Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 12/15 bl. 3-4
  • Vrede—Deur ontwapening?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrede—Deur ontwapening?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ontwapeningspogings
  • Bereken die koste
  • Vrede—Is dit ’n tevergeefse hoop?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Kan ons ’n einde maak aan oorlog en gewelddadige konflik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2025
  • Die droom van wêreld-vrede—’n skewe beeld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Sal ons altyd—leërs nodig hê?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 12/15 bl. 3-4

Vrede—Deur ontwapening?

“DIT is die grootste fout om ontwapening met vrede te verwar”, het Winston Churchill vyf jaar voordat die nasies in die Tweede Wêreldoorlog gedompel is, gesê. “Wanneer daar vrede is, sal daar ontwapening wees”, het hy bygevoeg.

Watter paradoks! Wie sal dit waag om te ontwapen voordat vrede verseker is? Maar hoe kan daar ware vrede wees terwyl wapens vir oorlogvoering opgehoop word? Dit is ’n situasie waaruit politici nog nooit ’n uitweg kon vind nie.

Winston Churchill het daardie woorde in 1934 geuiter, na afloop van die Ontwapeningskonferensie wat net twee jaar vroeër deur die Volkebond belê is. Die doel van hierdie konferensie, waarvan die voorbereiding 12 jaar geduur het, was om die herbewapening van Europa te voorkom. Die afgryslike slagting van sowat negemiljoen vegters gedurende die Eerste Wêreldoorlog, asook nog miljoene wat gewond is en die groot aantal burgerlikes wat dood of beseer is, was nog vars in die geheue van mense dwarsoor die wêreld. Maar ontwapening is nooit verwesenlik nie. Waarom nie?

Ontwapeningspogings

’n Ontwapeningsbeleid kan selde doeltreffend toegepas word. Duitsland is byvoorbeeld ingevolge die Verdrag van Versailles van 1919 ontwapen met “genoegsame wedersydse waarborge dat nasionale wapentuig verminder sal word tot die minimum wat vir binnelandse veiligheid nodig is”. Dit het gestrook met een van Amerikaanse president Woodrow Wilson se voorstelle, wat later by Artikel 8 van die handves van die Volkebond ingelyf is. Maar toe Hitler aan die bewind gekom het, het hy die beleid gou verontagsaam.

Het die Verenigde Volke na die Tweede Wêreldoorlog daarin geslaag om ’n vaste fondament vir ontwapening te lê? Nee, maar sy onvoorspoedigheid was nie weens ’n gebrek aan ’n volgehoue poging nie. Maar omdat kernwapens vir grootskaalse vernietiging toe beskikbaar was, was ontwapening ’n baie dringende geskil. “Die vorige standpunt dat wapenwedlope ekonomies onraadsaam is en onvermydelik tot oorlog lei”, sê The New Encyclopædia Britannica, “is vervang deur die argument dat die toekomstige volskaalse gebruik van kernwapens die beskawing self bedreig.”

In 1952 is ’n Ontwapeningskommissie van 12 nasies gestig om die ontwikkelende Oos/Wes-wapenwedloop teë te werk. Dit was onsuksesvol, en die twee groot moondhede het hulle opponerende kampe uiteindelik verder gepolariseer. Verskeie ander ooreenkomste en verdrae is tot op hede aangegaan. Maar die klimaat van wedersydse wantroue het nie die algehele wegdoening van alle oorlogswapens moontlik gemaak nie. Dit is volgens The New Encyclopædia Britannica iets wat “deur utopiese denkers voorgestaan word”.

Bereken die koste

Om te ontwapen of nie te ontwapen nie—watter koste is daarby betrokke? Die koste is nie altyd in terme van geld nie. Werkverskaffing in wapenverwante nywerhede is ook ’n belangrike oorweging. In baie lande word belastinggeld gebruik om wapentuig te koop, en die vervaardiging daarvan stimuleer werkverskaffing. Ontwapening kan dus tot werkloosheid lei. Dit is waarom lande met groot verdedigingsbegrotings huiwer by die gedagte aan algehele ontwapening. Vir hulle is sulke denke ’n nagmerrie pleks van ’n Utopiese droom.

Maar ons kan nie die ontsaglike bedrae geld wat die oorlogsmasjien aan die gang hou, ignoreer nie. Na raming word 10 persent van die waarde van die wêreld se totale produksie aan wapentuig spandeer. Hoeveel beloop dit? Die presiese syfers wissel weens inflasie, maar dink aan £1 miljoen (R4,35 miljoen) wat elke minuut van die dag hieraan spandeer word! Wat sou jy as prioriteite kies as jy daardie bedrag tot jou beskikking het? Hulpverlening vir hongersnood? Gesondheidsdienste? Kinderwelsyn? Ekologiese herstelling? Daar is so baie dinge wat gedoen kan word!

Neem as voorbeeld die “tenks tot trekkers”-program wat onlangs in die USSR aangekondig is waar party wapenfabrieke nou omgeskep word om 200 soorte “gevorderde toerusting vir die landbou-nywerheidsektor” te vervaardig. Waarom is daar ’n dringende behoefte aan daardie landbougereedskap? Omdat, volgens Brittanje se Farming News, “slegs ’n derde van die vrugte en groente wat op staatsplase gekweek word die verbruiker bereik, terwyl die res op die lande gelaat word om te verrot of by deurvoerpunte en voorraadskure bederf”.

Hoe prysenswaardig dit ook al is om trekkers pleks van tenks te vervaardig, kom dit in die nuus omdat dit so ongewoon is. Daarbenewens is die uitwerking daarvan op die totale wapenproduksie onbeduidend. Ontelbare honderdmiljoene ponde, roebels en dollars word steeds aan wapentuig spandeer in ’n wêreld waar “mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom”, net soos Jesus Christus voorspel het. Hoe kan sulke vrees verminder word? Sal algehele ontwapening net ’n droom bly? Indien nie, wat is nodig om dit te bewerkstellig?—Lukas 21:26.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel