Onthou jy?
Het jy gevind dat die onlangse nommers van Die Wagtoring praktiese waarde vir jou het? Toets gerus jou geheue met die volgende vrae.
◻ Wat moet ons doen as ons die harmonie en vrede tussen mense van ander rasse wat in Jesaja 2:4 beskryf word, wil geniet?
Ons moet eerstens erken dat ons Skepper, Jehovah, die reg het om ons “sy weë [te] leer”. En tweedens moet ons die opregte begeerte hê om ons na God se wette te skik deur te sê ‘dat ons in sy paaie sal wandel’ (Jesaja 2:2, 3).—12/15, bladsye 5, 6.
◻ Waarom word Jehovah se Getuies nie ontmoedig en afgeskrik deur wêreldwye haat en teenstand nie?
Jesus het voorspel dat sulke teenstand en haat sou help om ware aanbidders te identifiseer (Johannes 15:20, 21; 2 Timotheüs 3:12). Verkondigers van die goeie nuus word dus gerusgestel deur die feit dat hulle goddelike goedkeuring geniet. Daarbenewens weet Jehovah se Getuies dat hulle die steun het van die allerhoogste God, Jehovah.—1/1, bladsy 12.
◻ Wat is ’n paar basiese vereistes waaraan ons moet voldoen as ons wil hê dat ons gebede verhoor word?
Ons moet vas glo dat God bestaan. Ons moet hom “ernstig soek”, en oortuig wees dat hy diegene wat dit doen, sal beloon (Hebreërs 11:6, NW). Ons moet Jehovah ook deur Jesus Christus, en slegs deur hom, nader (Johannes 14:6, 14).—1/15, bladsye 4, 6.
◻ Wat is “godvrugtige toegewydheid”? (1 Timotheüs 3:16, NW).
Godvrugtige toegewydheid is eerbied vir, aanbidding van en diens aan God met lojaliteit teenoor sy universele soewereiniteit.—1/15, bladsy 11.
◻ Wie is “die wettelose mens” waarvan Paulus in 2 Thessalonicense 2:3 (NAV) praat?
Paulus praat nie van ’n enkele individu nie, want hy sê dat hierdie “mens” in Paulus se dag teenwoordig was en sou voortbestaan totdat Jehovah hom met die einde van hierdie stelsel vernietig. Gevolglik is “die wettelose mens” ’n simboliese uitdrukking. Die getuienis toon dat hy die trotse, ambisieuse geestelikeklas van die Christendom is, wat reeds soveel eeue lank eiemagtig optree.—2/1, bladsy 11.
◻ Hoe kan hebsug uit die weg geruim word?
Hebsug onder mense kan slegs uit die weg geruim word deur behoorlike onderrigting en opleiding terwyl streng riglyne, of gedragsreëls, nagevolg word. Sulke onderrigting moet uit ’n bron kom wat self vry van hebsug is. Slegs die God van die hemel kan hierdie soort onderrigting voorsien en dit word in sy geskrewe leerboek, die Heilige Bybel, aangetref.—2/15, bladsy 5.
◻ Wat moet ons persoonlike Bybelstudie insluit as ons wil hê dit moet ons beweeg om godvrugtige toegewydheid aan te kweek?
Die doel van persoonlike studie kan nie bloot wees om bladsye materiaal te dek en die verstand gevolglik met informasie te vul nie. Wanneer jy ’n gedeelte uit God se Woord lees, moet jy eerder tyd neem om oor die materiaal na te dink en vas te stel wat dit ons aangaande Jehovah se eienskappe en weë leer sodat jy in hierdie opsigte meer soos Jehovah kan wees.—3/1, bladsy 13.
◻ Waarom moet ons die Evangelieverslae oor Jesus gereeld lees as deel van ons persoonlike Bybelstudie?
Jesus se voorbeeld help ons om godvrugtige toegewydheid aan te kweek. Jesus het sy Vader beter geken as wat enigiemand anders hom geken het, en gevolglik kon hy Jehovah se handelwyse en eienskappe noukeurig weerspieël. Gevolglik het hy die volmaakte voorbeeld van godvrugtige toegewydheid vir ons gestel (Johannes 1:18; 14:9; Romeine 13:14).—3/1, bladsy 19.
◻ Wat het dit, in Jesus se gelykenis van die talente, beteken om met die talente te werk? (Mattheüs 25:19-23).
Om met die talente te werk, het beteken dat hulle getrou as gesante van God moes optree, dissipels moes maak en geestelike waarhede aan die huis van God moes oordra (Mattheüs 24:45; 28:19; 2 Korinthiërs 5:20).—3/15, bladsy 13.
◻ In watter drie opsigte is die Bybel uniek vergeleke met alle ander bronne van raad?
Eerstens is die raad daarin altyd voordelig (Psalm 93:5, NW). Tweedens is die Bybel deur die tyd beproef (Jesaja 40:8; 1 Petrus 1:25). Derdens is die wye omvang van die Bybel se raad sonder gelyke. Ongeag voor watter probleem of besluit ons staan, daar is wysheid in die Bybel wat ons kan help.—4/1, bladsy 13.
◻ Wat is twee bewyse wat toon dat die Bybel God se Woord is, en nie die mens s’n nie?
Die ongeëwenaarde wysheid van die Bybel en sy krag om mense te verander (Spreuke 2:1, 5, 6; Hebreërs 4:12).—4/1, bladsy 21.