Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 9/15 bl. 4-7
  • Wat ons moet doen om gered te word

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat ons moet doen om gered te word
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Voorsiening vir redding
  • Vereistes vir redding
  • “Eenmaal gered, altyd gered”?
  • “Wie volhard . . . sal gered word”
  • Jesus red die wêreld—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Leer die Bybel dat mens altyd gered is as jy eenmaal gered is?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Wat is redding?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Redding wat dit werklik beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 9/15 bl. 4-7

Wat ons moet doen om gered te word

WAAROM moet ons gered word? Omdat ons almal gebuk gaan onder die rampspoedige gevolge van sonde: onvolmaaktheid, pyn, siekte, droefheid en uiteindelik die dood. Die apostel Paulus het verduidelik dat dit die geval is omdat ons voorvader Adam teen God se wet gerebelleer het. Paulus het geskryf: “Daarom, soos deur een mens [Adam] die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het” (Romeine 5:12). Waarom het Adam se sonde die dood tot alle mense laat deurdring? Dit sou tog ’n natuurlike gevolg wees.

Toe Adam gesondig het, is hy ingevolge goddelike wet ter dood veroordeel. Dit was regverdig asook nodig. Dit was regverdig omdat die lewe nie ’n reg is nie, maar ’n gawe van God. Deur opsetlik te sondig, het Adam alle aanspraak op daardie gawe verbeur (Romeine 6:23). Adam se doodsvonnis was nodig omdat niks onvolmaaks toegelaat kan word om te bly lewe en die heelal ’n onbepaalde tyd lank te besoedel nie. Toe Adam gesondig het, het hy dus begin sterf en nie meer volmaakte, sondelose lewe besit om aan sy kinders as ’n erfdeel te gee nie. Hy kon hulle slegs lewe gee wat deur onvolmaaktheid en sonde bederf is.—Romeine 8:18-21.

Maar ons moet nie vergeet dat dit slegs danksy God se onverdiende goedheid is dat ons selfs die kort bestaan het wat vandag ons lot is nie (Job 14:1). God was nie verplig om Adam en Eva toe te laat om kinders te hê voordat hulle gesterf het nie. Hy het dit toegelaat om te bewys dat party onvolmaakte mense God se soewereiniteit sou ondersteun deur hulle onkreukbaarheid aan hom te handhaaf. God het dit ook toegelaat omdat hy geweet het dat hy uiteindelik ontvanklike nakomelinge van daardie oorspronklike rebelle, Adam en Eva, sou vrykoop, of red. Hoe?

Voorsiening vir redding

Jehovah God kon nie eenvoudig sy regverdige oordeel ter syde stel nie. Hy kan nie na willekeur vergeet van Adam se oorsponklike sonde en van al die sonde wat die mensdom sedertdien daarby gevoeg het nie. As God sy eie regverdige wette sou ignoreer, sou dit respek vir sy hele regstelsel en vertroue daarin ondermyn. Stel jou voor watter protes gehoor sou word as ’n menseregter weens die een of ander persoonlike gril ’n misdadiger na willekeur ongestraf laat gaan het. Maar ’n medelydende regter kan gepas reël dat ’n wetlike boete deur die een of ander gewillige persoon namens die skuldige betaal word. Dit is in sekere sin wat God vir ons gedoen het.

Jehovah het gereël dat sy eie Seun, Jesus Christus, sy volmaakte menselewe gee in plek van die volmaakte lewe wat Adam verbeur het. Jesus het gewillig die straf vir ons sondes gedra—naamlik, die dood (Jesaja 53:4, 5; Johannes 10:17, 18). Die Bybel sê: ‘Die Seun van die mens het gekom . . . om sy lewe te gee as ’n losprys vir baie’ (Mattheüs 20:28; 1 Timotheüs 2:6). Niemand anders kon dit doen nie. Jesus was uniek daar hy sonder sonde gebore is en tot sy dood toe ’n volmaakte, sondelose mens gebly het (Hebreërs 7:26; 1 Petrus 2:22). Sy getrouheid tot die dood toe het hom in staat gestel om die wetlike straf vir ons sondes te ondergaan.

Onthou egter dat God, die Opperregter, onder geen verpligting staan om almal te bevry nie. Hy beskou Jesus se opgeofferde volmaakte menselewe as betaling van ons sondeskuld. Maar Jehovah God sal dit nie vir verstokte, ondankbare, moedswillige sondaars laat geld nie. Pleks van die een of ander algemene amnestie of universele redding aan te bied, sit die Bybel voorwaardes uiteen waaraan ons moet voldoen as ons van die gevolge van erfsonde gered wil word.

Vereistes vir redding

Wat is dan nodig om gered te word? Die apostel Paulus het die belangrikste vereiste aan die Filippensiese tronkbewaarder genoem: “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word” (Handelinge 16:31). Hartgrondige aanvaarding van Jesus se vergote bloed is noodsaaklik om redding te verkry. En wat sal redding vir ons beteken? Jesus het dié vraag beantwoord toe hy gesê het: “En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie” (Johannes 10:28). Redding sal vir die meeste mense die ewige lewe beteken op ’n aarde wat tot paradysagtige volmaaktheid herstel is (Psalm 37:10, 11; Openbaring 21:3, 4). Maar in die geval van ’n “klein kuddetjie” sal dit heerskappy saam met Jesus in sy hemelse Koninkryk beteken.—Lukas 12:32; Openbaring 5:9, 10; 20:4.

Sommige beweer dat geloof in Jesus die enigste vereiste is. “Daar is net een ding wat ’n mens moet doen om hemel toe te gaan”, sê een godsdienstraktaatjie. “Dit is om Jesus Christus as jou persoonlike Saligmaker te aanvaar, jou aan Hom as Heer en Meester oor te gee en Hom as sodanig openlik voor die wêreld te bely.” Baie glo dus dat ’n skielike, emosionele bekeringsondervinding al is wat ons nodig het om die ewige lewe te waarborg. Maar as jy aan net een noodsaaklike vereiste vir redding aandag gee en die ander veronagsaam, is dit asof jy een deurslaggewende klousule in ’n kontrak lees en die res ignoreer.

Dit word duideliker wanneer ons luister na die kommentare van sommige wat vroeër gedink het dat die belydenis van geloof in Jesus die enigste vereiste vir redding was. Bernice sê: “Ek het in die Brethren Church grootgeword, maar het begin wonder waarom Jesus, as die ewige lewe net van hom afhang, self gesê het: ‘En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.’”—Johannes 17:3.

Norman was nege jaar lank daarvan oortuig dat hy gered is. Maar toe het hy besef dat meer nodig is as ’n emosionele belydenis dat Jesus Christus sy Saligmaker is. “Ek het in die Bybel gesien dat dit nie genoeg is om net teenoor God te erken dat ons sondaars is en redding nodig het nie”, sê hy. “Ons moet ook werke doen wat by berou pas.”—Mattheüs 3:8; Handelinge 3:19, NW.

Ja, geloof in Jesus is noodsaaklik vir redding, maar meer is nodig. Jesus het gepraat van party wat gesê het dat hulle in hom glo en selfs “kragte” in sy naam gedoen het. Maar hy het hulle nie aanvaar nie. Waarom nie? Omdat hulle ‘werkers van ongeregtigheid’ was en nie die wil van sy Vader gedoen het nie (Mattheüs 7:15-23). Die dissipel Jakobus herinner ons daaraan dat ons “daders van die woord [moet word] en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie”. Hy het ook gesê: “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder. . . . Die geloof sonder die werke [is] dood.”—Jakobus 1:22; 2:19, 26.

Maar sommige voer aan dat mense wat waarlik gered is in elk geval al hierdie dinge doen. Maar is dit in die praktyk werklik die geval? Denis, wat ‘Jesus aanvaar het’ toe hy ’n klein seuntjie was, sê: “Die ‘geredde’ mense wat ek ken, dink nie dat dit juis nodig is om die Skrif te ondersoek nie, want hulle meen dat hulle reeds alles het wat hulle vir redding nodig het.” Trouens, die geveinsdheid en onchristelike dade van baie wat beweer dat hulle gered is, het die hele onderwerp van redding ’n slegte naam gegee.

Baie hou nietemin vol dat die Skrif sê: “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe” (Johannes 3:36). Hulle maak derhalwe die gevolgtrekking dat as jy die Here Jesus Christus eers as jou persoonlike Saligmaker aanvaar het jy nooit weer verlore kan gaan nie. “Eenmaal gered, altyd gered” is hulle wagwoord. Maar is dit wat die Skrif werklik sê? Om dit te beantwoord, moet ons alles beskou wat die Bybel oor die onderwerp sê. Ons sou ons nie wou “bedrieg” deur slegs uitgesoekte dele van God se Woord te lees nie.

“Eenmaal gered, altyd gered”?

Let op die geïnspireerde waarskuwing van die dissipel Judas. Hy het geskryf: “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid [“redding”, NW] te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (Judas 3). Waarom het Judas dit geskryf? Omdat hy geweet het dat individuele Christene steeds hul “gemeenskaplike redding” kon verloor. Hy het voorts gesê: “Maar ek wil julle daaraan herinner . . . dat die Here, nadat Hy die volk [die Israeliete] uit Egipteland gered het, daarna die wat ongelowig was, omgebring het.”—Judas 5.

Judas se waarskuwing sou sinloos gewees het as Christene nie in ’n soortgelyke gevaar as daardie Israeliete verkeer het nie. Judas het nie die waarde van Jesus se offerande bevraagteken nie. Daardie offerande het ons van Adamiese sonde gered, en Jesus sal diegene wat geloof in hom beoefen, beskerm. Niemand kan hulle uit sy hand wegruk nie. Maar ons kan daardie beskerming verloor. Hoe? Deur dieselfde te doen as baie Israeliete wat uit Egipte verlos is. Ons kan opsetlik kies om ongehoorsaam aan God te wees.—Deuteronomium 30:19, 20.

Stel jou voor dat jy uit ’n brandende toring gered word. Dink net hoe verlig jy sou wees as jy veilig uit die gebou geneem is en die redder gesê het: “Jy is nou veilig.” Ja, jy sou van ’n gewisse dood gered gewees het. Maar wat sou gebeur as jy besluit het om om die een of ander dwase rede weer in die gebou in te gaan? Jy sou weer in lewensgevaar verkeer.

Christene is in ’n geredde toestand. Hulle het die vooruitsig op die ewige lewe omdat hulle in ’n goedgekeurde posisie voor God verkeer. Hulle verlossing, as ’n groep, van Adamiese sonde en al die gevolge daarvan is verseker. Maar individueel sal hulle tot die ewige lewe gered word alleenlik as hulle aanhou om aan al God se vereistes te voldoen. Jesus het dit beklemtoon toe hy homself met ’n wynstok en sy dissipels met lote van daardie wynstok vergelyk het. Hy het gesê: “Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem [God] weg . . . As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand” (Johannes 15:2, 6; Hebreërs 6:4-6). Diegene wat geloof in Jesus verloor, verloor ook die ewige lewe.

“Wie volhard . . . sal gered word”

Ja, verskeie dinge hou met redding verband. Ons moet juiste kennis van God se voornemens en sy weg van redding opdoen. Dan moet ons geloof beoefen in die Vernaamste Bewerker van redding, Jesus Christus, en God se wil vir die res van ons lewe doen (Johannes 3:16; Titus 2:14). Redding is verseker vir diegene wat hierdie weg inslaan. Maar dit behels dat ons tot die einde van ons huidige lewe of van hierdie stelsel volhard. Slegs “wie volhard tot die einde toe . . . sal gered word”.—Mattheüs 24:13.

Die tronkbewaarder in Filippi het saam met ander in sy huisgesin positief gereageer op die boodskap van redding wat Paulus en Silas verkondig het. “En hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense” (Handelinge 16:33). Ons kan soortgelyke positiewe stappe doen. Ons sal sodoende ’n hegte en geseënde verhouding met Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, verkry en kan volle vertroue in goddelike voorsienings vir redding hê. Die Filippensiese tronkbewaarder “het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof in God gekom het” (Handelinge 16:34). As ons hierdie weg inslaan, sal ons ons ook kan “verheug”.

[Prent op bladsy 7]

Wat sou gebeur as jy weer in ’n brandende gebou inhardloop nadat jy gered is?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel