Kan die armes dit bekostig om eerlik te wees?
Amelia was slegs 29 dae oud toe haar ouma haar na die dokter gebring het. Amelia se moeder kon haar nie bring nie, want sy was self siek en moes na die ander vier kinders by die huis omsien. Die pa was iewers op soek na werk. Die dokter het die baba ondersoek. Daar was tekens van wanvoeding, nie iets ongewoons in Wes-Afrika nie. Maar die groot probleem was sellulitis. ’n Kwaai infeksie het ’n verswering in Amelia se borsie veroorsaak. Toe die dokter ’n voorskrif aan die ouma gee, het sy gevra: “Hoeveel sal hierdie medisyne kos?”
“Vier tot vyf dollar”, het hy geantwoord.
Die ouma het gekreun. Sy het nie eers twee dollar gehad om die doktersgeld te betaal nie. “Waar op aarde gaan ons soveel geld kry!” het sy uitgeroep.
“Julle sal dit iewers moet kry”, het die dokter nadruklik gesê. “Vra by julle vriende en familie. As hierdie infeksie nie behandel word nie, sal dit na die bloedstroom versprei, en die baba sal sterf.”
Amelia se gesin het daarin geslaag om die geld in die hande te kry, en die baba het haar tweede maand van lewe binnegegaan. Daar is egter miljoene in ontwikkelende lande oor die hele wêreld wat nie geld van vriende of familie kan leen nie. En die vooruitsigte vir ekonomiese verbetering is sleg.
The State of the World’s Children Report 1989 deur UNICEF (United Nations Children’s Fund) verklaar: “Na dekades van bestendige ekonomiese vooruitgang is groot dele van die wêreld besig om weer in armoede te verval.” In Afrika en Latyns-Amerika het die gemiddelde inkomste in die tagtigerjare met 10 tot 25 persent gedaal. En gedurende die afgelope paar jaar het die besteding aan gesondheidsdienste in 37 van die wêreld se armste nasies met 50 persent afgeneem.
Wat beteken dit vir die miljoene wat in armoede lewe? Dit beteken dat baie van hulle nie die nodige voedsel of medisyne kan koop nie. Gevolglik kan hulle kinders, huweliksmaats of ouers ’n nodelose doodvonnis in die gesig staar, tensy hulle hulle toevlug neem tot die enigste weg wat oënskynlik vir hulle oop is om geld in die hande te kry—deur te steel! Ja, armoede kan mense voor moeilike morele dilemmas te staan bring: diefstal of die dood? leuens of verhongering? omkopery of nooddruf?
In Wes-Afrika is daar ’n gesegde: “Waar jy die koei vasmaak, daar sal sy gras eet.” Met ander woorde, mense sal volle munt slaan uit enige situasie waardeur hulle hulle kan verryk. In lande oor die hele aarde gebruik gesaghebbendes alte dikwels hulle posisies om omkoopgeld af te pers, geld te verduister of te steel. ‘Help jouself terwyl jy kan’, is hulle argument. ‘Later het jy miskien nie ’n geleentheid om dit te doen nie.’ Namate die ekonomiese verknorsing van ontwikkelende nasies vererger, kan die nooddruftiges al hoe meer die gedagte onderskryf dat eerlikheid nie die beste beleid vir die armes is nie.
Die Bybel sê: “Jy mag nie steel nie” (Exodus 20:15). Maar werp dit dan nie twyfel op die geldigheid van die Bybel se morele beginsels as die armes dit nie werklik kan bekostig om eerlik te wees nie? Is God se wette onprakties, ontoeskietlik teenoor die werklike behoeftes van mense? Die ondervinding van duisende ware Christene in ontwikkelende lande beantwoord hierdie vrae op ’n treffende wyse.
[Lokteks op bladsy 4]
Die armes is onder diegene wat die hardste swoeg in ontwikkelende lande
[Prent op bladsy 4]
“Waar jy die koei vasmaak, daar sal sy gras eet”