Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 12/1 bl. 15-20
  • Hoe kan ons onselfsugtig op God se liefde reageer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ons onselfsugtig op God se liefde reageer?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons moet geregtigheid liefhê en ongeregtigheid haat
  • Betoon broederliefde
  • Getuig vir dié wat buite is
  • Hou aan om op God se liefde te reageer
  • Hulle het onselfsugtig op God se liefde gereageer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Word opgebou deur liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • “Hou aan om liefde te betoon”
    Kom nader aan Jehovah
  • Jy moet die God liefhê wat jou liefhet
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 12/1 bl. 15-20

Hoe kan ons onselfsugtig op God se liefde reageer?

“As God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê.”—1 JOHANNES 4:11.

1, 2. Wat is nodig as ons onselfsugtig op God se liefdeblyke wil reageer?

JEHOVAH is die verpersoonliking van liefde. In die vorige artikel het ons gesien hoe oorvloedig die blyke van sy liefde inderdaad is. Ons het ook gesien hoe Moses, Dawid en Jesus Christus onselfsugtig op daardie liefdeblyke gereageer het. Behoort elke Getuie van Jehovah nie dieselfde te wil doen nie? Beslis!

2 Wat is nodig as ons onselfsugtig op God se liefdeblyke wil reageer? Vir eers moet ons hom eerste stel in ons lewe en hom met ons hele hart, siel, verstand en krag liefhê (Markus 12:29, 30). Dit beteken dat ons God-georiënteerd moet wees en ’n hegte persoonlike verhouding met Jehovah moet hê. Is dit ons begeerte om in gebed met ons hemelse Vader te praat? Bid ons voortdurend en volhard ons in gebed? Of jaag ons deur ons gebede en is ons soms selfs te besig om te bid? (Romeine 12:12; 1 Thessalonicense 5:17). Vestig ons die aandag op Jehovah en gee ons hom en sy organisasie die eer vir wat ons volbring? (1 Korinthiërs 3:7; 4:7). Ja, voel ons soos die psalmis gevoel het? Hy het aangaande God gesê: “Ek loof u sewe maal elke dag.”—Psalm 119:164.

3. Hoe kan ons toon dat ons onselfsugtig op God se liefde reageer wanneer ons gesellig verkeer?

3 Of ons onselfsugtig op God se liefde reageer of nie sal heel moontlik aan die lig kom wanneer ons bymekaarkom om gesellig te verkeer. Gaan ons gesprekke dan oor sekulêre aangeleenthede of geestelike dinge? Ons hoef nie elke keer as ons met mede-Christene bymekaarkom ’n ernstige Bybelstudie te hê nie. Maar ons kan tog seker aan interessante dinge van ’n geestelike aard dink om in ons gesprekke in te sluit. Ons kan velddiensondervindinge vertel, ons geliefkoosde Bybelteks bespreek, vertel hoe ons die waarheid geleer het of bewyse van God se liefdevolle sorg en seën meld.

4. Hoe moet ons sake beskou as ons nie die een of ander diensvoorreg ontvang nie?

4 ’n Ander omstandigheid wat kan toon in watter mate ons God se liefde waardeer is wanneer ons oor die hoof gesien word met betrekking tot ’n diensvoorreg in Jehovah se organisasie. Hoe reageer ons? As ons hoofsaaklik daarin belangstel om Jehovah te eer, sal ons saamstem dat God heel waarskynlik net so goed vereer sal word deur wie ook al die spesifieke diensvoorreg geniet. (Vergelyk Lukas 9:48.) Maar as ons uitermate besorg is oor ons eie voordeel of naam sal ons ontsteld wees omdat ons moontlik sal dink dat ons oor die hoof gesien is. Ons moet onthou dat Jehovah ons liefhet en dat hy moontlik selfs weet dat ons nie tans die gewig van ’n sekere teokratiese verantwoordelikheid sal kan dra nie. Hy seën ons dalk ryklik op ander maniere en sulke blyke van sy liefde moet ons help om ons geestelike balans te handhaaf.—Spreuke 10:22.

Ons moet geregtigheid liefhê en ongeregtigheid haat

5. Watter uitwerking moet blyke van God se liefde op ons gedrag hê?

5 Blyke van God se liefde teenoor ons moet ons beweeg om Christus na te boots deur geregtigheid lief te hê en ongeregtigheid te haat (Hebreërs 1:9). Ons kan dit weliswaar nie volmaak doen soos Jesus dit gedoen het nie. Maar ons kan dit ons doelwit maak om so heilig, eerlik en wetsgehoorsaam moontlik in ons onvolmaakte toestand te wees. Om dit te doen, moet ons nie net liefde vir regverdige en goeie dinge aankweek nie, maar ook ’n haat vir, ’n afkeer van, ’n walging in, wat sleg is. Soos die apostel Paulus dit uitgedruk het: “Verafsku wat sleg is; hang die goeie aan” (Romeine 12:9). “Verafsku” is ’n baie sterk woord, wat beteken “sterk verag, weersin hê”.—Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal.

6. Wat sal ons help om te waak teen die versoekinge wat die wêreld, ons sondige vlees en die Duiwel in ons weg plaas?

6 Wat sal ons help om te waak teen versoekinge waarvoor ons te staan kom weens die wêreld, ons eie sondige vlees en die Duiwel? Lojaliteit teenoor Jehovah God. Hy doen ’n beroep op ons: “Wees wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee” (Spreuke 27:11). Ja, lojaliteit teenoor Jehovah sal ons beweeg om die verstandige weg in te slaan en die dinge te haat wat bnnhy haat. Boonop moet ons ons voortdurend daaraan herinner dat dit eenvoudig nie die moeite werd is om een van God se wette te oortree nie, ongeag hoe aangenaam of opwindend dit ook al is (Galasiërs 6:7, 8). Die mensehart is verraderlik, slinks, bedrieglik, soos Jeremia 17:9 ons herinner. Die Christen se hart hou van goeie, mooi, rein dinge. Maar soms beweeg sondige neigings dit om ook slegte dinge te begeer. Ons eie hart kan selfsugtig en bedrieglik wees, soos die harte van die Israeliete wat Jehovah aanbid het en tog hulle afgodiese “hoogtes” behou het (1 Konings 22:44; Deuteronomium 12:2). Ons onvolmaakte hart kan verskonings soek om ons in die versoeking te lei. Dit kan probeer om die erns van die sonde waarmee ons versoek word te verklein. Of ons hart kan ons probeer oortuig dat enige straf bloot tydelik sal wees.

7. Waarom moet ons waak teen ’n begeerte na wat sleg is?

7 Uit waardering vir God se liefde moet ons waak teen ’n begeerte na wat sleg is, soos om tot geslagsonsedelikheid te neig, hetsy ons getroud of ongetroud is. Wat aanvanklik ’n oënskynlik onskuldige flirtasie is, het al keer op keer daartoe gelei dat twee Christene so emosioneel betrokke geraak het by mekaar dat hulle sonde gedoen het en uitgesit is. Selfs ouere manne, wat onberispelike voorbeelde vir die kudde moet wees, het al skipbreuk gely wat hierdie sake betref!—Vergelyk 1 Konings 15:4, 5.

8. Watter waarskuwende voorbeeld gee die apostel Paulus ons, en hoe kan so ’n probleem toegelig word?

8 Beskou die apostel Paulus, wat geseën is met bonatuurlike visioene en magte en met die gawe van goddelike inspirasie. Hy moes sy liggaam kasty—ja, hard slaan—om te slaag in sy stryd teen sondige neigings. Durf ons tevrede wees as ons enigsins minder doen? (Romeine 7:15-25; 1 Korinthiërs 9:27). Dit is asof ons in ’n klein roeibootjie in ’n vinnig vloeiende rivier is en na die waterval getrek word. Om ’n ramp af te weer, moet ons kragtig teen die sterk stroom roei. Dit lyk dalk nie of ons veel vordering maak nie, maar terwyl ons ons kragtig inspan, sal ons nie oor die waterval na ons vernietiging stort nie. Blyke van Jehovah God se liefde teenoor ons moet ons sekerlik beweeg om ons kragtig in te span om lojaal teenoor hom te wees deur ongeregtigheid te haat en geregtigheid lief te hê.

Betoon broederliefde

9. Watter raad gee die apostel Paulus oor liefde vir ons broers?

9 Die blyke van God se liefde moet ons ook beweeg om ons broers lief te hê soos Jesus Christus sy dissipels liefhet (Johannes 13:1). Die apostel Johannes se woorde is uiters gepas: “Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ’n versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê” (1 Johannes 4:10, 11). Trouens, Jesus het gesê dat sy ware volgelinge geïdentifiseer kan word deur die liefde wat hulle onder mekaar het.—Johannes 13:34, 35.

10, 11. Wat is sommige maniere waarop ons broederliefde kan betoon?

10 Ons weet dat Christene broederliefde moet betoon. Maar dit is nie onvanpas om ons te herinner aan die verskillende maniere waarop ons hierdie Christelike liefde teenoor mekaar kan betoon nie. Sulke liefde sal ons help om verskille ten opsigte van ras, nasionaliteit, opvoeding, kultuur en ekonomiese status te ignoreer. Boonop sal broederliefde ons help om vir vergaderinge byeen te kom. As ons ons broers waarlik liefhet, sal ons nie toelaat dat gure weer of ’n geringe fisiese ongesteldheid ons van die vreugde van omgang met hulle beroof nie of ons daarvan weerhou om in wedersydse bemoediging met hulle te deel nie (Romeine 1:11, 12). Bowendien sal broederliefde ons beweeg om goed vir ons vergaderinge voor te berei en daadwerklik daaraan deel te neem sodat ons mekaar tot liefde en goeie werke kan aanspoor.—Hebreërs 10:23-25.

11 Wat daarvan om ons broers in die veldbediening te help? Daar is gemerk dat ouere manne en bedieningsknegte dikwels met mekaar of alleen aan die huis-tot-huisbediening deelneem terwyl hulle met ’n bietjie beplanning Koninkryksverkondigers wat hulp in die bediening nodig het, kan nooi om hulle te vergesel. Die betoning van liefde op hierdie manier sal die velddiens van ouere manne en bedieningsknegte twee maal so lonend maak. En neem gerus ’n nuwe verkondiger saam op ’n tuisbybelstudie.—Romeine 15:1, 2.

12. Hoe moet ons 1 Johannes 3:16-18 verstaan?

12 Liefde sal ons ook beweeg om broers te help wat waarlik ’n materiële behoefte het. Die apostel Johannes het geskryf: “Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê. Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom? My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid” (1 Johannes 3:16-18). Ons sal moontlik nie nou gevra word om ons lewe vir hulle af te lê nie, maar soms het ons geleenthede om op ander maniere liefde teenoor hulle te betoon, nie bloot met woorde of met die tong nie, maar ook met dade. Daar is niks daarmee verkeerd om ons broers met woorde lief te hê nie, maar ons wil nie ons liefde tot woorde beperk wanneer hulle materiële dinge nodig het nie. Jesus se verklaring: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang”, geld ook vir die voorsiening van materiële hulp.—Handelinge 20:35.

13. (a) Wat is sommige van die basiese waarhede wat ons met die hulp van Jehovah se sigbare organisasie geleer het? (b) Watter geldige punt het Charles Taze Russell gestel?

13 Ons het die geleentheid om liefde te betoon teenoor ons broers wat die leiding in die gemeente of in verband met Jehovah se sigbare wêreldwye organisasie neem. Dit sluit in dat ons lojaal moet wees teenoor “die getroue en verstandige dienskneg” (Mattheüs 24:45-47). Laat ons die feit onder die oë sien dat ons, ongeag hoeveel ons die Bybel gelees het, nooit op eie houtjie die waarheid sou geleer het nie. Ons sou nie die waarheid ontdek het aangaande Jehovah, sy voornemens en eienskappe, die betekenis en belangrikheid van sy naam, die Koninkryk, Jesus se losprys, die verskil tussen God se organisasie en Satan s’n of waarom God goddeloosheid toegelaat het nie. Dit is net soos die Wagtoringgenootskap se eerste president, Charles Taze Russell, in 1914 geskryf het: “Is ons nie ’n geseënde, gelukkige volk nie? Is ons God nie getrou nie? As enigiemand iets beters ken, laat hom dit neem. As enigeen van julle ooit iets beters vind, hoop ons jy sal ons daarvan vertel. Ons weet van niks beters of die helfte so goed as die dinge wat ons in die Woord van God gevind het nie. . . . Geen tong of pen kan vertel watter vrede, watter vreugde en seën ’n duidelike kennis van die ware God in ons hart en lewe gebring het nie. Die Verhaal van God se Wysheid, Geregtigheid, Krag en Liefde voorsien ten volle in die behoeftes van sowel ons verstand as ons hart. Ons soek nie verder nie. Daar is niks begeerlikers as om hierdie wonderlike Verhaal duideliker in ons gedagte te kry nie” (The Watch Tower, 15 Desember 1914, bladsye 377-8). Hoe waar is daardie goed geskrewe woorde tog nie!

