Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 3/15 bl. 21-23
  • Sierra Leone se kosbaarste “diamante” word opgespoor

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sierra Leone se kosbaarste “diamante” word opgespoor
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Doelgerigte waarheidsoekers
  • Hulle reageer op volgehoue hulp
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 3/15 bl. 21-23

Sierra Leone se kosbaarste “diamante” word opgespoor

IN 1462 het ’n groep dapper Portugese seevaarders met die weskus van Afrika langs gevaar tot hul net 890 kilometer noord van die ewenaar was. Hulle is nie afgeskrik deur legendes van ’n donker see vol monsters wat kwansuis suid van Marokko geleë was nie. Hulle het ook nie die algemene opvatting aanvaar dat die son naby die ewenaar so warm was dat die oseaan gekook het nie.

Net soos daardie seevaarders verwag het, het hulle houtskepe nie in vlamme opgegaan en het hulle ook nie die legendariese afkopmonsters gesien nie. Pleks daarvan het hulle op pragtige wit strande afgekom waar donkergroen berge met welige woude op die agtergrond uitgetroon het. En wanneer die tropiese reëns die aarde oorstroom en weerlig die lug geklief het, het die donderslae soos die gebrul van ’n reusedier in daardie berge gedreun en gerommel. Dit is interessant dat daardie seevaarders die plek Sierra Leone—“Leeuberge”—genoem het!

Met die jare het mense uitgevind dat Sierra Leone se rykdom nie tot skoonheid beperk was nie. Daar was ook minerale: yster, bauxiet, rutiel, chromiet, platinum en goud. Maar dit was eers in 1930 dat daar ’n ontdekking gedoen is wat die handelswêreld van hierdie landjie laat kennis neem het. Diamante is ontdek! Hierdie waardevolle edelstene was volop en dit het duisende prospekteerders gelok.

Sommige het diamante letterlik op die grond opgetel. Een vrou het ’n yslike diamant gevind terwyl sy haar klere in ’n stroom gewas het. ’n Man het ’n edelsteen van 153 karaat opgegrawe terwyl hy patats in ’n land geplant het. Maar in die meeste gevalle het dit baie inspanning geverg om hierdie kosbare stene te vind. Sommige diamante kom byvoorbeeld diep onder die aarde, in kimberliet, ’n soort gesteente, voor. Om dit te delf moet jy daarna grawe, plofstof en ’n meule gebruik en sorteerwerk doen. Dit verg ook vaardigheid, kennis en geduld.

Hoewel diamante tot vandag toe op groot skaal gemyn word, word daar sedert 1915 na ander edelstene—geestelike diamante wat baie waardevoller is—in Sierra Leone gesoek. In daardie jaar het ’n man genaamd Alfred Joseph uit Barbados vertrek en per stoomskip na hierdie land gereis. Hier het hy begin “prospekteer”, nie na diamante nie, maar na mense wat die ware God graag “in gees en waarheid” wou dien (Johannes 4:24). Hy het op soortgelyke wyse as die eerste-eeuse Christene gesoek—“in die openbaar en van huis tot huis” (Handelinge 20:20, NW). Sewe jaar later het William R. Brown, ook van die Wes-Indiese Eilande, hom by Alfred Joseph in hierdie werk aangesluit.

’n Gemeentetjie is teen die einde van 1923 in die hoofstad, Freetown, gestig. Daardie gemeente het onder andere uit 14 pasgedooptes bestaan. Vandag neem 632 mense in 30 gemeentes daadwerklik as Jehovah se Getuies aan die openbare predikingswerk deel. Hulle pogings om Sierra Leone se kosbare geestelike diamante te vind en te delf, is steeds baie suksesvol.

Doelgerigte waarheidsoekers

Sommige nuwe dissipels van Jesus Christus was soos diamante wat maklik op die grond opgetel kon word. Hulle het doelgerig na Jehovah se Getuies gesoek. Een van hulle was ’n haarkapster genaamd Joan. Sy het die plaaslike hoofkantoor van die Getuies in Freetown geskakel en om ’n Bybelstudie gevra.

Wat het Joan daardie telefoonoproep laat maak? “Ek kan nie onthou dat daar ooit ’n tyd in my lewe was dat ek nie na God gesoek het nie”, het sy gesê. “Ek het sedert my kinderdae aan baie kerke en godsdiensgroepe behoort maar kon nooit geestelike bevrediging kry nie.

“Ek het ongeveer tien jaar gelede van die Getuies bewus geword, maar ek het hoegenaamd sonder ’n rede gedink dat hierdie mense tot elke prys vermy moes word. Toe ’n vriendin van die familie ’n Getuie geword het, het ek op Die Wagtoring en Ontwaak! ingeteken. Ek het dit net gedoen om haar te plesier; ek het nooit die moeite gedoen om dit te lees nie. Trouens, ek het dit gebruik om my vensters mee skoon te maak! Toe het daar ’n Ontwaak! gekom wat my aandag getrek het. Die voorbladartikel het oor ons behoefte aan liefde gehandel [22 September 1986]. Ek het dit gelees en was baie beïndruk. Dit was daardie tydskrif wat my om ’n Bybelstudie laat vra het.” Joan het vinnig vordering gemaak en is kort daarna as ’n Getuie van Jehovah gedoop.

Nog ’n persoon wat na die waarheid gesoek het, was ’n jong man genaamd Manso. Hy wou ’n priester word en het na ’n kweekskool gegaan. Maar toe hy gesien het hoe skynheilig sy leermeesters is, het dit hom baie mismoedig gemaak en het hy die kweekskool verlaat. Daarna het Manso ander godsdiensvergaderinge begin bywoon. Toe hy op ’n dag vir ’n oom gaan kuier het, het hy ’n boek gesien wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee word—Is die Bybel werklik die Woord van God? Dit het in ’n modderplas op die grond gelê. Aangesien die titel Manso se belangstelling gewek het, het hy die boek uitgehaal, dit laat droog word en gelees. Hier was die waarheid waarna hy gesoek het! Die boek het lesers aangemoedig om vergaderinge by die plaaslike Koninkryksaal by te woon. Manso het derhalwe gegaan, die Bybel saam met die Getuies begin studeer en is kort daarna gedoop. Nou dien hy as ’n voltydse pionier!

Hulle reageer op volgehoue hulp

Maar ander nuwe dissipels was meer soos diamante wat diep in gesteentes ingesluit was. Dit het groot inspanning gekos om hulle “op te grawe”. Donald, ’n Christen- ouere man, vertel hoe geduldig hulle moes wees om ’n vrou genaamd Martha te help. Hy sê: “Hoewel sy tot ’n studie ingestem het, het sy ons altyd lank laat wag voordat ons kon begin. Soms het sy werkies wat sy vroeër kon gedoen het opsetlik uitgestel. Dan het sy ons gevra om te wag totdat sy dit gedoen het. Ons het soms langer as ’n uur gewag. Sy het gehoop dat ons ontmoedig sou raak en sou weggaan, maar ons het elke week probeer om ten minste ’n bietjie betekenisvolle materiaal te dek. Die gevolg? Haar waardering het mettertyd toegeneem.

“Nog ’n probleem was om Martha by die vergaderinge te kry. Ek het ander Getuies na haar Bybelstudie geneem sodat sy op haar gemak kon voel wanneer sy na die Koninkryksaal gaan. Maar sy het dit so lank uitgestel dat sy so te sê die hele gemeente geken het toe sy eindelik gekom het!” Ons geduld is beloon. Martha is nou gedoop en het ’n goeie naam in die gemeente.

Pius het hom aanvanklik teen die waarheid verset. Toe ’n sendelingpaartjie die Bybel met hom begin studeer het, was Pius in sy sewentigerjare, ’n getroue lid van ’n politieke party en die tesourier van sy kerk. “Hy het bitterlik gestry oor elke gedagte wat ons bespreek het”, het die sendelinge gesê. “Hy was elke week kalm wanneer ons die studie begin het, maar het al hoe driftiger geword. Dit was elke week ’n stryd, en ons het dikwels so moedeloos gevoel dat ons hom wou opgee. Al rede wat ons altyd na hom laat teruggaan het, was dat hy die les so deeglik voorberei het.

“Na omtrent ’n jaar hiervan het Pius vir ons gesê dat hy besluit het om sy eie navorsing te doen. Aangesien hy ’n afgetrede onderwyser was, het hy geweet hoe om navorsing te doen. Hy het twee weke lank elke dag die berg na die universiteitsbiblioteek geklim, waar hy hom in Bybelkommentare en naslaanwerke verdiep het. Agterna het hy gesê: ‘Ek is nou oortuig dat alles wat julle my vertel het waar is. God is nie ’n Drie-eenheid nie, daar is nie ’n helse vuur nie en die siel is nie onsterflik nie. Selfs party mense in my kerk erken dat dit so is.’ Daarna het Pius vinnig gevorder en uit die politiek sowel as die kerk bedank. Na sy doop het hy tot met sy dood in 1987 so dikwels as wat hy kon as hulppionier gedien deur 60 uur per maand aan die predikingswerk te bestee.

“Iets wat ons lank nie geweet het nie”, sê die sendelinge wat Pius onderrig het, “was dat sy ma met Jehovah se Getuies omgegaan het. Hy het onthou dat hy saam met sy ma vergaderinge bygewoon het toe hy jonk was. Maar toe sy gesterf het, het hy sy eie gang gegaan. Na sy doop het Pius gesê: ‘Ek is net spyt dat my ma my nie nou kan sien nie.’ Toe het sy gesig verhelder en het hy bygevoeg: ‘Maar sy sal my in die nuwe wêreld sien!’”

Daar word tot vandag toe nog na diamante en na dissipels gesoek. Glansadvertensies spog dikwels: “Diamante is vir ewig.” Maar die eienaar van so ’n pragtige edelsteen kan nie vir ewig genot daaruit put nie, want afgesien van God se voorsiening vir redding is die dood die lot van die hele sondige mensdom (Johannes 3:16, 17). Die werk van Jehovah se Getuies in Sierra Leone lewer dus ’n baie waardevoller skat as blote diamante op: dienaars van God en dissipels van Jesus Christus! En Jehovah se Woord belowe: “Hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:17.

[Kaart/Prente op bladsy 22, 23]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

[Prente]

Te midde van sulke natuurtonele vind Koninkryksverkondigers geestelike diamante in Sierra Leone

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel