Ek het my swakhede te bowe gekom
Soos vertel deur Thomas Addison
TOE ek ’n seun was, sou selfs ’n onskadelike voëltjie in die pad my haastig ’n wye ompad laat neem het. Wanneer familie of vriende kom kuier het, het hulle ’n teruggetrokke kind aangetref wat agter sy ma se romp wegkruip. My normale reaksie as daar besoekers was, was om so gou moontlik na die slaapkamer te vlug. Ek het stom geraak in die teenwoordigheid van enigiemand met gesag, veral onderwysers.
Wat het my in staat gestel om te verander? Hoe het dit vir so ’n pynlik skaam seun moontlik geword om in die laaste jare gehore van duisende by groot byeenkomste toe te spreek?
My ouers lei my op
My ouers—veral Vader, ’n skraal, energieke Skotsman—het dit moeilik gevind om my te verstaan. Hy het op die ouderdom van 13 ’n weeskind geword en was waarlik ’n ongeslypte diamant. Hy het van jongs af geleer om vir homself te sorg. Moeder daarenteen was ’n boer se dogter en was die verpersoonliking van sagmoedigheid. Ek is van kleins af vriendelik en streng, maar nie te beskermd nie, grootgemaak.
In 1945, op sesjarige ouderdom, het ek my debuut op die Teokratiese Bedieningskool gemaak. My eerste toespraak was in die lig van ’n paraffienlantern in ’n klein Australiese gemeente van net drie gesinne. Vader het my lank voor die tyd gehelp om voor te berei en die voordele van ex tempore-voordrag aan my verduidelik. Hy het ook beklemtoon dat ek nooit bang moet wees vir wat ander mense sê of dink nie. Soos hy dit gestel het: “Mense is almal net hopies stof. Sommige hopies is net ’n bietjie groter as ander.” My knieë het gebewe, my handpalms het begin sweet, en halfpad deur die toespraak het ek oor my woorde begin struikel en kon ek nie klaarmaak nie.
Ek was seker ongeveer tien jaar oud toe Vader my en my jonger broer Robert na die hoofstraat van die dorp geneem het, reg voor die plaaslike bioskoop. Daar het ons Die Wagtoring en Ontwaak! vlak voor die oë van ons medeskoliere vertoon. Die tydskrifte het so swaar soos lood gevoel, en soms het hulle agter my rug beland! Ek het desperaat probeer om ’n onopsigtelike posisie in te neem.
Maar Vader se vrymoedige voorbeeld het my geweldig aangemoedig. Hy het altyd gesê dat ’n mens toegee aan Satan en mensevrees as jy terugdeins. By die skool was daar nog ’n toets. Die Tweede Wêreldoorlog het kort tevore geëindig en die gevoel van nasionalisme was nog sterk in Australië. Ek en my suster Ellerie het gedurende die skoolbyeenkoms bly sit wanneer die volkslied gespeel is. Vir my was dit ’n ware toets om anders te wees, maar weer eens het my ouers se voortdurende ondersteuning en bemoediging my gehelp om nie ’n kompromis aan te gaan nie.
Vader se goeie voorbeeld
Vader was, sy geaardheid en agtergrond in aanmerking geneem, werklik baie geduldig met my. Toe hy ’n seun van net 13 was, het hy in die steenkoolmyne in Engeland begin werk. Toe hy iets oor die 20 was, het hy na Australië geëmigreer om ’n beter lewe te probeer vind. Maar die finansiële depressie van die dertigerjare het ingetree, en hy het werk in verskriklike toestande aanvaar om vir sy gesin te sorg.
Vader was ontnugter deur toestande in die algemeen en veral deur die politiek. Toe hy dus die Wagtoringgenootskap se boeke en hulle moedige onthulling van politieke, handels- en godsdiensgeveinsdheid lees, het dit ’n ontvanklike snaar in hom geraak. Nie lank daarna nie het hy hom toegewy om Jehovah te dien, kort nadat Moeder dit gedoen het. Hoewel hy ’n longkollaps opgedoen het tydens ’n mynstorting en geen spesifieke werkvaardigheid gehad het nie, het Vader ons gesin geneem om in plekke te dien waar daar geestelike hulp nodig was. Sy vertroue op Jehovah het ’n diep indruk op my gemaak.
Ek onthou byvoorbeeld dat ons na ’n klein steenkoolmyndorpie getrek het waar die enigste Getuies twee bejaarde susters was, albei met ongelowige mans. Dit was moeilik om huisvesting te bekom, maar ons het uiteindelik daarin geslaag om ’n ou huis te huur wat kilometers uit die dorp was. Die enigste manier waarop ons kon reis, was te voet of per fiets. Toe, vroeg een oggend, terwyl ek en my broer en suster by vriende gebly het, het die hele huis afgebrand. Ons ouers het lewendig daarvan afgekom, maar niks anders is gered nie. Ons het geen versekering en niks geld gehad nie.
Nie lank voor sy dood in 1982 nie, het Vader hieraan gedink. Hy het gesê: “Seun, onthou jy hoe die situasie aanvanklik beroerd gelyk het, maar hoe Jehovah ons bygestaan het? Na die brand het die broers in Perth meubels, klere en geld gestuur. Danksy hulle vrygewigheid was ons beter af as voor die brand!” Ek het eers gedink dat Vader ’n bietjie aanmatigend was wanneer hy so baie van Jehovah se hulp in ons lewe gepraat het. Maar die gereelde gevalle van goddelike hulp, soos hy dit genoem het, het te veel geword om op enige ander manier te verklaar.
Moeder se positiewe denke
Een van my groot probleme was altyd negatiewe denke. Moeder het dikwels gevra: “Waarom sien jy altyd die donker sy van die lewe?” Haar eie voorbeeld om altyd die positiewe dinge raak te sien was vir my ’n aansporing om voortdurend ’n poging aan te wend om positiewer te dink.
Moeder het onlangs gepraat van ’n voorval op ’n plattelandse dorpie kort nadat ons daarheen getrek het. ’n Opmerking van die plaaslike dokter het haar geamuseer. Hy het aangeneem dat ons ouers welgesteld was omdat hy hulle netjiese klere en versorgde voorkoms opgemerk het. In werklikheid was ons huis ’n groot skuur, met afskortings van goiingsakke. Daar was geen elektrisiteit, gas of lopende water nie. Eendag het ’n bul deur die voordeur probeer breek. Jy kan raai waar ek was: onder die bed!
Moeder het twee 15-liter-konkas, wat aan ’n juk oor haar skouers vas was, gebruik om ons water uit ’n put wat 200 meter daarvandaan was te gaan haal. Sy het die slag gehad om die snaakse sy van ongerieflikhede te sien en, met ’n bietjie aansporing van Vader, het sy elke moeilike situasie as ’n uitdaging beskou eerder as ’n hindernis. Sy het ons daarop gewys dat, hoewel ons materieel nie veel gehad het nie, ons baie positiewe seëninge geniet het.
Ons het byvoorbeeld baie gelukkige dae deurgebring deur na afgeleë gebiede te reis om te preek, onder die sterre uit te kamp, spek en eiers oor ’n oop vuur te braai en Koninkryksliedere te sing terwyl ons gereis het. Vader het met sy trekklavier die musiek verskaf. Ja, in hierdie opsigte was ons waarlik ryk. In sommige plattelandse dorpe het ons klein sale gehuur en openbare toesprake geadverteer, wat ons Sondagmiddae gehou het.
Weens Vader se herhaalde gesondheidsprobleme moes Moeder soms gaan werk om sy inkomste aan te vul. Sy het haar eie ma en oupa opgepas en eindelik ons vader voor sy dood. Sy het dit gedoen sonder om te kla. Hoewel ek steeds van tyd tot tyd neerslagtig was en dikwels ’n negatiewe gesindheid gehad het, het Moeder se voorbeeld en vriendelike aanmoediging my die begeerte gegee om aan te hou probeer.
Ek kom my neerslagtigheid te bowe
In my laat tienderjare het al die swakhede van my kinderjare, wat ek gedink verdwyn het, met mening teruggekom. Vrae oor die lewe het my verwar. Ek het begin wonder: ‘Het alle mense ’n gelyke geleentheid om Jehovah te ken en te dien?’ Wat van ’n kind wat byvoorbeeld in Indië of China gebore word? Sy geleentheid om Jehovah te leer ken sal tog sekerlik baie kleiner wees as dié van ’n kind wat bevoorreg is om deur Getuie-ouers grootgemaak te word. Dit het so onregverdig gelyk! Genetika en die milieu, waaroor ’n kind geen beheer het nie, speel tog ook ’n belangrike rol. Die lewe het in so baie opsigte onregverdig voorgekom. Ek het ure lank met my ouers geworstel oor vrae soos dié. Ek was ook bekommerd oor my voorkoms. Daar was baie dinge omtrent myself waarvan ek nie gehou het nie.
Aangesien ek oor hierdie dinge getob het, het dit my neerslagtig gemaak, soms weke lank. My voorkoms het daaronder gely. Ek het ’n paar keer stilletjies aan selfmoord gedink. Daar was tye dat ek ’n gevoel van tevredenheid daaruit gekry het om my in selfbejammering te verlustig. Ek het myself beskou as ’n martelaar wat misverstaan is. Ek het teruggetrokke geword en eenmaal, sonder waarskuwing, skielik ’n angswekkende sensasie ervaar. Alles om my het onwerklik gelyk, asof ek deur ’n wasige venster kyk.
Hierdie voorval het my met ’n skok laat besef dat selfbejammering potensieel gevaarlik is. Ek het my in gebed tot Jehovah voorgeneem om my in te span om nie weer voor selfbejammering te swig nie. Ek het my begin toelê op positiewe, skriftuurlike gedagtes. Van toe af het ek elke artikel in Die Wagtoring en Ontwaak! wat oor karaktertrekke gehandel het met meer as die gewone aandag gelees en dit dan in ’n omslag geliasseer. Ek het ook versigtig gelet op gedagtes in die Koninkryksbediening oor hoe om met ander te gesels.
My eerste doelwit was om te probeer om so lank moontlik met een persoon by elke Christenvergadering te gesels. Aan die begin was elk van hierdie gesprekke net ongeveer ’n minuut lank. Gevolglik het ek dikwels moedeloos huis toe gegaan. Maar met volharding het my vermoë om gesprekke te voer geleidelik verbeter.
Ek het ook baie persoonlike navorsing begin doen oor die lastige vrae wat ek gehad het. Boonop het ek aandag gegee aan my dieet en het ek gevind dat ’n voedingsaanvuller my gemoedstoestand en uithouvermoë verbeter het. Later het ek verneem dat ander faktore neerslagtigheid kan veroorsaak. Soms het ek byvoorbeeld so intens verdiep geraak in die een of ander saak dat ek ’n emosionele hoogtepunt bereik het. Dit het onvermydelik tot ’n laagtepunt gelei, met gevolglike energieverlies en dan neerslagtigheid. Die oplossing was om te leer om volgehoue belangstelling in ’n saak te toon sonder om te opgewonde en intens te raak. Selfs tot vandag toe moet ek op my hoede wees.
Die volgende stap was om die doelwit aan te gryp wat my ouers ons kinders altyd voorgehou het, naamlik die voltydse bediening. My suster se vasbeslotenheid om al meer as 35 jaar lank aan hierdie voorreg van pionierdiens vas te hou, bly vir my ’n positiewe stimulus.
My seun se probleem
Na ’n paar jaar as ’n ongetroude pionier, het ek met ’n medepionier, Josefa, getrou. Sy was in alle opsigte ’n goeie komplement vir my. Mettertyd is drie kinders vir ons gebore. Craig, ons oudste, is in 1972 met ernstige serebrale verlamming gebore. Sy toestand was ’n groot uitdaging, aangesien hy niks vir homself kan doen nie, behalwe om sy kos onhandig met ’n lepel te eet. Ons is natuurlik baie lief vir hom en daarom het ek alles moontlik probeer om hom te help om onafhankliker te wees. Ek het verskeie looptoestelle vir hom gemaak. Ons het baie spesialiste gaan spreek maar nie veel sukses gehad nie. Dit het my laat besef dat sommige omstandighede in hierdie lewe aanvaar moet word.
Gedurende die eerste 12 jaar van sy lewe het Craig soms skielik opgehou eet en drink. Dit het gepaard gegaan met onwillekeurige sukkelbraking. Neurologiese skade was vermoedelik die oorsaak. Hy het letterlik voor ons oë begin wegkwyn. Gebed het ons daardeur gehelp, en voorskrifmedisyne het gehelp om die probleem te beheer. Craig het gelukkig net betyds begin herstel, en hy het ons weer eens genot verskaf met sy innemende glimlag en vele liedjies.
Josefa het dit aanvanklik baie moeilik gevind om haar by hierdie hartverskeurende situasie aan te pas. Maar haar liefde en geduld terwyl sy in al Craig se behoeftes voorsien het, het uiteindelik geseëvier. Dit het beteken dat ons steeds na gebiede kon trek waar daar meer Christelike hulp nodig was. Met Josefa se ondersteuning en praktiese hulp kon ek ’n hele paar jaar deeltyds werk wat my in staat gestel het om hulppionierdiens te doen asook vir ons gesin te sorg.
Positiewe denke belangrik
Wanneer Craig neerslagtig is weens sy herhaalde siekte of die frustrasie weens sy beperkinge versterk ons hom met een van my geliefkoosde tekste: “Ons is nie die soort wat terugdeins nie” (Hebreërs 10:39, NW). Hy ken dit uit sy kop, en dit bemoedig hom altyd.
Vandat Craig taamlik jonk was, is hy besonder lief vir velddiens. Deur ’n spesiale rolstoel te gebruik, kan hy dikwels saam met ons daaraan deelneem. Hy geniet dit veral om saam met ons te kom wanneer ek van tyd tot tyd ander gemeentes besoek as ’n waarnemende kringopsiener. Sy beperkte antwoorde by die groepstudie en voortdurende gesprekke oor Bybelverhale by die spesiale skool wat hy bygewoon het, het ’n indruk gemaak soos wat ons wat nie gestrem is nie, nie gemaak het nie. Craig het my sodoende daaraan herinner dat Jehovah ons, ongeag ons beperkinge, kan gebruik om sy wil en voorneme te bevorder.
’n Tydjie gelede het ek die voorreg gehad om ’n instrukteur by die Koninkryksbedieningskool te wees. Na al my jare in die bediening was ek nogtans taamlik senuweeagtig aan die begin. Maar deur op Jehovah te vertrou, het my senuwees weldra bedaar en ek het weer eens Jehovah se ondersteuningskrag ervaar.
As ek nou terugkyk op my lewe van ongeveer 50 jaar is ek oortuig dat net Jehovah iemand soos ek liefdevol kan oplei om ’n geestelike mens van hom te maak.