Waardeer jy wat God gedoen het?
“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.”—LUKAS 9:23.
1. Wat is party van die wonderlike gawes wat God voorsien het?
ONS is ons lewe aan God verskuldig. As hy die mens nie geskep het nie, sou ons nooit gebore gewees het nie. Maar God het meer as lewe geskep. Hy het ons gemaak sodat ons baie dinge kan geniet: die geur van kos, die warmte van sonlig, die klank van musiek, die frisheid van ’n lentedag, die teerheid van liefde. Daarbenewens het God ons ’n verstand gegee sowel as die begeerte om van hom te leer. Hy het die Bybel geïnspireer, wat ons goeie raad gee, wat ons toon hoe ons ’n gelukkiger lewe kan lei en wat die hoop uithou dat ons vir ewig in sy regverdige nuwe wêreld kan lewe. God voorsien ook sy heilige gees, die ondersteuning van ’n plaaslike gemeente en liefdevolle ouer mans en vroue wat ons kan help om sterk te bly in sy diens.—Genesis 1:1, 26-28; 2 Timotheüs 3:15-17; Hebreërs 10:24, 25; Jakobus 5:14, 15.
2. (a) Wat is die mees besondere ding wat God vir ons gedoen het? (b) Kan ons redding deur werke verdien?
2 Buiten al hierdie dinge het God sy eie eersgebore Seun gestuur om ons meer te vertel van wat die Vader van ons verwag en om ’n “verlossing deur losprys” te voorsien vir almal wat dit sal aanvaar (Efesiërs 1:7, NW; Romeine 5:18). Daardie seun, Jesus Christus, het gesê: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Die redding wat deur daardie losprys moontlik gemaak word, is van sulke hoë waarde dat daar absoluut geen manier is waarop enigiemand iets kan doen om dit te verdien nie, beslis nie werke wat vroeër onder die Mosaïese Wet gedoen is nie. Daarom het Paulus geskryf: “Die mens [word] nie geregverdig . . . uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus.”—Galasiërs 2:16; Romeine 3:20-24.
Geloof en werke
3. Wat het Jakobus oor geloof en werke gesê?
3 Redding kom deur geloof, maar geloof en waardering vir alles wat God gedoen het, moet ons tot dade aanspoor. Dit moet ons beweeg om dinge te doen wat bewys lewer van ons geloof. Jesus se halfbroer Jakobus het geskryf: “Geloof, as dit geen werke het nie, [is] op sigself dood.” Hy het verder gesê: “Toon my julle geloof apart van die werke, en ek sal julle my geloof toon deur my werke.” Jakobus het getoon dat selfs die demone ‘glo en sidder’, maar demone doen natuurlik nie godvrugtige werke nie. Aan die ander kant het Abraham geloof sowel as werke gehad. “Sy geloof [het] saamgewerk . . . met sy werke en . . . deur sy werke is sy geloof tot volmaaktheid gebring.” Jakobus het herhaal: “Geloof sonder werke [is] dood.”—Jakobus 2:17-26, NW.
4. Wat het Jesus gesê moet dié wat hom wil volg, doen?
4 Jesus het ook getoon hoe belangrik regte werke is en gesê: “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.”a As ons onsself “verloën”, gee ons baie van ons persoonlike voorkeure prys. Ons erken dat ons alles aan God verskuldig is, en gee onsself dus aan hom oor as sy slawe, en ons wil, soos Jesus, sy wil leer en dit doen.—Mattheüs 5:16; Lukas 9:23; Johannes 6:38.
Lewens word beïnvloed
5. (a) Wat het Petrus getoon behoort ons hele lewenswyse te beïnvloed? (b) Watter goeie werke het hy aanbeveel?
5 Petrus het getoon dat Christus se “kosbare bloed”, wat ter wille van ons uitgegiet is, van sulke groot waarde is dat ons waardering daarvoor uit ons hele lewenswyse moet blyk. Die apostel het baie dinge opgenoem waartoe ons waardering ons moet beweeg. Hy het gemaan: “Lê dan af alle boosheid.” “Verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord.” “Verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.” “[Wyk af] van wat verkeerd is, en doen wat goed is.” “Wees altyd bereid om verantwoording te doen . . . omtrent die hoop wat in julle is.” “[Leef] die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mense . . . nie, maar volgens die wil van God.”—1 Petrus 1:19; 2:1, 2, 9; 3:11, 15; 4:2.
6. (a) Hoe het eerste-eeuse Christene hulle geloof geopenbaar? (b) Watter voorbeeld stel dit vir ons?
6 Eerste-eeuse Christene het hulle geloof uitgelewe. Dit het hulle uitkyk en hulle persoonlikheid verander, en het hulle beweeg om hulle lewe in ooreenstemming met God se wil te bring. Hulle sou eerder verban, gestenig, gegesel, in die tronk gestop en selfs doodgemaak word as om hulle geloof te skend (Handelinge 7:58-60; 8:1; 14:19; 16:22; 1 Korinthiërs 6:9-11; Efesiërs 4:22-24; Kolossense 4:3; Filemon 9, 10). Die bekende Romeinse geskiedskrywer Tacitus, wat ongeveer 56 G.J. gebore is, sê die Christene is “gevonnis om verbrand te word en as ligte in die nag te dien nadat die son ondergegaan het”. En tog het hulle nie geweifel nie!—The Annals, Boek XV, paragraaf 44.
7. In watter situasie bevind party mense hulle?
7 In party gemeentes vind jy dalk mense wat al jare lank die vergaderinge bywoon. Hulle het Jehovah se organisasie lief, hulle dink Sy volk is die beste mense wat hulle ooit ontmoet het, hulle maak pragtige kommentare oor die waarheid en verdedig die waarheid teen buitestaanders. Maar iets staan in hulle pad, iets hou hulle terug. Hulle het nog nooit die stap gedoen wat die 3 000 op Pinkster gedoen het, waaroor die gelowige Ethiopiër gevra het of wat Ananias Saulus aangespoor het om so gou as moontlik te doen toe die voormalige vervolger besef het dat Jesus werklik die Messias is nie (Handelinge 2:41; 8:36; 22:16). Wat ontbreek in sulke persone wat vandag leef? Waarom het hulle nog nie die stap gedoen wat die Bybel “’n bede tot God om ’n goeie gewete” noem nie? (1 Petrus 3:21). As jy jou in hierdie situasie bevind—as jy die waarheid ken, maar huiwer om iets daaromtrent te doen—moet jy hierdie artikel beskou as iets wat uit liefde spesiaal vir jou voorberei is.
Kom hindernisse voor doop te bowe
8. Wat sal ’n verstandige weg wees om nou in te slaan, as jy nog nooit ’n goeie student was nie?
8 Wat kan in jou pad staan? Die vorige artikel het getoon dat persoonlike studie vir party dalk ’n probleem is. God het ons ’n wonderlike verstand gegee, en hy verwag dat ons dit in ons diens aan hom moet gebruik. Party mense wat nie kon lees nie, het hulle op daardie taak toegelê sodat hulle meer van God en sy voornemens kon leer. Wat van jou? As jy reeds kan lees, studeer jy werklik, soos die Bereane, en ‘ondersoek jy elke dag die Skrifte’ om te sien of hierdie dinge so is? Het jy die “breedte en lengte en diepte en hoogte” van die waarheid ondersoek? Het jy diep in God se Woord gedelf om uit te vind hoe opwindend dit werklik is? Het jy werklik ’n begeerte aangekweek om te weet wat God se wil is? Honger jy werklik na die waarheid?—Handelinge 17:10, 11; Efesiërs 3:18.
9. Wat is die regte ding om te doen as jy ’n probleem met iemand in die gemeente het?
9 Soms aarsel mense weens ’n werklike of ’n denkbeeldige probleem wat hulle met iemand in die gemeente gehad het. Het iemand jou aanstoot gegee? Volg dan die riglyn wat deur Jesus se woorde aangedui word: “Gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen” (Mattheüs 18:15). Jy sal dalk verbaas wees om uit te vind dat hy nie eers geweet het dat jy aanstoot geneem het nie. Maar selfs al weet hy, kan jy nogtans ‘jou broeder win’, soos Jesus gesê het. Jy kan ook help om te verhoed dat hy iemand anders laat struikel. Buitendien, as jy werklik daaroor dink, wie dien jy—daardie persoon of God? Is jou liefde vir God so beperk dat jy sal toelaat dat die fout van ’n onvolmaakte mens jou verhouding met Hom belemmer?
10, 11. Wat moet jy doen as die een of ander geheime sonde jou laat aarsel?
10 ’n Geheime sonde kan ook veroorsaak dat iemand aarsel om hom te laat doop. Dit kan iets wees wat in die verlede gebeur het, of dit is moontlik iets wat steeds voortduur. As dit vir jou ’n probleem is, is dit nie tyd dat jy iets aan die saak doen nie? (1 Korinthiërs 7:29-31). Baie van Jehovah se volk moes veranderinge in hulle lewe aanbring. Die Bybel sê: “Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom.”—Handelinge 3:19.
11 Ongeag wat jy in die verlede gedoen het, jy kan tot inkeer kom, verander en God se vergifnis vra. “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes . . . Omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper.” Jy kan jou lewe in ooreenstemming met sy weë bring, ’n rein gewete geniet en die hoop op die ewige lewe in sy regverdige nuwe wêreld hê. Is dit nie al die inspanning wat dit verg werd nie?—Kolossense 3:5-10; Jesaja 1:16, 18; 1 Korinthiërs 6:9-11; Hebreërs 9:14.
12. Wat moet jy doen as tabak, drankmisbruik of verslawende dwelms tussen jou en ’n skoon gewete staan?
12 Staan tabakgebruik, drankmisbruik of dwelmverslaafdheid tussen jou en ’n rein gewete? Toon sulke lewensgevaarlike gewoontes nie minagting vir God se wonderlike gawe van die lewe nie? As sulke gewoontes in jou pad staan, is dit sekerlik nou die tyd om hulle uit die weg te ruim. Is hierdie gewoontes jou lewe werd? Paulus het gesê: “Laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.” Waardeer jy God se rein en regverdige weë genoeg om dit te doen?b—2 Korinthiërs 7:1.
Materiële dinge
13, 14. (a) Wat sê die Skrif oor materiële doelwitte? (b) Waarom is dit belangrik om hemelse dinge eerste te stel?
13 Die hedendaagse wêreld ag sukses en “die opsigtige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” belangriker as enigiets anders. Maar Jesus het “die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom” met “dorings” vergelyk wat die woord van God verstik. Hy het ook gevra: “Wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?”—1 Johannes 2:16, NW; Markus 4:2-8, 18, 19; Mattheüs 16:26.
14 Jesus het gesê dat God gereël het dat die voëls kos kry en dat die lelies pragtig bloei. Toe vra hy: “Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie? . . . Hoeveel te meer sal [God] dan julle beklee!” Jesus het wyslik vir ons gesê om nie langer oor materiële dinge “besorg” te wees nie. Hy het gesê: “Soek . . . voortdurend [God se] koninkryk en hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Hy het getoon dat ons hemelse dinge eerste moet stel, want ‘waar ons skat is, daar sal ons hart ook wees’.—Lukas 12:22-31, NW; Mattheüs 6:20, 21.
Godvrugtige diens met God se hulp
15. Watter puik aanmoediging kan ons uit die voorbeeld van die eerste-eeuse Christene kry?
15 Is dit vir jou moeilik om vir ander te getuig? Veroorsaak skugterheid dat jy aarsel? Indien wel, is dit belangrik om te onthou dat eerste-eeuse Christene dieselfde soort gevoelens gehad het as wat ons vandag het. God het nie mense gekies wat baie wys en magtig is nie, maar hy het gekies “wat swak is by die wêreld, . . . om wat sterk is, te beskaam” (1 Korinthiërs 1:26-29). Magtige godsdiensleiers het hierdie “eenvoudige” mense teëgestaan en hulle beveel om op te hou preek. Wat het die Christene gedoen? Hulle het gebid. Hulle het God om vrymoedigheid gevra, en hy het dit vir hulle gegee. Gevolglik het hulle boodskap Jerusalem gevul en later die hele wêreld geskud!—Handelinge 4:1-4, 13, 17, 23, 24, 29-31; 5:28, 29; Kolossense 1:23.
16. Wat leer ons van die groot “wolk van getuies” wat in Hebreërs hoofstuk 11 beskryf word?
16 Mensevrees moet dus nooit tussen ons en diens aan God kom nie. Hebreërs hoofstuk 11 vertel van ’n groot “wolk van getuies” wat nie mense gevrees het nie, maar God. Ons moet soortgelyke geloof toon. Die apostel het geskryf: “Terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê.”—Hebreërs 12:1.
17. Watter aanmoediging het God deur middel van Jesaja gegee?
17 God kan sy knegte groot hulp verleen. Die Skepper van die heelal het vir Jesaja gesê: “Die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”—Jesaja 40:31.
18. Hoe kan jy skugterheid oorkom sodat jy aan die Koninkryksprediking kan deelneem?
18 Die moedige en gelukkige Getuies wat jy in die plaaslike gemeente sien, is net ’n klein deeltjie van die meer as drie en ’n half miljoen ywerige knegte ter wêreld. Hulle is bly om deel te neem aan die werk wat Jesus Christus self met hierdie woorde voorspel het: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” As dit vir jou ’n probleem is om aan die Koninkryksprediking deel te neem al is jy bevoeg om dit te doen, kan jy gerus ’n Getuie wat goed doen in die bediening vra om jou in die predikingswerk te vergesel. God voorsien werklik “krag bo die normale”, en jy sal dalk verbaas wees om te sien wat ’n godvrugtige vreugde hierdie werk werklik is.—Mattheüs 24:14; 2 Korinthiërs 4:7, NW; sien ook Psalm 56:12; Mattheüs 5:11, 12; Filippense 4:13.
19. Watter onderrigtingswerk het Jesus sy volgelinge beveel om te doen?
19 Jesus verwag dat diegene wat die Koninkryksboodskap waardeer dienooreenkomstig optree. Hy het gesê: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.”—Mattheüs 28:19.
20. Watter vraag sal binnekort gepas wees as jy geestelike vooruitgang maak?
20 Beweeg jou waardering vir God se seëninge, vir die “kosbare bloed” van Jesus en vir die wonderlike hoop van die ewige lewe jou om op te tree? (1 Petrus 1:19). Het jy jou lewe in ooreenstemming met God se regverdige vereistes gebring? Neem jy gereeld aan die dissipelmaakwerk deel? Het jy jouself verloën en jou lewe aan God toegewy? As die antwoord op al hierdie vrae ’n besliste ja is, is dit tyd om dieselfde vraag wat die gelowige Ethiopiër aan Filippus gestel het aan een van die ouere manne in die gemeente waaraan jy behoort te stel: “Wat verhinder my om gedoop te word?”—Handelinge 8:36.
[Voetnote]
a The Jerusalem Bible vertaal dit met “homself die rug toekeer”. Die vertaling deur J. B. Phillips sê: “Alle aanspraak op homself laat vaar.” The New English Bible sê: “Homself agterlaat.”
b Sien Die Wagtoring van 15 April 1981, bladsye 3-12; 15 Augustus 1973, bladsye 373-80 en Ontwaak! van 8 November 1982, bladsye 3-12; 22 September 1981, bladsye 3-11, vir meer inligting oor hoe om met sulke gewoontes te breek. Dit sal moontlik in die biblioteek by die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies beskikbaar wees.
Onthou jy?
◻ Watter spesiale redes het ons om dankbaar teenoor God te wees?
◻ Wat behoort geloof en waardering ons te laat doen?
◻ Watter probleme staan moontlik tussen ons en gehoorsaamheid aan God, en wat kan ons daaraan doen?
◻ Watter vrae moet persone wat nog nie gedoop is nie hulleself afvra?
[Venster op bladsy 18]
‘Watter soort “grond” is ek?’
Jesus het ’n gelykenis vertel van ’n man wat uitgegaan het om saad te saai. Van die saad het langs die pad geval en voëls het dit geëet. Ander het op rotsagtige plekke sonder veel grond geval. Hulle het uitgeloop, maar toe die son opkom, het hulle verwelk en doodgegaan. Ander sade het weer tussen dorings geval en is verstik. Jesus het gesê hierdie drie groepe verteenwoordig: eerstens, iemand wat “die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie”; tweedens, een wat die woord aanneem maar wat deur die hitte van “verdrukking en vervolging” afgeskrik word; en derdens, die persoon in wie se geval die woord verstik word deur “die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom”.
Maar Jesus het ook van ander saad vertel wat op goeie grond geval het. Hy het gesê: “Dit is hy wat die woord hoor en verstaan, wat dan ook vrug dra.”—Mattheüs 13:3-8, 18-23.
Dit sal goed wees as ons ons afvra: ‘Watter soort “grond” is ek?’
[Venster op bladsy 19]
Hulle het vir hul geloof gesterf
Ken jy enigiemand wat eerder sal sterf as om sy geloof te skend? Duisende Getuies van Jehovah het dit gedoen. In The Nazi State and the New Religions: Five Case Studies in Non-Conformity, het dr. Christine E. King geskryf: “Een uit elke twee Duitse Getuies is opgesluit, een uit vier het gesterf.”
Toe die afgryslikheid van die konsentrasiekampe uiteindelik in 1945 geëindig het, het “die Getuies se getalle . . . toegeneem en hulle het geen kompromisse aangegaan nie”. In The Nazi Persecution of the Churches, het J. S. Conway van die Getuies geskryf: “Geen ander sekte het naastenby sulke vasbeslotenheid in die aangesig van die volle mag van Gestapoterrorisme aan die dag gelê nie.”
Jehovah se Getuies is nie om politieke of rassistiese redes vervolg nie. Hulle het gely weens hulle liefde vir God en hulle weiering om hulle Bybelopgeleide gewete te skend.