?

15 Die bruidsklas was in harmonie met God se gees toe hulle “Kom!” gesê het. God het die oorblyfsel van die bruidsklas die uitnodiging laat rig deur middel van sy gees waardeur hy die betekenis van die profesieë in sy geskrewe Woord bekend gemaak het. Hierdie profesieë waarop hulle uitnodiging gebaseer was, is deur die gees van God geïnspireer. Dit was dus in werklikheid God se gees wat deur Christus en sy bruid vloei wat vir die groot menigte skaapgeaardes gesê het: “Kom!”—Openbaring 19:10.

16. Hoe is die gees en die bruid vandag by die uitnodiging betrokke?

16 Die gees en die bruid, wat deur die oorblyfsel verteenwoordig word, sê tot vandag toe: “Kom!” Die oorblyfsel sê hierdie ander skape aan om nog ander te nooi om te “kom!” Hulle moet nie “die water van die lewe”, soos dit vandag beskikbaar is, vir hulleself hou nie. Hulle moet die bevel van “die gees en die bruid” gehoorsaam, naamlik: “Laat elkeen wat dit hoor, sê: ‘Kom!’” Almal wat hulle eie dors les, moet die uitnodiging bekend maak. Hulle moet dit aan almal rig, sonder inagneming van ras, nasionaliteit, taal of huidige godsdiens—met ander woorde, vir almal, oral! Jehovah se Getuies nooi en help alle mense om kosteloos te drink van wat deesdae van “die water van die lewe” beskikbaar is!

17. Watter soort “water” is vandag beskikbaar?

17 Oor die hele aarde heen word die groot menigte inderdaad deur die Lam, Jesus Christus, “na lewende waterfonteine” gelei (Openbaring 7:17). Hierdie fonteine is nie besoedelde water nie, maar is helder, koel, gesonde water uit die Bron. Hierdie simboliese water beteken meer as water in die sin van ’n begrip van Bybelwaarheid; dit beteken al God se voorsienings deur Jesus Christus wat selfs nou al begin om die groot menigte in die posisie te plaas om ewige, volmaakte lewe in geluk te beërwe.

Voeg nou jou stem by die uitnodiging

18. Hoe uitgebrei is die uitnodiging in ons tyd?

18 Hierdie groot menigte tel reeds etlike miljoene. Hulle verkondig die goeie nuus van die Koninkryk steeds ywerig in die hele bewoonde aarde. Hulle rapporteer gereeld hulle velddiensbedrywigheid in die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk, wat nou in 212 lande plaasvind. Na gelang van die tyd wat nog oor is voor die einde van hierdie stelsel van dinge, sal die uitnodiging steeds in ooreenstemming met die geduld en lankmoedigheid van Jehovah God, die Groot Tydhouer, gerig word. Hy sal weet wanneer die tyd verstryk het en wanneer dit die regte oomblik is om homself aan almal bekend te maak as Jehovah, soos hy herhaaldelik belowe het in Bybelprofesieë.—Esegiël 36:23; 38:21-23; 39:7.

19. Waarom kan ons sê dat hierdie “water” kosteloos aangebied word?

19 Mense wat deel uitmaak van die groot menigte neem dus terwyl daar nog tyd is vreugdevol saam met die oorblyfsel van die bruidsklas daaraan deel om te sê: ‘Kom en neem van die water van die lewe, verniet!’ Die verkondigers van hierdie lewensreddende goeie nuus verkondig dit nou vryelik en vra nie geld vir die diens wat hulle lewer terwyl hulle die Koninkryksboodskap dwarsdeur die wêreld versprei nie.

20. Wat sal die resultaat wees van die beskikbaarheid van hierdie “water”?

20 Die water van die lewe is nou reg rondom die aarde beskikbaar, sodat mense soveel daarvan kan neem as wat hulle wil, met lewensreddende resultate. Die versoende mensdom sal eindelose lewe geniet, hier op die aarde, wat in ’n paradys omgeskep sal word, tot eer van die wonderlike voorneme van Jehovah. Ons Skepper het die aarde nie verniet gemaak nie, maar hy het dit gemaak om ’n wêreldomvattende tuin van Eden, of Paradys van genot, te wees wat deur volmaakte menseskepsele, wat in God se beeld geskep is, bewoon word.

21. Hoe sal God se voorneme vir die aarde verwesenlik word?

21 Dit sal beslis ’n onbeskryflike groot voorreg en vreugde wees om in so ’n nuwe wêreld te lewe! Dan sal die opdrag wat God aan die eerste mensepaar in Genesis 1:27, 28 gegee het ten volle vervul word. Danksy Jehovah se meesterlike hantering van die ramp wat die mensegesin getref het, sal die aarde onderwerp word sodat dit ’n paradys sal wees wat met ’n volmaakte mensegeslag gevul is. Ja, God sal alles sien wat hy gemaak het, en, kyk, dit gaan baie goed wees. Sal jy daar wees? Indien wel, moet jy nou met waardering vryelik van die water van die lewe begin neem. “Kom!” en les jou dors met die water van die lewe wat nou al begin vloei het en gedurende die komende Millennium voluit sal vloei. En laat almal wat hierdie wonderlike uitnodiging hoor, sê: “Kom!”

[Voetnote]

a Hierdie artikel het onder andere gesê: “Daar was nog nooit so ’n uitgebreide getuienis vir die waarheid as in die afgelope paar jaar nie. . . . Die oorblyfsel dra die blye tyding aan hulle oor, en sê vir hulle: ‘En laat hom wat wil die water van die lewe neem, verniet.’ Daar word vir hulle gesê dat hulle nou hul standpunt aan die Heer se kant, en teen die Duiwel, kan inneem en geseën kan word. Is dit nie so ’n klas mense wat nou geregtigheid en ootmoedigheid kan soek, wat in die dag van sy wraak versteek sal word, deur die groot slag van Armageddon behoue sal bly en vir ewig sal lewe en nooit sal sterwe nie? (Sef. 2:3). . . . Die getroue oorblyfselklas rig ook die genadige uitnodiging en sê: ‘Kom.’ Hierdie boodskap moet verkondig word aan diegene wat regverdigheid en waarheid begeer. Dit moet nou gedoen word.”

b The Watchtower van 15 Augustus 1934 het ook van die verantwoordelikheid van die ander skape gepraat en het op bladsy 249, paragraaf 31, gesê: “Die Jonadab-klas is diegene wat die boodskap van waarheid ‘hoor’ en vir diegene wat hulle kan hoor, moet sê: ‘Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet’ (Openb. 22:17). Diegene van die Jonadab-klas moet saam met dié van die Jehu-groep, dit wil sê, die gesalfdes, gaan en die boodskap van die koninkryk aankondig, al is hulle nie die gesalfde getuies van Jehovah nie.”

Wat is jou antwoord?

◻ Van watter “water” praat Openbaring 22:17?

◻ Wat is die bron van die “water”?

◻ Waarom is die “water” nodig, en eers wanneer kon dit begin vloei?

◻ Wat toon die verwysing na “gees” in ons teks, en hoe is “die bruid” betrokke?

◻ Wie kan van die “water” neem, en met watter gevolg?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel