Tonele uit die Beloofde Land
Jerusalem—sentrum van Bybelse gebeure
HOEWEL die meeste nasies ’n hoofstad het, ’n vername stad wat die regeringsetel is, kan Bybelstudente aan Jerusalem dink as ’n hoofstad vir die mensdom. Dit is so omdat die betekenisvolle dinge wat daar gebeur het vir ons almal belangrik is.
Hierbo kan jy die uitsig sien wat jy sal hê as jy op hoog geleë grond suid van Jerusalem gestaan het.a Twee valleie kom bymekaar naastenby waar die plaat donkergroen bome is. Die Kidronvallei loop ondertoe van die regterkant af; aan die westekant, of linkerkant, is die Hinnomvallei, wat tot die Bybelse naam Gehenna aanleiding gegee het (Mattheüs 10:28, NW; 23:33, NW). Die eertydse Stad van Dawid was in die middel (sigbaar in die sonbestraalde gedeelte voor die bestaande mure) gebou. Binne die mure is twee kenmerkende Moslemgeboue in ’n historiese gebied. Die silwerblou koepel van ’n moskee is naaste aan die muur, en agter dit is die groter goue koepel van die Rotskoepel.
Maar waarom moet Jerusalem en veral die gelyke terrein waar die twee koepelgeboue nou staan vir jou belangrik wees? Wel, aan watter Bybelverhaal laat die prentjie van ’n ram wat in ’n boom verstrik is jou dink? Waarskynlik dié van Abraham. Ja, dit was hy wat met sy seun Isak na die berg Moria gereis het, wat klaarblyklik by of naby die rotsagtige hoogte was waar jy die twee koepels sien. Abraham het geloof getoon en was bereid om sy geliefde seun te offer, maar ’n engel het sy hand teëgehou. Toe het Abraham “’n ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het”, gevind en dit “in die plek van sy seun” geoffer. As jy dus na Jerusalem kyk, kan dit jou aan hierdie dramatiese gebeurtenis laat dink.—Genesis 22:1-13.
Ander offerandes het later op die voorgrond gekom toe Salomo ’n luisterryke tempel vir Jehovah op ’n gelyke terrein gebou het, ongeveer waar die koepelgeboue nou is (2 Kronieke 3:1). Probeer jou voorstel hoe Israeliete uit alle dele van die land hierheen gekom het met hulle diereofferandes vir die jaarlikse feeste. Die belangrikste fees was die Versoendag. Op daardie dag is een bok gekies en “vir Asasel in die woestyn” ingestuur, moontlik in die Kidronvallei af en dan suidoos in die woestyn van Judea. Nog ’n bok en ’n bul is geslag en hulle bloed is as offerande gebruik om versoening te doen vir die priesters en die volk. Van die bloed is selfs verby die voorhangsel na die Allerheiligste van die tempel geneem. Jy kan dit dus in gedagte hou wanneer jy na die foto van die stad kyk.—Levitikus 16:1-34.
Al hierdie offerandes in Jerusalem het heengewys na die volmaakte offerande van Jesus Christus. Gedurende sy laaste nag op aarde, toe dit byna volmaan was, het Jesus saam met sy apostels vergader om die laaste geldige Pasga te vier. Dit was in ’n bokamer wat vermoedelik in die hoër deel van die stad aan die linkerkant (wes) van die tempelgebied was. Nadat Jesus die Aandmaal ingestel het, het hy die apostels na die Olyfberg geneem, wat oorkant die Kidronvallei is, oos (regs) van die tempel.—Lukas 22:14-39.
Om jou te help om dit te visualiseer, kyk na die foto hieronder, wat geneem is met ’n uitsig ooswaarts vanuit Jerusalem, moontlik vanuit die gebied waar Jesus die Aandmaal gehou het. Vanuit hierdie perspektief sien jy in die laer linkerkantste gedeelte die koepel (blouerig in die maanlig) van die moskee op die tempelberggebied. Verder oos is die Kidronvallei (onder die gesigslyn) en dan bome van die Tuin van Getsemane. Hoer op aan die regterkant is die Olyfberg.
Op 22 Maart 1989 sal dit ook byna volmaan wees wanneer gemeentes van Jehovah se Getuies oor die hele wêreld (na sononder) sal vergader vir die Aandmaal om Jesus se offerdood te herdenk.b Probeer jou sake asseblief so reël dat jy daar kan wees. Jy wil dalk ook op daardie dag peins oor sommige van die eertydse gebeure wat in en rondom Jerusalem plaasgevind het en wat verband hou met Jesus se uitgieting van sy siel in die dood. Jesus het sodoende Jehovah se regverdigheid geregverdig en gelowige mense van sonde en die dood losgekoop.—1 Korinthiërs 11:23-26; Hebreërs 9:11-28.
[Voetnote]
a Jehovah se Getuies se kalender vir 1989 het ’n groter foto hiervan.
b Kyk Die Wagtoring van 1 Maart 1978, bladsye 23, 24 vir verdere besonderhede oor hoe om die tyd vir die viering van die Aandmaal te bereken.
[Foto-erkennings op bladsy 16]
Prenteargief (Nabye Oosterse geskiedenis)
Prenteargief (Nabye Oosterse geskiedenis)