Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 10/1 bl. 10-15
  • Veroordeel jy die wêreld deur jou geloof?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Veroordeel jy die wêreld deur jou geloof?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Noag het met God gewandel
  • Waarom God hierdie stelsel gaan vernietig
  • ’n Oordeelspatroon in Noag se dag
  • Volg Noag se geloof na om behoue te bly
  • Beërf seëninge saam met Noag
  • Hy “het met die ware God gewandel”
    Volg hulle geloof na
  • Waarom God aan Noag guns betoon het—Waarom dit vir ons van belang moet wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Hy “het met die ware God gewandel”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Noag se geloof veroordeel die wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 10/1 bl. 10-15

Veroordeel jy die wêreld deur jou geloof?

“Deur die geloof het Noag . . . die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, [en deur hierdie geloof het] hy die wêreld veroordeel.”—HEBREËRS 11:7, vgl. “NW”.

1, 2. Wat kan ons uit ’n ondersoek van Noag se lewe leer?

JEHOVAH het Noag en sy gesin—altesaam net agt—die voorreg gegee om die enigste mense te wees wat die Vloed oorleef het. Die lewe van al Noag se ander tydgenote is kortgeknip toe God hulle deur ’n watervloed vernietig het. Aangesien Noag derhalwe ons gemeenskaplike voorvader is, moet ons baie dankbaar wees vir die geloof wat hy beoefen het.

2 Ons kan baie uit ’n ondersoek van Noag se lewe leer. Die Skrif deel ons mee waarom God hom met redding begunstig het terwyl Hy die mense van Noag se geslag vernietig het. Hierdie selfde goddelike verslag toon duidelik dat ons geslag ’n soortgelyke oordeel van God gaan ontvang. Jesus het in hierdie verband gesê: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Mattheüs 24:21). As ons Noag se geloof navolg, kan ons die gewisse hoop hê dat ons die naderende vernietiging van hierdie huidige goddelose stelsel sal kan oorleef.—Romeine 15:4; vergelyk Hebreërs 13:7.

3. Waarom het Jehovah die Vloed gebring?

3 Gedurende die 1 656 jaar tussen Adam se skepping en die sondvloed was daar baie min mense met ’n neiging om goed te doen. Sedelikheid het tot ’n uiters lae vlak gedaal. “Die HERE [het gesien] dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was” (Genesis 6:5). Geweld, genotsug en die teenwoordigheid van gematerialiseerde engele wat met vroue getrou en ’n nageslag reuse voortgebring het, was van die faktore wat meegebring het dat God sy oordeel aan daardie eertydse mensewêreld voltrek het. Jehovah het vir Noag gesê: “Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld.” Die Skepper, die “Regter van die ganse aarde”, se geduld was op.—Genesis 6:13; 18:25.

Noag het met God gewandel

4. (a) Hoe het Jehovah Noag beskou, en waarom? (b) Hoe het God sy liefde ten behoewe van Noag en sy gesin geopenbaar al het Sy geregtigheid die vernietiging van daardie goddelose wêreld vereis?

4 Hoe anders was Noag tog as die mense van sy dag! Hy “het genade gevind in die oë van die HERE. . . . Noag was ’n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel” (Genesis 6:8, 9). Hoe het Noag met God gewandel? Deur die regte dinge te doen, soos om as ’n voorstander van regverdigheid te preek en in geloof en gehoorsaamheid die ark te bou. Gevolglik het God, hoewel daardie eertydse wêreld vernietig is omdat dit geheel en al verdorwe was, “Noag, die prediker van geregtigheid, met sewe ander bewaar . . . toe Hy die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring het” (2 Petrus 2:5). Ja, ons liefdevolle en regverdige God, Jehovah, het nie die regverdiges saam met die goddelose vernietig nie. Hy het Noag beveel om ’n groot ark te bou waarin hy, sy huisgesin en etlike diere gered sou word om die aarde ná die sondvloed weer te bevolk. En Noag “het net so gedoen”.—Genesis 6:22, NW.

5. Hoe beskryf die Skrif Noag se regverdigheid en geloof?

5 Toe die ark klaar was, het God vir Noag gesê: “Gaan in die ark, jy en jou hele huisgesin, want jou het Ek regverdig bevind voor my aangesig in hierdie geslag.” Paulus som die situasie soos volg op: “Deur die geloof het Noag, toe hy ’n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, [en deur hierdie geloof het] hy die wêreld veroordeel . . . en ’n erfgenaam geword . . . van die geregtigheid wat volgens die geloof is.”—Genesis 7:1; Hebreërs 11:7, vgl. NW.

6. Hoe het Noag die wêreld van sy dag deur sy geloof veroordeel?

6 Noag het buitengewone geloof gehad. Hy het geglo wat God aangaande die uitwissing van daardie geslag gesê het. Noag het ’n heilsame vrees gehad om Jehovah te mishaag en het die ark gehoorsaam volgens godgegewe bevele gebou. Daarbenewens het Noag, as ’n prediker van geregtigheid, ander van die naderende vernietiging vertel. Hoewel hulle nie op sy woorde ag geslaan het nie, het hy nie toegelaat dat hulle hom in daardie goddelose wêreld ‘se vorm indruk’ nie (Romeine 12:2, Phillips). Noag het eerder, deur sy geloof, die wêreld veroordeel weens die goddeloosheid daarvan en getoon dat dit vernietiging verdien. Sy gehoorsaamheid en regverdige dade het getoon dat ander buiten hom en sy gesin behoue kon gebly het as hulle bereid was om hulle lewenstyl te verander. Noag het inderdaad bewys dat dit ondanks druk van sy onvolmaakte vlees, die goddelose wêreld om hom en die Duiwel moontlik was om ’n lewe te lei wat God behaag.

Waarom God hierdie stelsel gaan vernietig

7. Hoe weet ons dat ons in die laaste dae lewe?

7 Die wêreld het in elke dekade van hierdie 20ste eeu dieper in goddeloosheid verval. Dit was veral sedert die begin van die Eerste Wêreldoorlog die geval. Die mensdom is nou al so deurtrokke van euwels soos geslagsonsedelikheid, misdaad, geweld, oorlog, haat, hebsug en die misbruik van bloed dat liefhebbers van wat reg is, wonder of toestande hoegenaamd kan vererger. Tog het die Bybel voorspel dat uitermatige goddeloosheid in ons geslag sou voorkom—nog ’n bewys dat ons ons in “die laaste dae” bevind.—2 Timotheüs 3:1-5; Mattheüs 24:34.

8. Wat het party oor bewustheid van sonde gesê?

8 Vandag het die begrip sonde vir verreweg die meeste mense betekenis verloor. Meer as 40 jaar gelede het pous Pius XII gesê: “Die sonde van hierdie eeu is die verlies van alle besef van sonde.” Die huidige geslag weier om sonde en skuld te erken. In sy boek Whatever Became of Sin? het dr. Karl Menninger gesê: “Die woord ‘sonde’ . . . het feitlik verdwyn—die woord, sowel as die begrip. Waarom? Sondig niemand meer nie?” Baie kan nie meer tussen reg en verkeerd onderskei nie. Maar dit verbaas ons nie, want Jesus het sulke verwikkelinge voorspel toe hy ‘die teken van sy teenwoordigheid’ in “die tyd van die einde” bespreek het.—Mattheüs 24:3, vgl. NW; Daniël 12:4.

’n Oordeelspatroon in Noag se dag

9. Hoe het Jesus Noag se dag vergelyk met wat gedurende Sy teenwoordigheid sou gebeur?

9 Jesus het ’n parallel getrek tussen gebeure in Noag se dag en dié wat sou plaasvind gedurende Sy teenwoordigheid in Koninkryksmag, wat in 1914 begin het. Hy het gesê: “Net soos die dae van Noag was, so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens [Jesus] wees. Want soos hulle in daardie dae voor die vloed was, toe hulle geëet en gedrink het, manne getrou en vroue in die huwelik gegee is, tot op die dag dat Noag die ark binnegegaan het, en hulle daar geen ag op geslaan het totdat die vloed gekom en hulle almal weggevoer het nie, so sal die teenwoordigheid van die Seun van die mens wees.”—Mattheüs 24:37-39, NW.

10. Hoe slaan mense oor die algemeen geen ag op betekenisvolle gebeure wat met Christus se teenwoordigheid verband hou nie?

10 Ja, mense slaan vandag, soos in Noag se dag, nie ag op wat om hulle gebeur nie. Omdat hulle baie besig is met die alledaagse lewe en selfsugtige strewes weier hulle om te erken dat huidige toestande aansienlik verskil van toestande in die verlede en presies strook met die dinge wat volgens Jesus die tyd van die einde sou kenmerk. Jehovah se Getuies vertel ’n moderne geslag al jare lank dat Jesus se teenwoordigheid as Messiaanse Koning in die hemel in 1914 begin het en saamval met “die voleinding van die stelsel van dinge” (Mattheüs 24:3, NW). Die meeste mense spot met die Koninkryksboodskap, maar selfs dít is voorspel toe die apostel Petrus geskryf het: “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy [teenwoordigheid]? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.”—2 Petrus 3:3, 4, vgl. NW.

11. Waarom sal die hedendaagse geslag geen verskoning hê wanneer die groot verdrukking aanbreek nie?

11 Maar die hedendaagse geslag sal geen verskoning hê wanneer die groot verdrukking aanbreek nie. Waarom nie? Omdat daar Bybelverslae van eertydse goddelike oordele is wat ’n patroon is vir wat God in ons dag gaan doen (Judas 5-7). Bybelprofesieë wat hulle op die oomblik in vervulling sien gaan, is afdoende bewys van waar ons ons in die tydstroom bevind. Hierdie geslag is ook terdeë bewus van die predikingswerk van Jehovah se Getuies en van die feit dat hulle, soos Noag, altyd hul onkreukbaarheid handhaaf.

12. Hoe vergelyk Petrus die vernietiging van die wêreld van Noag se dag met die komende vernietiging van “die teenswoordige hemele en die aarde”?

12 Petrus verduidelik wat met diegene sal gebeur wat nie op hierdie feite ag slaan nie. Soos Jesus doen die apostel dit deur te verwys na wat in Noag se dag gebeur het. Hy sê: “Want moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en ’n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God, waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het. Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ’n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.”—2 Petrus 3:5-7.

13. Op watter raad van Petrus moet ons ag slaan met die oog op die betekenisvolle gebeure wat voorlê?

13 Aangesien hierdie gewisse oordeel van God vlak voor ons is, moet ons nie deur spotters bedrieg of geïntimideer word nie. Ons hoef nie dieselfde lot as hulle te hê nie. Petrus vermaan ons: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?—julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.”—2 Petrus 3:11-13.

Volg Noag se geloof na om behoue te bly

14. Watter vrae kan ons help om onsself te ondersoek?

14 Ons staan vandag voor dieselfde uitdagings as dié waarvoor Noag en sy gesin gestaan het om kandidate vir oorlewing te word en te bly. Soos Noag veroordeel Jehovah se Getuies die wêreld deur hulle geloof, wat met goeie werke gepaard gaan. Maar ons almal kan ons afvra: ‘Hoe vaar ék? Sal ek in God se oë oorlewing waardig wees as die groot verdrukking môre sou aanbreek? Is ek, soos Noag wat “onberispelik was onder sy tydgenote”, moedig genoeg om anders as die wêreld te wees? Of maak my gedrag, spraak of kleredrag dit soms moeilik om tussen my en ’n wêreldse persoon te onderskei?’ (Genesis 6:9, NW). Jesus het van sy dissipels gesê: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.”—Johannes 17:16; vergelyk 1 Johannes 4:4-6.

15. (a) Hoe moet ons, volgens 1 Petrus 4:3, 4, ons vorige wêreldse denke en gedrag beskou? (b) Wat moet ons doen as ons voormalige wêreldse vriende ons kritiseer?

15 Petrus vermaan ons: “Want dit is genoeg dat ons die afgelope lewenstyd die wil van die heidene volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye. Daarom vind hulle dit vreemd as julle nie saam loop in dieselfde uitgieting van losbandigheid nie, en hulle laster” (1 Petrus 4:3, 4). Jou voormalige wêreldse vriende laster dalk teen jou omdat jy met God wandel en jou nie meer by hulle skaar nie. Maar soos Noag, kan jy hulle veroordeel deur jou geloof en die goeie werke wat jy met beskeidenheid doen.—Miga 6:8, vgl. NW.

16. Hoe het God Noag beskou, en watter vrae kan ons help om ons gedagtes en gedrag te ondersoek?

16 God het Noag as ’n regverdige man beskou. Daardie getroue aartsvader “het genade gevind in die oë van die HERE” (Genesis 6:8). Meen jy, wanneer jy jou gedagtes en gedrag in die lig van God se standaarde ondersoek, dat jou handelwyse en al die plekke wat jy besoek sy goedkeuring wegdra? Raak jy soms betrokke by die verdorwe vermaak wat nou so algemeen is? God se Woord sê dat ons rein, heilsame en opbouende dinge moet bedink (Filippense 4:8). Bestudeer jy God se Woord ywerig sodat jy ‘jou waarnemingsvermoë kan oefen om goed sowel as kwaad te onderskei’? (Hebreërs 5:14, NW). Verwerp jy slegte omgang en heg jy waarde aan die omgang wat jy met mede-aanbidders van Jehovah by Christenvergaderinge en ander geleenthede geniet?—1 Korinthiërs 15:33; Hebreërs 10:24, 25; Jakobus 4:4.

17. Hoe kan ons, as Getuies van Jehovah, soos Noag wees?

17 Nadat die Skrif vertel dat die ark voltooi is, sê dit: “Noag het alles gedoen wat God hom beveel het. Hy het net so gedoen” (Genesis 6:22, NW). Daardie godvrugtige man het ook ywerig as ’n getuie van Jehovah gepreek. Soos Noag kan jy ’n standvastige voorstander wees van wat reg is deur ’n gereelde prediker van geregtigheid te wees. Hou aan om die waarskuwing in verband met die einde van hierdie goddelose wêreld te verkondig, al gee net ’n paar daaraan gehoor. Werk eensgesind saam met medegelowiges om die dissipelmaakwerk voor die einde te voltooi.—Mattheüs 28:19, 20.

18. Op grond waarvan bepaal Jehovah wie die groot verdrukking moet oorleef?

18 Deur die toepassing van dieselfde regverdige standaarde wat hy in Noag se dag gebruik het, bepaal God nou wie gedurende die groot verdrukking behoue moet bly en wie moet vergaan. Jesus het die huidige skeidingswerk vergelyk met die optrede van ’n herder wat skape van bokke skei (Mattheüs 25:31-46). Mense wat selfsugtige begeertes en strewes die spil van hul lewe maak, wil nie hê dat die ou wêreld moet eindig nie en sal nie behoue bly nie. Maar diegene wat nie by hierdie wêreld se smerigheid betrokke raak nie, wat sterk geloof in God behou en wat aanhou om die Koninkryksboodskap te verkondig en sodoende teen Jehovah se komende oordeel te waarsku, sal goddelike guns as oorlewendes geniet. Jesus het gesê: “Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.”—Mattheüs 24:40, 41; 2 Thessalonicense 1:6-9; Openbaring 22:12-15.

Beërf seëninge saam met Noag

19. Watter insameling het Jesaja en Miga vir die laaste dae voorspel?

19 God se profete Jesaja en Miga het albei in parallelle profesieë beskryf wat gedurende die laaste dae sou plaasvind. Hulle het vooruitgesien wat ons vandag in vervulling sien gaan—’n stroom regskape mense wat uit die ou wêreld uitkom en na die simboliese berg van ware aanbidding opgaan. Hulle rig hierdie uitnodiging aan ander: “Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel” (Jesaja 2:2, 3; Miga 4:1, 2). Wandel jy saam met hierdie gelukkige menigte?

20. Watter seëninge lê voor vir diegene wat die wêreld deur hulle geloof veroordeel?

20 Jesaja en Miga het ook seëninge gemeld wat geniet gaan word deur diegene wat die wêreld deur hulle geloof veroordeel. Ware vrede en geregtigheid sal onder hulle heers, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Hulle sal die gewisse hoop op ’n erfenis van Jehovah hê en sal “sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom”. Maar elke persoon moet ’n definitiewe besluit neem, want Miga toon dat ’n mens op twee maniere kan optree, en sê: “Want al die volke mag wandel elkeen in die naam van sy god, maar óns sal wandel in die Naam van die HERE onse God vir ewig en altoos.”—Miga 4:3-5; Jesaja 2:4.

21. Hoe kan jy die wonderlike seën van die ewige lewe op aarde ontvang?

21 Die Skrif toon duidelik wat nodig is om die groot verdrukking te oorleef: sterk geloof. Noag het sulke geloof gehad, maar het jy dit? As jy het, sal jy, soos hy, ‘’n erfgenaam word van die geregtigheid wat volgens die geloof is’ (Hebreërs 11:7). Noag het die vernietiging oorleef wat volgens God se verordening oor sy geslag gekom het. Hy het nie alleenlik 350 jaar ná die Vloed bly lewe nie, maar sal ook opgewek word met die vooruitsig om vir ewig op aarde te lewe. Watter wonderlike seën! (Hebreërs 11:13-16). Jy kan daardie seën saam met Noag, sy gesin en miljoene ander liefhebbers van geregtigheid ontvang. Hoe? Deur tot die einde toe te volhard en die wêreld deur jou geloof te veroordeel.

Onthou jy?

◻ Waarom is ’n studie van Noag se lewe vir Christene belangrik?

◻ Waarop slaan mense van hierdie geslag geen ag nie, met die gevolg dat dit dan tot hulle vernietiging lei?

◻ Hoe kan ons, soos Noag, hierdie wêreld veroordeel?

◻ Hoe kan ons soos Noag as ’n prediker van geregtigheid wees?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel