Lesse uit die Skrif: Maleagi 1:1–4:6
Die ware Heer kom om te oordeel
“DIT is tevergeefs om God te dien” (Maleagi 3:14). God se eie volk het sulke skeptisisme uitgespreek toe Maleagi in die vyfde eeu v.G.J. geprofeteer het. Waarom? Weens die betreurenswaardige toestande in Juda, veral dié onder die priesters. Selfsugtige gewin was hulle vernaamste oogmerk. Maleagi het daardie geveinsde godsdiensleiers reguit en kragtig aan die kaak gestel en gewaarsku dat die ware Heer gaan kom om te oordeel.—Maleagi 1:6-8; 2:6-9; 3:1.
Maleagi se profesie word ook in ons dag vervul. Dit sal derhalwe goed wees as ons kyk na die lesse wat dit bevat.
Veragting van God se naam
Jehovah verwag dat sy volk hulle beste vir Hom moet gee. God spreek eers sy liefde vir sy volk uit. Die priesters verag nietemin sy naam deur blinde, siek en lam diere as offers van die volk te aanvaar. Jehovah het geen behae in die priesters, wat hul eie belange bevorder, of in die minderwaardige offers uit hulle hande nie. Maar ongeag wat hulle doen, Jehovah se “naam sal vrees inboesem onder die nasies”.—1:1-14.
Die wat onderrigters is, het ’n groot verantwoordelikheid (Jakobus 3:1). Die priesters het “baie laat struikel in die wet”. Hoe so? Deur hulle versuim om die volk in God se wet te onderrig en deur hulle partydigheid. Jehovah is tereg kwaad vir hulle, “want die lippe van ’n priester moet kennis bewaar, en die wet is wat mense uit sy mond moet soek”.—2:1-9, NW.
Jehovah beskou minagting van die huweliksreëling in ’n ernstige lig. Strydig met God se wet het die manne van Juda vreemde vroue geneem (Deuteronomium 7:3, 4). Hulle het troueloos teenoor die vrouens van hulle jeug gehandel deur van hulle te skei. Jehovah “haat egskeiding”, waarsku Maleagi.—2:10-17.
Oordeel en loutering
Jehovah duld kwaaddoenery nie vir ewig nie. “Die ware Heer” sal na sy tempel kom, vergesel deur “die boodskapper van die verbond”. Hy sal die seuns van Levi louter en reinig. Jehovah sal ’n haastige getuie word teen towenaars, egbrekers, die wat vals sweer, bedrieërs en verdrukkers.—3:1-5, vgl. NW.
Die wat hulle offers van Jehovah weerhou, verarm hulself. Jehovah is onveranderlik. As die wederstrewige volk na hom terugkeer, sal hy genadig na hulle terugkeer. Hulle het God beroof deur die tiendes en die offergawes te weerhou. Maar as hulle die tiendes inbring, beloof Jehovah ’n “oorvloedige seën”. Hulle sal nooit ’n gebrek aan opbrengste hê nie.—3:6-12.
Jehovah se oë is op sy volk. God bind die stryd aan met diegene wat sterk woorde teen hom gespreek het. Daarenteen gee hy noukeurig aandag aan die wat hom vrees. “’n Gedenkboek” sal geskryf word vir die wat “sy naam eer”. Sy volk sal die onderskeid tussen die regverdige en die goddelose sien.—3:13-18.
Die dag van Jehovah kom!
Jehovah se dag sal algehele vernietiging vir die goddeloses beteken. Jehovah se dag kom, en die goddeloses sal soos ’n stoppel in ’n brandende oond verbrand word. Hulle sal verteer word, sodat daar “geen wortel of tak” sal oorbly nie. Maar die wat Jehovah se naam vrees, sal die genesende voordele van “die son van geregtigheid” geniet. Voor die koms van sy vreesinboesemende dag sal Jehovah die profeet Elia stuur om ’n herstellingswerk te doen.—4:1-6, vgl. NW.
Lesse vir vandag: Wat aanbidding betref, vereis Jehovah dat sy volk hom hulle beste gee. (Vergelyk Mattheüs 22:37, 38.) Onderrigters van God se Woord het ’n verantwoordelikheid om behoorlik te onderrig en ander in ware aanbidding te lei. Ons kan gerus onthou dat die oë van die God van geregtigheid gerig is op diegene wat nie behoorlike respek vir die huwelik toon nie en op die wat kwaad doen. Mag ons ons nederig onderwerp aan die louterings- en reinigingsproses van die ware Heer terwyl ons gretig wag op “die koms van die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah”!
[Venster op bladsy 30]
BYBELTEKSTE ONDERSOEK
o 1:10—Die selfsugtige, geldgierige priesters het vir eie gewin gedien. Hulle het betaling geëis vir die eenvoudigste tempeldienste, soos die sluit van die deure of die aansteek van die altaarvure. Geen wonder dat Jehovah ‘geen behae in ’n offer uit hulle hande gehad het nie’!
o 1:13—Die trouelose priesters het offers as ’n vermoeiende seremonie, as ’n las, beskou. Hulle het die neus opgetrek vir Jehovah se heilige dinge, dit versmaai. Ons moet nooit toelaat dat “die jong bulle van ons lippe” bloot as ’n formaliteit geoffer word nie!—Hosea 14:2, NW; Hebreërs 13:15.
o 2:13—Talle Joodse mans het van die vrouens van hulle jeug geskei, moontlik om jonger heidense vroue te trou. Die altaar van Jehovah is met trane bedek—waarskynlik dié van die verworpe vrouens wat na die heiligdom gekom het om hulle hartseer voor God uit te stort.—Maleagi 2:11, 14, 16.
o 3:1, NW—“Die ware Heer” is Jehovah God en “die boodskapper van die verbond” is Jesus Christus. Die eerste vervulling van die profesie het plaasgevind toe Jesus die tempel gereinig het (Markus 11:15-17). Dit was drie en ’n half jaar nadat hy as aangewese Koning gesalf is. Net so het Jesus, drie en ’n half jaar nadat hy in die noordelike herfs van 1914 as Koning op die troon geplaas is, Jehovah na die geestelike tempel vergesel en gevind dat God se volk gelouter en gereinig moes word.
o 3:2, 3—Die eertydse louteringsproses het lank geduur. Die louteraar sou derhalwe dikwels “sit” en wag tot die vloeibare metaal soos ’n blink gepoleerde spieël weerkaats het en hy sy beeld daarin kon sien. Net so het Jehovah voortgegaan om sy volk vandag te louter deur onrein leerstellings en gebruike uit die weg te ruim. Dit het hulle gehelp om sy beeld noukeuriger te weerspieël.—Efesiërs 5:1.
o 4:2—Dit is ’n beskrywing van die toekomstige seëninge wat diegene wat God se naam vrees, sal geniet. Hulle het die vooruitsig om in die son van God se guns te baai wanneer die fisiese, geestelike en emosionele kwale wat die mens geteister het, genees is.—Openbaring 21:3, 4.
o 4:5, NW—Die profeet Elia het sowat 500 jaar voordat hierdie profesie gegee is, geleef. In die eerste eeu G.J. het Jesus Christus Johannes die Doper geïdentifiseer as die voorspelde teenbeeld van Elia (Mattheüs 11:12-14; Markus 9:11-13). Maar “Elia” sou die voorloper van die “dag van Jehovah” wees, wat dui op ’n verdere vervulling in hierdie tyd van Christus se “teenwoordigheid”.—2 Thessalonicense 2:1, 2, NW.
[Prent op bladsy 31]
Jesus het die tempel gedurende sy aardse bediening gereinig. In 1918 het hy Jehovah na die geestelike tempel vergesel om God se volk te reinig