Jesus se lewe en bediening
Jesus veroordeel sy teenstanders
JESUS het sy godsdiensteenstanders so deeglik verwar dat hulle bang is om hom enigiets anders te vra. Hy neem dus die inisiatief om hulle onkunde bloot te lê. “Wat dink julle van die Christus?” vra hy. “Wie se seun is Hy?”
“Dawid s’n”, antwoord die Fariseërs.
Hoewel Jesus nie ontken dat Dawid die vleeslike voorouer van die Christus, of Messias, is nie, vra hy: “Hoe is dit dan dat Dawid Hom in die Gees [in Psalm 110] Here noem as hy sê: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand tot Ek u vyande gemaak het ’n voetbank van u voete? As Dawid Hom dan Here noem, hoe is Hy sy seun?”
Die Fariseërs swyg, want hulle weet nie wat die ware identiteit van die Christus, of gesalfde, is nie. Die Messias is nie, soos die Fariseërs blykbaar glo, bloot ’n menslike afstammeling van Dawid nie, maar hy het in die hemel gelewe en was Dawid se meerdere, of Here.
Jesus wend hom nou tot die skare en tot sy dissipels en waarsku hulle teen die skrifgeleerdes en die Fariseërs. Aangesien hulle onderrigters van God se Wet is en ‘op die stoel van Moses sit’, maan Jesus: “Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit.” Maar hy voeg by: “Maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en doen nie.”
Hulle is geveinsdes, en Jesus veroordeel hulle met min of meer dieselfde woorde as toe hy ’n paar maande gelede in die huis van ’n Fariseër geëet het. “Hulle doen al hul werke”, sê hy, “om deur die mense gesien te word.” En hy gee voorbeelde, naamlik:
“Hulle maak hul gedenkseëls [“dosies met skrifgedeeltes wat hulle as beskermmiddel dra”, NW] breed.” Hierdie relatief klein dosies wat op die voorkop of op die arm gedra word, bevat vier dele van die Wet: Exodus 13:1-10, 11-16; en Deuteronomium 6:4-9; 11:13-21. Maar die Fariseërs maak hierdie dosies groter om die indruk te gee dat hulle ywerig is vir die Wet.
Jesus sê verder dat hulle “die some [“fraiings”, NW] van hulle klere groot” maak. In Numeri 15:38-40 (NW) is die Israeliete beveel om fraiings aan hul klere te maak, maar die Fariseërs maak hulle s’n groter as enigiemand anders s’n. Alles word vir die vertoon gedoen! “Hulle hou van die voorste plekke”, sê Jesus veragtend.
Sy eie dissipels is ongelukkig deur hierdie begeerte na vernaamheid beïnvloed. Hy waarsku dus: “Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester: Christus, en julle is almal broeders. En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is. Julle moet julle ook nie leermeesters [“‘leiers’”, NW] laat noem nie, want een is julle leermeester [“Leier”, NW]: Christus.” Die dissipels moet hulle vrymaak van die begeerte om die belangrikste te wees! “Die grootste van julle moet jul dienaar wees”, maan Jesus.
Hy spreek hierna ’n reeks weë oor die skrifgeleerdes en die Fariseërs uit waarin hy hulle keer op keer geveinsdes noem. Hulle “sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense”, sê hy, en hulle “eet die huise van die weduwees op, en doen vir die skyn lang gebede”.
“Wee julle, blinde leiers”, sê Jesus. Hy veroordeel die Fariseërs se gebrek aan geestelike waardes, wat getoon word deur die arbitrêre onderskeid wat hulle in verskeie sake tref. Hulle sê byvoorbeeld: ‘As jy by die tempel sweer, is dit niks nie, maar as jy by die goud van die tempel sweer, is jy gebonde.’ Hulle toon hulle sedelike blindheid deurdat hulle meer klem op die goud van die tempel lê as op die geestelike waarde van daardie plek van aanbidding.
Soos vroeër veroordeel Jesus weer die Fariseërs omdat hulle “die swaarste van die wet [nalaat]: die reg en die barmhartigheid en die trou”, terwyl hulle baie versigtig is om tiendes te gee van onbenullige kruie.
Jesus noem die Fariseërs “blinde leiers, . . . wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk!” Hulle sif ’n muggie uit hulle wyn, nie net omdat dit ’n insek is nie, maar omdat dit seremonieel onrein is. Maar hulle veronagsaming van die belangriker sake van die Wet is soos om ’n kameel, wat ook ’n seremonieel onrein dier is, in te sluk. Mattheüs 22:41– 23:24; Markus 12:35-40; Lukas 20:41-47; Levitikus 11:4, 21-24.
◆ Waarom swyg die Fariseërs wanneer Jesus hulle uitvra oor wat Dawid in Psalm 110 gesê het?
◆ Waarom maak die Fariseërs hulle dosies wat skrifgedeeltes bevat en die fraiings aan hulle klere groter?
◆ Watter raad gee Jesus sy dissipels?
◆ In watter sake tref die Fariseërs ’n arbitrêre onderskeid, en hoe veroordeel Jesus hulle omdat hulle die belangriker sake veronagsaam?