Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 7/1 bl. 16-17
  • “Wee jou, Gorasin”—Waarom?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Wee jou, Gorasin”—Waarom?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Kom op ’n uitstappie na die See van Galilea!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • A7-D Belangrikste gebeurtenisse van Jesus se lewe op die aarde – Jesus se groot bediening in Galilea (Deel 2)
    Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
  • Die trotsaards en die nederiges
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 7/1 bl. 16-17

Tonele uit die Beloofde Land

“Wee jou, Gorasin”—Waarom?

JY SOU sekerlik nie wou hê dat God wee oor jou uitspreek nie, sou jy? Dink dan hoe die Jode van drie Galilese stede behoort te gevoel het toe God se Seun en Regter verklaar het:

“Wee jou, Gorasin, wee jou, Betsaida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het. Maar Ek sê vir julle, dit sal vir Tirus en Sidon verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir julle. En jy, Kapernaüm, . . . jy sal tot die doderyk toe neergestoot word.”—Mattheüs 11:21-23.

Die toneel hierbo vestig die aandag op een van daardie stede—Gorasin. Hierdie foto verskyn ook by Julie/Augustus in Jehovah se Getuies se kalender vir 1989. Dit is interessant dat Jesus se woorde in Mattheüs 11:21-23 gedurende Augustus deel van Jehovah se Getuies se rooster vir Skriflesing uitmaak. Wat moet ons dus omtrent Gorasin weet?

Wel, let op waar eertydse Gorasin geleë was. Jy kan die stad se ruïnes op die voorgrond van hierdie foto sien. Let vervolgens op die bome aan die noordelike kuslyn van die See van Galilea. Dit is waar Kapernaüm was, omtrent drie kilometer daarvandaan. Die perspektief van hierdie lugfoto laat dit dalk na ’n taamlike plat terrein lyk, maar Gorasin is in werklikheid sowat 270 meter bo die kus in heuwels geleë.

Dit help ook om te weet dat Betsaida omtrent dieselfde afstand van Kapernaüm af langs die kuslyn was. Toe Jesus hierdie drie stede berispe het, het hy hom dus op ’n klein gebied rondom die middelpunt van sy aktiwiteit in Galilea toegespits (Mattheüs 4:13; Markus 2:1; Lukas 4:31). Waarom het Jesus wee oor hulle uitgespreek?

Jesus het baie tyd met die apostels in hierdie gebied deurgebring en hy het baie kragtige dade hier verrig. Naby Betsaida het hy meer as 5 000 mense wonderdadig gevoed en die sig van ’n blinde man herstel (Markus 8:22-25; Lukas 9:10-17). Sy wonderwerke in of naby Kapernaüm het die volgende ingesluit: hy het ’n siek seun oor ’n afstand gesond gemaak, ’n duiwelbesete man genees, ’n verlamde laat loop en die dogter van ’n owerste van die sinagoge opgewek (Markus 2:1-12; 5:21-43; Lukas 4:31-37; Johannes 4:46-54). Hoewel die Bybel nie vir ons spesifiseer watter “kragtige dade” met Gorasin verbind word nie, toon Mattheüs 11:21 dat Jesus wonderwerke daarin of daar naby gedoen het. Tog wou die mense hulle nie bekeer en geloof in hom stel as die Messias wat God se steun gehad het nie.

As jy na die bygaande toneel kyk waar Jesus sulke werke verrig, vra jy dalk: ‘Hoe kon die inwoners van Gorasin so onontvanklik wees?’ ’n Leidraad kan moontlik gevind word tussen die swart basaltklippe wat argeoloë by hierdie ruïnes, wat uit die derde eeu G.J. dateer, opgegrawe het. Hierdie ruïnes sluit ’n sinagoge in die middestad asook nabygeleë woongebiede in. Sommige van die klippe uit die sinagoge het buitengewone snywerk gehad. Waarvan? Figure uit die Griekse mitologie, soos ’n Medusa met hare van slange en ’n perdmens. Waarom sou Joodse leiers in Gorasin sulke afgodiese beeldhouwerke op hul sinagoge toegelaat het, aangesien Judaïsme dit sterk moes teëgestaan het?

Een teorie is dat “’n liberale gesindheid moontlik in hierdie gebied tradisioneel was” en dit kon Jesus rede gegee het om ’n gunstige reaksie in die stad te verwag.a Maar as hierdie friese op die sinagoge iets omtrent ’n gesindheid in Jesus se dag verraai, kan dit wees dat die aanbidding van “die Vader in gees en waarheid” vir die meeste in Gorasin nie juis ’n saak van erns was nie (Johannes 4:23). Hulle het dit gewys deur nie die wonderdoener, die Messias, te aanvaar nie.

Toe Jesus die 70 dissipels uitgestuur het, het hy weer ’n hiperbool met betrekking tot die onontvanklikheid van Gorasin, Betsaida en Kapernaüm gebruik. As Jesus se mede-Galileërs van Gorasin wat bekend was met sy kragtige dade nie gunstig gereageer het nie, moes die dissipels nie verbaas wees indien die inwoners van sommige ander stede waar hulle gepreek het hulle nie ontvang nie.—Lukas 10:10-15.

Wanneer ons dus die lewelose, swart ruïnes van Gorasin beskou, moet ons die stilswyende waarskuwing in Jesus se “wee” ter harte neem. Versuim om tot bekering te kom, om gunstig te reageer op God se werk wat deur sy volk gedoen word, kan tot vernedering en ’n verlate toekoms lei.

[Voetnoot]

a The World of the Bible, Deel 5, bladsy 44, gedruk deur Educational Heritage, Inc., New York, 1959.

[Kaart op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Gorasin

Betsaida

Kapernaüm

See van Galilea

Tiberias

[Erkenning]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Prent op bladsy 17]

[Foto-erkenning op bladsy 16]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel