“Vissers van mense” in Belize
BELIZE is ’n klein subtropiese landjie tussen Mexiko en Guatemala. Naby sy kus is die turkooisblou Karibiese See besaai met atolle en koraalriwwe wat die langste walrif in die Westelike Halfrond vorm. Langs die kus is die land meestal droog en plat. Maar in die suidelike binneland lê die Maja-berge, wat tot ’n hoogte van 1 120 meter bo seespieël uitrys. Hierdie bergstreek, wat eens dig bebos was, is vol ravyne, rivierklowe en pragtige watervalle.
Die land is oorspronklik deur die Majas bewoon, soos die baie ruïnes en artefakte getuig. In die 1600’s het voormalige seerowers wat campêchehout en mahonie begin afkap het daar gaan woon. Later het dit die kolonie Brits-Honduras geword. En in 1981 het dit ’n onafhanklike nasie geword.
Belize het vandag ’n bevolking van sowat 175 000. Dit is werklik ’n gemengde groep, wat bestaan uit Afro-Beliziërs (Kreole), Mestiese, Majas, Garinagus (Karibiërs), Asiate, Europeërs en ander. Weens Belize se Britse agtergrond is Engels die amptelike taal, terwyl Spaans ’n sterk tweede taal is. Kreools word ook algemeen gepraat, sowel as Maja, Garifuna en ander tale.
’n Groot verskeidenheid seediere wat ’n lus vir die oog is en die verhemelte vlei, word op die 280 kilometer lange walrif met sy helderkleurige koraal, kasteelagtige torinkies en grotte aangetref. Hierdie visgrond langs die kus is een van die land se grootste natuurlike hulpbronne. Belize, met sy groot verskeidenheid mense en kulture, is eweneens ’n produktiewe ‘visgrond’ vir diegene wat reageer op Jesus se uitnodiging: “Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak.”—Mattheüs 4:19.
Die ‘visvangs’ begin
In 1923 het James Gordon, ’n Getuie wat in 1918 in Jamaika gedoop is, na Belize verhuis. Hy het as ’t ware sy net tussen sy bure in en om die dorpie Bomba in die Belize-streek begin uitgooi. Sy ‘vistoerusting’ was onder andere ’n tamaai mahoniekis vol boeke, wat hy in een hand gedra het, en sy grammofoon, wat hy in die ander hand gedra het.
Omstreeks 1931 het Freida Johnson, ’n voltydse bedienaar uit Texas, na Belize gekom gedurende ’n toer om die goeie nuus in Sentraal-Amerikaanse lande te versprei. Gedurende haar verblyf van ses maande het sy in aanraking gekom met ’n bakker genaamd Thaddius Hodgeson, wat op sy beurt vir ’n ander bakker, Arthur Randall, van die waarheid vertel het. Broer Hodgeson het die werk voortgesit tot met die koms van die eerste Gileadopgeleide sendelinge, Charles Heyen en Elmer Ihrig, in 1945.
In die daaropvolgende jaar, tydens ’n besoek van N. H. Knorr en F. W. Franz, destyds onderskeidelik die president en vise-president van die Wagtoringgenootskap, is ’n takkantoor daar gestig. Die “net” is sedertdien in alle dele van Belize uitgegooi, en die werk het bestendig vooruitgegaan. Die getal “vissers van mense” het in 1989 ’n hoogtepunt van 844 bereik.
‘Die net word verder uitgegooi’
Die stad Belize en ander dorpe word deesdae gereeld gedek deur diegene wat die goeie nuus van die Koninkryk verkondig, maar baie van die afgeleë dorpies en eilandjies word nie gereeld gedek nie. Dit was tot ’n paar jaar gelede die geval met San Pedro, op Ambergris Cay.
Baie jare lank was die enigste kontak wat die inwoners van San Pedro met die waarheid gehad het die kort besoeke wat Getuies van die vasteland daar afgelê het. Die Getuies het Bybellektuur by belangstellendes gelaat, maar hulle kon nie na die belangstellendes teruggaan nie, want hulle moes na die vasteland terugkeer. ’n Gesin van vier het later na Belize gekom om te dien waar hulp nodig is. Hulle het aangebied om na die eiland te verhuis, al moes hulle in ’n woonwa woon tot hulle ’n huis kon bou. Maar die “visvangs” was goed. Hulle het baie Bybelstudies begin, en vandag is daar meer as 20 “vissers van mense” op die eiland. In September 1986 het hulle, met die hulp van Getuies oor die hele land, hulle eie Koninkryksaal in net een naweek gebou.
Die tak se gebied sluit ook etlike afgesonderde Maja-dorpies in die suidelike Toledo-streek in, waar Ketchi en Maja-Mopan gepraat word. ’n Groep Getuies het hierdie dorpies een maal per jaar besoek, gedurende die droë seisoen wanneer die riviere en berge oorgesteek kan word. Hulle het alles wat hulle nodig gehad het op hulle rûe gedra en na die dorpies geloop om vir inwoners te getuig en na belangstellendes terug te keer.
Die broers het in 1968, gedurende een van daardie jaarlikse ‘bosekspedisies’, die dorpie Crique Sarco besoek. ’n Jong meisie het ’n eksemplaar van die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe opgetel wat ’n broer per ongeluk laat val het. Sy vertel wat daarop gevolg het.
“Daardie boek was vir my kosbaar, maar ek het net na die paar illustrasies gekyk en dit nooit gelees nie. Die jaarlikse besoeke wat die broers by my pa afgelê het, het die naam Jehovah in my verstand geprent, en ek het geleer dat Hy ’n organisasie het. Toe ek in die dorp Punta Gorda hoërskool toe gegaan het, het die vraag: Wat is God se naam? eendag in die klas opgekom. Toe ek antwoord: ‘Jehovah’, is ek gestraf (vyf strafpunte en strafwerk, soos om toilette skoon te maak). Die priester het my toe ingeroep en gesê dat ek uit die skool gesit sal word as ek weer daardie naam gebruik. Toe hy dit sê, het ek die skool vrywillig verlaat en nooit weer teruggegaan nie.
“Ek het baie jare later eers weer met die waarheid in aanraking gekom, na ek getrou het en in die dorp Corozal in die noorde gaan woon het. Ek het ’n stukkie papier in die wind sien rondwaai, dit opgetel en gesien dat dit die buiteblad van die boekie Jehovah’s Witnesses and the Question of Blood was. Ek het vir ’n vriendin gesê dat dit een oortuiging van die Getuies is waarmee ek nie kon saamstem nie. Sy het gesê dat ek dalk nog eendag met hulle sou saamstem. Die volgende dag het ’n broer my besoek en gesê hy het gehoor dat ek belangstel om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer. Al het ek vir hom gesê dat ek werklik nie belangstel nie, het hy verduidelik dat dit nie veel tyd sou verg nie; daarom het ek ingestem. Uiteindelik het ek daardie Waarheid-boek gebruik wat agt jaar lank vir my so kosbaar was!
“My skoonouers het my man kort daarna aangespoor om ’n stokkie voor my studie te steek. Toe het ons na ’n afgesonderde dorpie getrek, en ek het kontak met die Getuies verloor. Eindelik het ’n suster my tydens die huis-tot-huisbediening besoek, en ek het my studie hervat. My man het alles in sy vermoë gedoen om die studie te ontwrig. Hy het dronk geword, geraas gemaak, my uit die huis gejaag of gedreig om ’n verhouding met ’n ander vrou aan te knoop. Maar ek het vasgestaan en in gebed al my sorge op Jehovah gewerp. Twee jaar terug het Jehovah my gebede verhoor op ’n manier wat al my verwagtings oortref het.
“Eendag het my man met ’n gekneusde gesig huis toe gekom, en hy is reguit bed toe. Later daardie dag het hy gesê: ‘Ek wil ook die Bybel bestudeer!’ Daardie verandering het vir my groot vreugde gebring maar het ons die woede van sy familie op die hals gehaal. ‘Om van godsdiens te verander is soos om van ouers te verander’, het hulle vir hom gesê, ‘jy is dus nie meer ons seun nie!’ Aangesien ek en my man nou eensgesind was, het ons vinnig gevorder. Ons is op 5 Desember 1987 by ons eerste Spesiale Byeenkomsdag gedoop.”
So word “visse” selfs in die afgeleë gebiede van Belize gevang. Die brosjure Jy kan vir ewig op die aarde lewe! is in Ketchi vertaal in die hoop dat baie ander in daardie dorpies gehelp kan word om die goeie nuus te aanvaar. Diegene wat van die besoedelde waters van Satan se stelsel gered is, geniet die kristalhelder waters van waarheid in Jehovah se geestelike paradys.
Byvoorbeeld: ’n Jong man in die stad Belize het van Jehovah se rein standaarde in die Bybel gehoor. Hy het sy verslawing aan dagga en ander dwelms oorwin en is gedoop. Kort daarna het hy ’n voltydse ‘visser van mense’ geword. Hy het ook die voorreg om ’n bedieningskneg in sy gemeente te wees. Honderde ander is gehelp om hulle lewe te reinig deur hulle huwelik te wettig en dit by die owerheid te registreer. Baie ander is geleer om te lees en te skryf sodat hulle self God se Woord kan bestudeer. Die opvoedingswerk van Jehovah se Getuies in Belize voorsien dus nie net in die geestelike behoeftes van mense nie, maar bring ook ander voordele vir die gemeenskap mee.
Die net word ingetrek
Jesus se dissipels het eenmaal sy instruksies gevolg en hulle net aan die ander kant van hulle boot uitgegooi. En “deur die menigte van visse was hulle nie meer in staat om dit te trek nie” (Johannes 21:6). Die reaksie op die goeie nuus is eweneens so groot dat dit vir die Getuies in Belize ’n uitdaging is om na die menigte wat in die organisasie inkom om te sien.
Daar is ’n groot behoefte aan ryp broers om die leiding in die gemeentes te neem. Daar is gemiddeld net een of twee ouere manne in elke gemeente. Dan is daar die uitdaging om al die dele van die land gereeld met die goeie nuus te bereik. Baie gebiede kan per pad bereik word, maar weens die gebrek aan openbare vervoer is dit vir Getuies moeilik om die belangstelling wat hulle vind aan te wakker of vir belangstellendes moeilik om vergaderinge gereeld by te woon. Die enigste praktiese manier om party afgesonderde gebiede te bereik is nog steeds te voet of met ’n boomkano.
Die Getuies in Belize sukkel om geskikte plekke vir hulle weeklikse gemeentelike vergaderinge en jaarlikse streek- en kringbyeenkomste te kry. Die totale opkoms by 1987 se “Vertrou op Jehovah”-Streekbyeenkomste was meer as 2 200, bykans drie maal soveel as die verkondigers in die land. Die broers het vir daardie byeenkomste ’n tydelike struktuur op ’n terrein naby Ladyville opgerig. Nou ondersoek hulle die moontlikheid om ’n permanente byeenkomssaal daar te bou.
Hoewel die uitdaging groot is, reageer die Getuies geesdriftig daarop. Hulle het dit getoon deur hulle deelname aan die velddiens te vergroot. In 1979 het die verkondigers elke maand gemiddeld 8,3 uur aan die predikingswerk gewy. Nou wy hulle elke maand gemiddeld 11,3 uur daaraan. Daar was ook ’n pragtige toename in die pioniergeledere. In 1979 was daar gemiddeld 10 hulppioniers en 12 gewone pioniers per maand. Nou is daar elke maand 51 hulppioniers en 42 gewone pioniers, wat tussen 14 en 74 jaar oud is.
Te oordeel na die uitstekende opkoms by die herdenking van Christus se dood wat op 22 Maart 1989 gehou is, is die vooruitsigte op uitbreiding goed. Die broers het hard gewerk om belangstellendes uit te nooi. Die gevolg? ’n Totale opkoms van 3 834—meer as vier maal soveel as die verkondigerhoogtepunt! Dit was verblydend om al die etniese groepe—Kreole, Mestiese, Majas, Europeërs, Chinese, Libanese en ander—so met mekaar te sien omgaan.
Daarbenewens hou die 844 verkondigers in die land meer as duisend tuisbybelstudies. As hulle hul voortdurend tot die Hoof van die gemeente, Jesus Christus, vir leiding wend, sal baie ander in Belize ongetwyfeld op die uitnodiging reageer om “vissers van mense” te word.
[Kaarte op bladsy 22]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
GOLF VAN MEXIKO
MEXIKO
BELIZE
Belize
Punta Gorda
GUATEMALA
GOLF VAN HONDURAS
[Prente op bladsy 24, 25]
Konstruksie van ’n Koninkryksaal in San Pedro, Ambergris Cay