God se werk op God se manier gedoen in Nigerië
DIT was ’n indrukwekkende gesig. Geweldige stapels staalbalke—bykans ’n halfmiljoen kilogram daarvan—het van die een kant tot die ander kant van die kaai in Houston, Texas, gelê. ’n Stuwadoor moes die enorme hoeveelhede vir verskeping registreer. Terwyl hy gewerk het, was hy verbaas om te sien dat alles “Wagtoring” gemerk is. Uiteindelik het hy die man in beheer van die besending genader en gevra: “Sê my, hoe groot is hierdie wagtoring nou eintlik?”
Die stuwadoor het toe gehoor dat die staal nie gebruik sou word om ’n letterlike wagtoring te bou nie. Maar dit sou verskeep word na Igieduma, Nigerië, waar dit gebruik sou word om ’n nuwe tak vir die Wagtoringgenootskap te bou—wat letterlik soos ’n stad in die hartjie van die Afrikaanse oerwoud sou wees.
Ses jaar gelede was die terrein by Igieduma hoofsaaklik onder digte bosse en rubberbome. Nou is die grond versorg en pragtig; daar is blomme, tuine en selfs ’n park met takbokke! Maar op die terrein staan ’n drukkery wat groter is as die hele perseel waarop die vorige tak in Lagos gestaan het. Binne-in die fabriek werk drie drukperse, waarvan een 17 000 tydskrifte per uur kan druk. Die woongeboue kan meer as 400 mense huisves. Die dienstegebou het ’n groot eetsaal en kombuis sowel as ’n siekeafdeling en ’n tandarts se spreekkamer. Daar is onafhanklike watervoorsiening- en rioolstelsels. ’n Rekenaarbeheerde kragsentrale wek elektrisiteit op. Daar is ’n Koninkryksaal, ’n kantoorgebou en ’n brandbestrydingsafdeling. Jy sal ook paaie en straatligte daar sien. Dit is geen wonder dat mense die Bethelkompleks by Igieduma ’n stad noem nie. En dit is heeltemal deur onbetaalde, vrywillige werkers gebou en deur vrywillige bydraes gefinansier.
Vinnige uitbreiding
Hierdie Bethel is die grootste wat daar nog in Nigerië was, maar dit is nie die eerste een nie. Die eerste een is deur broer William R. Brown geopen, wat in 1930 saam met sy vrou en dogter na Lagos verhuis het. Die paar gehuurde kamers waar hulle gewoon het, was die hoofkwartier van die Genootskap se tak in Wes-Afrika, wat destyds na die werk in Nigerië, Ghana en Sierra Leone omgesien het. Daardie dae was daar net sewe bedrywige verkondigers van die goeie nuus in Nigerië.
Bible Brown, soos hy oral bekend was, was ’n dinamiese en moedige verkondiger van die goeie nuus. Hy het nie juis daarvan gehou om lank agter ’n lessenaar te sit nie, en het die land per motor en trein deurkruis, openbare lesings gehou en geweldige hoeveelhede lektuur versprei.
Namate die kragtige Koninkryksboodskap in ontvanklike verstande en harte posgevat het, het al hoe meer mense ywerige Koninkryksverkondigers geword. Die volgende dekade was soos die tydperk in die eerste eeu in Jerusalem toe “die woord van God . . . toegeneem, en die getal van die dissipels . . . baie vermeerder” het (Handelinge 6:7). Teen 1940 het die getal bedrywige lowers van Jehovah in Nigerië die hoogte ingeskiet, van 7 tot 1 051!
Die ‘kleinste het ’n geslag geword’, maar dit was net die begin (Jesaja 60:22). In 1947 het die Genootskap drie Gilead-opgeleide sendelinge na Lagos gestuur. Een van hulle, Anthony Attwood, is steeds bedrywig in sy toewysing. Hy onthou die destydse Bethel: “Dit was ’n woonstel bo-op ’n skoenwinkel. Daar was drie slaapkamers, ’n sit- kamer/kantoor en ’n eetkamer. Broer en suster Brown en hulle gesin het twee slaapkamers gebruik, en ons drie sendelinge was ietwat beknop in die derde slaapkamer. Daar was net genoeg plek vir drie enkelbeddens en ’n muurkas.”
Die behoefte aan meer ruimte het hulle in 1948 na ’n drieverdiepinggebou laat trek. Teen daardie tyd was daar 6 825 verkondigers in Nigerië. Agt jaar later het daardie syfer verdriedubbel, en Bethel het hierdie keer na Shomolu, Lagos, getrek. Hier het die Genootskap vir die eerste keer in Nigerië sy eie Bethelhuis, ’n gebou met agt slaapkamers op ’n erf wat 0,6 hektaar groot was, opgerig. Die plaaslike owerheid het die straat Wagtoringlaan genoem. Daar het baie bome in die tuin gegroei, onder meer kokospalms sowel as sitrus-, broodvrug-, avokadopeer- en mangobome. Maar gedurende die volgende 33 jaar is geboue bygevoeg en vergroot. Teen die middel sewentigerjare het geboue feitlik die hele perseel vol gestaan. Dit was weer nodig om te trek.
Herinneringe aan die bouwerk
’n Stuk grond van 31 hektaar is eers by Otta, noord van Lagos, gevind. Maar probleme het vooruitgang bly belemmer. Uiteindelik het dit duidelik geword dat dit nie Jehovah se wil is dat ons daarheen trek nie. Toe is die soektog na grond na die suidelike deel van die land uitgebrei, en die Genootskap het in 1983 ’n stuk grond van 57 hektaar by Igieduma in die staat Bendel aangeskaf.
Gedurende die volgende ses jaar het die luislange en die kobras daarvandaan padgegee terwyl die broers en die swaar toerusting ingetrek het. Die feit dat dit baie moeilik, of amper onmoontlik, was om die meeste van die gereedskap en boumateriaal plaaslik te koop, was ’n groot uitdaging. Buitelandse hulp was nodig. ’n Span Getuies in die Verenigde State is dus gevra om die boumateriaal te vind, te koop en te verskeep. Terry Dean, die koördineerder van hierdie ontsaglike taak, vertel: “Wat die projek so moeilik gemaak het, was dat feitlik alles ingevoer moes word. Die broers in Nigerië het ons gesê dat die enigste boumateriaal wat hulle het sand, sement en water is!”
Dit was net sowel dat die basiese boumateriaal beskikbaar was, want die konstruksiewerk het 7 500 ton sement, 55 000 ton sand en 35 000 ton gruis gebruik. Daar was ook baie hout beskikbaar. Daar is nietemin, gedurende die volgende vyf jaar, 4,5 miljoen kilogram boumateriaal van die Verenigde State gestuur, genoeg om 347 goederehouers vol te maak, wat kop aan kop ’n ry van 3,5 kilometer sou vorm!
Ander takke het ook mildelik bygedra. Engeland het die hele elektriese stelsel voorsien, waaronder ses enorme ontwikkelaars om dit aan te dryf. Swede het ’n toringkraan, trekkers, ’n graafmasjien, ’n vragmotor, gereedskap, kombuistoerusting en ’n telefoonsentrale geskenk. Toe ’n ysterwarewinkel te koop aangebied is, het die Sweedse broers dit gekoop en alles daarin Nigerië toe gestuur. Omtrent die enigste ware van die winkel wat hulle nie gestuur het nie, was sneeugrawe—hulle is beslis meer werd in Swede as in Afrika!
Plaaslike Getuies het natuurlik ook na hulle vermoë bygedra. Meer as 125 000 het hulle steun vir die projek getoon deur tydens die bouwerk op die terrein te gaan help. Baie het finansieel gehelp. Een bydrae van 50 sent het van ’n seuntjie van sewe gekom. Hoe het hy die geld in die hande gekry? Sy pa het hom ’n stuk jamwortel gegee om gaar te maak en te eet; pleks daarvan het die seun dit gebêre en in die regte seisoen geplant. Later het hy sy jamwortel geoes, dit verkoop en die geld tot die Igieduma-projek bygedra.
Ander Getuies van Jehovah het hulle kundigheid bygedra, en het selfs ander geleer om die vaardighede van bouwerk te bemeester. Baie, tot 500 op ’n slag, het arbeid bygedra, en het hard in die snikhete son en tropiese reëns gewerk om die werk te voltooi. Dink byvoorbeeld aan hoeveel werk dit behels het net om die muur rondom die terrein te bou. Gedurende die sewe maande wat die bouwerk aan hierdie muur van ongeveer drie kilometer geduur het, het die broers 57 000 betonblokke gemaak en ingebou! Een broer het geskerts: “Al wat my aan die gang gehou het, was die aasvoëls wat in die lug rondgedraai het en net gewag het dat ek moes neerslaan!” In werklikheid is hy, soos die duisende ander wat tot die welslae van Igieduma bygedra het, deur Jehovah se heilige gees aangedryf en onderskraag.
Amptelike erkenning
Regeringsamptenare het saamgewerk en die werk sodoende voortgehelp. Die Presidentskantoor het die toegewing gemaak dat alle ingevoerde boumateriaal van doeanebelasting vrygestel is. Plaaslike amptenare het afgesien van ontwikkelings- en plangoedkeuringsfooie. Slegs ’n nominale boufooi is vereis. Toe daar eenmaal ’n geskil oor grond ontstaan het, het die Omo N’oba, of koning, van die hele gebied ingegryp en gesê: “Die werk moet nie stopgesit word nie, want dit is God se werk.”
Ander wat nie Getuies van Jehovah is nie, het ook besef dat hierdie projek goddelike steun geniet het. Toe ’n Amerikaanse maatskappy staal voorsien het om die motorhawe te bou, het hulle een van hulle manne, ’n Katoliek, gestuur om dit te help oprig. Hy het twee weke by Igieduma gebly en het sommer gou tuis gevoel en selfs diegene wat saam met hom gewerk het broer en suster genoem. Nadat hy teruggekeer het huis toe, het hy aan ons Nigeriese kantoor geskryf: “Ek het nog nooit so lekker gewerk soos toe ek daar was en God se werk op God se manier gedoen het nie.”
Toewydingsdag
Hierdie pragtige Bethelkompleks is op 20 Januarie 1990 aan Jehovah God, wie se gees vir die voltooiing daarvan verantwoordelik was, toegewy. Besoekers het van oral in Nigerië gekom, maar net diegene wat ten minste 35 jaar lank gedoop is of minstens 20 jaar in die voltydse diens was, kon uitgenooi word. Die susters het vloeiende, kleurige rokke met bypassende kopdoeke gedra, en baie van die broers het pragtige tradisionele gewade gedra. Daar was altesaam 4 209 mense uit 29 lande by die toewyding. Onder hulle was daar ten minste 80 sendelinge, waarvan die meeste uit ander Wes-Afrikaanse lande gekom het. Die program het verslae deur vyf besoekende takverteenwoordigers ingesluit, wat die eenheid en meegevoel wat onder Jehovah se volk heers, beklemtoon het. Geskrewe groete en telegramme het van broers in 21 lande gekom, onder andere ’n hartroerende boodskap van “die 400 broers en susters in Moskou, Sowjetunie”.
Twee lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, was ook aanwesig. Albert Schroeder het die tema “Daar word verwag dat ons getrou bevind word” bespreek en beklemtoon dat dit belangrik is vir God se volk om getrou te bly (1 Korinthiërs 4:2, NW). Die toewydingsrede is deur Lyman Swingle gehou, wat die bou van die pragtige tempel in Salomo se dag bespreek het. Hoewel die tempel God se steun en goedkeuring gehad het, het Jehovah dit duidelik gestel dat die lojaliteit en gehoorsaamheid van sy toegewyde knegte baie belangriker is as die gebou. Só het broer Swingle getoon dat die pragtige tak by Igieduma nie op sigself ’n doel is nie, maar dat dit ’n middel is om ware aanbidding te bevorder.
Die volgende dag is spesiale vergaderinge in verband met die toewyding in drie stede in Nigerië gehou. Meer as 60 000 het hierdie sessies bygewoon.
Wanneer die Edo-sprekende bewoners van Nigerië in die ou tyd vergader het om ’n hoofman te vereer, was daar groot feesvieringe en blydskap. Igieduma (oorspronklik ugie dunai) is die woord wat gebruik is om die suksesvolle afloop van so ’n vreugdevolle samekoms te beskryf. Min woorde kon meer gepas wees vir Jehovah se volk wat op daardie toewydingsdag vergader het om die Hoof van die Heelal, Jehovah God, te vereer. Die woord “Igieduma” beteken vir die 139-150 Koninkryksverkondigers in Nigerië die plek waarvandaan teokratiese leiding en raad, sowel as die gedrukte materiaal vloei wat hulle sal help om aan te hou om God se werk op God se manier in Nigerië te doen.
[Prente op bladsy 24, 25]
1. Woongeboue
2. Koninkryksaal
3. Dienstegebou
4. Kantoor
5. Fabriek
6. Motorhawe
7. Kragstasie
[Prente op bladsy 26]
Broer en suster Brown voor die takkantoor in die veertigerjare
Fabriekontvangs in nuwe tak
Bethelkamer
[Prente op bladsy 27]
Tweekleur- rubberdrukpers
Lektuur word gelaai
Koninkryksaal
Diensafdeling