Oestyd in die land van ys en sneeu
GROENLAND, die grootste eiland ter wêreld, is werklik ’n land van ys en sneeu. Die grootste gedeelte van hierdie eiland wat bykans 2 700 kilometer lank is, lê noord van die Noordpoolsirkel en word permanent deur ys bedek wat gemiddeld 1,5 kilometer dik is. Die res van Groenland word vyf tot agt maande van die jaar of meer deur sneeu bedek. Daar word gesê dat die vroeë Wikingontdekkingsreisigers dit Groenland genoem het om setlaars te trek. Gedurende die kort somer is dit egter ’n gepaste naam vir sekere kusgebiede.
In die lente verbrokkel die yslaag op die see naby Noordoos-Groenland, en pakys verskyn. Hierdie ys beweeg langs die ooskus af, om Kaap Farewell en gedeeltelik met die weskus op, en dit maak seereise maande lank baie moeilik. In die winter verys die see rondom die grootste gedeelte van die eiland en sny dit die bewoonde gebiede af. Ys domineer letterlik die land, die see en die mense se lewenswyse. Dit is moeilik om aan iets te dink wat in hierdie land geoes kan word.
Die begin
Eskimo’s van Inuit-kulture woon al eeue lank as jagters in Groenland. In 1721 het Lutherse predikant Hans Egede as ’n sendeling na Groenland gekom. Later was die Morawiese Sendinggenootskap in verskeie dorpies bedrywig. Party van hulle sendelinge het sekere boeke van die Bybel in Groenlands vertaal en God se persoonlike naam, Jehovah, in hulle vertaling behou. Maar sedert 1900 is net die Deense Lutherse Kerk in Groenland teenwoordig.
In 1953, terwyl Groenland nog ’n kolonie van Denemarke was, het sake ’n belangrike wending geneem. Volgens die nuwe Deense grondwet wat daardie selfde jaar in werking getree het, is ander godsdiensgroepe benewens die Lutherse kerk weer in Groenland toegelaat. In Januarie 1955 het twee van Jehovah se Getuies dus as sendelinge uit Denemarke aangekom. Hulle toewysing was ’n strook van 2 000 kilometer aan die suidwestelike kus, waar omtrent al die Groenlanders gewoon het—’n bevolking van 27 000 wat grotendeels uit jagters en vissermanne bestaan het.
Kristen Lauritsen, een van die twee Getuies, vertel: “Ons kennis van Groenlands was baie beperk, maar ons het ’n sterk begeerte gehad om Groenlanders die waarheid van God se Woord te leer. Ons het ’n paar traktate in Groenlands gehad, en die boekie ‘Hierdie goeie nuus van die koninkryk’ het later gedurende daardie eerste jaar aangekom.” Hoe het hulle hulle predikingswerk gedoen?
“In die begin het ons gedrukte kaarte gebruik om die doel van ons besoek te verduidelik. Maar ons het later ’n paar sinne uit ons kop geleer. Vervoer tussen die dorpe was altyd per boot en baie ongereeld, want roosters was bykans onbekend. Seesiekte was iets alledaags. Ons het ook gesukkel om blyplek te kry. Dikwels moes ons klaarkom met die tent wat ons altyd saam met ons bagasie gedra het.”
Maar ander dinge het daarvoor vergoed. Die Groenlanders is vriendelike en gasvrye mense. Dit is vir hulle natuurlik om aan God te glo en die Bybel te respekteer. Omtrent elke gesin het die hele Bybel in die volkstaal. Kristen onthou dat ’n dogtertjie eenmaal na hulle toe gekom het met ’n briefie wat gesê het: “As julle nog nie blyplek het nie, kan julle by ons kom bly.” Hierdie gesin het hulle ook gehelp om ’n plek te kry waar hulle een van die Genootskap se rolprente kon vertoon.
Meer hulp
Teen 1961 het gesinne van Denemarke na Groenland begin verhuis om te dien waar meer hulp nodig was. Hulle het prysenswaardige pogings aangewend om die besonder moeilike Groenlandse taal te leer en afsondering van medegelowiges te verduur. Hulle het gereeld vergaderinge gehou en sterk gebly in hulle geloof en Christenbedrywigheid. Hulle werk was beslis nie tevergeefs nie. Daardie jaar is die eerste twee gemeentes in Groenland gestig, een in die hoofstad Nûk (Godthaab) en die ander in Qaqortoq (Julianehaab), in die suide. Dit het die Getuies groot vreugde verskaf toe party Groenlanders wat na Skandinawië verhuis het, gedoop is.
In die sewentigerjare het etlike jong en ywerige egpare wat spesiale pioniers was, daar aangekom en die voortou geneem in die predikingswerk. Teen 1973 was Die Wagtoring en die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe in Groenlands beskikbaar. Die pioniers, wat met hierdie publikasies toegerus was, het op en af met die kus gevaar, dorpies besoek en die waarheidsaad volop gesaai. Die predikingswerk het vir die eerste keer die afgesonderde ooskus by Ammassalik (Angmagssalik) bereik. Wat ’n vreugde was dit tog toe ’n Groenlander uiteindelik gedurende daardie jaar die waarheid in Groenland aangeneem het!
Uiteindelik die oes!
Mettertyd is ander Bybelstudiehulpe in die plaaslike taal vertaal en is baie lektuur versprei. Dit was byvoorbeeld nie ongewoon dat ’n paar Getuies wat ’n paar weke in die ontoegekende gebied gewerk het tussen 300 en 400 boeke, net soveel boekies en 1 000 tydskrifte versprei het en ook 60 of 70 intekeninge verkry het nie.
Omdat hulle soveel gesaai en natgemaak het, het ‘God dinge laat groei’ onder die Groenlandse boorlinge sowel as die Dene wat in Groenland woon (1 Korinthiërs 3:5-7). Vandag dien 117 Koninkryksverkondigers in sewe gemeentes en een afgesonderde groep wat dwarsdeur hierdie land van ys en sneeu versprei is. Kom ons ontmoet ’n paar van hierdie harde werkers.
’n Besoek aan die veld in Groenland
’n Goeie plek om te begin is die suidelikste gemeente, in Qaqortoq (Julianehaab). Vyf gesinne het van Denemarke gekom om daar te dien. Party van hulle het hulle ingespan om Groenlands te leer sodat hulle vir die Groenlanders wat nie Deens verstaan nie, kan getuig. Flemming, ’n gesinsman en pionier (’n voltydse Koninkryksverkondiger) in hierdie gemeente, sê: “Ons gebied is groot. Dit sluit baie vissersdorpies en skaapplase in wat tussen die fjords langs die suidkus lê.” Die Getuies gebruik hul eie motorbote en vaar tot 640 kilometer ver om besoeke te doen op die mense wat in hierdie afgeleë plekke woon.
Na ’n boottog van drie uur deur die skilderagtige fjords kom ons by die volgende gemeente, by Narsaq. Hier woon ’n enkele gesin van vier Koninkryksverkondigers. Al is hulle afgesonder, kan hulle mekaar aanmoedig en geestelik opbou deur gesonde studiegewoontes en deur gereeld vergaderinge te hou en aan die veldbediening deel te neem.
Nou gaan ons aan boord van die passasierskusvaarder wat gedurende die somermaande weekliks hier aandoen. Hierdie vaart van 24 uur neem ons tot by Paamiut (Frederikshaab), waar daar tien Getuies is. Maar halfpad daarheen gaan ons verby ’n dorpie waar daar twee afgesonderde verkondigers is. Een van hulle, Ane Marie, het ’n seun in Nûk wat ’n paar jaar gelede die waarheid geleer het en oor die telefoon en per brief vir haar begin getuig het. Sy het waardering gehad vir wat hy haar vertel het. Ane Marie het standpunt ingeneem vir die waarheid nadat sy alles wat in Groenlands beskikbaar was, gelees het en na bandopnames van Groenlandse Getuies wat hulle ondervindinge vertel, geluister het. Sy het, al was sy al oor die 60 en sonder die ondersteuning van ’n plaaslike gemeente, met haar rookgewoonte van 50 jaar gebreek, opgehou om Kersfees en verjaardae te vier en vir die hele dorpie begin getuig. As gevolg van haar geduldige pogings en goeie voorbeeld kom tien belangstellendes gereeld bymekaar om die Bybel te bestudeer en na bandopnames van die vergaderinge te luister.
Ons verlaat Paamiut en na ’n 14 uur lange vaart oor die rowwe, oop see kom ons by Nûk. In hierdie hoofstad met sy 13 000 inwoners is daar 43 verkondigers in die gemeente, en meer as ’n derde van hulle is Groenlanders. Tydens die weeklikse vergaderinge word Deens sowel as Groenlands gebruik, wat werklik ’n uitdaging vir albei taalgroepe is.
As ons weer aan boord van die passasierskip gaan, neem ’n vaart van agt uur ons tot by Maniitsoq (Sukkertoppen). Hier werk vier gesinne van Denemarke saam met ’n paar plaaslike Koninkryksverkondigers. Hulle het die gebied in die dorp so deeglik gedek en soveel Bybellektuur versprei dat al om die ander huisgesin ’n eksemplaar van My boek met Bybelverhale in Groenlands het. Hulle reël ook gereelde reise met hulle motorbote om in afgeleë dorpies te gaan getuig.
Ons reis verder noord en ons volgende stilhouplek is Sisimiut (Holsteinsborg), tien uur hiervandaan. Die gemeente daar bestaan uit vyf Deense gesinne en ’n paar plaaslike verkondigers. Een egpaar in die gemeente wat spesiale pioniers is, besoek die ooskus van tyd tot tyd. Dit verg ’n helikoptervlug van ’n halfuur na die lughawe, twee uur per vliegtuig oor die sentrale ysdek en nog ’n kort vlug per helikopter oor die baai na Ammassalik aan die ooskus. Die natuurskoon daar is werklik indrukwekkend—ruwe berge wat uittroon bo gletsers in die valleie. Die mense is heel ontvanklik vir die Koninkryksboodskap, maar min het nog standpunt ingeneem vir die waarheid.
Nadat ons oor die ysdek teruggevlieg het, is ons laaste stilhouplek Ilulissat (Jakobshavn), die noordelikste gemeente. Ilulissat is Groenlands vir “ysberge”, en dit is ’n gepaste naam. Die produktiefste gletser in die Noordelike Halfrond is daar naby geleë en ysberge dryf oral in die baai en fjords rond, en dit maak die natuurskoon absoluut betowerend. Hierdie baie bedrywige gemeente bestaan uit ses gesinne van Denemarke en ’n paar Groenlanders. Behalwe die dorp Ilulissat en die hele Diskobaai-gebied het hulle seker die wêreld se noordelikste getuienisgebied wat tot by die dorpie Kullorsuaq (Duiwelsduim) naby 75 grade Noorderbreedte strek.
Die spesiale pioniers in Ilulissat besoek hierdie afgeleë gebied gereeld en getuig vir die mense in Upernavik en Uummannaq. Bo en Helen vertel: “Hierdie uitgestrekte noordelike gebiede is nog ’n ongerepte Arktiese paradys. Die gebied is yl bevolk, en mense jag meer vir hul kos as wat hulle visvang. Hulle lewe is eenvoudig en hulle bekommer hulle nie te veel oor die toekoms nie. Baie van hulle stel belang in geestelike dinge. Hulle luister geredelik na die boodskap wat ons bring.” Slegs die tyd sal leer of sulke skaapgeaardes hulle by die een ware “kudde” onder die “een herder”, Jesus Christus, sal skaar.—Johannes 10:16.
Nog net Deense pioniers het in hierdie gebied gewerk, maar ongeveer agt Groenlanders in Nûk het ’n videobandopname gemaak van ’n algemene getuienis oor ons oortuigings en lewenswyse. Toe die pioniers hierdie band in hulle huis-tot-huisbediening gebruik het, het dit mense werklik aan die gesels gekry en hulle baie vrae laat vra, veral oor waarom ons nie Kersfees vier en babas doop nie. Ons kan byvoeg dat daar sowat 200 boeke versprei is gedurende die hele reis van vier weke wat so pas beskryf is.
Die oeswerk gaan voort
Ondanks die gure weersomstandighede en die taalprobleem gaan die Koninkryksoes voort. Baie Groenlanders het die Deense taal geleer om by gemeentelike vergaderinge baat te vind. Maar al hoe meer vergaderinge word in Groenlands gehou, wat dit moontlik maak dat meer mense die geestelike voedsel kan geniet.
Byvoorbeeld: Al is 1988 se “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkomsprogram in Nûk in Deens aangebied, is omtrent ’n derde van die toesprake in Groenlands vertaal. Altesaam 163 het die byeenkoms bygewoon. Afgevaardigdes van die noordelikste gemeente in Ilulissat en die suidelikste gemeente in Qaqortoq moes tot twee dae reis net om daar te kom. Vier is by die byeenkoms gedoop.
Hoe lyk die vooruitsig op verdere oeswerk? Baie goed! In 1989 het dit die broers vreugde verskaf om te sien hoe 205 die Herdenking van Christus se dood bywoon. Daar word op die oomblik meer as honderd tuisbybelstudies gehou. Ja, Jehovah seën die harde werk van sy dienaars ryklik in hierdie land van ys en sneeu.