Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 6/1 bl. 8-9
  • Jesus se laaste Pasga is ophande

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jesus se laaste Pasga is ophande
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Soortgelyke materiaal
  • Jesus se laaste Pasga is ophande
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • Jesus se laaste Pasga kom nader
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • ‘Dit moet vir julle as ’n gedagtenis dien’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Herleef Jesus se laaste dae op aarde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 6/1 bl. 8-9

Jesus se lewe en bediening

Jesus se laaste Pasga is ophande

TOE Dinsdag, 11 Nisan, ten einde begin loop, sluit Jesus die onderrigting van sy apostels op die Olyfberg af. Dit was vir jou ’n besige, vermoeiende dag! Nou, terwyl hulle op pad terug is na Betanië om daar te gaan vernag, sê hy aan sy apostels: “Julle weet dat oor twee dae die Pasga kom, dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig [“aan die folterpaal gehang”, NW] te word.”

Jesus bring blykbaar die volgende dag, Woensdag, 12 Nisan, in rustige afsondering saam met sy apostels deur. Die vorige dag het hy die godsdiensleiers in die openbaar geroskam, en hy besef dat hulle hom om die lewe wil bring. Daarom verskyn hy nie Woensdag in die openbaar nie, want hy wil nie hê dat enigiets sy viering van die Pasga saam met sy apostels die volgende aand moet dwarsboom nie.

Intussen het die owerpriesters en die ouderlinge van die volk op die binneplaas van die hoëpriester Kajafas bymekaargekom. Hulle voel nog bitter oor Jesus se aanval die vorige dag, en hulle beraam planne om hom met lis gevange te neem en om die lewe te laat bring. Maar hulle bly sê: “Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.” Hulle is bang vir die volk, wat Jesus goedgesind is.

Terwyl die godsdiensleiers goddeloos saamsweer om Jesus om die lewe te bring, kry hulle ’n besoeker. Dit is, tot hulle verbasing, een van Jesus se apostels, Judas Iskariot, die een by wie Satan die bose gedagte laat posvat het om sy Meester te verraai! Hoe ingenome is hulle tog wanneer Judas vra: “Wat sal u my gee, en ek sal Hom aan u oorlewer?” Hulle stem met genoeë in om hom 30 silwerstukke, die prys van ’n slaaf volgens die Mosaïese Wetsverbond, te betaal. En van nou af soek Judas ’n goeie geleentheid om Jesus aan hulle oor te lewer wanneer daar nie ’n skare is nie.

Woensdag met sononder breek 13 Nisan aan. Jesus het Vrydag van Jerigo af gekom; dit is dus die sesde en laaste nag wat hy in Betanië deurbring. Die volgende dag, Donderdag, sal hulle die finale voorbereidings vir die Pasga moet tref, wat teen sononder sal begin, wanneer die Paaslam geslag en dan heel gebraai moet word. Waar sal hulle die fees vier, en wie sal dit vir hulle berei?

Jesus het nie hierdie besonderhede aan hulle verstrek nie, moontlik om te voorkom dat Judas die owerpriesters in kennis stel sodat hulle Jesus gedurende die Pasgaviering in hegtenis kan neem. Maar nou, waarskynlik vroeg Donderdagmiddag, stuur Jesus vir Petrus en Johannes van Betanië af en sê: “Gaan berei die pasga vir ons, dat ons dit kan eet.”

“Waar wil U hê moet ons dit berei?”, vra hulle.

Jesus verduidelik: “Kyk, as julle in die stad ingaan, sal ’n man julle ontmoet wat ’n kruik water dra; volg hom na die huis waar hy ingaan. En julle moet vir die eienaar van die huis sê: Die Meester vra u—waar is die kamer waar Ek die pasga met my dissipels kan eet? Hy sal julle ’n groot bovertrek wys wat reggemaak is; daar moet julle dit berei.”

Die huiseienaar is ongetwyfeld ’n dissipel van Jesus wat moontlik verwag dat Jesus hom sal vra om sy huis vir hierdie spesiale geleentheid te gebruik. In alle geval, toe Petrus en Johannes in Jerusalem aankom, vind hulle alles presies soos Jesus gesê het. Hulle twee sorg dus dat die lam berei is en dat al die ander reëlings getref is om in die benodigdhede te voorsien van die 13 Pasgavierders, Jesus en sy 12 apostels. Mattheüs 26:1-5, 14-19; Markus 14:1 2, 10-16; Lukas 22:1-13; Exodus 21:32.

◆ Wat doen Jesus blykbaar op Woensdag, en waarom?

◆ Watter vergadering word by die hoëpriester se huis gehou, en met watter doel besoek Judas die godsdiensleiers?

◆ Vir wie stuur Jesus op Donderdag in Jerusalem in, en met watter doel?

◆ Wat tref hierdie twee wat hy gestuur het daar aan wat weer eens Jesus se wonderkragte toon?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel