Wie is werklik God se bedienaars?
“ONS spoor ons Katolieke soldate in hierdie beslissende uur aan om hul plig in gehoorsaamheid aan die Führer [Hitler] te doen.”—Die Katolieke biskoppe van Duitsland, soos aangehaal in The New York Times, 25 September 1939.
“U weet, vader, een van die bemanningslede van ons vliegtuig is ’n Katoliek, en u seën hom voor ons bomaanvalle op Duitsland gaan doen. Maar dieselfde Katolieke geloof in Duitsland seën ’n Katolieke bemanningslid van ’n Duitse vliegtuig wat hierheen kom en ons stede vernietig. Die vraag wat ek vra, is dus: ‘Aan wie se kant is God?”’ Dit was die woorde van ’n Britse vliegoffisier, David Walker, tydens ’n gesprek wat hy gedurende die Tweede Wêreldoorlog met ’n Katolieke priester gevoer het.
Aan die ander kant was duisende van Jehovah se Getuies jare lank in die afgryslike Nazikonsentrasiekampe omdat hulle geweier het om heil Hitler te sê of in sy leër te veg. In Geallieerde lande is talle Getuies in die tronk gegooi omdat hulle geweier het om militêre diens te doen.
Wie is God se ware bedienaars, en aan watter vereistes moet hulle voldoen?
Geloof in die Bybel
’n Ware bedienaar van God moet uiteraard vaste geloof in die Bybel hê. Hy moet dit ook goed genoeg ken om dit aan ander te kan leer. Maar talle van die Christendom se geestelikes voldoen nie aan hierdie basiese vereistes nie. ’n Dokter in Suid-Afrika het gesê dat die leraars van die Anglikaanse Kerk, waarvan hy ’n lidmaat was, die Bybel “baie min gebruik het” en dat dit gelyk het asof preke die prediker se persoonlike opinie was. Hy het ook gekla oor party geestelikes, soos aartsbiskop Tutu van Kaapstad, omdat hulle hul met die politiek bemoei.
Daarenteen glo Jehovah se getroue knegte vas in die Bybel en bestee hulle ’n groot deel van hulle tyd daaraan om dit te bestudeer en dit aan ander te verduidelik. Hulle belangstelling in die Bybel en hulle liefde daarvoor is so diep dat hulle na deeglike navorsing ’n baie akkurate vertaling geproduseer het wat as die New World Translation of the Holy Scriptures bekendstaan en gesaghebbende Hebreeuse, Aramese en Griekse Bybelmanuskripte as grondteks het. Die naslaanuitgawe van hierdie Bybel het duisende voetnote en kruisverwysings om lesers te help om die Bybel beter te verstaan en hulle in staat te stel om dit aan ander te verduidelik. Boonop is hierdie uitmuntende Bybelvertaling, in sy geheel of ten dele, in 10 ander tale vertaal, en tienmiljoene eksemplare is reeds wêreldwyd versprei.
Ware bedienaars en sedelikheid
Die Bybel veroordeel alle vorme van seksuele sonde ten sterkste—met inbegrip van owerspel, hoerery, homoseksualiteit en bestialiteit (Levitikus 20:10-15; Romeine 1:26, 27; Galasiërs 5:19). Ware Christenbedienaars handhaaf God se sedelike standaarde heelhartig. Ja, Jehovah se Getuies neem God se wet baie ernstig op. Hulle sit diegene wat onberouvol is nadat hulle sulke sondes gepleeg het uit die gemeente uit, terwyl hulle genade betoon aan diegene wat waarlik berou het oor onsedelike dade en hulle lewe in orde bring.—1 Korinthiërs 5:11-13; 2 Korinthiërs 2:5-8.
Luidens berig het die Anglikaanse Deken van Kaapstad gesê: “Party homoseksuele verhoudings is beter as hulle heteroseksuele ekwivalente, en weens die liefde daarin is ek seker dat hulle God gelukkiger maak.” Die teenoorgestelde is waar. God verafsku sulke verhoudings.—1 Korinthiërs 6:9, 10.
Ware bedienaars verkondig ware leerstellings
Ware bedienaars verkondig leerstellings wat vas gegrond is op God se Woord. Valse bedienaars verkondig leerstellings wat geen Bybelse steun of grondslag het nie. Beskou byvoorbeeld die leerstelling oor die Drie-eenheid. Soos The Encyclopædia Britannica (15de Uitgawe) sê: “Nòg die woord Drie-eenheid nog die uitdruklike leerstelling kom in die Nuwe Testament voor, en Jesus en sy volgelinge het ook nie bedoel om die Sjema in die Nuwe Testament, ‘Hoor, Israel, die Here onse God is ’n enige Here’ te weerspreek nie (Deut. 6:4).” Die Drie-eenheid het eers in die vierde eeu G.J. ’n amptelike kerkleerstelling geword. Trouens, dit was deels aan die Romeinse keiser Konstantyn se aansien en invloed te wyte dat daar in 325 G.J. by die Konsilie van Nicea begin is om die valse leerstelling te formuleer.
Die Drie-eenheidsleerstelling het talle kerklidmate wat opregte waarheidsoekers is vertroue in hul leraars laat verloor. Dit was die geval met ’n jong vrou in Suid-Afrika wat nie kon glo dat haar godsdiens, die Nederduitse Gereformeerde Kerk, so ’n verwarrende begrip soos die Drie-eenheid leër totdat een van Jehovah se Getuies haar dokumentêre bewys voorgelê het dat dit wel so is nie! ’n Bejaarde, afgetrede prokureur, ook van Suid-Afrika, het uit sy kerk bedank omdat “verskeie stereotipe leerstellings wat in kerke geleer word heeltemal verkeerd en misleidend is”.
Nog ’n valse leerstelling van die Christendom is dié oor die helse vuur. Hoewel dit nie meer so algemeen verkondig of geglo word soos in die verlede nie, is dit steeds die amptelike leër van die meeste kerke. Hulle beweer dat die liggaam doodgaan wanneer ’n mens sterf, maar dat die siel, aangesien dit onsterflik is, voortleef en dat diegene wat ’n goddelose lewe gelei het vir ewig in ’n brandende vuur gepynig word. Glo jy dit? Selfs belangriker, is dit waar? Nie volgens die Bybel nie, wat sê: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4, 20). Daarbenewens het die geïnspireerde apostel Paulus geskryf: “Die loon van die sonde is die dood”—nie die helse vuur nie!—Romeine 6:23.
Kom ons kyk nou aan watter vereistes ware Christenbedienaars moet voldoen.
Die Skriftuurlike vereistes vir ware bedienaars
Die Afrikaanse woord “bedienaar” is ’n vertaling van die Griekse woord “di·aʹko·nos”, waarvan die oorsprong onseker is. Dit slaan op iemand wat die opdragte van ’n ander, veral ’n meester, uitvoer. Die Bybelwoord beteken dus in die besonder ’n dienaar. Die gebruik van die woord in die Bybel dui op iemand wat nie ophou om nederig deeglike diens ten behoewe van ander te verrig nie. Jesus het die belangrikheid van sulke nederige diens beklemtoon, soos die volgende voorbeeld toon.
Eendag, kort voor Jesus se dood aan die folterpaal, het die moeder van Jakobus en Johannes hom genader en gesê: “Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter- en een aan u linkerhand.” Die ander dissipels het verontwaardig geword hieroor. Toe het Jesus hulle vriendelik ’n belangrike les geleer. Hy het hulle byeengeroep en gesê: “Elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees.”—Mattheüs 20:20, 21, 24-27.
In een van sy opgetekende, opbouende openbare toesprake het Jesus die gehoor teen die skrifgeleerdes en die Fariseërs gewaarsku. Hy het ook die aandag op party van die opvallende foute van hierdie valse, huigelagtige leraars gevestig. Hy het hulle beskryf as baie trotse en veeleisende mense wat altyd prominensie wil hê.—Mattheüs 23:1-7.
Vandag dring baie geestelikes, veral priesters van die Katolieke Kerk en, in party gevalle, Anglikane, daarop aan dat hulle as “Vader” aangespreek word. Toe een Anglikaanse priester in Mosambiek byvoorbeeld ’n paar jaar gelede deur een van Jehovah se Getuies gevra is waarom hy die titel “Vader” gebruik, het by geantwoord: “Ek is trots daarop!” En dit is natuurlik ’n welbekende feit dat die pous van Rome behae daarin skep om as “Heilige Vader” aangespreek te word—ten spyte van Jesus se opdrag aan sy dissipels om “niemand op die aarde julle vader [te] noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is”. Jesus het hierdie basiese beginsel bygevoeg: “Wie homself verhoog, sal verneder word.”—Mattheüs 23:9-12.
Moet vroue georden word?
In die laaste tye is al hoe meer vroue as geestelikes georden. Maar Paulus het Timotheüs die opdrag gegee: “Ek laat die vrou . . . nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie” (1 Timotheüs 2:12). Dit beteken egter nie dat ’n Christin nie haar kinders of die gewone publiek kan onderrig nie, maar sy moet nie in die gemeente onderrig nie.
Moet vroue dan nooit by Christenvergaderinge praat nie? Jehovah se Getuies bestudeer hierdie tydskrif, Die Wagtoring, tydens een van hulle weeklikse vergaderinge deur artikels met aanvullende vrae oor die paragrawe te bespreek. Die bedienaar wat die studie hou, altyd ’n broer, vra lede van die gemeente, met inbegrip van susters, om hierdie vrae te beantwoord. Maar hierdie vroue onderrig nie. Hulle druk eenvoudig die gedagtes in die artikel in hulle eie woorde uit. Selfs kinders word aangespoor om antwoorde te gee, en hulle kommentare, wat gewoonlik kort en eenvoudig is, slaan die spyker dikwels reg op die kop—soos ’n bekende spreekwoord lui.
Paulus het ook die volgende aangaande vroue gesê: “As hulle iets wil leer, laat hulle tuis hul eie mans vra, want dit is lelik vir vroue om in die gemeente te spreek” (1 Korinthiërs 14:35). Dit beteken dat susters nie twisvrae voor die gemeente moet opper as daar tydens die vergaderinge sekere dinge gelees of gesê word wat hulle nie verstaan nie of wat hulle verontrus. Hulle moet eerder wanneer hulle tuis is hulle mans vra om dit vir hulle te verduidelik.
Daar is egter geleenthede wanneer Christinne vir mans kan preek. Jehovah se Getuies bestee baie tyd daaraan om die goeie nuus van die Koninkryk van huis tot huis te verkondig. Moet ’n vrou wat die goeie nuus verkondig haar eenvoudig verskoon en wegloop wanneer sy ’n man teëkom? Natuurlik nie. In hierdie geval preek sy nie vir ’n gemeente nie, maar vir een persoon wat moontlik ’n ongelowige is. ’n Bedienares kan insgelyks ’n nie-Christelike gesin help om die Bybel te bestudeer selfs al is die vader teenwoordig.
Jesus Christus—’n ligtende voorbeeld
Jesus was ’n ligtende voorbeeld wat ons gerus kan probeer navolg! Hy was die beste onderrigter, die uitnemendste prediker, die ywerigste werker en die liefdevolste raadgewer wat daar ooit op aarde was. Dit is ’n baie groot voorreg om in sy voetstappe te volg. Probeer jy dit doen?
Miljoene getuies van Jehovah doen hulle bes om hom na te volg, al is dit op onvolmaakte wyse. Sy metodes was baie anders as die van die meeste geestelikes van vandag. Hy het nie kerkklokke gelui en gewag dat mense na hom kom nie, hoewel talle wel uit eie beweging gekom het. Hy het eerder na die mense gegaan en hulle in hulle huise, in openbare plekke, op berge en op die oewers van die See van Galilea onderrig. Partymaal het hy groepe toegespreek wat uit duisende mense bestaan het, sos die illustrasie hieronder toon.—Mattheüs 9:35; 13:36; Lukas 8:1.
Hulp aan die armes, die siekes en die bejaardes
Hoeveel van hierdie mense is daar vandag? Honderdmiljoene. En hulle word al hoe meer namate wêreldtoestande vinnig versleg en die huidige stelsel van dinge sy algehele einde met die slag van Armageddon nader (Openbaring 16:16). Natuurrampe, hongersnode en epidemies vererger die skade en lyding. Die vroeë Christene het ook sulke probleme ervaar. Omstreeks 46 G.J., toe Claudius die keiser van Rome was, was daar ’n grootskaalse hongersnood. Wat het die dissipels dus gedoen? Hulle “het besluit dat iedereen van hulle na sy vermoë iets sou stuur tot versorging van die broeders wat in Judea woon”.—Handelinge 11:27-30.
In die nuwe tyd het Jehovah se Getuies al dikwels grootskaalse noodleniging verskaf aan diegene wat ly of in nood verkeer. Toe Mosambiek onlangs deur burgeroorlog geteister is—wat ’n ernstige tekort aan voedsel, klere, mediese voorrade en ander lewensbehoeftes tot gevolg gehad het—het Jehovah se Getuies in naburige Suid-Afrika hulle broers wat in nood verkeer het te hulp gesnel. Groot hoeveelhede voedsel, klere en ander items is bymekaargemaak en in reusevragmotors na Maputo, die hoofstad, gestuur.
’n Aandeel in die vervulling van Bybelprofesie
Ja, vandag het God se ware bedienaars die wonderlike voorreg om Bybelprofesieë te help vervul. Hoe? By die geskiedkundige geleentheid toe die dissipels Jesus gevra het: “Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” het hy geantwoord dat “hierdie evangelie van die koninkryk” gedurende ’n tyd van wêreldoorloë, hongersnode, aardbewings en ongeregtigheid “verkondig [sal] word in die hele wêreld” (Mattheüs 24:3, 14). Paulus het die voorbeeld vir alle ware bedienaars gestel deur “van huis tot huis” te preek.—Handelinge 20:20, NW.
Jehovah se Getuies is wêreldwyd bekend vir hulle ywer in hierdie predikingswerk. Dalk het hulle jou reeds ’n paar keer by jou huis kom besoek. Het jy al ooit goed geluister na wat hulle wil sê? Indien nie, kan jy dit gerus doen wanneer hulle jou weer besoek. Jy sal waarskynlik aangenaam verras wees!
[Foto-erkenning op bladsy 4]
Gebaseer op ’n foto van die Amerikaanse leër