Getuig vir dié wat buite is

14. Hoe moet God se liefdeblyke ons laat optree teenoor dié wat buite is?

14 Die blyke van God se liefde wat ons geniet het, moet ons beweeg om naasteliefde aan diegene buite die gemeente te betoon. Hoe kan ons dit doen? Omstandighede kan daarop dui dat ons ons naaste op ’n materiële wyse kan help. Maar wat baie belangriker is, is dat ons naasteliefde kan betoon deur ander van die goeie nuus van God se Koninkryk te vertel en dié wat regverdigheid liefhet te help om dissipels van Jesus Christus te word. Neem ons gereeld aan hierdie openbare bediening deel, of skeep ons dit af? Is dit bloot deel van ons roetine of ’n soort vormdiens? Of word ons waarlik deur naasteliefde aangedryf? Betoon ons meegevoel? Is ons geduldig, en wag ons dat mense reageer? Spoor ons huisbewoners aan om hulle mening te lug? Ja, pleks van al die praatwerk te doen, moet ons toelaat dat naasteliefde ons beweeg om te luister en lonende Bybelbesprekings te hê met mense wat ons in ons bediening teëkom.

15. (a) Waarom is “informele getuieniswerk” ’n beter term as “terloopse getuieniswerk”? (b) Waarom moet ons geleenthede benut om informeel te getuig?

15 Is ons so wakker moontlik om geleenthede te gebruik om informeel te getuig? Let daarop dat dit nie bloot terloopse getuieniswerk is, wat te kenne sou gee dat dit ’n werk is wat nie beplan is of van weinig belang is nie. Informele getuieniswerk is baie belangrik, en liefde vir ons medemens sal ons aanspoor om geleenthede te skep om daaraan deel te neem. Hoe lonend is sulke getuieniswerk tog dikwels! Byvoorbeeld, terwyl ’n broer ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies in Noord-Italië bygewoon het, het hy na ’n motorhawe gegaan om ’n koplig aan ’n motor te laat vervang. Terwyl hy gewag het, het hy vir diegene om hom getuig en vir hulle strooibiljette gegee om hulle na die openbare Bybeltoespraak Sondag uit te nooi. ’n Jaar later by ’n internasionale byeenkoms in Rome het ’n broer wat hy nie herken het nie hom hartlik gegroet. Wie was hierdie broer? Een van daardie mans vir wie hy ’n jaar tevore ’n strooibiljet by die motorhawe gegee het! Die man het na die openbare toespraak gaan luister en om ’n Bybelstudie gevra. Nou is hy en sy vrou toegewyde Getuies van Jehovah. Informele getuieniswerk kan ongetwyfeld baie lonend wees!

Hou aan om op God se liefde te reageer

16. Watter vrae kan ons ons gerus afvra?

16 Jehovah was waarlik oorvloedig in die liefde wat hy teenoor sy skepsele betoon. Soos ons gesien het, gee die Skrif ons goeie voorbeelde van mense wat onselfsugtig op God se liefdeblyke gereageer het. Die geïnspireerde psalmis het uiters gepas uitgeroep: “Laat hulle die HERE loof om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders” (Psalm 107:8, 15, 21, 31). Durf ons God se onverdiende goedheid aanvaar en die doel daarvan mis? Mag dit nooit gebeur nie! (2 Korinthiërs 6:1, NW). Laat elkeen van ons ons dus afvra: ‘Waardeer ek werklik blyke van God se liefde wat ek reeds ervaar het en vol vertroue hoop om nog in die toekoms te ervaar? Beweeg hulle my om Jehovah met my hele hart, siel, verstand en krag lief te hê? Is ek waarlik God-georiënteerd? Het ek geregtigheid lief en haat ek ongeregtigheid? Betoon ek broederliefde? En hoe getrou probeer ek in Jesus se voetstappe volg wanneer dit by my bediening kom?’

17. Wat sal die gevolg wees as ons onselfsugtig op Jehovah God se liefdeblyke reageer?

17 Daar is waarlik baie maniere om ons opregte dankbaarheid te betoon vir al die blyke van God se liefde wat ons al ervaar het. As ons geleenthede om sulke waardering te betoon ten volle benut, sal ons ons hemelse Vader se hart verbly, ’n seën vir ander wees en self vreugde, vrede en tevredenheid ervaar. Mag ons dus aanhou om onselfsugtig op God se liefdeblyke te reageer.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Wat is nodig om onselfsugtig op God se liefde te reageer?

◻ Hoe kan ons teen versoekinge waak?

◻ Wat is sommige maniere waarop ons broederliefde kan betoon?

◻ Hoe moet blyke van Jehovah se liefde ons teenoor ons naaste laat optree?

[Prent op bladsy 17]

Ons moet teen sondige neigings stry om rampspoed te vermy

[Prent op bladsy 18]

Ouere manne betoon broederliefde deur ander in die Koninkryksbediening te vergesel

[Prent op bladsy 19]

Charles Taze Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap, het die aandag gevestig op die vrede, vreugde en seën wat net God kan gee

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel