Vigs—‘Begin van ’n nuwe moraliteit’?
NADAT hy gewys het op ’n dokter se kommentaar dat “’n uitsluitlik monogame verhouding” die enigste manier is om te voorkom dat ’n mens Vigs seksueel opdoen, het ’n Kanadese hoofartikelskrywer gevra: “Kan die gevreesde Vigs die begin van ’n hele nuwe moraliteit in ons wêreld wees?” Die skrywer het ook gewonder of dit nie “eienaardig” is dat wat die Bybel al jare lank leer, naamlik, monogamie, “nou ’n saak van oorlewing vir die mensdom kan wees” nie. Oor die hedendaagse wêreld van “dwelms, tabak, alkohol en, nie die minste nie, seksuele oordadigheid” sê die hoofartikel: “Ons boet nou vir die pornografiese, promiskue, besoedelde wêreld wat ons geskep het.”
Dit is goed om op beter gedrag en oorlewing te hoop. Maar is dit bloot die vrees vir ’n ontydige dood of vir die einde van die mensdom wat “’n hele nuwe moraliteit” sal bewerkstellig? Nee, want in weerwil van waarskuwings deur dokters en navorsers hou die meeste rokers en strawwe drinkers dwaaslik aan om hulle gesondheid te benadeel en ’n ontydige einde aan hulle lewe te maak. En sommige homoseksuele het gesê dat hulle sal aanhou om met verskillende maats omgang te hê al loop hulle die gevaar om Vigs op te doen.—Spreuke 10:21, 23.
Wat is dan die regte afskrikmiddel vir verkeerde gedrag? Dit is sekerlik ’n gesonde vrees en eerbied vir Jehovah, wat weerspieël word deur gehoorsaamheid aan sy sedewette. “Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis.” En hierdie soort kennis bring wysheid voort wat waarlik ‘die besitter daarvan in die lewe hou’.—Spreuke 1:7; Prediker 7:12.
Dit is betekenisvol dat die redakteur, nadat hy opgemerk het dat Vigs deur ’n bloedoortapping opgedoen kan word, ook gevra het: “Is dit nie ironies dat ons wat die Jehovasgetuies ronduit veroordeel het vir hulle weiering van bloedoortappings . . . nou miskien dieselfde sal doen om ander redes nie?”