“Voorskrifte om ’n gelukkige en suksesvolle kind groot te maak”
ONDER hierdie opskrif het die tydskrif Medical Aspects of Human Sexuality ’n artikel uitgegee waarin dr. Irene Jakab, ’n universiteitsprofessor in psigiatrie, uiteengesit het hoe ’n kind volgens haar mening grootgemaak moet word om ’n suksesvolle volwassene te wees. Onder die dinge wat sy in haar “voorskrifte” gemeld het, was dat ouers hulle kind moet liefhê, hom leiding moet gee oor wat reg en verkeerd is en hom moet oplei om besluite te neem. Sy was van mening dat die “voorskrifte” beslis nie ’n vinnige humeur by die ouers, perfeksionisme, oormatige besorgdheid of permissiwiteit moet insluit nie.
Dr. Jakab se “voorskrifte” is op sigself heeltemal geldig. Trouens, die Bybel het duisende jare gelede soortgelyke raad aan ouers gegee. (Sien byvoorbeeld Spreuke 4:1; 13:24; 22:6; Kolossense 3:21.) Maar die Bybel bevat iets wat professor Jakab uitgelaat het: die lewensbelangrikheid daarvan om kinders te leer om hulle Skepper lief te hê en met sy Woord vertroud te wees. Die apostel Paulus het geskryf: “Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.”—Efesiërs 6:4; Deuteronomium 6:4-7.
Sonder sulke opleiding kan kinders net sowel sonder ’n morele anker grootword. Dit kan rampspoedige gevolge hê in hierdie onsedelike en verdorwe wêreld.